Monday 29 September 2014

Is 'n Euro-Afrika sintese haalbaar?

Diegene in SA wat besorg is oor die toekoms van hulle met 'n oorspronklik Europese herkoms, sal, onder meer, ook 'n antwoord moet vind op die vraag of Europa (tese) en Afrika (antitese) tot 'n versoenbare (compatible) sintese kan kom.  Hoe anders skep ons 'n bestendige en veilige toekoms vir al SA se diverse bewoners? Tot 1994 het SA die stempel van Europese beskawing gedra. Ná 1994 verander SA toenemend in 'n tipiese Afrikaland. Vir die doel van beoordeling van SA se diverse bevolkingsgroepe se individuele bydraes tot die skepping van sodanige versoenbare sintese, sal só 'n vergelykbaarheidstoets eenvoudig net nie geduld word nie, maar wel van rassistiese motiewe beskuldig word.

Een uitweg uit ons rassegepolariseerde samelewing op soek na 'n antwoord, is om na SA en Europa te kyk in hul onderskeie vastelandse kontekste. Soos Charles Dickens se "A Tale of Two Cities"    -   die verhaal van London en Parys vóór en tydens die Franse Rewolusie   -   benodig ons vandag 'n gesaghebbend realisties eietydse verhaal getitel: "Die verhaal van twee vastelande".

Ná die onttrekking van die Europese koloniale moondhede aan Afrika, is 'n Euro-georiënteerde manier van doen ingeruil vir 'n Afrika-georiënteerde een. Ongelukkig is die gevolg   -   feitelik aanwysbaar   -   merkbare agteruitgang, standaardverlaging en krisisbestuur (om slegs enkeles te noem).As deel van Afrika word dié kenmerke toenemend ook kenmerke van SA.

Is dié Euro-Afrika sintese nie bepalend vir ons toekoms nie? Indien wel, is dit haalbaar? Indien nie, wat is die alternatief, en wat is die toekomstige implikasies daarvan vir diegene met 'n nie-oorspronklik-van-Afrika herkoms?              (ngn)






Tuesday 23 September 2014

Konteks en doel van Christus-volgeling

Ek kruis nie swaarde met T.du Preez (DB,22.09) oor sy steunende voorkeur vir die begrip Christus-volgeling bo die begrip Christen nie; dis sy reg. Ek wys egter op die konteks waarbinne, en doel waarvoor, dié begrip bevorderend gebruik word.

In haar artikel, "Preparing for the Emerging One Church of the New World", wys Tamara Hartzell op die Nuwe Spiritualiteit-konteks waarbinne Christus-volgeling gebruik word. Gemelde konteks wil alle Christene tot Christus-volgelinge transformeer ter voorbereiding van die "Emerging One Church of the New World". Vir laasgenoemde is die begrip Christen té eng en eksklusief, en word geassosieer met onverdraagsaamheid, verdeeldheid, vooroordeel, wettisisme en veroordeling.

Christene baseer hul geloof op die waarhede soos vervat slegs in God en Sy Woord. Christus-volgelinge kan aan enige godsdiens of geloof behoort; dade is belangriker as geloof; waarheid is in alle godsdienste en gelowe te vind. Die toenemend eenwordende wêreld benodig 'n eengeworde kerk wat Christene se God, as enigste erkende Weg, onaanvaarbaar vind. 

In die Nuwe Wêreldorde, met sy eengeworde kerk, sal Christus-volgelinge nie-dogmaties, versoenend, akkomoderend, nie-veroordelend en toegeeflik teenoor ander gelowe wees. 'n Gemeenskaplike god word aanbid en elkeen kan op eie manier die eie weg volg in die soeke na dié wese. Die Nuwe Spiritualiteit met sy "Emerging One Church" sal deur die wêreld verdra word, en self sal dit verdraagsaamheid bevorder.

Christus-volgeling is 'n subtiel gekose begrip om nié te verdag te lyk ter bevordering van dié sinkretistiese eenwêreldkerk nie. Is Du Preez hiervan bewus?             (ngn)




Saturday 20 September 2014

Daar sal altyd godsdiens in skole wees

Skool en gemeenskap/samelewing word gekenmerk deur samewerkende wisselwerking. Die gemeenskap het statutêr belang by die skool en moet daarin erkenning geniet. S.A. skole, as demokratiese staatsinstellings, staan in vennootskaplike diens van beide gemeenskappe én staatsowerheid. 

Die media het die jongste S.A. misdaad-, geweld-, moord- en stakingsyfers bekend gemaak. Dieselfde samelewingstendense word deur dwelmgebruik, verkragting, tienerswangerskappe, ernstige aanrandings, vandalisering van skooleiendom en georganiseerde skole-ontwrigting (na die voorbeeld van suksesbehalende arbeidersvakbonde) ook binne ons skolegemeenskappe weerspieël. Julius Malema het 'n uitdagende rolmodel vir menige skoolgaande jeugdige geword. Ons samelewing se negatiewe invloede word toenemend die skool en klaskamer binnegedra. Alle skole is nié meer veilige omgewings nie.

Daar is sommige wat hulle beywer vir die uitbanning van godsdiens   -   veral die Christelike   -   as een van die laaste stabiliserende invloede, uit ons skole. Die gevolg is destabiliserende chaos, anargie, gesags-  en dissiplinêre aftakeling, standaardverlaging en vernietiging van ons jeug se toekoms. Waarom mag, in ooreenstemming met ons demokratiese grondwet, 'n gemeenskap se godsdienstige oortuigings   -   medebepaler van die skoolethos   -   nie in skole erken en weerspieël word nie?

Ons al té gewillig-toegeeflike aanvaarding van "onafwendbare" transformasie, soos om godsdiens uit skole te verban, voer gemeenskappe verder na die afgrond. Raak ontslae van godsdiens uit die skole, maar hóé raak jy van die mens se universeel inherente godsdienssin ontslae? Met die Christelike godsdiens uit die skool, word dit maar net deur 'n ander godsdiens vervang. Ateïsme, agnostisme en satanisme, as voorbeelde, is óók godsdiensvorme. Daar sal altyd, statutêr óf nie-statutêr, openlik óf subtiel, godsdiens in skole wees.          (ngn)






Tuesday 16 September 2014

Die antwoord is gedifferensieerde skole

Piet Croucamp se: "Jou geloof ìs 'n private kwessie", (DB,16.09) sê dit alles   -   'n subtiel, mooiklinkende en byna oortuigende rasionele aanval op Christengelowiges en hul onderwysbehoeftes. Croucamp self is nié 'n Christengelowige nie; tog waag hy homself met "skoene aan sy voete" op 'n terrein wat Christene met eerbied "sonder skoene" betree. 

Croucamp beweer: "Skole is die openbare eiendom van alle Suid-Afrikaners". Daaromtrent verskil ek nie, maar wel met sy: "As jy 'n Moslem-,  'n Jode-  of 'n Christenskool wil hê, behoort jy self daarvoor te begroot." Ek vind sy standpunt geensins in ooreenstemming met die gees van die grondwet nie. Het ons burgery in 'n demokrasie dan géén sê in die aanwending van ons belastinggeld, ook vir onderwysdoeleindes nie? Ons weet almal dat 'n demokraties verkose owerheid daargestel word juis om na ons álmal se diverse belange en behoeftes om te sien. Dat die ondemokratiese ANC egter die openbare skole aanwend vir eie ideologiese gewin van nasiebou, weet ons ook. Die skooltipes in 'n samelewing word immers primêr bepaal deur 'n gedifferensieerde behoefteverskeidenheid.

Waarom kan daar dan nie 'n gedifferensieerde skolestelsel in S.A. geskep word om ook te voorsien in die behoeftes van gedifferensieerde geloofsgemeenskappe nie? Elders ter wêreld werk dit goed, soos in Nederland met sy skole vir Protestantse, Rooms-Katolieke en sekulêre ouerbehoeftes. Die marxisties-sosialistiese ANC sal dié toegewing, om verskeie redes, nié maklik maak nie. Van dié redes is dat enigiets wat "gedifferensieerd" is aan "apartheid" herinner; die ANC 'n pynlike vergelyking wil vermy tussen die suksesse van die sekulêre staatskole met dié van geloofsgedifferensieerde skole, asook dat die ANC skole indoktrinerend aanwend vir die eie ideologiese gewin vir die uiteindelike daarstelling van 'n volslae marxisties-sosialistiese burgery en samelewing.

Vanuit die perspektief van Christenouers en hul behoeftes, is geloofsgedifferensieerde skole die antwoord vir die godsdiensvraagstuk in staatskole.



Thursday 11 September 2014

Sal my standpunt sneuwel?

Dit is met verbasing én teleurstelling dat ek lees van ds. Pierre Grigor (DB,09.09), en ander, se standpunt oor Christus se plek in ons openbare skole. Hy vra of "ons dink dat die Christendom 'n knou toegedien sal word as godsdiens uit die skole verdwyn?" Ten spyte van die merietevolheid van Grigor se argumentering, bly die vraag aan hom sowel as aan ons almal as Christene: Kan dié meriete ooit opweeg teen dit wat ons prysgee sou Hy nie langer in ons skole welkom wees nie? 

My liewe land, hoe tegelyk oningelig én naïef kan ons nie hieromtrent wees nie. Kyk maar net wat in VSA-skole gebeur het nadat Christus en die Bybel hulle skole belet is, en wat die uiteindelike uitwerking daarvan op die Amerikaanse samelewing was en steeds is.

Wat Grigor effektief met sy standpunt wil sê, is: Dis reg. Hou Christus se hand vas by die huis en kerk, maar los dié hand by die skoolhek en klaskamerdeur. En hoeveel huise is daar nie vandag waar dié hand nie meer vasgehou word nie, en waar die skool dit darem nog, plaasvervangend, probeer doen nie? Daar is meer as voldoende bewyse dat daar waar die deur agter Hom toegemaak word   -   ook in die skool   -   die deur oopgemaak word vir chaos en anargie.

Dit word duidelik uit die plasing van briewe dat die standpunt oor die behoud van Christus in die skool en klaskamer nie soveel ondersteuning, aandag en publisiteit geniet as die teenoorstaande standpunt soos dié van Grigor nie. Dit bly steeds elkeen se keuse waarvoor ons die verantwoordelikheid moet aanvaar. Waarskynlik sal ook my standpunt sneuwel.               (ngn)




Friday 5 September 2014

Gesaghebbende Woord het die laaste sê

Ek antwoord Pitout se " 'Cool' gee nié aanstoot in dié konteks" (DB,05.09) -repliek op my vroeëre skrywe. Dankie vir 'n begripsverklaring uit "sewe gesaghebbende woordeboeke". Ek het beslis begrip vir sy andersdenkendheid. In veel wat Pitout skryf, gee ek hom gelyk, maar nie in alle opsigte nie.

Kortliks die volgende: Ons móét daarmee rekening hou dat God 'n verhewe Wese, en nié ons menslike gelyke is nie. Om dus na Hom, begripsgewys (as "cool"), op dieselfde wyse te verwys as wat ons na 'n voorwerp, persoon of situasie met "cool" sal verwys, is vir my 'n aantasting van Sy Goddelike karakter   -   'n "familiêr" grensuitwissende gelykstelling. 'n Verdere voorbeeld van dié gelykstelling: My kleinseun het ook leer sing: "Jesus is beter as Superman, Spiderman, Batman..." (By die kerk? skool?) Wéér deel God en mens dieselfde verhoog, terwyl Jesaja 40:18 sê: "Met wie kan julle God dan vergelyk? Met watter beeld kan julle Hom gelykstel?"Is ons nie juis, met begrippe soos "cool" en verwante liedjies, besig om subtiel-ongemerk ons eie menslik-afgodiese "woordebeeld" van Hom te maak nie?

Daar is beslis 'n grens tussen God en mens wat nié na willekeur oorskrei mag word nie. Ons leef juis in 'n tydsfase van grensuitwissing, ook tussen God en mens. (Dink aan ANC-uitsprake oor God.) Waar is die grensbepalers en  -bewakers van ons dag? Spreuke 22:28 sê: "Moenie grense verlê wat lankal daar is nie..." , maar steur ons ons nog hoegenaamd aan die grensvoorskrifte van die Woord?

Pitout, vir my het transendentaal-vertikale Woordgesag die laaste sê oor "cool" betreffende God, Sy Raadsplan en ons geloofslewe; nie selfs die heel gesaghebbendste horisontale woordeboek nie.    







Thursday 4 September 2014

Skuif in grondwetbasis en skoolgodsdiens

Ek verwys na die berig "Heksejag op Christenskap" (DB,03.09). Wat daarin berig word, is die direkte gevolg van die vervanging van ons voor-1994 Christelik gebaseerde grondwet, met 'n humanisties-liberaal-sekulêre grondwet   -    in demokratiese gietvorm   -   opportunisties uitbuitend gemanipuleer deur die ateïsties-georiënteerde marxisties-sosialistiese ANC-regime. Dit is dus geen verrassing dat die Godheid deur dié ideologie die nasionale deur gewys word nie.

Christene bely God as die Skepper van hemel en aarde; tegelyk ook die soewereine eienaar, sonder enige voorbehoud, daarvan. Dit maak Hom eienaar selfs van die skool, met alle  -verwante sake, waarvan ons Sy bestuurders is met opdrag om Christenburgers vir 'n Christelike samelewing op te voed. Opvallend is juis dat, sensusgewys, S.A. 'n Christen-meerderheidsland is. Met die oorgang na die nuwe bedeling het dié meerderheid, deur apatiese swygsaamheid   -   tragies ironies   -    toegegee dat 'n bedeling op ons afgedwing word ten einde die nie-Christelike minderheid getallegewys ondemokraties te akkommodeer en selfs aan bewind te stel. Vandag pluk ons allerweë, nasionaalwyd, die vrugte daarvan.

Terug by die skool en godsdiens, sê 'n Potch-predikant oor RSG God se soewereine eienaarskap oor die skool moet ontken word deur Hom, kompartementaliserend, tot die ouerhuis te beperk. Wat 'n teleurstellende toegewing aan die nie-Christelik sekulêre magte, direk in stryd met die Bybelgeprojekteerde Goddelike gesagsbeeld. Intussen sing protestants-afvallige Christene steeds: "Staan op, staan op vir Jesus, o helde van die kruis..." Hoe het die geloofshelde van ons dag tog nie geval nie, want, in plaas van opstaan vir Christus, bly Christene kapitulerend rus op hul louere in 'n selfgeskepte,  -tevrede geloofsgemaksone, aanvaardende 'n skolebedeling sónder Christus.     (ngn)






Monday 1 September 2014

Staak dié ge-"cool" van God en Christus

Ek verseg om die begrip "cool" deel van my woordeskat te maak. Indringer-vreemdeling in die Afrikaanse taalhuis, dui "cool" vir my op 'n denkluiheid om 'n gepaste plaasvervanger daarvoor te vind. Eke ding het 'n tyd en plek. Dit geld ook "cool", en die kontekstuele gebruik daarvan.

Dit wat ek van die onvanpaste gebruikmaking van "cool" in my negejarige graad-drie kleinseun se junior kategese werkboek   -   met die titel "Die Coolste Plan"   -    lees, vind ek ontstellend. In die opsomming aan ouers word gesê: "Jesus het God se "cool" plan aan sy (kleinletter) dissipels verduidelik" (p.8); "Die lewe is dalk "uncool"   -   die Plan nie" (p.9); "God se "cool" plan..." (p.10); "Hy het sy (kleinletter) "cool" plan in Abraham se lewe begin..." (p.33); "Josef...kon raaksien hoe sy lewe by God se "cool" plan inpas" (p.34); "God se tien goue reëls vir 'n "cool" lewe" (p.53); "Loof God, die "cool" Planmaker" (p.55).

Ek vind hierdie kategetiese ge-"cool" van God en Christus aanstootlik, beledigend vir die Godheid en verwerplik. Ondersteun predikante hierdie "cool" Godsbeskouing en die geloofstoerusting van ons Christenjeug, daarop gebaseer, in hierdie soort kerklike onderrigtaal, óf is hulle totaal onbetrokke daarby en daarom onbewus daarvan? Watter Christene aanbid 'n "cool" God met 'n "cool" plan vir 'n "cool" geloofslewe?

As Christengelowige grootouer vind ek dit skokkend, en maak ek ten sterkste beswaar teen dié tegelyk respeklose en Godonterende ge-"cool" van God en Christus, en die subtiel geloofsdestruktiewe invloed daarvan op ons Christenjeug. Vrae soos: vanwaar dié werkboek? wie het dit gekeur/voorgeskryf? is dit algemeen in kerkgebruik? moet beantwoord word.