Verklaring van besorgde Kaapse NG-Kerk lidmate

Liewe mede-gelowige,

In die noordelike voorstede van Kaapstad en in die Somerset-Wes en Strand omgewing is daar lidmate van die Nederduitse Gereformeerde Kerk wat gereeld bymekaar kom met die uitsluitlike doel om te bid vir die kerk en om te besin oor dit wat, veral in die jongste tyd, op kerklike front aan die gebeur is.

Soos u weet het talle lidmate die kerk verlaat. Vir baie in die kerk is daar onsekerheid en ongelukkigheid oor sommige besluite wat by kerklike vergaderings geneem is, oor botsende standpunte en uitsprake deur leiers in die kerk en oor wat in die media gelees en gehoor word.

Ons, die ondergetekendes , glo dat die Woord ons leer om duidelik en ondubbelsinnig standpunt in te neem vir die waarheid en, in die woorde van Judas 1:3, “kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.”

Ons neem dus die vrymoedigheid om die verwoording van ons oortuigings aan u te stuur met die vertroue dat u ons versugtinge deel en saam met ons daagliks sal bid dat die Here deur sy Woord en Gees die Kerk sal verander om meer en meer aan die beeld van Christus gelyk te word (2 Kor 3.18).

Verder sou ons graag wou weet of u gewillig is om u naam by die verklaring te voeg. Indien wel, vra ons u vriendelik om u naam en kontakbesonderhede aan ons te stuur.

U kan dit doen deur net die ‘Reply’ knoppie te druk en dan u naam en telefoonnommers in te tik en stuur óf u kan die vormpie hieronder invul en en per gewone pos aan ons stuur.

Neem ook asseblief die vrymoedigheid om hierdie skrywe en die Verklaring aan enige of aan almal op u adreslys te stuur. Ons sal dit hoog op prys stel.

Vriendelike groete

In Sy diens

Danie du Plessis namens die opstellers: Hennie van Rensburg; John Murray; Ronnie Neveling; Willem Louw; Ronnie Butler; Danie Murray; Isak van der Vyver; Bombaai van Rensburg; Michael de Waal; Emile Blommaert; Eben Louw; Johan Kriel


Tel: +27 21 855 2391

Mobile: +27 72 726 6018

Posadres: Posbus 1879, Somerset-Wes, 7129

U Naam: …………………………………………………………………….….

E-pos adres: ……………………………………………………………………

Posadres: ……………………………………………………………………….

Telefoon nommers: Landlyn: ……………………… Sel: ……………………




VERKLARING

In die lig van die verwarrende uitsprake deur sekere teoloë en sommige kerklike vergaderings, verklaar ons, lidmate van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die volgende:

1. Ons verklaar dat die Bybel in sy geheel en in al sy dele die onfeilbare Woord van God is. Ons bely, soos in die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) artikel 3: “dat hierdie Woord van God nie deur die wil van ‘n mens gestuur of voortgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek, soos die heilige Petrus sê (2 Pet. 1:21) Sien ook 2 Tim. 3:16; Rom.1:2; Deut. 4:2 en die NGB art. 7. In die verstaan van die Woord, glo ons dat die Skrif homself verklaar.

Wie die gesag van hierdie Woord ondermyn deur eerder op hulle feilbare menslike verstand te vertrou en dit bo die gesag van die Woord te verhef, dit te verdraai en “teorieë”, “argumente wat misleidend is” en “verdigsels” in die plek daarvan te stel (Kol. 2:8; 2 Tim. 4:4), verbeur nie alleen die lewegewende vreugde wat die Woord skep nie (Ps. 19:8-12), maar stel hulleself ook bo die Woord van God.

2. In ooreenstemming met die Apostoliese Geloofsbelydenis (Apostolicum) en die Geloofsbelydenisse van Nicea en Athanasius, glo ons dat God Een is, een enige Wese, in wie van alle ewigheid af drie Persone te onderskei is – die Vader, die Seun en die Heilige Gees. (NGB art. 8; Deut. 4:35; Matt. 28:19; Joh. 17:5)

3. Ons bely die Godheid van Christus (NGB art. 10) en ook Sy menswording en twee nature (NGB art. 19). Hy is waarlik God en waarlik mens (Joh. 1:1, 14; 10:30). Ons glo aan Sy maagdelike geboorte, Sy sondelose lewe, Sy wonderwerke en aan Sy plaasvervangende en versoenende dood aan die kruis. Ons glo ook aan Sy fisiese opstanding uit die dood, Sy hemelvaart en Sy persoonlike terugkeer. Ons glo dat niemand die Vader ken nie, “behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.” (Matt. 11:27)

Alle twyfel oor die maagdelike geboorte, die bevraagtekening van die fisiese opstanding van Christus, elke lering wat verkondig dat Jesus nie die enigste weg tot saligheid is nie, soos Johannes 14:6 ons leer, en alle ander bespiegelinge of leringe wat afbreuk doen aan die lewende Woord, Jesus Christus, die Seun van God (Joh. 1:1-14), kan ons nie aanvaar nie.

4. Ons glo in die Heilige Gees, die derde Persoon in die Drie-eenheid, wat van die Vader en die Seun uitgaan en wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word. (Belydenis van Nicea; Hand. 1:8; Joh. 15:26; Hand. 5:3-5; 1 Kor. 2:12-14; Joh. 16:13-15)

5. Soos in artikel 14 en 15 van die NGB, die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 1 en 2 en die Dordtse Leerreëls (DL) leerstukke 2, 3 en 4 vervat, glo ons dat die mens, wat na die beeld van God geskape is, as gevolg van die sondeval dood is in misdade en sonde en alleen deur die uitverkiesende en genadige ingrype van God (NGB art. 16; Ef. 1:3,4; Rom. 8:29, 30; 1 Pet. 1:2 OV), lewend gemaak kan word. (Ef. 2:1-10; Joh. 6:44) Ons word immers in sonde ontvang en gebore. (Ps. 51:7)

Die waarheid van die erfsonde staan vas. (1 Pet. 1:18,19; Rom. 3:10,23; 5:12; Pred. 7:20; Ps. 51:7) Wie die erfsonde verwerp, leef in die waan dat die mens goed gebore is, nie in sonde is nie en derhalwe ‘n vrye wil het om uit die sondedood op te staan. Hierdie leuen is in stryd met wat ons glo en bely in art. 15 van die NGB, punt 6 van “Verwerping van Dwalings” in leerstuk 1 van die DL en punte 3 en 9 van “Verwerping en Dwaling” in leerstukke 3 en 4 ook van die DL. Daarmee word die leuen gerugsteun dat die mens nie werklik Christus as Saligmaker nodig het nie. Die mens kan daarvolgens self uit sy ellende opklim.

6. Saam met art. 27 tot 29 van die NGB, bely ons dat die kerk “’n heilige vergadering is van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en in Sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees.” Verder bely ons dat dit in die Skrif en die Belydenisskrifte self duidelik gestel word dat die waarmerke van ‘n ware kerk die suiwere verkondiging van die evangelie, die suiwer bediening van die sakramente en die toepassing van die kerklike tug is. (NGB art. 29)

Ten opsigte van die eerste kenmerk, betreur ons die lae vlak van prediking van vele. Die subtiele verdraaiing van die boodskap van die Evangelie, waar die klem al meer en meer op die horisontale, d.w.s. die humanistiese, val, kan ons nie onderskryf nie. Wanneer die Woord van God en die Belydenisskrifte wat daarop gegrond is, nie meer as absoluut gesaghebbend aanvaar word nie, sal die verkondiging van die Woord nie meer wees wat God daarmee bedoel het nie. Daarom verwerp ons die modewoorde “ruimte maak”, “diversiteit” en alle kerklike uitsprake wat dié en soortgelyke woorde gebruik om die Bybelse boodskap af te water en kragteloos te maak, soos byvoorbeeld met betrekking tot homoseksualiteit, die bestaan van die persoon van die duiwel en die dwaling van saambly voor die huwelik. (Algemene Sinode van 2007 en 2011) Wat die sakramente betref, beskou ons die Doop as eenmalig (Ef. 4:5) en dat die toewyding as antwoord op die Doop, telkens by die Nagmaal bevestig word. Ons spreek ons ten sterkste uit teen die grootskaalse ignorering van die tug in die kerk en veral die “ruimte” wat gelaat word vir dosente aan Teologiese Fakulteite, hooggeplaaste amptenare en andere om te verkondig wat hulle wil sonder vrees dat hulle onder tug sal kom, al minag hulle hul legitimasie-eed.

7. Volgens die Bybel is die duiwel ‘n persoon en die oorsprong van alle kwaad. Hy is “die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei.” (Op. 12:9; Ef. 6:12-16; Jak. 4:7; Matt. 4:1-11; NGB art. 37; HK vraag en antwoord 127)

Ons verklaar dat daar geen ruimte gelaat mag word vir onsekerheid oor die bestaan van die persoon van die duiwel nie. Die teologiese konsekwensies van die ontkenning van die bestaan van die duiwel as persoon, tas die hart van die evangelie aan. Om dit te doen, is juis wat die duiwel verlang.

Deur aan die bostaande waarhede vas te hou, bely ons ons enigste troos vir lewe en sterwe, in die woorde van Antwoord 1 van die Heidelbergse Kategismus:

Dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe, nie aan myself nie, maar aan my getroue Saligmaker Jesus Christus toebehoort, wat met Sy dierbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos het en my so bewaar, dat sonder die wil van my Hemelse Vader geen haar van my hoof kan val nie, ja ook, dat alles vir my tot my saligheid moet dien; daarom verseker Hy my ook deur Sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.

Let wel: vir enige navrae oor die inhoud en beweegredes vir die verklaring, kontak vir:

Danie du Plessis


Tel: +27 21 855 2391

Mobile: +27 72 726 6018

Posadres: Posbus 1879, Somerset-Wes, 7129