Thursday 12 September 2013

Hou grense van welvoeglikheid in gedagte

Die skrywe, "Hou maar mieliestronk byderhand..." (DB,11.09), het my regtig laat gril, maar dalk oorreageer ek. Soos Jeffreysbaai se strandhonde-bôlliedebat vroeër vanjaar, handel ook dié skrywe oor bôllie   -   dié keer oor mensebôllie. Die skrywer het dit teen die "onverantwoordelike manier" van die gebruik van Die Burger as toiletpapier deur die skrywer van "Maak eers seker daar is voldoende papier" (DB,09.09).

Volgens die jongste skrywer moes die vroeëre skrywer na "ander oplossings gesoek het voordat Die Burger met soveel minagting...en so verfoeilik behandel (is)." Dié skrywer sê verder: "Mense wat voorsorg tref, loop altyd met 'n mieliestronk of twee in die baadjiesak (of handsak)...Selfs 'n baadjiepunt of 'n stukkie onderklere...(en) selfs 'n selfoon...kan die ding doen." Hy verwag " 'n onvoorwaardelike verskoning aan Die Burger" van die 09.09-briefskrywer. Watter "ongure" beelde roep dié voorgemelde verwysings nie op nie!

Is dit die skrywe van 'n grapjas met 'n besondere (galge-)humor oor mensebôllie, óf is dié persoon ernstig? Dié onderwerp getuig nie juis van goeie smaak vir openbare meningsruiling nie. Hoewel, na my mening, skrywes oor (mense-)bôllie nie die papier werd is waarop dit gedruk word nie, mag ander daaromtrent dalk van my verskil. Maar werklik: die eerste brief daaroor laat my nie soveel gril nie; die tweede brief daaroor laat my allerverskrikliks gril. 

Laat ons, ter wille van ons lesers   -   en ook ons self   -   die grense van welvoeglikheid in gedagte hou, en nie die standaard van briefinhoude onder verdenking plaas nie.              (ngn)




Tuesday 10 September 2013

Kies Christus bo wetenskap en verstand

Marius Krige (VB,9/9/2013) se Bybel-uitdagende bewerings verdien ons ernstige aandag. Hy beweer: "(die Bybel is) antieke geskrifte met 'n wêreldbeeld wat totaal verskil van die huidige; ons leef in 'n eeu van rede waar ons niks kan glo as dit nie argeologies/wetenskaplik bewys kan word nie; die mens...(is) nie 'n aparte uitverkore wese nie; God het nie 'n spesiale verhouding met die mens nie..." Hierdie is duidelik die taal van 'n bekeerling tot die evolusiegeloof. Hoe lyk diesulkes se uiteinde?

Krige se bewerings stem baie ooreen met dié van Thomas Paine in sy driedelige boek, "Age of Reason" (1794,1795,1807). Hierin val ook Paine die Bybel en die Kerk aan met sy rasioneel-fundeerde kritiek. Vir hom was die rede/verstand verhewe bo God. Paine sê: "My own mind is my church."

Vra ons na die sterfbed-ervaring van Paine, dan word die aandag vinnig daarop gevestig dat hy   -   soos ook Charles Darwin   -   nié 'n sterfbedbekering deurleef het nie, dog gerapporteer dat hy, sterwende, sou gesê het: "I would give worlds if I had them, that the Age of Reason had never been published. O,Lord,help me! Christ, help me! No, don't leave; stay with me! Send even a child to stay with me; for I am at the edge of Hell here all alone. If ever the Devil had an agent, I have been that one."

Krige, ek   -   en elke ander Christengelowige   -   het 'n plig om jou te waarsku op grond van wat Esegiël 33:8 ons opdra: "Wanneer Ek van die goddelose sê dat hy sal sterwe, en jy praat nie en waarsku hom nie...sal Ek jou verantwoordelik hou vir sy dood." Krige, sal jy nie maar dié waarskuwing ter harte neem en Christus, die Eienaar van beide verstand én wetenskap, en Sy Woord betyds aanvaar nie?          (ngn)






Monday 9 September 2013

Vier lente met voëlkroeg en -restaurant


Lente is hier   -   ten minste op die almanak   -  en die natuurlewe ontwaak uit sy winterslaap; ook die voëllewe. "Ons" seisoenale swaeltjies is terug in hul nes by die agterdeur. Ook 'n kwikkie sit haar broeise sit by die agterdeur. Instink dryf hulle na dié stiller agterdeur-omgewing.

Aan straat- en voordeurkant het my vrou 'n voëlkroeg en -restaurant, ongeregistreer by die SAID, ingerig. Sy beweer die genotvolle akoesties-visuele "inkomste" gegenereer uit dié kroeg-restaurantbedryf, is nié belasbaar nie. Om onveiligheidsredes, egter, hou die blitskatpatrollie 'n voortdurend wakende oog oor dié omgewing.

Ek voorsien die bruinsuikerwater aan die boomtakgeleë "kroeg" op trapleerhoogte; my vrou die kos aan die "restaurant" in 'n houthuisie op 'n besemstok onder 'n boom. Hier kom eet en drink ons voëlvriendjies gratis, verniet en pasella. Daar is die dominante en ook die ondergeskikte besoekers wat eers hul beurt moet afwag. Kroeggevegte is geen vreemde verskynsel nie. Die fynbesnaarde sober duiwe besoek egter nie die kroeg nie; net die restaurant.

Kroegklante bestaan hoofsaaklik uit byevangers, vinke, suikerbekkies en kraalogies   -   in volgorde van dominansie. Klaar gedrink, beweeg hulle na die "geselsboom" hoog in die takke bokant die "restaurant", en kan dan geluister word na, veral, die "vinkesender" se solo-, duet- en kwartet-"uitsendings" vir al wat ore het. Al verstaan ek geen kwetter daarvan nie, streel dit die oor met terapeutiese effek. 

'n Terugflitsende skuldgevoel bly nie uit nie: hoe dikwels het ek nie, as laerskoolseun, met bonsende hart oor 'n windbuksloop na dié vriendjies gekyk nie? Die wilde-kanarie in G.A.Watermeyer se "Ballade van die bloeddorstige jagter" herinner my daaraan met sy: "Ek kelk die sonlig in my keel en rym die rondebessie ryp; met kinderhand het hy, het hy die fluite uit ons bors gegryp." Eina, wilde-kanarie, die waarheid maak seer.


Monday 2 September 2013

SA media gaan selektief om met waarheid

"Beeld" (30.08) berig oor 'n UP-filosofiedosent, dr. Louise Mabille, wat in 'n skrywe die vraag gevra het "waarom babaverkragting 'n kulturele fenomeen onder die swart bevolkingsgroepe is". Dr. Piet Croucamp, 'n UJ-dosent, bekend vir sy deelname aan "SABC"-debatvoeringe, beskuldig Mabille   -   in 'n beswaarmakende skrywe aan die UP   -   van "blatante rassisme en haatspraak". Mabille het bedank en vertrek binnekort na die buiteland. Indien dit wat Mabille beweer akademies-getoets waar is, intimideer Croucamp haar dan  nie? Kan hy bewyse aanvoer tot die teendeel?

Liewe genugtig! Sodra iets gesê/geskryf word wat feitelik waar is aangaande énige rassegroep wat as sodanig bewysbaar is, dan word die rassisme/haatspraak-kaart uitgepluk. Só sal ons nooit van dié euwel ontslae raak nie. Is dit rassisme/haatspraak om te rapporteer wanneer 'n swart/wit persoon 'n wit/swart persoon vermoor het terwyl dit met 'n hofuitspraak bewysbaar is? Bevorder media-verswyging nie die euwel van rassisme/haatspraak nie? Wie se belange word só gedien: die SA-burgers s'n, of die ANC?

Waarom moet SA-burgers via die buitelandse nuusmedia, soos vanuit die VSA, verneem van 69 aanvalle, 101 slagoffers, 20 moorde en 20 plaasaanvalle op wittes  vanaf 1 tot 31 Mei vanjaar, terwyl dit deur die SA-media verswyg word? Dit is mos duidelik agterdogwekkend.

Ons weet lank reeds dat, veral die Afrikaanstalige media, intern gemuilband word, 'n mediagedragstipe wat aan die Goebbels-era van die Duitse Nazi-bewind herinner. Hoeveel joernaliste, wat ook maar hul taak om den brode uitvoer, se taak word nie hierdeur striemend bemoeilik nie? Hulle moet hul taak uitvoer volgens opdragte afkomstig van die mediabase en  -magnate wat die heersende SA-beeld bepaal en voorskryf volgens 'n versweë agenda. Die media vertolk en hanteer daarom sekere waarhede selektief as "ongevoelig" teenoor sekere persone en/of groepe in SA. Dr.Mabille is 'n slagoffer daarvan.           (ngn)