Monday 31 March 2003

US se Bartolomeusnag?

TRANSFORMASIE, 'n eufemistiese verwysing na revolusie, is waaroor dit in Suid-Afrika gaan. Ook tersiêre instellings is die teiken van revolusionêre transformasie. In berigte is lesers ingelig dat die US se transformatiewe konsep-diversiteitsplan hierdie inrigting tot in sy fondamente gaan skud.

Dié mooi fondamentbeeld roep, onder meer, wyle dr. D.F. Malan se fundamentele stelling "Stellenbosch staan vir 'n idee" na vore. Het hierdie "idee-karakter" van die US eksklusief net met Afrikanersentrisme saamgehang, of was dit ook 'n kaart en kompas op 'n Skrifverligte, akademiese beskawingsroete in en vir Suid-Afrika? Terwyl ras en geslag versoenbaar is met voormelde roete, is 'n diversiteit van geloof en seksuele oriëntasie, wraaknemende diskriminasie en die miskenning van pionierskap nie daarmee te versoen nie.

Wat is die huidige voorneme met die fundamentele "Stellenbosse idee" ?

Die "verligte" Euro-Afrikaner moet nie gerieflikheidshalwe vergeet van sy eie instrumentele aandeel aan die posisie waarin hy homself tans bevind nie. Hy het by die stembus goedkeuring gegee vir die inwerkingstelling van 'n grondwetlike proses waarvan hy die gevolge nie voorsien het nie.

Parys het twee Bartolomeusnagte beleef. Op 24 Augustus 1572 is die Protestantse Hugenote deur die geloofsonverdraagsame Katolieke in 'n vervolgingswaansinnige poging tot geloofstransformasie uitgemoor. Op 4 Augustus 1789, bekend as Bartholomeusnag van Eiendom, beëindig (transformeer) die Franse revolusionêre die Ou Orde. Die wetgewing waardeur maatskaplike gelykheid ingestel is, hoewel prinsipieel lofwaardig, het Frankryk in langdurige chaos gedompel.

Staan die Stellenbosse idee ook op die vooraand van sy Bartolomeusnag?

Monday 17 March 2003

Drietaligheid kan later bereik word

Dit is met waardering dat ek van Maria Oewwels (Brieweblad, 06.03.03) en dr. Gerrit Brand (Brieweblad, 11.03.03) se taalstandpunte kennis neem. Ongetwyfeld sal daar sowel raakpunte as verskilpunte in ons onderskeie standpunte wees. Solank ons nie toelaat dat verskilpunte in geskilpunte ontaard nie, is en bly Afrikaans aan die wenkant.

Ek bly oortuig dat die gedagte van taaldwang met groot versigtigheid hanteer moet word. Ek is ten gunste van 'n vertrekpunt van tweetaligheid (in welke kombinasie ook al) ; dat mense sonder enige benadeling taalkeuses mag uitoefen ; dat verpligte drietaligheid realisties eers oorweeg kan word indien tweetaligheid aanwysbaar gevestig is ; dat sodanige taaldwang dan konsekwent van toepassing sal wees op almal en, voordat enige skoolgaande kind tot drietaligheid verplig word, die relevante owerhede eers sélf daartoe verplig word om hierin 'n lewende voorbeeld in die praktyk te stel.

Die blootstelling van leerlinge aan 'n swart streektaal op skool, mits die reg van ouers en leerlinge gerespekteer word, kan op lang termyn net beter verhoudinge bevorder. Alles sou egter nie pluis wees indien dit in 'n eensydige taalaanleer-aangeleentheid sou ontwikkel nie.

Kyk ons na die 1991-statistieke van die elf huistale, vind ons géén meerderheidstaal tussen hulle nie. Selfs die talrykste huistaal, Zoeloe (22%), is 'n minderheidstaal. Xhosa (17%) beklee die tweede, Afrikaans (15%) die derde en Engels (9%) die vyfde plek.

Hierdie taleminderhede skep 'n dilemma vir nasionale kommunikasie. Daarom maak die regering Engels tot nasionale voorkeurtaal ten koste van die ander tale. Die bedreiging vir Afrikaans is dus nie in die swart tale self opgesluit nie, maar in hierdie tale se "opting for English"-benadering.

Tuesday 4 March 2003

Taaldwang is nie die antwoord

Maria Oewwels (Brieweblad, 18.02.03) "...kan nie glo dat 'n swart taal...nog nie in skole verpligtend is nie." Ook dr. Gerrit Brand (Brieweblad, 20.02.03) wil sien dat "...dit verpligtend gemaak word om minstens drie amptelike tale op skool te leer."

Oewwels en Brand verdien steun vir hul ideaal van meertaligheid. Drietaligheid het reeds   -   hoewel sporadies   -   ongedwonge en natuurlik ontwikkel waar die lewensvatbaarheidsfaktore gelyktydig aanwesig is en dit spontaan momentum kry.

Twee belangrike vrae is egter : Hoe riskant is die toepassing van taaldwang by wyse van verpligte onderrig in 'n swart taal op skool, en watter soort implikasies hou sodanige taaldwang, soos wat Oewwels en Brand voorstaan, in?

Die aandeel van (die Afrikaanse) taal in die dramatiese Soweto-gebeure van 16 Junie 1976   -   as 'n voorbeeld van die riskantheid van taaldwang   -   is steeds relatief vars in die geheue.

Moontlike implikasies van dié taaldwang sou waarskynlik, onder meer, kon behels die genoodsaakte wysiging van die Grondwet en Handves van Menseregte, die onderwyswet, die bestaande kurrikulum, onderwysersopleiding en onderwysfinansiering.

Die Soweto-gebeure en enige moontlike implikasies van taaldwang behoort nie ligtelik deur voorstanders daarvan opgeneem te word nie   -   tensy daar beproefde strategieë is om plofbare taalsituasies wat kan ontwikkel, suksesvol te ontlont.

Waarom 'n drang tot drietaligheid as tweetaligheid nog nie eens gevestig is nie? Waarom nie eerder daaraan werk om van tweetaligheid 'n sukses te maak as 'n logiese vooraf stap onderweg na drietaligheid nie? Aanvaar die eeue-oue uitdaging om die tipies-stedelik, obstruktiewe Engels-eentaligheidsmuur eers suksesvol af te breek ter voorbereiding vir tweetaligheid waarop drietaligheid dan kan volg.

Engelssprekendes verlaat die skool met oorwegend Afrikaans as hul tweede taal. Hierdie taaltoerusting, baie langtand verwerf, word egter by die skoolhek uitgetrek en agtergelaat wanneer hulle daar uitstap. Presies dieselfde kan gebeur met die gedwonge aanleer van 'n swart taal. Taaldwang blyk daarom nie die antwoord te wees nie.