Friday 22 July 2011

Vooruitgang slegs deur ontwikkeling

'n Derde besoek aan Engeland en 'n tweede aan Europa, die keer aan Frankryk en die drie Beneluxlande, bring onvermydelik die besoeker se waarnemings tydens elke besoek herhaaldelik uit by 'n vergelyking tussen Wes-Europa (herkomslande van wit Suid-Afrikaners) en Afrika, veral in terme van vooruitgang deur ontwikkeling.

Dit is nodeloos om te probeer wys op die legio van verskille op haas elke terrein tussen die vastelande van Afrika en Europa in terme van ontwikkelende vooruitgang en vooruitgaande ontwikkeling. Sodanige vastelandse verskille bestaan nie net vanaf gister en eergister nie, maar oor eeue heen.

Stede, dorpe, kerke, katedrale, kastele, paleise,waterkanale, brugge, voedselverbouing en vervoermiddele en -netwerke is maar enkele voorbeelde van Europese ontwikkeling en vooruitgang deur die eeue heen. Sommige daarvan dateer terug na die Middeleeue; ander weer na die Romeinse tydperk van verowering. Wat, hierteenoor, bied sub-Sahara Afrika?

Om Afrika met Europa te vergelyk, is geen opwindende oefening nie. Vir sommige mag dit dalk nie "polities korrek" wees nie, maar ingrypende verskille tussen gemelde vastelande is 'n onweerlegbare feit. Dit is 'n kerndilemma vir die vanuit-Europese-oorsprong wit minderheidsgroep in S.A.

Wat die huidige geslag van Suid-Afrikaners geërf het, is 'n mengsel van Europa en Afrika. Vir 'n bietjie meer as drie eeue het Europeërs-van-oorsprong S.A. ingerig volgens die Europese ontwikkelings- en vooruitgangsmodel. Vergestaltings van hierdie model is oral rondom ons. Dit is egter verruil vir 'n Afrikamodel waarvan die tipiese kenmerke daarvan toenemend sigbaar word.

'n Belangrike element van die beleid van afsonderlike ontwikkeling ("apartheid") was dan ook juis om die Europese model van ontwikkeling en vooruitgang in Afrikakonteks te kon behou, wetende presies hoedanig die Afrikamodel daar uitsien. Vandag het laasgenoemde model die gevorderde Europese model verplaas met al die implikasies daarvan vir alle Suid-Afrikaners se lewenstandaarde.




Wednesday 6 July 2011

ANC druip toets in immigrantebeheer

'n Dagblad met die voorbladopskrif, "Minister Who Dares To Speak The Truth" (Daily Mail,01.07), sal waarskynlik vir enige belangstellende Suid-Afrikaner buitengewoon vreemd op die oog val en dit daarom graag wil lees. 'n Soortgelyke koerantopskrif in enige S.A. koerant is, om verskeie redes, haas ondenkbaar.
Om watter waarheid gaan dit in dié berig  wat dié Britse minister nie onder die mat wil vee nie? Iain Duncan Smith, Britse minister van Werke en Pensioene, waarsku die regering teen die invloei van immigrante-werkers aan wie meer as die helfte van nuutgeskepte Britse werkgeleenthede die afgelope jaar toegeken is. Dit beroof Britse burgers van werksgeleenthede en "vonnis" diesulkes, en veral jongmense, tot 'n geslag van uitsiglose staatsafhanklikes.
Werksgeleenthede aan buitelanders, eerder as aan Britte, is 'n nalatenskap van die vorige Arbeiderregering. Die geboorte-aanwas onder immigrante is ook veel hoér as onder die Britte. Vanweé sy lidmaatskap van die Europese Unie (EU) is Brittanje egter onderhewig aan 'n vrye vloei van werkers tussen dié lidlande. Minister Smith se argument is egter dat vele immigrante van buite die EU-lidlande kom.
Hierdie immigrante se afvat-van-werkgeleenthede skep egter spanning in die Britse regering, omdat die konserwatiewe regering van David Cameron in koalisie met die Liberale Demokrate regeer en wat ten gunste van die verslapping van buitelandse immigrasie is.
Dit is hieruit duidelik dat S.A. se probleem van die toestroming van buitelanders, veral vanoor sy noordelike grense, nie uniek is nie. In sekere opsigte sal daar dus ooreenkomste, maar ook verskille wees. Een so 'n verskil is dat die huidige Britse regering , in teenstelling met die ANC-regering, deeglik bewus is van die erns van dié probleem en die implikasies daarvan vir sy burgers, en dit nie stilswyend ignoreer of oorlaat aan die burgery se reaksie wat kan manifesteer in die vorm van vreemdelingehaat nie. Die ANC druip egter in sodanige toets.