Monday 28 September 2015

Grondwet erken gelykheid van kulture

Met Heldedag afgeskaf, voorheen jaarliks gevier op 10 Oktober, blyk veral twee dinge uit onlangse beriggewing oor Erfenisdag: niemand vergeet graag hul helde nie, en ons erfenis staan nie los van sulke helde nie.

Die berigte "Sarah Baartman was 'n heldin, nie 'n frats nie", en "Ons leef Madiba se droom" (DB,25.09), dien ter stawing. Van my eie kultuurgemeenskap se helde, en hul erfenisnalatenskap, vind ek weinig beriggewing, indien enigiets, in die media.

As 'n enkele swaweltjie wat van Afrikaners se erfenis somer probeer maak, wys ek op wyle pres. Paul Kruger, historiese simbool van Afrikanernasionalisme. Omtrent Kruger die volgende: Cecil John Rhodes, aartsopponent van Kruger en simbool van Britse imperialisme, het die volgende gesê: "Elke mens het 'n prys, en as die prys hoog genoeg is, kan enige mens gekoop word. Net Kruger het geen prys nie." Is daar tans 'n regeringsleier in SA van wie sy teenstander dieselfde aangaande onomkoopbaarheid kan sê?

Adjunkpres. Ramaphosa wil hê "dat almal mekaar se taal en kultuur aanleer (want)...ons is eerstens Afrikane, dan Suid-Afrikaners en dán deel van verskillende kultuurgroepe" (DB,25.09). Dié siening, wat samelewingsonderdele rangordelik  ondergeskik stel aan die  -geheel, plaas Kruger (kultuuronderdeel) ondergeskik aan Madiba (lid van Afrikageheel). Dit is histories onhoudbaar. Erken die grondwet dan nie die gelykheid van alle indiwidue én kultuurgemeenskappe nie?








Wednesday 23 September 2015

Neem afskeid van reputasie; kies meriete

Die datums 7 Desember 1941 en 19 September 2015 het iets gemeen. Op eersgenoemde datum slaan Japan die VSA-vloot bloedneus by Pearl Harbor. Die dag daarna verwys pres. Roosevelt na dié dag as "Day of Infamy"   -   Dag van Skande.

Die verloortoets te Brighton, Engeland, waar Japan die Springbokke met 34-32 bloedneus geslaan het, is vars in ons geheue. Dié dag word ook deur vele Suid-Afrikaners as 'n "Dag van Skande" beskou. Pearl Harbor se lugruim was in rookwolke gehul; die SA-lugruim met skok-  en vernederingswolke.

Ten spyte van radarwaarskuwings, het die Amerikaners hul waaksaamheid verslap en die prys daarvoor betaal. Ook die Springbokke het in dieselfde strik getrap. Die Japannese kamikaze het doodsveragtend hul vliegtuie in die VSA-skepe vasgevlieg. Soos 'n eskader vliegtuie in gedissiplineerde gevegsformasie, het Japan die Springbokke vrees-  en genadeloos aangeval.

Iewers vanuit die Bokkamp hoor ek 'n stem: "Et tu, Brute?"   -   Jy ook, Brutus?   -   volgens Shakespeare, Julius Ceasar se woorde aan sy vriend, Marcus Brutus, tydens die sluipmoord op Ceasar. Het sportminister "Moer-hulle-dood" Balula homself nou getransformeer tot 'n Brutus?

Laat ons gerus ons kritiek op die verslane en verslae Bokke versigtig oorweeg. Hul oorsese vertrek het reeds onder 'n donker wolk van kritiek geskied en regverdig dat ons hulle ondersteun. Maar, neem ook afskeid van verbygegane reputasie, en kies volgens verdienste.








Sunday 20 September 2015

Moenie leierdenke blindelings steun nie

Hoe sien die denkbasis van openbare leiersfigure, wat besluite neem waardeur ons toekoms geraak word, daaruit? 'n Skrefie lig val op dié vraag deur wat hulle, as voorbeeld, van "homo naledi" dink. Dit is sulke leiers wat vanuit hul denkbasis bedelings skep waarvolgens, onder meer, Christenkinders   -   en ook ander kinders   -   blootgestel word aan beïnvloedende evolusiedenke, soos dié oor "homo naledi", op skool.

Zwelinzima Vavi sê: "I am no grandchild of any ape, monkey or baboon  -   finish en klaar" (News24,13.09). Dr. Mothole Motshega sê: "This thing is inconsistent with reality and supports the theory that we are subhuman. That's why Africans aren't respected by the rest of the world."

Me Helen Zille sê: "We all derive from pre-historic hominids. Stop using Homo Naledi as an excuse to play victim. Marvel at evolution" (News24,13.09). Zuma en Ramaphosa sing saam met haar in dieselfde evolusiekoor.

Voltaire, Franse filosoof en ateïs, merk relevant toepaslik soos volg op: "Those who can make you believe absurdities, can make you commit atrocities. (en) I cannot imagine how the clockwork of the universe can exist without a clockmaker."

Dit wat besluitnemende leiers se denke ten grondslag lê, hou implikasies in vir ons toekoms. Volgelinge moet hulle daarom vergewis van dié denkbasisse, en hulle van blindelingse steun weerhou.






Tuesday 15 September 2015

Eenwêreldbedeling bedreiging vir mensdom

Soos wat die Europese immigrante-krisis eskaleer, geniet dit toenemende mediadekking. Onder dié immigrerendes word onderskei tussen werklik lewensbedreigde vlugtelinge, asielsoekende ekonomiese fortuinsoekers, en insypelende fanatiek bloeddorstige IS-vegters.

Europeërs bevind hulself in 'n ongekende krisissituasie. Dié destabilisering van 'n ekonomies welvarende Europese omgewing vind, volgens die artikel Het Coudenhove-Kalergi Plan, bepland plaas. Daarvolgens is die doel van dié onvoorsiene massa migrasie om alle bestaande nasionale grense in Europa te vernietig, en 'n kultuur-  en identiteitlose Europese gemeenskap   -   in aanloop tot 'n eenwêreldbedeling   -  tot stand te bring.

In 1922 stig graaf Coudenhove-Kalergi die Pan-Europese Organisasie waaruit mettertyd die Raad van Europa en die Europese Unie ontwikkel het wat met NAVO en die VVO saamwerk vir 'n eenwêreld regeringsbedeling waarmee daar reeds ver gevorder is.

Die mensegolf wat tans oor Europa spoel, verteenwoordig die streeksimplementering, as 'n fase, van dié Plan. Dieselfde fasegewyse implementering, hoewel tans minder opsigtelik, doen hom ook reeds in die VSA voor.

In die ganse geskiedenis van die globale mensdom was mense nog nooit só bedreig deur die gevare só omvangryk soos dié van die strewe na 'n eenwêreldbedeling nie.












Friday 11 September 2015

Zuma mislei SA oor moorde op polisielede

Pres. Zuma skryf die oorsaak vir die moorde op polisielede aan apartheid en kolonialisme toe (DB,07.09). Volgens 'n RSG-nuusberig, kort hieropvolgend, blameer 'n minister óók apartheid en kolonialisme vir die stand van water en bosbou in SA.

Nee, mnr. Zuma   -   en u minister   -   u doelbewus misleidende verklaring van apartheid en kolonialisme tot oorsaak van moorde op die polisie, asook ons water-  en bosboutoestande, is nie waar nie. Om verklarings vir gebeure in onwaarheid te probeer vind, lei tot tragiese gevolge soos, byvoorbeeld, die volgehoue moorde op polisielede. Zuma se apartheid en kolonialisme sal geen duit verskil aan dié moorde maak nie; net die waarheid kan. Hoe tragies dat 'n staatshoof hom nie deur die waarheid laat lei nie.

'n Paslike beskrywing van die ware verklaring is te vinde in Hosea 4:2-3 : "Omdat trou, liefde en toewyding aan die wil van God in die land ontbreek, het vervloeking, valsheid, moord, diefstal, en egbreuk hand oor hand toegeneem en is die vergieting van onskuldige bloed aan die orde van die dag.

Dit is waarom die land verdor en al die inwoners van dors versmag saam met die wilde diere en die voëls, en waarom selfs die visse vrek."

In die lig van dié Bybelse waarheid laat Christene   -   volgens die jongste sensusopname steeds die grootste geloofsgroepering in SA   -   hulself nie mislei deur Zuma nie, of is daar tog dié dubbelhartiges wat nie die vernietigende leuen van die helende waarheid kan onderskei nie?








Sunday 6 September 2015

Nuwe tydsgees die leitmotiv vir SA

Dié dinge wat vandag in die wêreld gebeur, én ook in SA, kan toegeskryf word aan 'n telkens veranderde/-ende tydsgees. Hendrik Hart beweer in sy boek, "The Challenge of our Age", dat samelewings nog altyd deur 'n identifiseerbare tydsgees, as leitmotiv, gelei is/word. So word die Marxisme-Leninisme deur 'n Christen-vervolgende gees gelei.

Dr.Syd Hielema, teologie-professor aan die Dordt College in Iowa, VSA, beskou die identifisering, onderskeiding en beoordeling van enige samelewingsgees as uiters noodsaaklik. Die nalating daarvan beskou hy as gevaarlik.

Hoe moeilik kan dit dan wees om die huidige SA samelewingstydsgees te kan identifiseer aan die manifestasies daarvan soos geweld, misdaad, verkragtings, korrupsie, armoede, moord, werkloosheid, vandalisme, verval en agteruitgang? Dit is duidelik skerp te onderskei van die Bybelse "vrug van die Gees" (Gal.5:22-23) van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. 

Die ANC se alomvattende transformasie inisiatiewe oorspoel SA soos 'n tsunamigolf, waaronder 'n getransformeerde tydsgees as nuwe leitmotiv vir sy NDR wat ons samelewing gans en al moet transformeer. Vanweë die ANC se leimotiv-geleide uitwissing van alle sosiale ongelykhede, mag die burgery dalk net uiteindelik egalitaries almal tot die bedelstand verlaag word.

Die ANC-leitmotiv het ook ten doel die vernietiging van bestaande instellings   -   soos skole en universiteite   -   se Christelike waardesbasisse in ooreenstemming met die sekulêre grondwet wat kommunisme akkommodeer. Het die minister van hoër onderwys se posisie as sekretaris-generaal van die SAKP dan géén implikasies vir ons universiteite se transformasie nie? Dit geld ook alle ministeriële portefeuljes waarvan die bekleërs lede van die SAKP is.         (ngn)






Tuesday 1 September 2015

Berus in die stemmingsuitslag oor Belhar

Ek verwys na T.F.Coertze se skrywe (DB,01.09) en sy vrae aan my oor Belhar.

Op hierdie stadium dui die beskikbare uitslae van die kerklike stemming oor die wysiging van Kerkorde, artikel 1,   -   'n poging om die "deur" vir Belhar te open   -   daarop dat dit deur die meeste lidmate, gemeentes en streeksinodes verwerp is. Indirek dui dit op ook 'n verwerping van Belhar self as verdere belydenisskrif. Vind Coertze dit moeilik om hierin te berus?

In die lig van voorgenoemde word Belhar daarmee in die sloot begrawe. Wat my betref, ervaar ek geen behoefte om mee te doen aan die heropgrawing van dié koei-in-die-sloot en heropening van dié afgelope onverkwiklike debat nie, en verspil daarom geen tyd of energie daaraan nie.

Hoe gouer Belhar, as kerklik verdelende faktor, uit die kerklike gesprek kan verdwyn, hoe beter vir die behoud van kerklike eenheid, saamgesnoer in die uitvoering van die primêre taak waartoe die kerk geroep is. Berus derhalwe in die stemmingsuitslag oor Belhar.

Dalk het Coertze nie my bydraes gelees toe Belhar in Praat Saam debatteer is nie. Indien hy het, sou hy nie nou vrae oor Belhar se "vyf uitgangspunte" gestel en van my verwag om redes te verskaf wat my besware daaromtrent is nie. Indien u werklik ernstig is om 'n antwoord hierop te vind, stel ek voor dat u met u predikant daaroor gesels, of uit beskikbare bronne daaroor te lees. U sou ook in briefvorm, motiverend, kon sê waarom u dit ondersteun.

J.J. (DB,01.09) se "outa Jan"-vraag aan my beskou ek as opportunisties-moedswillig. Waarom? Hy kan die antwoord op sy vraag eerstehands in die beskikbare kerkgeskiedenis nalees eerder as om dit, tweedehands, by my te probeer soek.