Thursday 26 February 2009

Noem die Skepper op Sy Naam

Jan Kemp se brief : "Skepper se werk in natuur te sien" (DB,21.02.2009), stem tot nadenke. Wat volg, is géén kritiek nie   -   sien iemand dit wel so, is my antwoord : Kritiek impliseer 'n kriterium, en vervul die Woord dan sódanige funksie   -   maar ek reageer nietemin daarop.

Kemp sê : "Of jy nou in die Bybel se skeppingsverhaal glo of aan die Koran of watter denominasie se geskrifte, maak nie saak nie."

Dié standpunt vertolk ek as neutraal van aard, en lees ek nié die belydenis van 'n Christengelowige   -   wat die Drieënige God as enigste ware God erken   -   daarin nie, want dit  "maak nie saak nie".

Vir my het die Skeppergod beslis 'n naam. Kemp verwys deurgaans na  "Skepper"  sónder 'n naam ; dus oop vir enige interpretasie en, sodoende, ook vir moontlike wanvertolking. Kemp sê verder : "Gaan saam met my veld toe en ek laat jou die skepping en die Skepper ervaar."  Met 'n  "naamlose Skepper"  kan dié stelling só maklik as panteïsme vertolk word.

Volgens die panteïsme is elke berg, klip, dier, plant of mens 'n uitdrukking en deel van die Skepper se diffuse wese. Hy is één met sy werke en is oral te vind ; 'n onpersoonlike mag wat in die heelal en natuur tot openbaring kom, alles beskik en 'n doel daaraan gee   -   onpersoonlik en naamloos.

Ek dink nie Christengelowiges moet hoegenaamd probeer om alle gelowe sinkretisties-akkommoderend ter wille te wees deur die Naam van óns God, wat ons uit sowel natuur as Skriftuur leer ken, te verswyg nie. As Alskepper is Hy ook Eienaar van alles, almal én Sy Naam.

Waarom is ons so halsstarrig om Sy Naam openlik in die openbaar te bely? (Sien gerus Lukas 12:8-9). Noem die Skepper op Sy Naam, want Hy hét een.

Wednesday 25 February 2009

Niehaus het sy vryheid misbruik

Heindrich Wyngaard (DB,19.02.2009) sê : "Net iemand wat...oor 'n  'goue tong'   -   noemnaam vir 'n gewoonte-leuenaar   -   beskik, sal...met die een of ander regverdiging vir Niehaus se skelmstreke vorendag probeer kom."  Hiermee sit Wyngaard vir Ian Small-Smith, Niehaus se regsverteenwoordiger   -   wat beweer : "Dit is apartheid se skuld" (DB,19.02.2009)   -   netjies op sy plek.

Ek reageer egter op Wyngaard se bewering : "Niehaus verdien...steeds sy heldestatus as vryheidsvegter."  Of Niehaus steeds as held gereken kan word, laat ek my nie oor uit nie, maar wel oor  "vryheidsvegter".

Oor vryheid is daar veel te sê. Met vryheid gaan, baie belangrik, ook ver-antwoord-elikheid gepaard waarvan die grondwoord  "antwoord"  is. 'n Mens  "antwoord"  net omdat jy  "aangespreek"  is, en wel ook eers nadat jy dit waardeur jy  "aangespreek"  is,  "aangehoor"  het.

Almal van ons is voortdurend in 'n tweegesprek (dialoog) met ons onmiddellike omgewing, hetsy fisiek of psigies (waaronder ook my gewete), gekenmerk deur dié drie opeenvolgende  "dialoog-momente"  van  "aanspreek" ,  "aanhoor"  en  "antwoord".

Dit wat my  "aanspreek"  in énige situasie, is die konteks-bepaalde, gesagsbeklede norme as die  "eise van behoorlikheid"  wat binne sodanige situasie geld. Alle sportsoorte beskik oor spesifieke reëls (norme vir daardie sportsoort). Deelnemers word deur sulke reëls (norme)  "aangespreek" , hulle  "hoor"  dit (moet dié reëls kén) en moet volgens dié reëls  "antwoord"  (handel).

Voorgenoemde lei tot die beginsel van  "vryheid-in-gebondenheid".  Vir so lank as wat ek gebonde bly aan die spesifieke reëls (norme) van enige sportsoort, verkeersreëls, en so meer, is ek  "vry"  om binne dié spesifieke kontekstuele speelveld te beweeg. Sodra 'n reël (norm) egter oortree word, verloor ek dié  "vryheid"  en volg 'n vorm van  "straf"  gewoonlik daarop.

Vryheid-in-gebondenheid lei tot vryheid-tot-verantwoordelikheid wat impliseer dat  "gehoor"  gegee word aan die  "gesag van die norme"  waardeur ek  "aangespreek"  word binne 'n bepaalde situasie. Gebeur dit egter nie, kry ons te make met 'n vryheid-van-verantwoordelikheid (losbandigheid, korrupsie, en so meer).

"Vryheidsvegter"  Niehaus het die beginsel van vryheid-in-gebondenheid (aan waarheidsnorme) verruil vir vryheid-van-verantwoordelikheid (korrupsie).  Niehaus het sy vryheid misbruik vir persoonlike gewin, en daarmee saam sy voortgesette status as  "vryheidsvegter".

Tuesday 24 February 2009

Onderwys : Kerk stel teleur

Sondag ontvang gemeentelede 'n inligtingstuk van Jonk   -   nuwe naam vir die vorige Algemene Jeugkommisssie van die NG Kerk se Algemene Sinode   -   met die versoek "of u nie iets van die Biddag vir Onderwys ...wil maak nie."  "Iets"? Dis skokkend!

Tydens 'n onlangse "indaba waar al die belangrike rolspelers was...is die krisis in onderwysgeledere in oënskou geneem" en die volgende "groot probleme" erken: 'n onderwyserskorps nie toegerus vir sy werk nie; skole het nie die nodige hulpmiddele nie; die geletterdheids-  en syfervaardigheidsvlakke van ons leerlinge is, internasionaal vergeleke, die laagste, en uitkomsgebaseerde onderwys benodig hersiening.

Jonk stel dan voor dat ouers by beheerliggaamsverkiesings betrokke moet raak; jongmense vir die onderwysprofessie gewerf moet word; 'n waardegedrewe en etiese gemeenskap gevestig moet word, en groter ondersteuning van skole, beheerliggame en onderwysers.

Dit ís so dat die Christelike godsdiens statutêr uitgeskryf is as die dominante geloofsvorm in die grondwet, en daarmee ook uit al die ander verwante wetgewing   -   waaronder ook onderwyswetgewing   -   waaraan die grondwet as "moederwet" geboorte gee.

God se algehele soewereiniteit oor Sy ganse skepping sluit ook die onderwys-  en skoolstelsel, klaskamers, onderwysers, onderriginhoude,  -metodes en  -doelstellings in.

Die grootste krisisbron is juis dat Christus statutêr die klaskamerdeur en skoolhek gewys is en onwelkom geword het daarbinne. Huidige krisisse is juis die direkte gevolge daarvan. Dat die kerk dit blykbaar nie besef en werkmaak om Christelike onderwys te bevorder nie, is self óók van krisisafmetings.

Het ons kerk, veral teen die agtergrond van sy bewese historiese stryd om Christelike onderwys, opgehou om hom te beywer vir die onderwysbelange van Christenkinders   -   wit, bruin én swart? Hulle word toenemend, onder meer, blootgestel aan multi-religieuse godsdiensstudies asook die verderflike evolusieleer.

Jonk se Christosentries-ontbrekende voorstelle, verteenwoordigend van ons kerk, vir die oplossing van ons onderwyskrisis, is diep teleurstellend.                                    (ngn)

Wednesday 18 February 2009

Die mens is net omdat God is

Francois Theunissen se artikel : "Evolusie, soos ek dit verstaan" (DB,14.02.2009), verwys. Dit bly tragies dat evolusioniste God konfronteer met vernietigende gevolge vir hulself.

Die indruk word gewek dat Theunissen dit  "veilig probeer speel"  deur die Bybelse skeppingsweergawe (tese) met die evolusie-teorie (anti-tese) tot 'n sintese met mekaar te probeer versoen (2 Korintiërs 6:14-16). Onderskei Theunissen twee tipes van evolusioniste : diegene wat sê hulle glo wel in God, dog die Bybelse skeppingsverhaal as bloot  "figuurlik bedoel"  afmaak, en dan diegene wat die Skeppergod totaal en al verwerp?

Ek glo dat die Pentateug onder die leiding van God sélf  foutloos deur Moses geskryf is, 'n man van wie die Bybel getuig : "Moses...het die Here persoonlik geken" (Deuteronomium 34:10).

Volgens Theunissen is ek 'n  "fundamentalis". Wát hy my noem, skeel my egter geensins nie, solank as wat ek net weet wat Gód my noem.

Darwiniste skep die indruk dat hul teorie die  "Winkel für die Welt"  besit. Die Bybel sê egter : "Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer? (Romeine 9:20)  en  : "Wat Hy doen, is (menslik) ondeurgrondelik (Job 9:10).

Theunissen sê : "Evolusie van eensellige lewe tot die mens het ongetwyfeld plaasgevind."  Wát 'n sterk geloofsoortuiging is dit nie! Kan hy vir ons sê in watter  "stadium"  het die mens 'n siel  "ontwikkel"?  Selfs Salomo kon nie 'n antwoord hierop gee nie (Prediker 11:5).  Genesis 2:7 verskaf egter dié antwoord.

Theunissen verwys ook na  "korttermyn-gebeure wat...toevallig...minderheidseienskappe het..."  Net 'n bankrot-teorie maak van  "toeval"  (onkontroleerbaar!) gebruik in sy verklaringsfunksie. Aikôna, dis nié wetenskap nie!

Danksy Theunissen weet ek nou hóé die padda in 'n prins verander het. Hy beweer : "En gegewe genoeg tyd, kan énigiets tot énigiets ánders ontwikkel."

"Fundamentaliste"  verwerp die mens as  "produk"  van evolusie. Theunissen sê egter, á la Galileo : "Tog is ons."  Dis waar, maar alleenlik omdat Gód gesê het : "Ek is" (Eksodus 3:14).

Saturday 14 February 2009

Beskou kerk se dans in konteks

'n Mes, 'n motorvoertuig en sterk drank is op sigself nié moordwapens nie, maar gekombineer met laasgenoemde (moordwapen), kan elkeen van die eersgenoemdes 'n potensiële moordtuig wórd. Geld dit dalk ook vir dans? Sónder Bybelse norme kan Christene nie dié vraag beantwoord nie.

Nadat Dawid vir Goliat verslaan het,  "...het die vroue van Israel gedans en gesing" (1 Samuel 18:6-7). Dawid self dans uitbundig voor die ark van die Here en sê vir sy foutvinderige vrou : "...ja, voor die Here sal ek dans" (2 Samuel 6:5,21).

Ons moet die dansverskynsel nie oorvereenvoudig nie, maar eerder dink aan 'n veelheid van danskontekste wat, waarskynlik, bepaalde kontekstuele  "boustene"  met mekaar in gemeen het, soos 'n danslokaal, dansdrag, dansmusiek, dansversierings, 'n  "dansgees" , asook dansverversings en ook 'n kontantkroeg. Dansorganiseerders kombineer dan sulke  "boustene"  volgens die bepaalde behoefte tot 'n doelmatige danskonteks vir 'n besondere geleentheid.

Die toonaangewende  "gees"  tydens 'n dansparty kyk ons egter baie maklik  en gerieflikheidshalwe mis. Volksdanse en ontkleedanse vind onder die leiding van sulke uiteenlopende  "geeste"  plaas. Dawid en die vroue van Israel het duidelik in die teenwoordigheid van God se Gees gedans.

Aan 'n kerkraad, wat volgens Paul Theron (DB,11.02.2009), 'n dansparty reël  "...om 'n oplossing te vind vir 'n geldkrisis in die gemeente", is die vraag dus : Watter  "gees"  het dié besluit geïnspireer?  "Heilig"  dié doel dalk die middel?

Verwysende na Bybelse norme sê Jakobus 4:17 : "As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde."  Petrus sê ook profeties (1 Petrus 4:17) :  "Die tyd vir die oordeel het aangebreek ; dit begin by die huis van God."

Is dit dalk vandag so dat Bybelnorme nié meer die lewenspraktyk bepaal nie, maar laasgenoemde eerder Bybelnorme wil voorskryf?

Wednesday 11 February 2009

Wêreldkerk, óf gekerstend?

'n Kritieke vraag van ons dag is na die voetsoolvlakse geestelike leiers se sigbaarheid en hoorbaarheid in ons huise, skole en gemeenskappe. Vele nasionaal-bekende én internasionaal-bekende persoonlikhede geniet 'n baie groter  "sigbare en hoorbare teenwoordigheid"  in Christen-huishoudings as sommige van ons eie geestelike leiers wat sodanige ampte as  "geroepenes"  aanvaar het.

Op grond van uiterlike waarneming blyk daar leier-geestelikes te wees wat soos ywerige miere werk en baie sigbaar is. Maar dan is daar ook hulle wat soos mierleeus voorkom wat hulself netjies ondergronds toewikkel en sodoende onsigbaar bly. Is dit dan vreemd dat ons vandag 'n geestelike agteruitgang en verval van feitlik krisisafmetings ervaar?

Christene weet (of behóórt te weet) van Satan se bindinge. Een so 'n binding is dié van ons getuigende tonge wat hy tot nié-getuiging bind. Goddank dat Satan nié die kerkhervormers   -   soos 'n Martin Luther   -   se tonge kon bind nie.

In Godsdiens Aktueel (DB,04.02.2009), sê dr. Isak Burger : "Ek wil hê dat oor Christus gepráát word...(en) en in navolging van Christus gelééf word."  Maar nee, ons   -   waaronder ook leier-geestelikes   -   is traag om, terwyl ons nog lewe, te getuig vir dié Een wat ons almal eendag by ons onvermybare sterfbed wil hê.

Hierteenoor, swyg Satan nie. Op Londonse busse adverteer hy : "There's probably no God. Now, stop worrying and enjoy your life." (DB,07.02.2009)

Kan die  "wêreld"  van ons as Christengelowiges sê dat hy (die wêreld)  in ons 'n  "Go(e)dbedoelende"  kerkvriend sien, of sê die  "kerk"  dalk dat hy (die kerk)  "oulike"  wêreldvriende het? Wie hoort waar ; die kerk in die wêreld (besig om Christus se opdrag uit te voer), of die wêreld in die kerk (besig om Satan se opdrag uit te voer)? Is laasgenoemde nie vandag die groot probleem nie?

Vra uself af : Is Christus se opdrag aan ons om 'n wêreldkerk, soos beliggaam in die verdagte Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) en die Wêreldraad van Kerke (WRK),  na te streef, óf ons wel eerder te beywer vir 'n gekerstende wêreld?

Saturday 7 February 2009

Oud-Israelverlede bied verklaring

Jonathan Jansen sê : "...('n) jong swart geskiedkundige vra my : 'Hoe verklaar 'n mens dit dat Afrikaners so godsdienstig is en tog die sonde van apartheid gepleeg het?' " (DB,27.01.2009). (Is die ANC sondeloos teenoor ons land en al sy mense?)

Soekende na 'n verklaring, geld dieselfde vraag, eweneens, Ou Testamentiese Israel. Israel was 'n volk, God se verbondsvolk, waarvan Moses gesê het : "Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, U volk, anders is as al die ander volke op die aarde." (Eksodus 33:16b)

Bileam, deur koning Balak gehuur om Israel te vervloek, sê vir Balak : "Ek kan net sê wat God vir my voorsê" , en sê dan : "Ek sien 'n volk wat op sy eie woon en hom van die nasies afsonder." (Numeri 22:38b ; 23:9b)

Reeds in sy voorgeboortelike baarmoeder het die fetale Afrikanervolk baie sterk geïdentifiseer met ooreenstemmende lotgevalle van die verbondsvolk, Israel, op trek na sy beloofde land. Hierin was die Bybel sy kaart en kompas, en die God van dié Boek, ook sy God.

As volk is die Afrikaner se geskiedenis in hierdie land goed gedokumenteer, 'n verhaal van stryd om oorlewing ; een wat vandag steeds voortduur. Veral vanaf  1945  verskuif sy stryd teen Britse Imperialisme na Afrika Nasionalisme op 'n kontinent met 'n sterk Pan-Afrikanistiese sentiment waarbinne daar nie regtig vir beide wit én bruin plek is nie.

Terug by Jansen se soeke na 'n verklaring vir die swart historikus se vraag : C.K.Oberholzer sê in sy boekie, Hunkering en wetenskap,  "Wie die menslike van die mens opgelos het, beskik oor die sleutel (verklaring) wat toegang tot alle kosmiese geheimenisse verleen."

Dié verklaring is opgesluit in die Afrikanervolk se identifisering met Ou Testamentiese Israel en navolging van dié God wat gesê het : "Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat." (Romeine 9:11-13)

Tuesday 3 February 2009

Kerkstrukture red nie; net Christus red

In sy brief, "Kerk en teologie in SA moet nou huis skoonmaak" (BY,31.01.2009), kom prof. J.W.Hofmeyr van die Fakulteit Teologie, Universiteit Vrystaat, tot die volgende slotsom:

1. "...baie van die gesprekke en debatte die laaste tyd (is) teenproduktief"  en word daar "deur sommige deelnemers bepaalde agendas nagestreef."
2. "...dat die huidige debatte vrugteloos is en die skade aan kerk en teologie onberekenbaar is."
3. "...dat die NG Kerk lanklaas in sy bestaan so 'n groot geloofwaardigheidskrisis beleef het soos tans", en
4. "...om ernstig selfondersoek te doen (en) terug te keer na die wesenlike waardes wat ononderhandelbaar is."

In aansluiting by Hofmeyr se gevolgtrekkings, vra ek myself af: Behoort "huis skoonmaak in kerk en teologie" nie ook, onder meer, 'n herbesinning oor die Liggaam van Christus   -   deur ménse gekonstrueer tot kerklike strukture   -   en die verantwoording van dié strukture aan die Skrif, in te sluit nie?

'n Verdere vraag: Hoeveel leraars en gemeentes verskans hulself nie en skuil agter kerklike strukture, terwyl Paulus nadruklik vir Timoteus sê: "Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid." (1 Timoteus 3:15b) en nié kerklike struture hoër-op nie. 

Sewe maal word dit herhaal in Openbaring 2-3: "Skrywe aan die leraar van die gemeente...", die sleutelwoorde synde "leraar" en "gemeente". Hieruit lei ek af dat God die leraar(s) van élke gemeente, sowel as hul werke, volledig ken, en tot verantwoording sal roep.

Verder lei ek af dat géén leraar óf gemeente hul verantwoordelikheid teenoor, en toesighouding oor, God se eiendomsvolk verskonend op die een of ander mensgemaakte kerklike struktuur kan afskuif nie.

Die ryk man wou dat Lasarus sy broers moes waarsku, maar Abraham wys hom daarop dat hulle die woorde van Moses en die profete het. (Lukas 16:19-31) Net so red kerklike strukture ons ook nie. Dit is slegs die Liggaamshoof, Christus, wat kan red.              (ngn)