Monday 31 July 2017

Mag die skille betyds van hul oë val


Johan Theron (DB,29.07) se kritiek op my skrywe (DB,22.07)   -   dat ek kwansuis die lesers "mislei" met my verwerping van die evolusieleer en aanvaarding van die skeppingsleer   -   is wroegingloos ignoreerbaar; sy Godontkennende belediging van Jesus Christus egter nie.

So, wat sê Theron van Christus? 1 Ons kan glo alleen weet wie ons is danksy Charles Darwin; 2 Jesus was 'n gewone mens soos ons; 3 "...sy sogenaaamde opstanding en verlosserstatus is bloot 'n mite"; 4 Jesus was 'n "politieke martelaar" soos Steve Biko, en 5 die gelykstelling van Jesus met Mandela   -   die enigste "twee mense" wat na 500 jaar nog onthou sal word.

En, nee Theron, die mens, na Gods beeld geskape, is geen "spesie" nie. Watter belediging om só na die kroon van Sy skepping te verwys.

'n Kort kop agter Theron, is JT (DB,28.07) wat sê dat: "Jesus...glad nie so uniek...hom aan ons voordoen nie (en)...ander gelowe beskryf hom as die grootste valse profeet. Mandela se vertoning van liefde en vergifnis het die ganse wêreld aangegryp..." Moet hieruit afgelei word dat Mandela se "liefde en vergifnis" dié van die "valse profeet", Jesus Christus, oorskrydend te bowe gaan?

Die wyse koning Salomo se raad aan my om dié twee here te antwoord, is: "Moenie 'n dwaas...op net so 'n dwase manier antwoord nie; hy sal dink jy is soos hy" (Spreuke 26:4). Sy pa, koning Dawid, definieer 'n dwaas soos volg: "Die dwaas dink daar is geen God nie" (Psalm 53:2).

Mag die skille betyds van hul oe val ter wille van hul ewigheidsbestemming.




Wednesday 19 July 2017

Inderdaad, wek ons uit dié valse vrede

Ewe onnadenkend vroom sing ons in die kerk: "Wek ons, Heer, uit valse vrede!" (LB 235), maar ons slaap geestelik ongestoord voort. Inderdaad leef ons in 'n tyd van valse vrede, nasionaal sowel as internasionaal. Getuig ons rekordhouding van moord-, verkragting-, misdaad-  en tronksyfers enigsins van ware vrede? Inderdaad, wek ons uit dié valse vrede.

Dan volg: "...God die Vader, die Almagtige Skepper van die hemel en die aarde..." as een van die twaalf artikels van die Apostoliese Geloofsbelydenis. Hoeveel teoloe en predikante, dié belydenis ten spyt, staan nie vandag afsydig teenoor die skeppingsleer en omarm eerder die evolusieleer nie? Hoeveel kerklik-geestelikes staan vandag akkommoderend simpatiek teenoor die LGBTI-fenomeen ongeag Bybelse uitsprake daaromtrent? Inderdaad, wek ons uit dié valse vrede.

Mandeladag, jaarliks 18 Julie  -   suiwer sekulêr-humanistiese menseverering   -   oorskadu Kersdag, 'n gekommersialiseerde winsbejag geworde dag. Die afgelope jaarlikse "Trek for Mandela"-dag na berg Kilimanjaro geniet groter mediadekking as die jaarlikse herdenking van die gebeure buite Jerusalem op Hoofskedelkoppie. Die ware Verlosser moet plekmaak vir die skynverlosser. Inderdaad, wek ons uit die valse vrede van dié verlosser.

Mandela het nooit geweld en terreur afgesweer nie. Terreur is, daarom   -   in verskeie vorme wat ons daagliks beleef   -   'n voortsetting van sy nalatenskap. Boon (DB,19.07) sê: "...liewe Madiba...mag die Here jou nalatenskap nog baie jare vir ons spaar." Inderdaad, bewaar ons van dié valse vrede wat Boon propageer.

Waarom ignoreer ons steeds waarskuwingstekens, soos uiterste armoede, uitmergelende droogtes, vernietigende brande en endemies korrupte ANC-leiers, teen heersende valse vrede? Inderdaad, wek ons uit dié valse vrede.





Monday 3 July 2017

Suna Venter sterf vir waarheid en mediavryheid

Was ek daartoe bekwaam, sou ek 'n elegie oor wyle Suna Venter wou skryf, 'n dapper vrou, hewig aangeval deur onsigbare magte van die duisternis wat haar, uiteindelik deur die dood, tot waarheidswye sou bring. Dié tragiese gebeure durf nie onder die mat gevee word nie; geregtigheid moet geskied.

Kulminerend in haar vroegtydige dood, is Suna geteister deur bose magte en wel by wyse van aanranding, ontvoering, doodsdreigemente, huisbrake, in die gesig geskiet, haar motor se remkabels en motorbande gesny, aan 'n boom vasgemaak en die gras daar rondom aan die brand gesteek   -   die terreuromvang wat sy moes verduur en verwerk.

Suna se dood lei tot talryke vrae soos: wie is die gesigloses wat haar graag dood wou sien? Hoe sterk is die owerheidswil om die aandadiges te ontmasker? Gaan daar nog verdere slagoffers, soos Suna, van dié demoniese magte wees?

Ek wil vertrou dat Suna se dood nie tevergeefs sal wees nie, maar dat haar heldhaftige voorbeeld vir ons as inspirasie mag dien. Mag die geskiedenis haar onthou as eietydse heldin wat haar vreesloos verset het teen die leuen en magsmisbruik, en met haar lewe moes boet vir die waarheid in die stryd om mediavryheid   -   'n vryheidsvegter teen die Zuma-hegemonie.

Ons salueer 'n onverskrokke vrou. Sy verdien vereer te word met 'n nadoodse dapperheidstoekenning, en 'n plek ingeruim te word vir haar in die galery van volkshelde en  -heldinne.