Tuesday 30 December 2014

Kerstyd beklemtoon ook lig en duisternis

Die 2014-kersgety, waartydens ons weer eens   -   onder meer   -   herinner is aan die koms van Christus as die Lig vir die wêreld en in wie daar geen duisternis is nie, is verby. Daarom sensitiseer die kersgety ons ook in besondere mate vir die onversoenbaarheid van lig en duisternis in die Christelike geloofskonteks. As 'n samelewingsgemeenskap-in-transformasie, vind transformasie vandag   -   baie subtiel  -  ook ten opsigte van lig en duisternis plaas.

Dit is vandag duidelik hoedat die leuen (duisternis), as voorbeeld, op ongekende skaal onstuitbaar tot waarheid (pseudo-lig) getransformeer en tot samelewingsnorm aanvaar word. Hiervoor kan gelet word op die talle simptome van die duisternissindroom soos oorvol tronke, toenemende misdaad, geweld, moord, stakings, verkragting en korrupsie, as slegs enkele kenmerke van die kontemporêr eskalerende duisternis. Bydraend tot S.A se vryval die duisternis in, is dit ook onontkenbaar deel van pres.Zuma se "goeie storie" wat hy geriefshalwe verswyg.

Daar is onmiskenbare aanduidings dat ook die ligdraende Christelike geloofsgemeenskap in die teken van transformasie verkeer. So, byvoorbeeld, transformeer die kerk vandag die Bybelse waarheidslig na duisternis met, as voorbeeld, die volslae ontkenning van die bestaan van die owerste van die duisternis self. So word lig én duisternis gerelativeer om tot 'n grys gebied ineen te vloei   -   'n skakering van duisternis waarin dit aan grondgebied wen.

Duisternis spoel tans golf na golf oor S.A., 'n gebeure waaromtrent vele in totale ontkenning leef. Hoeveel meer duisternis kan ons nóg hanteer voordat ons verstikkend daarin versmoor en uiteindelik geestelik sterf soos wat dié sterwensproses reeds in die VSA en Europa ver gevorder het? Laat ons nietemin steeds gelowend hoopvol bly dat eendag ook van S.A. gesê mag word: "Die volk wat in duisternis wandel, het 'n groot lig gesien..." (Jes.9:1).






Saturday 20 December 2014

Soek Hom nié in godslasterlike dwaalleer

Ek gaan uit van die aanname dat "Soeker na Waarheid" (SnW) (DB,18.12), met "Waarheid" (hoofletter) verwys na dié Een wat van Homself gesê het: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe..."(Joh.14:6), en van Sy Vader gesê het: "U woord is die waarheid" (Joh.17:17). Is dit in hierdie konteks, begrens deur Jesus Christus en God se Woord, waarbinne SnW na Waarheid soek? Ook Pilatus, in die onmiddellike teenwoordigheid van   -   en selfs starende in die oë   -    van die Waarheid vra Hom: "Wat is waarheid?" (Joh.18:18), maar vind geen antwoord nie.

SnW sê hy "het ook begin gesels en lees...(en) het kennis gemaak met ander ontnugterde soekers deur gesprekke, die internet en boeke...wat etlike 'andersdenkende' teoloë, filosowe, opvoedkundiges en ander sê..." Vir my is laasgenoemdes dwaalleraars (2 Pet.2:1-3;17b) wat die kontekstuele grense, wat die Woord en sy Outeur vir ons as gelowiges daarstel, probeer vernietig.

Vandag word op verskeie wyses hard probeer om die Waarheid en Sy Woord uit te daag. Deur Bybelse waarhede as onwaar en tot mites te verklaar, word die Woord só gediskrediteer; deur vervalste grondtekste en vertalings word dit gekorrupteer. Ook die organiese interpretasie van die Bybel beweer dit is slegs mensewoorde oor God en Sy skepping, en nié Goddelik geïnspireerde woorde oor en vir die mens nie  -   die meganiese interpretasie.

SnW lees, onder meer, ook Abel Pienaar wat in sy artikel, "Kersfees:Van buite-egtelike kind tot liefdeskind" (Netwerk 24,08.12), die volgende sê: Jesus is "onder lae van mitologisering toegeverf...(en) dat Jesus eintlik 'n buite-egtelike kind was...(en sy) pa moontlik 'n Romeinse soldaat..." Binne hierdie godslasterlik misleidende dwaalleeromgewing sal ons nooit die Waarheid vind nie, maar wel: "As jy na Hom vra, sal Hy Hom deur jou laat vind.." (1 Kron.28:9b), "...terwyl Hy nog te vinde is" (Jes.55:6).






Friday 12 December 2014

Moenie versuim om Gelofte na te kom nie

In sy Geloftedagtoespraak op 16 Desember 2011 beantwoord prof. Danie Goosen, professor aan Unisa en FAK-voorsitter, die vraag wat menige getroue Geloftedagonderhouer hulself al afgevra het, naamlik: "Wat sou gebeur het as die Voortrekker-kommando onder leiding van Genl. Andries Pretorius by Bloedrivier deur die groot Zoeloe-mag van Dingane verslaan is?" Goosen sê Afrikaners se geskiedenis sou heel anders verloop het. Deur dié oorwinning "het groot dinge in ons geskiedenis moontlik geword." Hy noem die volgende: "...vanweë Bloedrivier...het ons as Afrikaners 'n volk geword...(dit) was ons oomblik van geboorte." Verder het dit Afrikaners in staat gestel om "vorm, struktuur en orde aan ons wêreld te gee..(deur die stigting van) 'n veelheid van republieke in die binneland waardeur hulle ordelik oor hulself kon regeer."

Derdens het Bloedrivier "die historiese tafel gedek" vir die "roemryke oorloë teen Groot Brittanje" waardeur "die gedagte van die Boer tot onsterflike simbool van vryheid verhef is." Vierdens kon Afrikaners die voortreflikste staat in die moderne geskiedenis van Afrika tot stand bring. Goosen beweer Afrikaners staan vandag voor soortgelyke uitdagings as in 1838, en "soos destyds (ly ons vandag) aan 'n gemeenskaplike gevoel van rigtingloosheid...en onsekerheid oor die toekoms" waarop ons moet antwoord. Die Groot Trek dien as voorbeeld van Afrikaners se antwoord op die uitdaging van hul dag.

Goosen se raad aan Afrikaners: 1. aanvaar probleemoplossend selfverantwoordelikheid en ontkom aan die "sindroom van afhanklikheid jeens die staat"; 2. formuleer en stel die legitieme Afrikanersaak op internasionaal erkende platforms, en 3. streef goeie verhoudings met alle SA-inwoners na. Laat ons mekaar daaraan herinner dat "As jy aan God 'n gelofte gedoen het, moet jy nie versuim om dit te betaal nie." (Prediker 5:3).



Monday 8 December 2014

"Nuwe SA" lei tot 'n identiteitsverlies

In sy artikel: "Identiteit nie 'n nasionale krisis" (DB,05.12), reageer Leopold Scholtz op beriggewing dat "die behoefte aan 'n enkele Suid-Afrikaanse identiteit" vanaf 73% in 2003 tot 55% in 2013 gedaal het (DB,04.12). Scholtz maak Nederland tot voorbeeld en sê: "'n Enkele nasionale identiteit bestaan beslis in Nederland. Maar dit sluit klaarblyklik nie die Moslems in nie...(by wie) 'n onwilligheid om te integreer, om die Nederlandse norme en waardes oor te neem, neiging tot misdadigheid, onverdraagsaamheid teenoor nie-Moslems..." bestaan. Volgens Scholtz bots laasgenoemde lynreg met die Nederlandse identiteit met sy "groot voorbehoude".

Dieselfde bedreiging van die nasionale identiteit manifesteer ook in Brittanje, Duitsland, Frankryk, België en Skandinawiese lande waar eise van instromende Moslems onrusbarend toeneem. Scholtz sê: "Oral reageer die mense op maniere wat herinner aan dié van die Afrikaners voor, in en ná die apartheidstyd." Wat 'n veelseggende en insiggewende gevolgtrekking van Scholtz. Is dit nie maar 'n universele reaksiewyse van volkere   -   met "groot voorbehoude"   -   om só te reageer teenoor vreemdelinge wanneer dié hul nasionale identiteit bedreig nie?

Verklaar die Afrikanervolk se bedreiging van sy eie volksidentiteit nie veel van die afsonderlike ontwikkelingsroete (kortweg apartheid genoem) wat hy noodgedwonge gevolg het juis ten einde sy identiteit te behou nie? Onder die huidige identiteitsvernietigende bedeling is hy beslis besig om sy vroeëre volksidentiteit te verloor. Is die diverse rasse-, etniese-, kultuur-, taal- en geloofsgroepe in SA nie elkeen ook besig om 'n onaanvaarbare verlies aan die eie unieke identiteit te ervaar, en daarom die 18% daling in die behoefte aan 'n enkele SA-identiteit? Die "nuwe SA-reënboognasie" lei, sonder twyfel, tot 'n identiteitsverlies.









Sunday 30 November 2014

Apartheidsvernietiging primêr vir Belhar

My indruk uit gesprekke met medelidmate oor Belhar, is dat vele onseker is vanweë onvoldoende inligting. Waar kennis wel bestaan, berus dit op eensydige inligting soos deur die pro-Belhar NGK-leierskap beskikbaar gestel   -   "Kerkbode" van 1 Augustus 2014 en die "gereedskapkis" (toolbox) van dié kerk as voorbeelde. Anti-Belharinligting word weerhou en/of verswyg.

Prof.Piet Strauss beskryf in sy bydraende hoofstuk, "Die belydenisbeweging teen apartheid", tot die boek, "Belhar Geweeg", voortreflik hoedat Belhar gebore is uit die rewolusionêre stryd teen apartheid. Apartheidsvernietiging is reeds vir al meer as vyf dekades die primêre dryfveer, aanloop en agtergrond tot Belhar. Die Bybel beklee 'n sekondêre posisie waaruit teksverse   -   doeldienlik gekies en vertolk   -   aangewend word om dié bevrydingsteologies georiënteerde geskrif te motiveer.

Dié "verbintenis" tussen Belhar en apartheid duur onverpoosd en onverbloemd voort waaruit lidmate self afleidings kan maak. Die NGK-moderator, prof. Niemandt, sê: "...as die NG Kerk Belhar sou verwerp, sal dit wyd gesien word (deur wie?) as 'n terugkeer na apartheid" (Beeld,23.08.13). In een van sy laaste briewe haal wyle dr.Mauritz Vorster (DB,18.09.07) vir prof. Piet Naude soos volg aan: "Die laaste bastion van wit Afrikaneroorheersing (bedoelende NGK) kan val   -   dit sal uiteindelik die einde van apartheid wees."

In Volksblad (31.05.13) sê ds.Willem Botha: "Tydens drie streekbyeenkomste van die NG Kerk Vrystaat is (gesê)...dat die aanvaarding van Belhar die toetssteen is of iemand inderdaad apartheid afgesweer het..." In "Waaroor word gestem?" (DB,25.11) word berig: "Die belydenis het ontstaan in 'n konteks van 'geskeidenheid' en 'aparte kerkvorming'..."

In die lig van dié onontkenbare "verbintenis" tussen Belhar en apartheid, behoort elke lidmaat duidelikheid daaroor te kry en Belhar ook daarvolgens beoordeel. Belhardenke is apartheidsgemoeide denke.






Tuesday 25 November 2014

Hanekom-artikel nie oortuigend nie

Dr.Braam Hanekom se: "Vanwaar,Belhar?" (DB,25.11), op die vooraand van die Oos-Kaapse buitengewone sinodesitting, verskyn nie toevallig nie, maar wel strategies bepland en patroonmatig. Hierdie streeksinode se byeenkoms in Junie 2012 is, eweneens, voorafgegaan deur prof.Piet Naudé se: "NGKerk moet stemloses stem gee" (DB,06.06.12). Die dryfveer van beide artikels is propaganda.

Betreffende die Hanekom-artikel bevraagteken ek, onder meer, die volgende wat hy sê: "Die (Belhar-) voorstel impliseer dat dominees...met vrymoedigheid daaroor sou kon preek en kinders in die kategese...daarvan sou kon leer." Waarom verwys Hanekom nie direk na die 2013 VGK sinode-besluit, indien kerkeenheid sou geskied, naamlik: "The content of the Confession of Belhar will be taught in catechism, preaching, theological education and embodied in a transforming Church" (my kursivering)?

Hanekom sê: "...ons...glo...dat jy nie onder dwang iets kan of moet bely nie"   -   vandaar die "opsionele" keuse aan lidmate vir Belharaanvaarding. Wat sê die VGK sinode-besluit hieromtrent? "Every new minister will be licensed only after subscribing to all four Confessions" ná kerklike eenwording. Waarom verswyg Hanekom dit? Moet anti-Belhargesindes die pro-Belhargesindes   -   volgens aanloklike "opsionele" grondslag   -   help sodat Artikel 1 Belhar sal akkommodeer waarop kerkeenheid dan kan volg? Ná kerkeenheid het die pro-groep hul doel bereik, en kan die anti-groep die kerk liefs verlaat? (Lesers sal merk dat VGK-taal slegs Engels is!)

Volgens Hanekom is Belhar Skrifgetrou, 'n aanspraak wat deur die teenstanders daarvan verwerp word. Hanekom beweer Belhar moet help met "die uitdagings wat ons land en wêreld tans in die gesig staar." Kan enige ware belydenisskrif sigself verantwoord aan enigiets ánders   -   soos dienstigheid aan "ons land en wêreld"   -   as slegs uitsluitlik aan die Hoof van die Kerk en Sy Woord?

Jammer. Hanekom oortuig my nie.








Thursday 20 November 2014

Gaan besluite op vooraf ondersoek berus?

Op 26-27 November vind daar 'n buitengewone vergadering van die Oos-Kaapse sinode van die NG Kerk plaas. Die hoofbesprekingspunt is die voorgestelde wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde met die doel van die opname van Belhar daarin. Die Vrystaatse sinode het vroeër die aandag daarop gevestig dat Artikel 1 sekere voorskrifte bevat vir die kerklike hantering en potensiële aanvaarding van Belhar. Enige bespreking oor Artikel 1 impliseer tans voorbereiding vir die aanvaarding van Belhar. Dié twee impliseer mekaar wedersyds.

In sy bydraende hoofstuk tot die boek, "Belhar Geweeg" (2012), wys ds.Theo Danzfuss   -   Aktuarius van die Hoëveldse sinode   -   op die volgende besluit van die Algemene Sinode (AS): "Die Algemene Sinode dra dit aan die Moderamen op om, as deel van die proses, 'n deeglike studie te doen van die historiese, teologiese en kontekstuele relevansie van Belhar ten einde die volgende AS en alle kerkvergaderings te adviseer." (NGK2011,Algemene Sinode 2011:Besluiteregister, bl.3).

Vir my is dit 'n aktuele vraag óf dié besluit op hierdie stadium reeds uitgevoer is sodat die bevindinge van " 'n deeglike studie...van Belhar" beskikbaar is, ten einde "alle kerkvergaderings"    -   ook dié van die Oos-Kaapse sinode   -   adviserend te lei in hul bespreking van en besluitneming oor die Belhar/Artikel 1-aangeleentheid? Twee slotvrae: hoe legitiem is enige bespreking en besluitneming sou dit nie gebaseer wees op die bevindinge van 'n vooraf ondersoek soos deur die 2011 AS daartoe besluit, en, indien dié besluit nog nié uitgevoer is nie, wat is dan die waardestatus van 'n/enige AS-besluit?






Saturday 15 November 2014

Bron van verwarring - Beeld of Niemandt?

In: "Lede soek Belhar in Kerkorde", berig Beeld (06.11) van sy gesprek met die NGK-moderator, prof. Nelus Niemandt. Hiervolgens sou Niemandt gesê het dat die NG Kerk reeds die Belydenis van Belhar (BB) aanvaar het; dat lidmate nie die teologiese integriteit van BB bevraagteken nie; dat die versoek om BB deel van die kerkorde te maak van NGK-lidmate self kom; dat die NGK nié deur die VGK gedwing word om BB te aanvaar nie, en dat hy nie veel verdeeldheid in die NGK verwag nie.

Daar bestaan voldoende aanduidings dat nie 'n enkele een van die voorafgaande bewerings korrek is nie. Reaksie op dié verwarrende uitsprake het die moderator op die NGK facebook-blad laat reageer waar hy, onder meer, sê: "Die koerantberig is eenvoudig nie korrek dat Belhar aanvaar is deur die NG Kerk nie." (Wat van die oorblywende opmerkings?)

Die vanselfsprekende vraag is wie se kommentaar geloofwaardig is: dié van Beeld óf dié van Niemandt? Vrae van 'n spontane aard: kan 'n Beeld-verslaggewer dan (ooglopend moedswilliglik?) soveel as vyf verdraaide uitsprake aan die moderator toedig? Drie van Niemandt se bovermelde beweerde uitlatings verskyn tussen aanhalingstekens. Lesers weet immers wat dit beteken. Waarom reageer Niemandt slegs op die NGK facebook-blad en dring hy nie ook aan op 'n openbaar regstellende opvolgberig in Beeld nie? Deesdae word gesprekke dikwels op band vasgelê waar dit agterna geverifieer kan word. 

Wie ook al van Beeld of Niemandt die bron van dié verwarrende beriggewing mag wees, behoort 'n openbare verduideliking én verskoning aan NGK-lidmate aan te bied, om sigself só bó verdenking te stel.         (ngn)






Thursday 6 November 2014

Wie se stem hoor kerklike besluitnemers?

Volgens gereformeerde kerkreg is Christus die hoof van die vier amptelike NG-kerkvergaderings: kerkrade, ringe, sinodes en algemene sinode   -   elkeen met selfstandige besluitnemings-  en regsbevoegdheid. Hoe vreemd ook al, 'n kerkraadsafgevaardigde na 'n sinode mag dáár anders stem as sy kerkraad. Elke vergadering bid om leiding van Bo, en stem daarna, let wel: "soos deur die Heilige Gees (HG) gelei".

'n Afgevaardigde kan vanuit 'n kerkraad kom, dáár deur die HG gelei om anti-Belhar te stem, en hom dan tussen sinodegangers bevind wat deur die HG gelei word om pro-Belhar te stem. Is HG-leiding dan inkonsekwent, óf besluit bidders reeds vooraf wat húlle wil hoor?

Waaraan moet hierdie onskriftuurlike HG-karakter vir sommige   -   van oënskynlik anomaliese diskrepansie   -   toegeskryf word? Een moontlike antwoord het betrekking op die grens tussen geloof (bowerasioneel/geestelik) en menslike emosie (rasioneel/psigies) wat, deur manipulasie, sodanig kan vervloei dat die onderskeiding tussen die "HG-stem" (geloofstem) en 'n welsprekende "kerkleierstem" (emosie) haas ononderskeibaar word sodat laasgenoemde   -   vanweë stem-  en luisterverwarring   -   vir eersgenoemde aangehoor word.

Voorbeeld; Kerkleiers kan sinodegangers wysmaak dat 'n ja-stem vir wysiging van Kerkorde-artikel 1 nié 'n pro-Belhar stem is nie, maar "om uit Christelike liefde ruimte vir mekaar te maak", terwyl dit tog duidelik beteken om die belydenisdeur vir Belhar te open.

Die vraag is daarom: wie se stem hoor kerklike besluitnemers werklik, dié van die HG óf kerkleiers s'n, en stem dan daarvolgens?




Thursday 30 October 2014

Dominee, wat doen julle by 'n"retreat"?

Iemand wil weet óf ek kennis dra wat predikante tydens "retreats" doen, en verwys my daarvoor na dr."Kaaiman" Schutte en prof. Yolanda Dreyer, UP-teoloog, se artikel: "Monastic retreat and pastoral care in the Dutch Reformed tradition". Hulle beweer dat daar 'n toenemende belangstelling in mistieke spiritualiteit en "retreats" onder predikante van die Nederduits-Gereformeerde tradisie voorkom, en ondersoek die relevansie van die monasties-mistiese tradisies vir "retreats" vir die Gereformeerd-kerklike tradisies wat as van 'n afskeidend, rasionele en dogmatiese spiritualiteit beskou word.

Dié "monastic retreat" word aanbeveel as model vir die Gereformeerde tradisie. Dit is baseer op 'n sosiaal-konstruktiwisties holistiese model waarvolgens gereformeerdes, as spiritualiteitsgetransformeerdes, by die ekumenies-katolieke eenkerk-wêreldbeweging kan inskakel.

"Retreat"-gangers word aangemoedig om hul "stories", saambindend en van terapeutiese waarde, met mekaar te deel wat die tradisionele geloof in 'n ander rigting kan stuur (as wat die Bybel leer?) Só kan 'n nuwe teologies-paradigmatiese geloofsraamwerk ontstaan (wat vanaf kansels gepropageer kan word?) Tydens "meditasie" (?) ervaar deelnemers veranderinge in asemhaling, hartritme, metabolisme, breingolfaktiwiteit, bloeddruk en bewussynslewe. 

Genoeg om te weet dat die kenmerke van hierdie "retreat"-praktyk sterk herinner aan die "New Age"-spiritualiteit van ons dag wat kerke, ook die NG Kerk   -   volgens Schutte en Dreyer se bewering   -   toenemend binnedring. Tereg mag gevra word: Adem dit die Gees van God se Woord, of van 'n ander gees? Is predikante dit nie aan lidmate verskuldig om te sê wat hulle by hierdie "retreats" doen nie?  (ngn)











Wednesday 22 October 2014

ANC moet menslike behoeftes prioritiseer

'n Foto kan soms sodanige trefkrag hê dat dit meer as 'n duisend woorde sê, en veel meer vertel as wat selfs die knapste joernalis kan rapporteer. Sekerlik een van die heel treffendste foto's wat voor 1994 deur die anti-apartheidaktiviste propagandagewys vir hul rewolusionêre stryd ingespan is, is die foto van die sterwende Hector Pieterson wat  -   getref deur 'n dwaalkoeël   -   op 16 Junie 1976 in Soweto deur 'n medeleerling gedra word. Hierdie foto, internasionaal versprei, het aan beide slagoffer en sy draer onmiddellik onsterflike heldestatus besorg wat stuwende buitelandse simpatie aan die ANC-rewolusie verleen het.

Vandag is die SA-skoen aan die ander voet en is daar, ongetwyfeld, dié situasies   -   waarvoor alleen die ANC verantwoordelik gehou kan word   -   wat óók op foto's vasgelê kan word vir die doel van anti-ANC-propaganda. Sulke foto's, soos van die gebreklydende verarmde massas   -   swart, bruin én wit   -   van SA, in skrille kontras met die weelde van ons korrupte nommer een wat by Nkandla woon, behoort in parlementêre sale, kantore en wandelgange, asook in staatsgeboue, aangebring te word. Maar sal ook dìt enigsins help tot die aanspreek van die gewetenloses wat veronderstel is om ons nasionale gewete te verteenwoordig?

Die voorbladfoto (DB,21.10) met die byskrif: "Hier was eens 'n skool", dien vir my as voorbeeld van 'n foto wat sterk simboliese seggingskrag van verval onder die ANC verteenwoordig, en, verder: "Net pilare...is wat oor is van 'n skool van R40 miljoen...(deur) vandale...steen vir steen weggedra, het Pulumane (ANC) gesê". Vandale, of na-verkiesings bedroë woningloses? Is onderwyssukses moontlik sonder behoorlike huisvesting? Vir dié vandale is onderwys sekondêr tot hul primêre woningnood. Die ANC moet ernstig besin oor die prioritisering van menslike behoeftes.





Tuesday 14 October 2014

Verafrikaniseer óf word gepik

Dr. Louis van der Walt se brief, "Hoekom die ewige gepik op wit mense?" (DB,13.10), vertolk ek as 'n retoriese vraag wat nie noodwendig verwag om beantwoord te word nie. Tog dink ek dat hy hiermee die geleentheid wil skep vir selfstandige meningsvorming, en argumentasie wil stimuleer, oor 'n uiters aktuele aangeleentheid.

Wie ook al 'n antwoord wil waag, sal vind dat dit nie simplisties, maar wel kompleks en veelfasettig is. "Pik" kan in sovele kontekste, ook figuurlik gesproke, betekenisvol aangewend word. Kaïn sou kon beweer God pik op hom; Esau dat Rebekka op hom pik; Josef se broers dat Jakob op hulle pik; en so meer. "Die onderwysers pik op my", is menige skoolkind se verontskuldigende verweer.

Van der Walt se vraag verwys spesifiek na wit mense op wie, in 'n multikultuerele samelewing, gepik word. Laat ons erken dit is geen vreemde verskynsel nie. Die Franse Hugenote is gepik tot ver-Hollandsing. Sedert 1806 het die Engelse SA se inwoners gepik tot anglisering. Vandag word ons gepik tot verafrikanisering. Wie nie daartoe wil konformeer, word gepik.

Is wit mense, wat voor 1994 verkeerdelik gemeen het SA kan konformeer tot 'n westerse demokrasie, nie self te blameer dat op hulle gepik word nie? In 1980 reeds waarsku die Duitse kenner van die internasionale politiek, dr. Bruno Bandulet, in sy boek, "Fool's Gold for Africa" : "democracy is not on the African agenda...(they) are only similar to Western democracies in their outward form, not in the content of the political system."

Wou ons hulle dan nie verwesters nie; nou is rolle omgekeer? Dus: verafrikaniseer óf word gepik.








Friday 10 October 2014

Privatiseer gerus die SA-poskantoordiens

Fred Mouton se spotprent (DB,10.10) bied vir elke posstuk wat daar voorgestel word die geleentheid om die eie verhaal te vertel. Onder daardie derduisende posstukke lê ook drie van myne met hul eie storie.

Die pakketposstuk versend ek op 22 September aan ons eenjaaroue kleindogter in Luxembourg vir haar eerste verjaardag. Die inhoud is ongeveer R150 werd, maar die versendingskoste bedra R183. Volgens die poskantoorklerk is daar géén waarborg dat dit ooit sy bestemming sal bereik nie; selfs nie as duurder aangetekende  posstuk nie. Twaalf dae gelede versend ek twee verjaardagkaartjies aan ons oorsese seuns wat albei middel-Oktober verjaar   -   onderskeidelik in Engeland en Luxembourg.  Dié keer probeer ek Post Net. Nee, hulle pos volg ook dieselfde stakende SA-posdiensroete. Dit kan egter koerier word teen R320 per kaartjie    -   R640 vir twee verjaardagkaartjies!

Nee, ons ANC-beheerde staatsinstellings het hulself nou reeds meer as voldoende bewys as disfunksioneel bydraend tot ons land se vooruitgang, sy mense en ekonomie. ANC-leiers stel 'n uiters slegte voorbeeld van selfverryking ten koste van die staat en sy mense.  Dit werk aansteeklik in op veral die werkloses en almal wil nou op dié selfverrykingswa klim, ongeag enige ongerief en ontwrigting wat dit vir ander mag meebring.

Werkverskaffing, -beloftes en 'n gelukkige werkerskorps is iets waarvan die onbekwame ANC net maar kan droom   -   in nasionale nagmerrievorm   -   maar nié kan realiseer nie. Privatiseer gerus die SA-poskantoordiens ten volle en stel mense aan wat wìl werk en SA se belange wil help dien.




Tuesday 7 October 2014

De Klerk die opportunistiese pragmatis

Dit is met verbasing dat ek F.W.de Klerk (DB,03.10) se argaïese uitspraak lees dat SA eens " 'die baken van hoop' (was) vir 'n wêreld wat op soek is na geregtigheid, versoening en integriteit en 'n beginselvaste regering". Dié "eens" lê egter baie ver terug in die verskiet waarmee De Klerk verwys na die bloedlose op-'n-skinkbord-oorgawe van SA deur die NP aan die ANC. Dit is ook waar dié "baken van hoop" in 'n onderhandelde "papierdemokrasie" geëindig het.

Die korrupte ANC-beheerde SA sedert 1994 'n simbool van internasionale hoop? Nog nooit! Ja, net so ver as wat dit volledige magsoorgawe betref. Nie eers die Mandela-tydperk slaag in die toets vir 'n ANC-regering as een van geregtigheid, versoening, integriteit en beginselvastheid nie. Moenie vassteek net by die lees van "Long Walk to Freedom" nie, maar lees óók Mandela se volledige Robbeneiland-manuskrip (in 1977 daaruit gesmokkel) waarop dié boek kamoeflerend gebaseer is. Daarin kan gelees word wat Mandela se werklike rewolusionêre agenda vir SA was.

Van die Dalai Lama-sage in die besonder sê De Klerk: "...die land (SA) se buitelandse beleid behoort die waardes van die grondwet te weerspieël." Ons almal weet dat dié waardes géén plek het in die rewolusionêre ANC-denke nie, maar na willekeur met minagting bejëën word, soos in dié geval verruil word vir onderdanigheid aan die geesgenootlike Chinese. 

Waarom beoordeel, konfronteer en spreek De Klerk nie die ANC ook aan oor sy binnelandse beleid   -   van die openlik onbeskaamde benadelende onderdrukking van minderheidsgroepe   -   volgens dieselfde waardes nie? De Klerk bly steeds die opportunistiese pragmatis.             




Friday 3 October 2014

Waarheid op die Belhar-altaar geoffer

Bennie du Preez (DB,02.10) is korrek as hy sê Belhar word "al te suutjies" hanteer, die proses wat dit dryf, "word bevraagteken", en 'n "fyn spel (word) gespeel".

Die NGK-leierskap maak gebruik van alle moontlike middele en metodes om Belhar tot binne dié kerk te stoomroller. Elke geleentheid word op 'n uiters eensydige, feitlik subtiel indoktrinerende, wyse vir dié doel benut. Een van die mees geslaagde manipuleringsvorme tot dusver, is die volgehoue ont-  en miskennende weerhouding van inligting aangaande die "ander kant" van Belhar soos verwoord, en beskikbaar, in artikels en boeke deur gesaghebbende skrywers oor dié onderwerp. 

Van kerkleiersweë ontbreek dit lidmate aan gebalanseerde inligting omdat dié leiers dit doelbewus van hulle weerhou. Ten spyte van duisende lidmate wat reeds dié kerk verlaat het vanweë ontevredenheid daarmee, en nóg duisende lidmate wat dit waarskynlik ná aanvaarding van Belhar gaan verlaat, hou kerkleiers hardnekkig vol met 'n ingesteldheid van: As hulle dan wil gaan, laat hulle gaan!

Lees, bestudeer en oordeel self wat ingeligte en gesaghebbende kerkleiers, teoloë en voormalige moderators van die "ander kant" te sê het oor Belhar in, byvoorbeeld, die boek, "Belhar Geweeg", waaraan agtien skrywers meegewerk het in 'n poging om lidmate uit hul deur-kerkleiers-gehipnotiseerde toestand te laat wakkerskrik. Daarin kan die meelewende lidmaat lees hoe waarheid op die Belhar-altaar geoffer word.




Monday 29 September 2014

Is 'n Euro-Afrika sintese haalbaar?

Diegene in SA wat besorg is oor die toekoms van hulle met 'n oorspronklik Europese herkoms, sal, onder meer, ook 'n antwoord moet vind op die vraag of Europa (tese) en Afrika (antitese) tot 'n versoenbare (compatible) sintese kan kom.  Hoe anders skep ons 'n bestendige en veilige toekoms vir al SA se diverse bewoners? Tot 1994 het SA die stempel van Europese beskawing gedra. Ná 1994 verander SA toenemend in 'n tipiese Afrikaland. Vir die doel van beoordeling van SA se diverse bevolkingsgroepe se individuele bydraes tot die skepping van sodanige versoenbare sintese, sal só 'n vergelykbaarheidstoets eenvoudig net nie geduld word nie, maar wel van rassistiese motiewe beskuldig word.

Een uitweg uit ons rassegepolariseerde samelewing op soek na 'n antwoord, is om na SA en Europa te kyk in hul onderskeie vastelandse kontekste. Soos Charles Dickens se "A Tale of Two Cities"    -   die verhaal van London en Parys vóór en tydens die Franse Rewolusie   -   benodig ons vandag 'n gesaghebbend realisties eietydse verhaal getitel: "Die verhaal van twee vastelande".

Ná die onttrekking van die Europese koloniale moondhede aan Afrika, is 'n Euro-georiënteerde manier van doen ingeruil vir 'n Afrika-georiënteerde een. Ongelukkig is die gevolg   -   feitelik aanwysbaar   -   merkbare agteruitgang, standaardverlaging en krisisbestuur (om slegs enkeles te noem).As deel van Afrika word dié kenmerke toenemend ook kenmerke van SA.

Is dié Euro-Afrika sintese nie bepalend vir ons toekoms nie? Indien wel, is dit haalbaar? Indien nie, wat is die alternatief, en wat is die toekomstige implikasies daarvan vir diegene met 'n nie-oorspronklik-van-Afrika herkoms?              (ngn)






Tuesday 23 September 2014

Konteks en doel van Christus-volgeling

Ek kruis nie swaarde met T.du Preez (DB,22.09) oor sy steunende voorkeur vir die begrip Christus-volgeling bo die begrip Christen nie; dis sy reg. Ek wys egter op die konteks waarbinne, en doel waarvoor, dié begrip bevorderend gebruik word.

In haar artikel, "Preparing for the Emerging One Church of the New World", wys Tamara Hartzell op die Nuwe Spiritualiteit-konteks waarbinne Christus-volgeling gebruik word. Gemelde konteks wil alle Christene tot Christus-volgelinge transformeer ter voorbereiding van die "Emerging One Church of the New World". Vir laasgenoemde is die begrip Christen té eng en eksklusief, en word geassosieer met onverdraagsaamheid, verdeeldheid, vooroordeel, wettisisme en veroordeling.

Christene baseer hul geloof op die waarhede soos vervat slegs in God en Sy Woord. Christus-volgelinge kan aan enige godsdiens of geloof behoort; dade is belangriker as geloof; waarheid is in alle godsdienste en gelowe te vind. Die toenemend eenwordende wêreld benodig 'n eengeworde kerk wat Christene se God, as enigste erkende Weg, onaanvaarbaar vind. 

In die Nuwe Wêreldorde, met sy eengeworde kerk, sal Christus-volgelinge nie-dogmaties, versoenend, akkomoderend, nie-veroordelend en toegeeflik teenoor ander gelowe wees. 'n Gemeenskaplike god word aanbid en elkeen kan op eie manier die eie weg volg in die soeke na dié wese. Die Nuwe Spiritualiteit met sy "Emerging One Church" sal deur die wêreld verdra word, en self sal dit verdraagsaamheid bevorder.

Christus-volgeling is 'n subtiel gekose begrip om nié te verdag te lyk ter bevordering van dié sinkretistiese eenwêreldkerk nie. Is Du Preez hiervan bewus?             (ngn)




Saturday 20 September 2014

Daar sal altyd godsdiens in skole wees

Skool en gemeenskap/samelewing word gekenmerk deur samewerkende wisselwerking. Die gemeenskap het statutêr belang by die skool en moet daarin erkenning geniet. S.A. skole, as demokratiese staatsinstellings, staan in vennootskaplike diens van beide gemeenskappe én staatsowerheid. 

Die media het die jongste S.A. misdaad-, geweld-, moord- en stakingsyfers bekend gemaak. Dieselfde samelewingstendense word deur dwelmgebruik, verkragting, tienerswangerskappe, ernstige aanrandings, vandalisering van skooleiendom en georganiseerde skole-ontwrigting (na die voorbeeld van suksesbehalende arbeidersvakbonde) ook binne ons skolegemeenskappe weerspieël. Julius Malema het 'n uitdagende rolmodel vir menige skoolgaande jeugdige geword. Ons samelewing se negatiewe invloede word toenemend die skool en klaskamer binnegedra. Alle skole is nié meer veilige omgewings nie.

Daar is sommige wat hulle beywer vir die uitbanning van godsdiens   -   veral die Christelike   -   as een van die laaste stabiliserende invloede, uit ons skole. Die gevolg is destabiliserende chaos, anargie, gesags-  en dissiplinêre aftakeling, standaardverlaging en vernietiging van ons jeug se toekoms. Waarom mag, in ooreenstemming met ons demokratiese grondwet, 'n gemeenskap se godsdienstige oortuigings   -   medebepaler van die skoolethos   -   nie in skole erken en weerspieël word nie?

Ons al té gewillig-toegeeflike aanvaarding van "onafwendbare" transformasie, soos om godsdiens uit skole te verban, voer gemeenskappe verder na die afgrond. Raak ontslae van godsdiens uit die skole, maar hóé raak jy van die mens se universeel inherente godsdienssin ontslae? Met die Christelike godsdiens uit die skool, word dit maar net deur 'n ander godsdiens vervang. Ateïsme, agnostisme en satanisme, as voorbeelde, is óók godsdiensvorme. Daar sal altyd, statutêr óf nie-statutêr, openlik óf subtiel, godsdiens in skole wees.          (ngn)






Tuesday 16 September 2014

Die antwoord is gedifferensieerde skole

Piet Croucamp se: "Jou geloof ìs 'n private kwessie", (DB,16.09) sê dit alles   -   'n subtiel, mooiklinkende en byna oortuigende rasionele aanval op Christengelowiges en hul onderwysbehoeftes. Croucamp self is nié 'n Christengelowige nie; tog waag hy homself met "skoene aan sy voete" op 'n terrein wat Christene met eerbied "sonder skoene" betree. 

Croucamp beweer: "Skole is die openbare eiendom van alle Suid-Afrikaners". Daaromtrent verskil ek nie, maar wel met sy: "As jy 'n Moslem-,  'n Jode-  of 'n Christenskool wil hê, behoort jy self daarvoor te begroot." Ek vind sy standpunt geensins in ooreenstemming met die gees van die grondwet nie. Het ons burgery in 'n demokrasie dan géén sê in die aanwending van ons belastinggeld, ook vir onderwysdoeleindes nie? Ons weet almal dat 'n demokraties verkose owerheid daargestel word juis om na ons álmal se diverse belange en behoeftes om te sien. Dat die ondemokratiese ANC egter die openbare skole aanwend vir eie ideologiese gewin van nasiebou, weet ons ook. Die skooltipes in 'n samelewing word immers primêr bepaal deur 'n gedifferensieerde behoefteverskeidenheid.

Waarom kan daar dan nie 'n gedifferensieerde skolestelsel in S.A. geskep word om ook te voorsien in die behoeftes van gedifferensieerde geloofsgemeenskappe nie? Elders ter wêreld werk dit goed, soos in Nederland met sy skole vir Protestantse, Rooms-Katolieke en sekulêre ouerbehoeftes. Die marxisties-sosialistiese ANC sal dié toegewing, om verskeie redes, nié maklik maak nie. Van dié redes is dat enigiets wat "gedifferensieerd" is aan "apartheid" herinner; die ANC 'n pynlike vergelyking wil vermy tussen die suksesse van die sekulêre staatskole met dié van geloofsgedifferensieerde skole, asook dat die ANC skole indoktrinerend aanwend vir die eie ideologiese gewin vir die uiteindelike daarstelling van 'n volslae marxisties-sosialistiese burgery en samelewing.

Vanuit die perspektief van Christenouers en hul behoeftes, is geloofsgedifferensieerde skole die antwoord vir die godsdiensvraagstuk in staatskole.



Thursday 11 September 2014

Sal my standpunt sneuwel?

Dit is met verbasing én teleurstelling dat ek lees van ds. Pierre Grigor (DB,09.09), en ander, se standpunt oor Christus se plek in ons openbare skole. Hy vra of "ons dink dat die Christendom 'n knou toegedien sal word as godsdiens uit die skole verdwyn?" Ten spyte van die merietevolheid van Grigor se argumentering, bly die vraag aan hom sowel as aan ons almal as Christene: Kan dié meriete ooit opweeg teen dit wat ons prysgee sou Hy nie langer in ons skole welkom wees nie? 

My liewe land, hoe tegelyk oningelig én naïef kan ons nie hieromtrent wees nie. Kyk maar net wat in VSA-skole gebeur het nadat Christus en die Bybel hulle skole belet is, en wat die uiteindelike uitwerking daarvan op die Amerikaanse samelewing was en steeds is.

Wat Grigor effektief met sy standpunt wil sê, is: Dis reg. Hou Christus se hand vas by die huis en kerk, maar los dié hand by die skoolhek en klaskamerdeur. En hoeveel huise is daar nie vandag waar dié hand nie meer vasgehou word nie, en waar die skool dit darem nog, plaasvervangend, probeer doen nie? Daar is meer as voldoende bewyse dat daar waar die deur agter Hom toegemaak word   -   ook in die skool   -   die deur oopgemaak word vir chaos en anargie.

Dit word duidelik uit die plasing van briewe dat die standpunt oor die behoud van Christus in die skool en klaskamer nie soveel ondersteuning, aandag en publisiteit geniet as die teenoorstaande standpunt soos dié van Grigor nie. Dit bly steeds elkeen se keuse waarvoor ons die verantwoordelikheid moet aanvaar. Waarskynlik sal ook my standpunt sneuwel.               (ngn)




Friday 5 September 2014

Gesaghebbende Woord het die laaste sê

Ek antwoord Pitout se " 'Cool' gee nié aanstoot in dié konteks" (DB,05.09) -repliek op my vroeëre skrywe. Dankie vir 'n begripsverklaring uit "sewe gesaghebbende woordeboeke". Ek het beslis begrip vir sy andersdenkendheid. In veel wat Pitout skryf, gee ek hom gelyk, maar nie in alle opsigte nie.

Kortliks die volgende: Ons móét daarmee rekening hou dat God 'n verhewe Wese, en nié ons menslike gelyke is nie. Om dus na Hom, begripsgewys (as "cool"), op dieselfde wyse te verwys as wat ons na 'n voorwerp, persoon of situasie met "cool" sal verwys, is vir my 'n aantasting van Sy Goddelike karakter   -   'n "familiêr" grensuitwissende gelykstelling. 'n Verdere voorbeeld van dié gelykstelling: My kleinseun het ook leer sing: "Jesus is beter as Superman, Spiderman, Batman..." (By die kerk? skool?) Wéér deel God en mens dieselfde verhoog, terwyl Jesaja 40:18 sê: "Met wie kan julle God dan vergelyk? Met watter beeld kan julle Hom gelykstel?"Is ons nie juis, met begrippe soos "cool" en verwante liedjies, besig om subtiel-ongemerk ons eie menslik-afgodiese "woordebeeld" van Hom te maak nie?

Daar is beslis 'n grens tussen God en mens wat nié na willekeur oorskrei mag word nie. Ons leef juis in 'n tydsfase van grensuitwissing, ook tussen God en mens. (Dink aan ANC-uitsprake oor God.) Waar is die grensbepalers en  -bewakers van ons dag? Spreuke 22:28 sê: "Moenie grense verlê wat lankal daar is nie..." , maar steur ons ons nog hoegenaamd aan die grensvoorskrifte van die Woord?

Pitout, vir my het transendentaal-vertikale Woordgesag die laaste sê oor "cool" betreffende God, Sy Raadsplan en ons geloofslewe; nie selfs die heel gesaghebbendste horisontale woordeboek nie.    







Thursday 4 September 2014

Skuif in grondwetbasis en skoolgodsdiens

Ek verwys na die berig "Heksejag op Christenskap" (DB,03.09). Wat daarin berig word, is die direkte gevolg van die vervanging van ons voor-1994 Christelik gebaseerde grondwet, met 'n humanisties-liberaal-sekulêre grondwet   -    in demokratiese gietvorm   -   opportunisties uitbuitend gemanipuleer deur die ateïsties-georiënteerde marxisties-sosialistiese ANC-regime. Dit is dus geen verrassing dat die Godheid deur dié ideologie die nasionale deur gewys word nie.

Christene bely God as die Skepper van hemel en aarde; tegelyk ook die soewereine eienaar, sonder enige voorbehoud, daarvan. Dit maak Hom eienaar selfs van die skool, met alle  -verwante sake, waarvan ons Sy bestuurders is met opdrag om Christenburgers vir 'n Christelike samelewing op te voed. Opvallend is juis dat, sensusgewys, S.A. 'n Christen-meerderheidsland is. Met die oorgang na die nuwe bedeling het dié meerderheid, deur apatiese swygsaamheid   -   tragies ironies   -    toegegee dat 'n bedeling op ons afgedwing word ten einde die nie-Christelike minderheid getallegewys ondemokraties te akkommodeer en selfs aan bewind te stel. Vandag pluk ons allerweë, nasionaalwyd, die vrugte daarvan.

Terug by die skool en godsdiens, sê 'n Potch-predikant oor RSG God se soewereine eienaarskap oor die skool moet ontken word deur Hom, kompartementaliserend, tot die ouerhuis te beperk. Wat 'n teleurstellende toegewing aan die nie-Christelik sekulêre magte, direk in stryd met die Bybelgeprojekteerde Goddelike gesagsbeeld. Intussen sing protestants-afvallige Christene steeds: "Staan op, staan op vir Jesus, o helde van die kruis..." Hoe het die geloofshelde van ons dag tog nie geval nie, want, in plaas van opstaan vir Christus, bly Christene kapitulerend rus op hul louere in 'n selfgeskepte,  -tevrede geloofsgemaksone, aanvaardende 'n skolebedeling sónder Christus.     (ngn)






Monday 1 September 2014

Staak dié ge-"cool" van God en Christus

Ek verseg om die begrip "cool" deel van my woordeskat te maak. Indringer-vreemdeling in die Afrikaanse taalhuis, dui "cool" vir my op 'n denkluiheid om 'n gepaste plaasvervanger daarvoor te vind. Eke ding het 'n tyd en plek. Dit geld ook "cool", en die kontekstuele gebruik daarvan.

Dit wat ek van die onvanpaste gebruikmaking van "cool" in my negejarige graad-drie kleinseun se junior kategese werkboek   -   met die titel "Die Coolste Plan"   -    lees, vind ek ontstellend. In die opsomming aan ouers word gesê: "Jesus het God se "cool" plan aan sy (kleinletter) dissipels verduidelik" (p.8); "Die lewe is dalk "uncool"   -   die Plan nie" (p.9); "God se "cool" plan..." (p.10); "Hy het sy (kleinletter) "cool" plan in Abraham se lewe begin..." (p.33); "Josef...kon raaksien hoe sy lewe by God se "cool" plan inpas" (p.34); "God se tien goue reëls vir 'n "cool" lewe" (p.53); "Loof God, die "cool" Planmaker" (p.55).

Ek vind hierdie kategetiese ge-"cool" van God en Christus aanstootlik, beledigend vir die Godheid en verwerplik. Ondersteun predikante hierdie "cool" Godsbeskouing en die geloofstoerusting van ons Christenjeug, daarop gebaseer, in hierdie soort kerklike onderrigtaal, óf is hulle totaal onbetrokke daarby en daarom onbewus daarvan? Watter Christene aanbid 'n "cool" God met 'n "cool" plan vir 'n "cool" geloofslewe?

As Christengelowige grootouer vind ek dit skokkend, en maak ek ten sterkste beswaar teen dié tegelyk respeklose en Godonterende ge-"cool" van God en Christus, en die subtiel geloofsdestruktiewe invloed daarvan op ons Christenjeug. Vrae soos: vanwaar dié werkboek? wie het dit gekeur/voorgeskryf? is dit algemeen in kerkgebruik? moet beantwoord word.







Monday 25 August 2014

Kerk is ons 'n verduideliking verskuldig

Tydens die Vrystaatse buitengewone sinodebyeenkoms (29.07) sê prof. Johan Janse van Rensburg, teoloog, 'n mens kan integriteit van die NG Kerk verwag, dog, in die proses om die Belharbelydenis (BB) aanvaar te kry, is dié integriteit geskend en die speelveld ongelyk gemaak. In 2013 besluit die Algemene Sinode (AS) dat die BB in die Kerkorde (art.1) opgeneem moet word. Reeds vòòr 2013 al, gee die AS-moderator 'n onderneming aan die VGK dat die BB deur die NG Kerk aanvaar sal word (Kerkbode,17.10.12). Hiermee word die kerkordelike proses, strydig met art.44 daarvan, "omgekeer". 

Ter regverdiging van dié kerkordelike onreëlmatigheid word beweer dat die doel bloot was om 'n vraag vir gemeentetoetsing te formuleer   -   'n besluit word kwansuis 'n vraag? Maande na dié bewering rapporteer Kerkbode (Jan. 2014) dat so 'n vraag nié geformuleer was nie, dus: 'n bedenklike "regverdiging"? Janse van Rensburg sê BB, as 'n "opsionele" belydenisskrif word as 'n "kompromie" en "lokaas"  aangebied om lidmate te beweeg om vir die wysiging van Kerkorde-art.1 te stem, dit terwyl die VGK reeds onomwonde verklaar het die "opsionele" hantering van BB onaanvaarbaar is, en hulle voorkant toe "die onvoorwaardelike aanvaarding van Belhar sal vereis. Om daaroor te swyg, impliseer dat hulle (die lidmate) dus mislei word."

Die 2013-AS aanvaar Belhar sònder eenstemmigheid met die NGKA en die RCA. Tydens sogenaamde Oos-Kaapse "roadshows" was daar vrae hieromtrent, asook òf die VGK tevrede is met die "opsionele" opsie, waarop ja geantwoord is terwyl dit nee moes wees. Verder sê die professor daar is "onweerlegbare bewys dat inligting wat teen die aanvaarding van Belhar is, op verskillende maniere van lidmate en predikante weerhou word." Ruimte ontbreek vir verdere voorbeelde.

Die NG Kerk is beslis sy ontnugterde lidmate 'n verduideliking op hierdie ernstige integriteitsaanklag verskuldig.                (ngn)







Monday 18 August 2014

Belharbeitel laat kerkfondamente skeur

Neels Jackson se Kerkbode-artikel (01.08), "Belhar: 'n voorstel wat ruimte bied vir almal", ontlok die vrae: watter sóórt ruimte, en deur wié geskep? Dit verwys na 'n drie-fase aangeleentheid: kerkordewysiging, Belharaanvaarding (BB) en kerklike eenwording, waarvan die BB-kernbegrippe   -   eenheid, versoening en geregtigheid   -   se interpretasie-  en implementeringspotensiaal steeds duister en onuitgeklaar bly, en daarom oor Phororo-konflikpotensiaal beskik.

Die gemelde "ruimte" is een wat lidmate, wat skerp van mekaar oor die BB verskil, binne 'n ambivalente spanningsvol-verdeelde kerklike bestel wil akkommodeer, 'n "ruimte" deur beswaarblinde en protesdowe kerkleiers geskep wat   -   deur kerklike transformasie   -   'n fundamentele verskuiwing vanaf Skrifgesag na lidmaatgesag teweeg wil bring.

Kerkleiers self is verdeeld en verskil oor sake soos die bestaan van Satan, voorhuwelikse saamwoon en seks, dieselfde-geslag huwelike, die ewolusieleer, die Bybel is glo deur mense geskryf en nié onder leiding van die Heilige Gees nie, sommige Bybelgedeeltes is kwansuis mites, ens. Sal die, deur kerkleiers-verblinde lidmate, ook later hieroor moet stem en só nog verdere verdeeldheid teweegbring?

Hierdie scenario pas die Bybelvoorspelde beeld van die eindtydse kerk: "...daar sal 'n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg..." (2 Tim.4:3)

Die NG Kerk kry 'n klein, klein Belharbeiteltjie en tik hom en hy klink; en slyp en slyp hom totdat hy klink en blink. Toe, onder die Belharbeiteltjie bars die kerkrots middeldeur en langs ons voete voel ons dié kerkfondamente skeur. Dié skeur loop deur ons kerk en kloof hom wortel toe   -   só moet die Belharbeitel slaan wat belydenis is, of hoe? (Met apologie aan N.P.van Wyk Louw se "Die beiteltjie".)




Monday 11 August 2014

Ordentlikheidsmaskers lyk bra "wollerig"

Ek verwys na dr. Kobus Anthonissen se "So lyk die maskers van ordentlikheid" (DB,07.08). Hy is reg in soverre as dat ons as mense "maskerdraers" is. Indien ek my nie vergis nie, kom die woord "persoon" vanaf die Griekse "persona" wat 'n masker was wat die Grieke tydens dramaopvoerings gedra en deur gepraat het. So dien ook ons gesigte as "maskers" vanwaar agter ons praat, terwyl ons "ware self" daaragter versteek is.

Anthonissen, afgetrede NG-predikant en psigoanalitiese terapeut, se drieledige tipologie van "ordentlikheidsmaskers" kom vir my ietwat "wollerig" voor. Na my oordeel ignoreer hy die verskynsel van kultuur,  -verskille en verskillende  -kontekste, as belangrike determinante van ordentlikheid, geheel en al. Na my mening is ordentlikheid kultureel-bepaald en manifesteer daarom verskillend binne verskillende kultuurgemeenskappe.

Voorts meen ek is 'n gedissiplineerde leefwyse 'n belangrike én noodsaaklike bousteen van/vir ordentlikheid; sonder enige dissipline, géén ordentlikheid. Wanneer Anthonissen dus sê dat "mense gebore en opgevoed sal word in ordentlikheid" 'n belangriker prioriteit as "die oorwinning oor armoede, korrupsie, werkloosheid en rassewrywing" is, dan wil ek beweer dat een van die vertrekpunte ter oplossing van al dié gemelde dinge, die herstel van S.A. se algemene gedissiplineerdheid daarvoor nodig is. So word ook 'n hele ent met die herstel van ordentlikheid gevorder.

Hy meld géén kriteria waarop sy uitsprake berus nie, soos: "Verwoerd, een van die mees omstrede figure...ewe demonies is die beeld van dr. Wouter Basson...die Steve Hofmeyrs en Malemas woon in ons almal..." Nee, Anthonissen se ordentlikheidsbetoog kom my maar bra "wollerig" voor.




Tuesday 5 August 2014

Kreta het ook eie Skimmelperdpanruiter

Hoe bevoorreg is ons nie. Ons kuier saam met ons twee seuns en hul gesinne op Kreta met die lieflikste vakansieweer denkbaar. Ses eeue voor Christus sê Epimenides van Kreta die Kretensers is altyd leuenaars, ongediertes en lui vrate (Titus 1:12). Weens die invloed van hul kerstening kan ek egter getuig van hul spontane vriendelikheid, warm hartlikheid en akkomoderende gasvryheid.

Ons jongste seun neem ons per twee-uurlange veerbootreis op 'n verrassingsbesoek na die Griekse eiland Santorini   -   eens 'n aktiewe vulkaniese krater   -   met sy pragtige berghelling-geleë dorpies en fantastiese panoramiese uitsigte. Die veerboot-terugreis ontaard ongelukkig vir sommige van ons in 'n nagmerrie. Saam met my oudste seun besoek ek die ruïnes van Knossos digby die hoofstad, Heraklion, argeologiese oorblyfsel van die dusver oudste Europese beskawing blootgelê uit die Minoïese tydperk en voorwerperyk soos te besigtig in die Argeologiese Museum in Heraklion.

Ek vind Kreta se moderne geskiedenis besonder interessant, veral dié tydens WO2. In Mei 1941 val Duitsland Kreta binne met die neerlating van duisende valskermsoldate, waaronder ook die drie jeugdige Von Blucher-broers, elk met die adellike titel van graaf; afstammelinge van veldmaarskalk Von Blucher, Pruisiese held van die Slag van Waterloo. Al drie broers sneuwel op die eerste aanvalsdag. Die jongste, negentien jaar oud, word doodgeskiet digby sy oudste broer na wie hy te perd op pad was. Omgewingsinwoners getuig van 'n jagende perderuiter wat soms nog daar opgemerk word. Waaraan anders as A.G.Visser se "Die ruiter van Skimmelperdpan" laat dié verskynsel my nie dink nie? Dié digter se "ruiter van die dood" is dus nie net uniek aan S.A. alleen nie.




Bly vaderlandsnaam steeds eervol dra

Elke persoon skryf lewenslank 'n eie "verhaal". Indiwiduele "verhale" is altyd verweef met dié van ander, beginnende by die gesin, familie, kultuur-  en volksgroep waartoe behoort word. Synde medeskrywers aan 'n histories voorafgaande "groter verhaal", soek sommige ywerig na die oorsprong daarvan wat interessant en opwindend kan wees.

Sestig jaar gelede, as laerskoolseun, skenk my ouma aan ons gesin 'n kopié van die Afrikaner Familienaamboek. Daarin ontdek ek my Duitse familiewortels   -   sedert die elfde-twaalfde eeue edelliede van die Hertogdom van Hesse. Hierdie inligting open 'n kinderlike fantasiewêreld met 'n sprokieskasteel as deel daarvan.

Tans op besoek aan ons jongste seun en sy gesin in Luxembourg, besoek ons die Buerresheimkasteel   -   sedert die begin van die sestiende eeu in besit van die Breit(en)bach-familie   -   naby die Duitse dorp Mayen. Hierin vind kindertydse fantasie konkrete vergestalting. My eie afkomslyn nie noodwendig daartoe behorende nie, bly dit egter assosiatief 'n inspirerende "wortelverhaal" om mee te identifiseer.

Europees van oorsprong, sit Afrikaners, as "medeskrywers", na eeue steeds hul "oorsprongsverhale" in 'n Afrikakonteks voort. Nie meer van Europese nasionaliteit nie, vind Afrikaners egter die adellike voortsetting daarvan in ons eie "Boere-adel", dalk nie meer materieel-  en titelgewys nie, maar wel nog spiritueelgewys. Laat ons daarom daarteen waak dat ons nie deur korrupsie van ons transformerende omgewing ingesuig word nie, maar steeds sal bly sê: Vaderland ons sal die adel van jou naam met ere dra,waar en trou as Afrikaners, (ook) kinders van (die nuwe) Suid-Afrika.          (ngn)








Monday 7 July 2014

Petrus se beswaredryfveer ontmasker

Petrus (DB,03.07) verklaar my tot 'n fundamentalis (skeldnaam vir behoudende Christene), 'n etiket wat ek met trots dra   -   sou hy daarmee bedoel dat ek onbeskaamd van my Christenskap getuig   -   dog waardeur ek, volgens hom, "aanstoot gee en (wat) lei tot sektariese godsdienstige verdeeldheid." Hy is heftig gekant teen "die gebruik van briewekolomme om...persoonlike geloof te bely", omdat dit "geen eerbied toon vir ander se beskouings en uitgangspunte nie." So verhef hy die skepsel tot norm vir getuienislewering; nie die daartoe opdraggewende Skepper nie.

Petrus se beswaarmaking word gekenmerk deur 'n inherente teenstrydigheid; 'n sinloos inkonsekwente argumentering. Ek verduidelik my stelling. Hy sê: "...die gevaar bestaan dat opponerende godsdienstige dogmas...mense...kan opsweep tot vooroordeel en onverantwoordelike dade", die gratis plasing daarvan deur hom veroordeel, maar tog die betaalde advertering daarvan goedkeurend propageer. Hoe rym dit?

Petrus se werklike beswaredryfveer word daarom ontmasker wanneer hy sê: "...koop advertensieruimte in die openbare media waar...(jy jou) persoonlike belydenis kan betuig." Só hou hy mos nie die gewraakte "oneerbiedige opswepende vooroordeel" uit die koerante nie! Nee, sy hoofbeswaar is teen die gratis plasing daarvan   -   wat hy gelyk stel aan "goedkoop godsdienstige vertoon"   -   terwyl hy wil hê dat ten duurste daarvoor in advertensieformaat betaal moet word. Sy hoofbeswaar het 'n materiële motief, naamlik geld, waarvolgens gratis=problematies ; betaling=nie-problematies.

Dit uitgeklaar, is Petrus se eintlike beswaar daarom indirek teen die koerant gerig; nie briefskrywers nie. Staak daarom, asseblief, jou aanvalle op skrywers  -   ook Christene   -  wat wel deeglik die grondwetlike reg tot vryheid van spraak en meningsuiting geniet.               (ngn)






Monday 30 June 2014

Christene se geloofsdenke by 'n kruispad

Die begrip transformasie beskryf een van die mees uitstaande kenmerke van die nuwe S.A. Dit laat geen lewensfeer onaangetas nie; ook nie die kerklik-geestelike nie. Wag daar dalk vir laasgenoemde kontekstueel-transformerendes 'n ontnugtering aan die einde van hul lewensreis? Op grond waarvan dié bevraagtekenende vraag? Die bestaande Skrif-  en Godsbeskouing word tans só radikaal getransformeer dat die oue en die nuwe haas onversoenbaar en wedersyds uitsluitend is.

Die eeue-oue meganiese interpretasie dat die Bybel God se geïnspireerde Woord óór en vìr die mens is, word nou verwerpend vervang met die organiese interpretasie wat beweer dat die Bybel bloot mensewoorde oor God en mens is. Dit is presies wat, onder meer, prof. Wilhelm Jordaan in sy "Ruimer denke, nes geloof, kán jou lewe verryk" (Beeld,25.06), beweer. Hy sê dat "...bepaalde Christelike godsdiensbegrippe...(en) God se eienskappe... sterk beïnvloed (én verryk) is deur gelykluidende (af-)godestories..." Jordaan erken dat kinders en jongmense geskok word wanneer hulle "...gekonfronteer word met (dié) vernuwende denke waarvan hulle nog nooit gehoor het nie." Hy versoek Christene om nie "...hardnekkig vol te hou (met) 'my geloof en godsdiens' aanbid die enigste ware God en is die enigste saligmakende waarheid" nie.

Dié "vernuwende" geloofsdenke bring Christengelowiges by 'n kruispad. Ek, wat nie dié "nuwe" getransformeerde geloofsroete   -   wat die Bybel tot mites en mensewoorde reduseer en 'n Godsbeeld konstrueer in sameflansing van vreemde afgodsbeelde   -   wil inslaan nie, verkies om eerder Paulus se raad aan Timoteus   -   "Bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo" (2 Tim.3:14)   -   te volg.








Thursday 26 June 2014

Petrus kan gerus sy kritiek heroorweeg

Ek verdedig graag mede-Christene wat so grimmig deur Petrus se "Stadig met dié fundamentalisme" (DB,24.06) veroordeel word deur vanuit 'n ander perspektief na sy beskuldigings teen Christengelowiges te kyk. Indien ek Petrus reg verstaan, is sy beswaar nie dát Christene getuig nie, maar wel wáár en hóé hulle getuig. Wat die "wáár" betref sê Petrus: "Die Burger...is die gratis medium vir...die menings van sommige...wat voortdurend daarop uit is om te getuig van toegewydheid aan die Opperwese..." , en dat dié altyd "reg is en...nie ander godsdienstige menings verdra nie."

Petrus, vir Christene het die Opperwese 'n naam   -   Hy is God Drieënig. Die Godsbeeld wat jy voorhou   -   altyd reg en duld nie ander gode nie   -   is korrek. Die Bybel en ons belydenisskrifte is baie duidelik daaromtrent. Ek sou graag wou sien dat Petrus sy beskuldigings van Christene se "fundamentele onverdraagsaamheid" , ons veroordeling, minderwaardigheidsbeskouing en etikettering van nie-Christene as "ateïste en agnostici", voorbeeld-  en frekwensiegewys toelig   -   Petrus se aanklag teen "hóé" Christene getuig.

Petrus, Christengelowiges staan onder opdrag om getuies tot in die uithoeke van die wêreld te wees (die "wáár") op sodanige wyse dat hulle mense tot dissipels sal maak (die "hóé"). Ware gelowiges wéét dat dit net moontlik is onder leiding van die Heilige Gees wat saam met ons gees getuig. Petrus, besef jy dus dat jy   -   deur jou kritiek op die "wáár" (oral) en die "hóé" (volgens ons Godgegewe gawes) van Christene se getuienisopdrag   -   tegelykertyd ook kritiek uitspreek teen die Gees van God? Opponerende Christus se opdrag, kan Petrus gerus sy kritiek heroorweeg.




Monday 23 June 2014

Zuma skep negatiewe klimaat rondom taal

Vyftig jaar gelede maak ek in die derdejaar-Sielkundeklas kennis met die definisie vir sielkundige klimaat. Na soveel jare het dit my steeds by gebly. Dit lui so: sielkundige klimaat is daardie aspek van 'n situasie wat vir 'n indiwidu sekere implikasies inhou ten opsigte van sy/haar waarde as persoon. Met sy onlangse staatsrede het pres. Zuma my aan dié definisie herinner. Hy groet ter aanvang die aanwesiges in Engels sowel as in enkele van die inheemse swart tale, maar nié in Afrikaans nie. Dit het Afrikaanssprekendes beslis opgeval.

Pas beginnende met sy redevoering, onderbreek hy homself en, met 'n onvanpas liggaamskuddende hê-hê-hê-gelag, sê hy "Goeie naand" in Afrikaans, en skep daarna 'n pouse ter beklemtoning van die beslis negatiewe klimaat wat hy pas rondom Afrikaans geskep het. Sy geïmpliseerde bedoeling daarmee was duidelik: hy het weinig respek en waardering vir Afrikaans as een van ons grondwetlik erkende nasionale tale. Wat 'n duidelike gebrek aan stylvolle demokratiese leierskap.

Kan daar van die moedertaalsprekers van Afrikaans verwag word om pres. Zuma met agting te bejeën terwyl hy só duidelik   -   ten aanskoue en ten aanhore van miljoene TV-kykers   -   doelbewus in die openbaar 'n negatiewe klimaat rondom Afrikaans skep? Na dié mate wat sy gedrag sy status as staatspresident by herhaling weerspreek, na dieselfde mate sal die wetsgehoorsame burgery se agting dienooreenkomstig vir hom afneem. Nie alleen vervreem hy Afrikaanse taalsprekers nie, maar druip ook in die toets vir nasiebou.




Monday 16 June 2014

Simbole-invloed dien staat én huisgesin

Dit is gebruiklik om die foto's van staatsleiers op strategiese plekke in staatsgeboue te vertoon. Saam met leiersverwisseling, verwissel ook dié foto's   -   ook ná die jongste kabinetsamestelling. Saam met ander nasionale simbole soos die volkslied, landsvlag en  -wapen, dien dié foto's die doel van die smee van 'n simboliese nasionale eenheidsband tussen alle landsburgers, die bevordering van lojale patriotisme, sowel as om die nasionale identiteit te inkorporeer tot onderdeel van die persoonlike identiteit van elke landsburger. Gegewe hul agtergrondsrekords, is dit egter vir sommige van ons baie moeilik   -   indien nie onmoontlik nie   -   om tans met sommige van die huidige staatsleiers te identifiseer; wat nasiebou aansienlik belemmer.

'n Geslag of twee gelede is presies dieselfde verskynsel van simbole-aanwending   -   by wyse van geraamde Bybeltekste, foto's van gesins- en familievoorgeslagte, van Afrikanerleiers en Boeregeneraals, sowel as skildery-afdrukke van Voortrekkertonele   -   aangetref teen woonkamer- en slaapkamermure in Afrikanerhuishoudings. Binne hierdie simbole-milieu het die Afrikanerjeug van gister en eergister, onder meer, hul geestelike wortels, historiese herkoms, behorendheid en identiteit gevind. Vandag het hierdie simbole uit ons moderne huise verdwyn en met tegniese simbole, soos die TV en rekenaar, vervang as agente vir die identiteitstransformasie van ons moderne jeug.

Soos wat vir die kweek van lojale landsburgers 'n ideale nasionale simbole-omgewing in 'n makrokonteks nodig is, so word ook 'n ideale kulturele simbole-omgewing vir die grootword van die Afrikanerjeug in 'n mikrokonteks benodig. Ongelukkig bestaan, myns insiens, nie een van dié twee omgewings nie. Is ons huislike opvoeding vandag   -   met ons twintigjaaroue sekulêre staatsbedeling se eroderende uitwerking op Afrikaners se vroeëre sterk kerk-skool-ouerhuis-vennootskap   -  beter of slegter daaraan toe as in die verlede?






Monday 9 June 2014

Waarheid kán wel geskiedenis herskryf

'n Vriend bring vir my twee boeke van dieselfde skrywer   -   prof. V.E.d'Assonville van die Noordwes-universiteit   -   oor dieselfde onderwerp   -   die Anglo-Boereoorlog (1899-1902)   -   wat hy wil hê ek moet lees. Synde een van my besondere belangstellings, bring die lees van dié werke my gedagtes weldra uit by die boek van Christopher R.Browning, getitel: "The Origins Of The Final Solution   -   The evolution of Nazi Jewish Policy 1939-1942", omdat dit onmoontlik is om sommige ooreenkomste tussen dié twee oorlogstydperke (1899-1902/1939-1945) mis te kyk.

Teen 1899 het Britse Imperialisme se wêreldwye veroweringsdrang weerklank gevind in die slagspreuk: "The sun never sets on the British Empire". Die Union Jack moes ook oor SA wapper. Veertig jaar later word Hitler deur sy "lebensraum"-idee van Duitse ekspansionisme, ook om groter grondgebied, gedryf. Sowel Brits-imperialistiese-  as Nazi-konsentrasiekampe was verantwoordelik vir, onderskeidelik, duisende/miljoene sterftes. Soos die Britte dit oorweeg het om die Boere na die Fidji-eilande en/of Madagaskar te verban, het ook die Nazi's dieselfde ten opsigte van die Jode oorweeg.

Die hantering van oorlogsmisdade blyk nie altyd konsekwent logies te verloop nie, want wat is   -   vanuit 'n beginselstandpunt   -   die verskil tussen Britse (1899-1902) en Duitse (1939-1945) oorlogsmisdade? Laasgenoemde is tydens die Nuremberg-verhore aangekla, skuldig bevind en gestraf   -   en die Britte vir hul gruweldade? Hieromtrent sê d'Assonville die volgende: "Ná meer as honderd jaar...diep in die kelders van die argiewe van Londen en Suid-Afrika, is daar 'n roering van die waarheid (wat) onder die geskiedskrywers 'n bewing...van die waarheid (word)...Met 'n klag by die wêreldhof van Den Haag, sou dit 'n aardbewing kon wees wat tot 'n herskrywe van die magtige Britse Ryk se geskiedenis kon lei."



Monday 2 June 2014

Botsende isme-denke oor SA-werklikheid

In sy "ANC geminag in die buiteland" (DB,02.05), stel Leopold Scholtz verdoemende aanhalings uit oorsese koerante   -   soos Der Spiegel, Frankfurter Allgemeine Zeitung, The Gurdian en The New York Times   -   aan die orde. Daaruit kom hy tot twee belangrike en realistiese gevolgtrekkings: "Suid-Afrika (het) in die internasionale persepsie stelselmatig afgegly tot net nóg 'n mislukkende Afrika-land", en: "Die ANC, eens die liefling van die wêreld, en veral Zuma persoonlik, word met minagting bejeën."

Max du Preez (DB,27.05) kritiseer Scholtz vir sy gevolgtrekkings en sê "hy het Suid-Afrika 'verdedig waar ek dit met my gewete kon vereenselwig' toe hy in die apartheidsjare in Europa gewoon het." Hy bied aan Scholtz die volgende "argumente...om te gebruik wanneer buitelanders Suid-Afrika as 'n vrotsige plek afmaak."

Suid-Afrika is van die oopste gemeenskappe ter wêreld; bied vryheid van spraak, beweging en assosiasie; het 'n rotsvaste Grondwet met 'n konstitusionele waghondhof daaroor; die oppergesag van die reg geld steeds (?); ons geniet stabiliteit (?) en vrede met min vrese vir etniese konflik (?), en so borduur die ANC-beeldpoetsende idealistiese Du Preez voort.

Vir my blyk Scholtz en die oorsese beriggewing van die SA-werklikheid   -   waaraan ek as landsburger daagliks blootgestel is en deur die media van gebeure ingelig word   -   op groter realisme te berus as dié van Max du Preez. Die feite spreek immers vir sigself, maar oordeel self as landsburger wat daagliks moet toesien hoedat die SA-werklikheid toenemend tot 'n ANC/SAKP-werklikheid getransformeer word met 'n minagting vir dié dinge wat Max as "argumente" so hoog aanslaan en vir Scholtz aanbied ter verdediging van "Suid-Afrika as 'n vrotsige plek."







Monday 26 May 2014

Hoe lyk demokrasie na nóg twintig jaar?

In opvolging van Zuma se voorverkiesings "goeie storie" , word ons tans herhaaldelik herinner aan "twintig jaar van demokrasie". Demokrasie manifesteer binne bepaalde kontekste van, byvoorbeeld, 'n liberale, sosialistiese, kommunistiese of Christelike aard. Binne watter van hierdie kontekste pas die huidige SA demokrasie?

In SA is die "papier"-demokrasie (grondwet) en die "praktyk"-demokrasie nie altyd versoenbaar nie. Daar vind tans 'n toenemende verskuiwing plaas van laasgenoemde weg vanaf eersgenoemde. Ons "praktyk"-demokrasie staan sterk in die teken van voortgesette rewolusie, gekenmerk deur 'n dinamiese beweging na 'n bepaalde ideologies geïdealiseerde bestemming. EFF-plekneming in die parlement mag juis dié momentum versnel. Nie almal is bewus van dié verskuiwing na 'n andersoortige konteks   -   steeds bekend as sogenaamd demokraties   -   nie. 

Indien ek reg begryp, vind daar juis tans ook 'n verskuiwing van die DA-liberale dryfveer vanaf die klassiek-liberale na 'n sosialisties-liberale vorm daarvan, plaas. Laasgenoemde, meer Afrika-georiënteerd, beskik oor groter potensiaal om méér swart stemme te trek as eersgenoemde, en regverdig dus dié potensieel aangepaste DA-skuif. Verskuiwings is dus 'n werklikheid.

Teenswoordige tendense dui daarop dat ons staatkundige bedeling oor nog twintig jaar dalk steeds demokraties genoem mag word, maar dat dit kontekstueel-ideologies verskuif het na 'n radikaal ander ideologiese omgewing. Varende steeds onder dieselfde demokratiese vlag, kan die SA-skip se ideologiese vraginhoud verander. Na-oorlogse Oos-Duitsland was bekend as die Duitse Demokratiese Republiek (DDR), maar dit was 'n volslae kommunistiese "demokrasie". Hoe gaan SA se demokrasie dus na nóg twintig jaar daar uitsien?












Wednesday 14 May 2014

Kwelvrae oor ANC-diversiteitshantering

Diegene wat toekoms-georiënteerd realisties saamdink oor vooruitsigte vir die nageslag, word deur kwelvrae gekonfronteer. Die ouer geslag moet nie verkwalik word as hulle vrae van 'n oorlewingsaard vra, soos: wat hou die toekoms vir ons kinders in teen 'n agtergrond van toenemende verarming, materieel én geestelik?

SA politici verwys graag na ons veelgeroemde diversiteit. Ons diverse minerale rykdom en plante-  of dierelewe is nié hul primêre fokus nie, maar wel ons divers-saamgestelde samelewing wat as besondere bate aangeprys word. Van enige poging tot 'n nasionale analise van dié bate-aanspraak, het ek nog nêrens enigiets toeligtend gelees nie. Dié uitspraak het die voorkoms van 'n voorlopig ongesubstansieerde aanname wat op verifiëring wag.

Een van vele kwelvrae is: hoe "bestuur" die ANC ons bate van mensediversiteit in terme van die grondwet tot die bevrediging en billike teregkoming van alle landsburgers? Tereg mág ons vra of hierdie konstitusioneel-erkende diversiteit tans tot volle reg kom.

Multikulturele SA suggereer 'n diversiteit van onderskeibare kultuurgroeperinge wat, op grond van groepsgetalsterkte, ingrypend van mekaar verskil. Die getalleverhouding tussen hierdie diverse groeperinge vind uitdrukking in die vorm van minderheids-  én meerderheidsgroepe, 'n kernkenmerk van ons SA samelewing. Hierin lê die potensiaal vir groepsdominansie opgesluit.

Van die legio kwelvrae oor die voortbestaan van minderheidsgroepe in 'n diverse SA konteks, is óf die ANC   -   wat ons almal binne sy Afrika-ideologiese bestel wil borsrok   -   gewillig is om, ter wille van 'n vreedsame, stabiele en voorspoedige samelewing, 'n balans tussen minderheids-  en meerderheidsbelange na te streef. Selfs al waarborg die grondwet minderheidsregte, bly die toekomstige hantering daarvan 'n kwelvraag.




Monday 12 May 2014

Spekulatief, ja, maar totaal onmoontlik?

Die EFF, "kraamsel" van die ANC, het 'n sosialisties-kommunisties getransformeerde SA, volgens die Mugabe-styl, ten doel. Die ekonomiese fase van die ANC-rewolusie   -   nasionalisering van grond, myne en finansiële instellings   -   word ondermyn deur die huidige selfverrykend korrupte ANC-leierskap, terwyl die ontnugterde massas ongeduldig wag op die beloofde land. 'n Plan moes bedink word om dié rewolusie op koers te hou. Die ANC durf nie sy "hoë-grond" rewolusionêre beeld verloor nie, ontroue leiers moet uitgewerk word, en die ekonomiese rewolusie onomkeerbaar voortgesit word. Die plan?  -  Malema en sy EFF.

Ongeag media-nuusdekking, vermoed ek dat agter die skerms 'n samewerkingsooreenkoms tussen die ANC en EFF bestaan om die vertraagde rewolusie te bespoedig. Na die suksesvolle deurvoering van dié ANC/EFF-plan, kan die EFF-"sytak" goedskiks weer solidêr ineenvloei met die herstelde ANC-"hoofstroom".

Ek wil werklik vertrou dat die toekoms   -   dit wat ek tans as die oëverblindende rolspel van twee uitmuntende akteursgroepe beskou   -   my as verkeerd sal bewys. ANC-"moeder" sal, parlementêrgewys, waarskynlik vinnig haar EFF-"kind" leer hoe om ons demokratiese grondwet saboterend te ondermyn vir gemeenskaplike ideologiese gewin.

Sou die DA, kapitalistiese vyand van die sosialisties-kommunistiese rewolusie, realisties op EFF parlementêre steun kon reken? Indien wel, mag dit aanvanklik gaan om die huidige leierskap te ontsetel, maar beslis nié om pro-DA-redes nie. Met tydsverloop sien ek die rewolusionêre pendulum swaai na groter samewerking tussen ANC en EFF om 'n toenemend groter sosialisties-kommunistiese wurggreep op ons demokratiese bestel toe te pas.

Spekulatief, ja beslis, maar totaal onmoontlik?            (ngn)




Monday 5 May 2014

Ons almal begaan soms oordeelsfoute

Na 'n halfuur se wag in die kliëntetou van 'n plaaslike handelsbank, staan ek heel voor. Vanuit die niet posisioneer 'n nie-toustaner hom meteens agter 'n kliënt wat nog bedien word. Ek vra (in Engels) vanwaar hy kom; geen antwoord. Ek herhaal my vraag; geen antwoord, waarop ek sê: "Sir, you are jumping the line." Is ek die bankbestuurder, wil hy by my weet. Onnadenkend eggo ek dieselfde vraag waarop hy antwoord dat hy wel die bankbestuurder is (onwaar). Ek herhaal my: "Sir, you are jumping the line", waarop hy reageer met "apartheid!, apartheid!, apartheid!"

Buite gekom, wag dié "line jumper" my in en begroet my dadelik met sy apartheidsrefrein. Kan ons dan nie op 'n vriendelike wyse praat oor dié voorval nie? Sy apartheidsobsessie maak hom ontoeganklik vir redevoering. Ek keer my rug op hom en loop.

Baie duidelik is hierdie voorval 'n "slegte storie", maar, soos ons weet, het ons die keuse of ons deel van die probleem of deel van die oplossing wil wees. Ek gaan weer die bank binne en kom, deur die veiligheidswag, by die bestuurderes uit. Ek vertel van die voorval, nie om te kla nie, maar op soek na 'n oplossingsmeganisme vir die toekoms. Beide verseker my dat hulle heelwat probleme ervaar met soortgelyke kliënte. In geval van 'n toekomstige probleem   -   soos die gemelde voorval   -   moet die aandag van 'n bank- of vloerbeampte getrek en enige ongerymdheid onder dié se aandag gebring word vir verdere hantering.

Hierdie "slegte storie" weerlê Petrus se stelling: "Miskien moet dr. Breitenbach uit sy gemaksone, waar hy 'n goeie storie elke dag van sy lewe beleef, beweeg..." (DB,29.04).  Petrus, jou gewaardeerde verskoning (DB,03.05) word sonder kwade gevoelens aanvaar. Dankie. Ons almal begaan soms oordeelsfoute.     (ngn)




Thursday 1 May 2014

Nee vir Du Randt se Afrikanerselfmoord

Dr. Du Randt se brief, "Spits kragte toe op wáre uitdagings" (DB,30.04), wek die indruk dat hy oor "die winkel für die welt" van sowel die verlede as die toekoms van Afrikaners beskik. In sy grondwet-en-verklaring-van-menseregte kristalbal   -  "fondamentstene en waarborge vir sekerheid"   -    sien hy 'n rooskleurig gewaarborgde Afrikanertoekoms. Vind Du Randt werklik sy ideaal, soos tans, in grondwetlik en menseregtelik skendend dominante ANC-Afrikanasionalisme?

Met sy "Spits kragte toe...", ondersteun ek hom, maar ons interpretasies van  "...op wáre uitdagings", verskil radikaal van mekaar. Volgens hom moet Afrikaners selfondersoek doen oor ons "heimwee na 'n etniese apartheidsverlede"; ons verafrikanisering van die Brits-ingevoerde apartheidstelsel; ons kerke en sakeondernemings se fundamentele misdade teen die mensdom; die "gevaarlike herlewing van Afrikanernasionalisme" (die "baba"   -   Afrikanernasionalisme   -   uitgooi met die "badwater"   -   apartheid. Du Randt toon 'n gebrek aan onderskeidingsvermoë. Foeitog.); ons kulturele afsonderlikheid, isolasie en meerderwaardigheid.

Voormelde is vir Du Randt die "ware uitdagings". Hy noem dit 'n "selfondersoek" wat in wese 'n skuldbelydenis moet word, gevolg deur transformasie tot 'n soort van hibriede Afrikanerskap   -   uiteindelik nóg vis nóg vlees   -   'n selfmoordplegend eens trotse volk. Nee, die "wáre uitdaging" vir Afrikaners is om hulself te bly en hul eie sake te reël, nie deur ander regeer te word nie, maar ook nie ander se sake vir hulle te reël soos in die verlede nie. Ons wil steeds trots bly wie en wat ons is en nié verswelgend deur die massas in-"gestofsuig" word nie.

Interessant dat Du Randt sy betoog afsluit met 'n aanhaling vanuit van die heel vroegste nasionalistiese gedigte, "Die Afrikaanse Volkslied", terwyl hy dié nasionalisme juis verwerp.               (ngn)




Tuesday 29 April 2014

Petrus bevorder die saak van die ANC

Petrus verkwalik my (DB,29.04) vir my erkenning van goeie dienslewering deur plaaslike staatsamptenare op my tuisdorp. Hy sleep dié plaaslike erkenning die nasionale ANC-domein binne en beskuldig my dat ek 'n Zuma-ondersteuner geword het en suggereer beledigend dat ek iets onder die toonbank moes deurgegee het daarvoor. Is jou konteksteverskuiwing veroorloof, Petrus? Ek dink nie so nie.

Petrus het sigbaar 'n probleem met erkennende kredietverlening waar dit gepas toekom. Wanneer 'n kolwer uitgeboul word en hy daarna erkenning gee aan die bouler vir die afstuur van 'n uitstekende boulaflewering, of wanneer 'n rugbyspeler die hand reik na 'n speleropponent wat aan die verkeerde kant van die skrum lê om hom op te help, is dit dan aanduidings van pro-opponente gedrag, óf juis van sportiewe gedrag in goeie gees van die spel? Wanneer een van ons beroemde Boeregeneraals 'n gewonde gevange Britse generaal medies laat versorg en daarna terugstuur na sy mense, is dit verraad óf 'n handeling volgens die Geneefse Konvensie vir oorlogvoering?

Petrus toon duidelik 'n gebrek aan die noodsaaklike onderskeidingsvermoë wat vreedsame saambestaan van ons almal vereis, en, as gevolg daarvan, vervreem hy potensieel goeie vriende en geesgenote wat hulle saam met hom in die stryd teen die ANC bevind en maak hy diesulkes tot vyande.

Petrus, waak daarteen om nie jou gebalanseerde perspektief op die lewe te verloor nie. Die lewe behels mos darem baie méér as net die ANC. Ons moenie toelaat om te daal tot op die korrupte vlak van ons teenstanders nie, maar ons "hoër grond"-posisie behou. Ons moet waak dat ons nie onsself geestelik ontmagtigend verdeel en só in die hande van die ANC speel nie. Oorwin deur Britse Imperialisme het ons voorouers ook alles verloor, maar nie hul geloof in hulself, hul volk en hul God nie.

Petrus, met jou verdagmakende aanval, vanweë 'n perspektiefgebrek, op mede anti-ANC-gesindes bevorder jy juis die saak van die ANC.








Wednesday 23 April 2014

Wengeld teen sonbrand op Kreta gebruik

Baie dankie aan Die Burger vir die R200 kontant ontvang vir my brief van 19 April. Dié weeklikse toekenning is reeds einde 2002 ingestel in die vorm van 'n R200-koopbewys aanvanklik deur Pick 'n Pay geborg. Met my brief, "Stop taalmuitery oor Afrikaans" (DB,04.11.02), was ek die heel eerste gelukkige ontvanger van dié koopbewys. Die Burger het moeite gedoen om dié toekenning by my NMMU-kantoor af te lewer, 'n geleentheidsfoto te neem, en dit op Vrydag 08.11.02 gepubliseer   -   'n stukkie wenbrief-geskiedenis.

Ek het destyds dié R200-koopbewys aan 'n behoeftige persoon geskenk (DB,14.11.02). Presies hóé ver 'n mens toe   -   kruideniersware-  óf brandstofgewys   -   met R200 sou kon kom, weet ek nie meer nie, maar ongetwyfeld verder as vandag met byna twaalf jaar van geakkumuleerde inflasie en Randwaardevermindering agter die rug.

Beslis geen ondankbare "gegewe-perd-in-die-bek-kyker nie", wonder ek of dit nie tyd geword het vir Die Burger om dit te oorweeg om sy weeklikse wenbedrag opwaarts aan te pas nie (slegs 'n wenk). Wat koerantlesers twaalf jaar gelede vir dié dagblad betaal het teenoor wat dit hulle vandag kos, kan dalk as riglyn hiervoor dien.

Wat ons met die R200 gaan doen? Sonbrandolie koop vir ons (DV) in vooruitsiggestelde besoek aan die eiland Kreta gedurende die eersvolgende noordelike somer, 'n besoek vergesel van   -   en hoofsaaklik moontlik gemaak deur   -   ons twee oorsee-wonende seuns en hul gesinne. As bevoorregte ouers is ons egter pynlik bewus, saam met duisende ander ouers, dat baie van ons kinders én kleinkinders se voetspore nie meer op ons SA strande gevind word nie, maar wel op vreemde strande elders ter wêreld.      (ngn)




Monday 21 April 2014

Dié kritiek is verfoeilik en dra niks by

Ek staan, soos Petrus (DB,21.04), ook geregverdig krities ingestel teenoor die ANC, daarvan getuig die talle briewe van my wat tevore reeds daaromtrent in Praat Saam gepubliseer is. Anders as Petrus, sien ek egter ook die positiewe raak in dienslewering   -   al is dit ook "in 'n gebied wat omtrent nooit donderweer kry nie"   -   en gee die nodige erkenning daaraan.

Dit is 'n algemeen positiewe lewensbeginsel dat, deur erkenning te gee aan daar waar dit verdien word, neig om deeglike werk en goeie prestasies voortgeset in die hand te werk. Laasgenoemde is ook 'n natuurlike sowel as noodsaaklike opvoedkundige beginsel wat positiewe vrugte afwerp, hetsy in skoolse onderwys, die huislike opvoeding of selfs ook in staatsinstellings. Volgehoue negatiewe kritiek   -  ook daar waar erkenning verdien word   -   werk kontra-produktief. Dit is presies waarmee Petrus homself besig hou in sy kritiek op my skrywe.

Ook die verbetering van dienslewering in ons staatsinstellings, is afhanklik van die toepassing van die algemeen menslike sowel as opvoedkundige beginsel van erkenning gee daar waar dit toekom. Laasgenoemde verbeter ook intermenslike verhoudings met die vooruitsig van verbeterde dienslewering. Die afwesigheid daarvan, soos duidelik die geval by Petrus is, werk presies die teenoorgestelde in die hand.

Net die blote suggesties van Petrus dat "dr. Breitenbach ook nou 'n Zuma-ondersteuner" is, my naam vermeld word in die konteks van "om by staatsdienstoonbanke ietsie onder daardie toonbanke aan te gee", en "tensy jy in 'n gees van sarkasme geskryf het", vind ek tegelyk verfoeilik én verwerplik en verdien die minagting wat dit toekom. Petrus   -  'n Bybelsbetekenisvolle naam   -   onthou gerus dat daar van Christus self ook gesê-vra is: Kan daar dan iets goeds uit Nasaret voortkom?  (ngn)




Tuesday 15 April 2014

'n Grondwetlik geprogrammeerde president

Ek vind aansluiting by Nommer Een se herhaaldelik vertelde, dog hoogs ongeloofwaardige, "goeie storie"   -  myne egter geloofwaardig; dit berus op persoonlike ervaring waarvan ek eerstehands kan getuig.

Verjarende in Aprilmaand, besoek ek verlede Maandag die Departement van Binnelandse Sake op my tuisdorp om vir my nuwe ID-kaart aansoek te doen. Ek is aangenaam verras met die vriendelike wyse waarop die aansoekprosedure verduidelik word. Daar is vier punte om te besoek op dié aansoekroete.

Besoekpunt 1 is die kassiere. Daar vertoon ek my huidige ID-dokument. As senior burger hoef ek niks te betaal nie   -   'n "goeie storie". Besoekpunt 2 voorsien my van 'n nommer wat ek op die elektroniese flitsborde moet volg om, vervolgens, na besoekpunt 3 te beweeg vir fotoneming, en daarna na besoekpunt 4 vir vingerafdrukke neem. Hier word gesê dat ek binnekort 'n sms ter erkenning van my aansoek sal ontvang. Nog voordat ek dié lokaal verlaat, ontvang ek dié sms   -   'n "goeie storie". Vrydag, 96 uur later, ontvang ek 'n sms dat ek my ID-kaart kan gaan afhaal   -   inderdaad 'n "goeie storie".

Is dit nie 'n uitmuntende voorbeeld van puik dienslewering, en sal ons dan nie erkenning gee waar dit verdien word nie? Toegegee, dit is grootliks te danke aan 'n onlangs ingefasseerde nuwe elektroniese stelsel wat, so verneem ek, deur persone-in-opleiding beman word. Waarom kan ander staatsdepartemente dan ook nie deur dieselfde gehalte van dienslewering gekenmerk word nie? Is dit nie hoog tyd dat die "stort" op Nommer Een se kop verwyder en vervang word deur 'n rekenaar as simbool van sy grondwetlik-versoenbaar "geprogrammeerde" presidentskapsmetamorfose nie?










Thursday 10 April 2014

Afrikaners,bruines skepties oor DA-steun

Die telefoon lui. 'n Onbekende Engelssprekende vrouestem vra of ek die DA ondersteun. Dis 'n vraag van hoogs persoonlike aard en ek beëindig die gesprek.

Daar is onsekere kiesers wat wroeg om vir watter party te stem. Onder hulle tel ook konserwatiewe Afrikaners. Die korrupte ANC is nie 'n opsie nie. In die lig van ANC-korrupsie, vermoed ek, is vele Afrikanerstemme vir die DA dan ook eerder anti-ANC- as pro-DA-stemme. 

Bied die DA vir die konserwatief-volksgeoriënteerde Afrikaner 'n realistiese toekomstuiste? Om S.A. te regeer, móét die DA die meerderheidstem verkry. Almal weet uit watter oord dié steun moet kom. Al sou dié meerderheid "gematig" wees   -   waaruit die toekomstige partyleierskap sal móét kom   -   leer Suid-Rhodesië ons dat Ian Smith met "gematigde" leiers soos 'n Ndabaningi Sithole en Abel Musorewa begin het, maar geëindig het met 'n Zimbabwiese Mugabe-diktatorskap. Kan ons die toekoms aan Afrika-"gematigdheid" toevertrou? Dié DA-roete lyk problematies.

Kan/Wil, vervolgens, die liberaal Engels-georiënteerde DA werklik die behoeftes en belange van konserwatiewe Afrikaners dien soos, byvoorbeeld, hom beywer vir die behoud van Afrikaans in universiteite en staatsinstellings? Is die DA daarmee te vertrou? Ek het my bedenkinge. Bevorder die prysgawe van konserwatiewe Afrikanerbelange nie juis die DA-liberalisme nie?

Waarom nie eerder die kieserskorps op 'n vrywillige keusegrondslag organiseer in belangegroepe/politieke partye wat gemeenskaplike waardes onderskryf, dieselfde behoeftes en toekomsvisie deel, en sluit dan samewerkende koalisie-vennootskappe en kom so in 'n regerende posisie nie? Jan du Toit (DB,08.04) sê in sy brief: "Mnr. Peter Marais waarsku dat die bruines hulle daarvan moet weerhou om vir...die DA of die ANC te stem." Eggo Marais se oproep nie presies dieselfde siening en bedenkinge vanuit bruin perspekrief nie?                       (ngn)






Monday 7 April 2014

ANC/NP nié "dieselfde soort" bevryders

In sy "Oogklappe help SA nie uit gemors" (DB,04.04) sê Leopold Scholtz "dat die ANC in die oë van miljoene swart mense dieselfde soort bevrydingsbeweging as die Nasionale Party 'n eeu gelede vir talle Afrikaners was." Dat die ANC en NP "dieselfde soort bevrydingsbeweging" genoem kan word, bevraagteken ek ten sterkste. Voorbeelde waarna Scholtz verwys, versterk my oortuiging daaromtrent.

Scholtz sê dat as jy "na die ANC se geskiedenis voor 1990 kyk, is dit duidelik dat die SA Kommunistiese Party hom...oorheers en sy rigting bepaal het". Vir die NP (Afrikaners) was Kommunisme ideologiese vyand nommer een   -   beslis dus nie van "dieselfde soort" nie. Scholtz sê verder "die ANC het nie vir vandag se liberaal-demokratiese grondwet geveg nie, maar vir 'n Leninistiese eenparty-diktatuur"   -   ook van "dieselfde soort"? Verder het die ANC "uiters wreed teenoor andersdenkendes in eie kring opgetree en sy oorlog teen apartheid op 'n moreel bedenklike wyse, deur terreur, gevoer"   -   van "dieselfde soort"?

Van Mandela, spesifiek, sê Scholtz dat hy "nie die sondelose Messias was soos hy hom later bekend gestel het nie", en waar die NP-regering eers "na 30, 35 jaar aan die bewind korrup geword" het, was die ANC "al voor 1994 deurtrek van die korrupsie"   -   van "dieselfde soort"? Vir swartes om, volgens Scholtz, die ANC en NP as "dieselfde soort bevrydingsbeweging" aan mekaar gelyk te stel, is 'n blatante leuenagtige poging waaragter die ANC skuil om sy voortgesette kommunistiese agenda, misleidend en verdoeselend, te probeer regverdig.







Thursday 3 April 2014

"Ou koeie"-opgrawing vertraag versoening

Ek verwys na twee sinne van J.du Toit se driesin-skrywe: "Ongelykheid in SA is geen toeval nie" (DB,03.04), waarvan die eerste lui: "Die 'ou koeie' wat dr.T.C.Breitenbach so graag begrawe wil sien, is nooit na behore omgesien nie." Laat ek eerlik erken dat ek nie mooi weet wat presies daarmee bedoel word nie. Afrikaanssprekendes wéét egter wat met "ou koeie" bedoel word en hoedat dit binne 'n velerlei van kontekste toepassing vind.  My briefopskrif: "Los die ou koeie ter wille van versoening" (DB,02.04), dui immers op die spesifieke konteks waarbinne dit gebruik is   -   geen maklike konteks om daarbinne toe te pas nie.

Almal van ons, insluitend Du Toit, grawe tog sekerlik sóms "ou koeie" uit die sloot. As konserwatiewe Afrikaners nooit die Engelse vergewe het vir nagenoeg 34 000 kampsterftes, asook verlies van hul republikeinse onafhanklikheid nie, sou waarskynlik géén Afrikaner ooit pragmaties vir die liberale Engels-georiënteerde DA gestem het nie.

My beroep op Johann Maarman was dat, indien hy dan "ou koeie" uit die "polisiesloot" móét opgrawe, hy dit wel mag doen, maar dan op " 'n grondslag van billikheid, regverdigheid en, veral, op 'n gebalanseerde wyse." Is laasgenoemde, as kriteria vir "ou koeie" opgrawe, asook die opoffering om "ou koeie" te laat rus ter wille van broodnodige versoening   -   want wat is die alternatief   -   dalk te veel gevra vir Du Toit?

Met Du Toit se laaste sin: "Ongelykheid in dié land is geen toeval nie", kan ek my mee vereenselwig. Hoe daaraan inhoud gegee en vertolkend mee omgegaan word, is egter allesbepalend. Om te begin by S.J.du Toit se gedig, "Hoe die Hollanders die Kaap ingeneem het", is dalk een goeie beginpunt.






Tuesday 1 April 2014

As dit dan móét, behou tog net balans

Ongebalanseerd eensydige skrywes laat 'n wrang smaak in die mond, te meer as jy uit ervaring vooraf weet dat, om beswaar daarteen te maak, futiel is   -   en nou waarskynlik wéér. 'n Voorbeeld hiervan is Johann Maarman se "Trane dam weer op in Tutu se oë" (DB,31.03) waarin hy dit het oor die "Nkandlaskandaal aan die vlagpaal van apartheid." Hierin skets hy die "geestelikes in hul priesterlike gewaad op die trap van die St.Georges-katedraal...die 'Katedraal van die Mense' in Kaapstad" waartydens Zuma op plakkate gevra word om op vrae oor Nkandla te antwoord.

Maar dan steek Maarman by dié katedraaltrappe vas waar "nie te lank gelede nie" bloed gevloei; skuiling teen die polisie se swepe, knuppels, traangas, skokgranate, rubberkoeëls en "Purple Rain" gevind is; gebid is vir die ontbanning van organisasies en hul leiers, en Mandela vereer is. Wat hoop Maarman om hiermee te bereik, behalwe om 'n dooie perd te bly skop? Waarskynlik dieselfde as met sy "Die 'skop, skiet, bliksem' brigade" (DB,11.03.2013) waarin hy slegs op 'n enkele polisiewreedheid van die huidige SAPD wys met, daarteenoor, die name van tien slagoffers onder die vorige SAP-bedeling.

Ag, wil Maarman nie maar   -   ter wille van versoening   -   asseblief die ou koeie in die sloot begrawe laat nie, óf, indien hy dan wel vergelykings tussen die ou en die nuwe polisiebedeling móét tref, dat hy dit op 'n gelykwaardige grondslag van billikheid, regverdigheid en, veral, op 'n gebalanseerde wyse sal doen.