Thursday 26 October 2006

Is kerkdenke nog Skrifdenke?

By nadere besinning oor dr. Du Toit (DB,18.10.2006) en dr. Gerber (DB,19.10.2006) se standpunte oor die huwelik, dring dit ontnugterend tot jou deur dat dit wêreldse en nié Bybelse standpunte verteenwoordig.

Du Toit huldig die standpunt om  "die gelykheid van mense te erken",  terwyl Gerber dieselfde eggo wanneer hy sê dat  "die kerk hom soms moet beywer vir die gelyke regte van mense."

Verkondig die Bybel wérklik die gelykheid van alle mense, óf wys die Woord op die gelykwaardigheid van menslike skepsels voor God? Is daar nie oorweldigende bewyse tot die teendeel   -   geslag, ouderdom, gawes, talente, intellektuele vermoëns, lewenservaring, vaardighede, ensovoorts   -   dat mense juis nié mekaar se gelykes is nie, maar eerder mekaar aanvul?

Dié mensgelykstellende denke maak van God 'n koekiedrukkergod en beroof Hom van Sy uniekheid as Skepper. Die Christelike Godsbeskouing word só afgebreek en die grondwetlike mensbeskouing, hierteenoor, uitgebou.

Skrif-, Gods-, mens-  en sondebeskouing is onderskeibaar, maar vanweë hulle innerlike verweefdheid nié skeibaar nie. Die Christelike mensbeskouing (gelykwaardig voor God) en die sekulêre mensbeskouing (gelykheid van mense) verskil diepgaande van mekaar.

Die Christelike mensbeskouing aanvaar die beginsel van ongelykheid-in-gelykwaardigheid waaruit die ondergeskikte status van menslike gelykheid duidelik blyk. By wyse van voorbeeld : Tussen volwassene en kind   -   ook onderwyser en leerling   -   bestaan daar 'n verhouding van  "graduele ongelykheid". Wie volwassene en kind aan mekaar gelykstel, soos die Handves van Menseregte en Kinderregte wel doen, vernietig daarmee die moontlikheid van opvoeding en onderwys. Ons beleef tans die uitwerking van dié chaoswekkende gelykheidsdenke in ons skole.

Vervolgens beywer Du Toit hom ook vir 'n huwelikswet wat  "ander godsdienste en kulture"  se huwelike sal erken. Wáár in die Bybel vra God Sy kinders om Christen-ongelowiges in hul ongeloof te ondersteun? En wáár vind ons dat nie-Christene die belange van Christene op soortgelyke wyse op die hart dra?

Gerber konstateer dat die kerk ook moet werk met die konsep van kies vir  "die minste van twee kwade". Is hierdie standpunt Skriftuurlik verantwoordbaar? Kwaad bly kwaad en ons wéét dat God nié die bron van die kwade is nie!

Du Toit en Gerber se ywer vir die gelykheid van mense, die belangebevordering van die nie-Christelike geloofsoortuigings en die bewustelike kies van die kwade, laat my wonder óf NG Kerkdenke, na die mate wat Du Toit en Gerber dit sou verteenwoordig, wél met Skrifdenke besig is.

Tuesday 24 October 2006

'n Eierdans oor huwelik

Onlangs is 'n debat gevoer oor gay leraars in die bediening. Toe was my indruk dat die NG Kerk se standpunt een van  "amptelike onsekerheid"  was. Hierdie onbybels neutrale stellingname het die klimaat geskep vir onsekerheid , verlies aan vertroue in die kerkleiding, asook 'n teelaarde vir verwarring onder lidmate. Dié kerklike eierdans, op maat van die musiek van ons sekulêr-humanistiese Grondwet, vind weerklank in die kerk se jongste verwarrende uitsprake rondom die Huwelikswet.

Twee berigte oor dié aangeleentheid in Die Burger ná gesprekke met, onderskeidelik, dr. Du Toit en dr. Gerber, is 'n betekenisvolle manifestasie van dié eierdans. Jakobus 3:11 het dit raak beskryf deur te verwys na 'n fontein waaruit sowel vars as brak water opborrel.

Du Toit sê  "die enigste manier om waarlik die gelykheid van mense te erken",  is dat  "daar een wet vir almal (moet) wees." Sodanige wet sal aan nie-Christelike huwelike dieselfde status verleen as Christelike huwelike. Hiermee word laasgenoemde   -   'n Goddelike instelling   -   verlaag en gelyk gestel met nie-Christelike huwelike in ooreenstemming met die gees van die Grondwet. Dit reduseer God en verplaas Hom, as unieke Wese, tot die veelgodedom.

Ook Gerber se opmerkings blyk sterk beïnvloed te wees deur die menseregte-motief van die Grondwet. Hy sê dat  "die kerk by die parlement hom soms moet beywer vir gelyke regte van mense, al onderskryf die kerk nie hul standpunt teologies nie." Hy beweer verder dat die kerk soms sal  "moet werk met die konsep om die minste van twee kwade te kies."

Wat lê albei dié geestelikes se uitsprake ten grondslag? Gehoorsaamheid aan God se Woord, of dienstigheid aan 'n mensgemaakte Grondwet? Vir Jeremia het God gesê : "Die mense moet jóú volg, nie jy vir hulle nie."

Du Toit en Gerber se uitsprake verteenwoordig 'n dialektiese denkuitkoms waarvolgens tese (Bybels geopenbaarde waarhede) en antitese ('n grondwet gefundeer in menseregte) tot 'n sintese met mekaar versoen moet word. Kan die Bybel en die Grondwet met mekaar versoen word? (Sien 2 Korintiërs 6:14-16). En is die teologie van ons dag nog versoenbaar met die Bybel?

Deur almal te probeer tevrede stel, stel jy uiteindelik niemand tevrede nie, behalwe vir Satan wat die vernietiging van die kerk ten doel het.