Wednesday 12 February 2020

Presteerders sneuwel in onderwyslandskap




Ons hoëronderwys landskap herinner aan Geallieerde begraafplase in die Paschendaalse landskap van Vlaandere met hul rye wit kruise waaronder gesneuwelde soldateliggame rus wie se talente vir altyd verlore is.

Met sewe onderskeidings en 'n gemiddelde van byna 90%, slaag dié hoofseun in matriek, dog sy aansoek om geneeskundige studies word deur vier universiteite afgekeur. Vele ander wit toppresterend voornemende mediese studente deel in dié lot. Hul uitsonderlike talente "sneuwel" in universiteite se geneeskundige fakulteite. Maar, wie se aansoeke slaag wel?

'n 90%-kandidaat kon 10% van die skoolse akademiese vereistes nie bemeester nie; 'n 60%-kandidaat, 40%. Indien dié prestasietendens aan die einde van geneeskundige studies herhaal word, wat hou dit in vir die volgehoue standaarde van die mediese professie asook nasionale gesondheidsvoorsiening? Wat van die ekstra belastinglas in gevalle waar die studiekursus nie in die voorgeskrewe minimum  vasgestelde tyd voltooi word nie?

Mag ons weet of daar 'n prioritisering van tersiêre studiekursusse, volgens nasionale behoeftes, plaasvind ten einde potensiële "sneuweling" van afgestudeerdes in 'n oorversadigde arbeidsmark te voorkom? Stel universiteite ondersoek in na die werkverkrygingsprofiele van afgestudeerdes?

Fokusende op middelmatigheid, vind ANC-onderwysideologie meriete en uitnemendheid irriterend en, daarom, blootgestel aan "sneuweling". Die kreatief innoverende wil ontbreek by beide ANC en universiteite om dié "sneuweling" te minimaliseer. Die geskiedenis leer dat samelewings sneller ontwikkel deur die bydraes van skerpsinnige begaafdheid; nie deur middelmatigheid nie.

Ideologiese ANC-beleid hanteer die kompleksiteit van ras, geslag, kleur en agterstande ten koste van nasionale belang waardeur "gesneuweldes", daarvolgens, tassepakkende hul heil elders moet gaan soek. So lewer ons onderwyslandskap ook sy "gesneuweldes" op.