Wednesday 24 February 2021

Ons nasionale historiese bewussyn word vernietig




Ek het op Uitenhage gaan slaap en op Kariega wakker geword. Port Elizabeth-inwoners word onthuts op Gqeberha wakker. Uit dié oornagse transformasie-nagmerrie ontwaak ons nie weer nie, 'n goeie voorbeeld van pres. Ramaphosa se herhaalde verwysing na die "new dawn upon us".

Dié naamsverandering vorm deel van die ANC-transformasieagenda tot die algehele uitwissing uit ons nasionale historiese bewussyn van die westerse bydrae tot, en invloed op, die ontwikkeling van Suid-Afrika (SA), ten einde slegs deur Afrika-inhoude gevul te word.

Hieromtrent kan die ANC-magsdronke -vertoon nie misgekyk word nie.Groot skade word berokken aan versoenings- en nasiebou pogings met tegelyk vervreemding van 'n segment van die SA-bevolking.

Plekname van dorpe wat deur Europeërs gestig en ontwikkel is, word gemonopoliseer deur Afrika-naameiers daarbinne te lê. Minister Mthethwa beweer dis 'n simboliese herstel vir verlede onregverdighede. Kan een onregverdigheid deur 'n ander onregverdigheid ongedaan gemaak word?

Bestaan daar voldoende bewyse dat die Port Elizabeth-Uitenhage-omgewing reeds tradisioneel Xhosa-bewoonde gebiede tydens dorpstigting was? Ek twyfel daaromtrent. Teenswoordig kan, byvoorbeeld, Australiërs en New Zealanders nog begrip toon as ek sou sê ek kom van die Port Elizabeth-omgewing in SA, maar Gqeberha?

Behalwe dat dié naamsverandering geldvermorsing is, lei dit ook tot disoriëntering in vele opsigte. Waarom kan beide name nie, met die "ou naam" tussen hakies, nie behou word nie? Veel emosie word ook opgewek wat rassepolarisasie kan aanwakker.






Tuesday 16 February 2021

ANC-vure vernietig president Ramaphosa se "fynbos"




In sy 2021-SONA-aanbieding beweer president Ramaphosa dat ons "nasionale fynbos" simbolies aan die brand is. Voorbeelde van dié verwoestende brande is legio. Van die twintig gevaarlikste wêreldstede is ses daarvan Suid-Afrikaanse stede (onder ANC-bewind).

Vir die soveelste keer was ook die afgelope presidensiële voordrag 'n groot teleurstelling.Oor seker die mees endemies verlammende probleem onderliggend aan steriele groei en gebrekkige ontwikkeling  -  die kwessie van staatskaping en korrupsie  -  het die president weinig gesê.

Vir 'n baie lang tyd reeds is korrupsie en staatskaping ondergeskik aan ANC-belange met die belastingbetalende burgery wat vir vervalste staatsrekeninge en finansiële kaderknoeiery moet betaal.

Natuurlik was die SONA nie 'n geleentheid uitsluitlik oor korrupsie nie, maar waarom so weinig oor die Zondo-kommissie en die vervolging van korruptes? Suid-Afrika hou asem op; ons toekoms is by 'n waterskeiding. Dui dit op ANC-prioritisering van groter lojaliteit teenoor ANC-eenheid as nasionale belang en -eenheid?

'n Gebrek aan dringendheid van voorgenome optrede asook aan oortuigingskrag in aanbieding, bring die vraag na die geloofwaardigheid en nasionale inspirasie wat daar uitgaan van president Ramaphosa se leierskap, na vore.

In teenstelling met die wêreldkenmerk van ongelooflike vooruitgang en versnelde lewenstempo, ontwaak die Afrikareus maar langsaam. Vandaar dat SONA-inhoude van jaar tot jaar weinig verskil en onuitgevoerde beloftes teleurstellend toeneem.

Wat die president se simbolies brandende "fynbos" betref: wie of wat anders as die selfaangesteekte ANC-vure is besig om dié "nasionale fynbos" te vernietig?