Wednesday 31 August 2016

Vervang volkslied met nasionale lied

Ek dink Max du Preez begaan 'n denkfout met sy stelling: "'n Volkslied is vir almal" (DB,30.08). 'n Volkslied   -   'n volk-se-lied   -   is nié vir almal bedoel nie, maar slegs vir die lede van 'n volk wat, histories en andersins gebonde, spontaan daarmee kan identifiseer en toeëien.

"Die Stem" was in wese vroeër, eksklusief, die Afrikanervolk se volkslied waarbinne Engelssprekendes, om staatkundige redes, ook geakkommodeer is; gesing in die amptelike tale van dié tyd: Afrikaans en Engels. 

'n Volkslied kan nie in vreemde andermanstaal gesing word nie. Dit is juis een van die probleme van "Nkosi Sikelel' iAfrika" wat slegs vyf van die elf amptelike tale   -   isiXhosa, isiZulu, Sesotho, Afrikaans en Engels   -   bevat en die oorblywende ses buite rekening laat.

'n Verdere probleem met die huidige volkslied: Christengelowige landsburgers vind die nkosi-godheid, met sy oorsprong in die swart Afrikakultuur, wie se seën afgebid word op 'n sekulêre staatsbestel met sy sekulêre grondwet, uiters vreemd en derhalwe baie moeilik, indien nie onmoontlik nie, om daarmee te identifiseer. Soos wat die volkslied nie al elf tale verteenwoordig nie, so is dit ook nie verteenwoordigend van alle gelowe nie.

Die uitdagende oplossing lê daarin om die bestaande volkslied met 'n nasionale lied te vervang wat die belange van die totale SA-burgery, inklusief, akkommodeer, waarmee almal kan identifiseer, en vertaal in al elf amptelike tale. Laat taalgroepe toe om dit, in byvoorbeeld 'n skolekonteks, in die moedertaal te sing en nie in andermanstaal nie. Die elf tale geniet immers gelyke grondwetlike status, en is nie ondergeskik aan mekaar nie. Die sing van die volkslied is nie primêr 'n geleentheid vir taalaanlering nie. Tydens nasionale byeenkomste kan, nadat daaromtrent ooreengekom is, dit in Engels gesing of van taalrotering by sulke geleenthede gebruik gemaak word.




Friday 26 August 2016

Dié geskiedenis herhaal homself

Die kwessie van die potensieel uiteindelike verdwyning van "Die Stem" lok heelwat kommentaar uit. My aanvoeling is dat daar lank reeds nie meer sprake is van die voortgesette bestaan van die vorige volkslied nie. Waarom dan nie? In die huidige volkslied is daar slegs twee versreëls van "Die Stem" se 24 versreëls opgeneem. Die Engelse gedeelte blyk nie deel van "The Call Of South Africa" te wees nie, maar 'n nuutgeskepte toevoeging. Ons kan mos onmoontlik nie na twee behoue versreëls as "Die Stem" verwys nie. Kan ons?

Hierdie toegif van twee versreëls tot Nkosi Sikelel' iAfrika was vanaf die begin duidelik bestem om slegs tydelik van aard te wees. Dit sou sorg vir 'n gewaande gevoel van aanvaarding en geborgenheid totdat die tyd ryp sou wees om daarvan ontslae te raak. Vir die massas dra selfs net dié oorblyfsels van "Die Stem" te veel ou SA-bagasie. Ek voorsien dat dit in elk geval, hoe hartseer ook al, saam met die ouerwordende Afrikanergeslag gaan uitsterf.

Die masjiene waardeur die twee behoue versreëls kunsmatig aan die lewe gehou word, kan gerus maar afgeskakel word. Dié twee versreëls kan ook nou maar ter ruste gelê word langs die ander 22 wat jare gelede reeds ter ruste gelê is. Dié siening verteenwoordig nie een van defaitisme nie, maar wel van realisme. Toe "God Save The Queen" finaal van SA-bodem verdwyn het, het sommige getreur en sommige gejuig. Dié geskiedenis herhaal homself gedurende ons leeftyd.






Tuesday 23 August 2016

Christendom verdwyn toenemend uit nuusmedia

Dit ontglip nie die aandag hoedanig die wêreldmedia met nuusdekking omgaan nie. Dié beriggewingsveld is ongelyk. Ek motiveer my stelling met 'n voorbeeld van die nuusdekking wat die Islam en die Christendom onderskeidelik geniet.

Daar word berig die 5-jarige Omran Daqneesh "het die gesig geword van die...burgeroorlog...in Sirië", terwyl Tayyip Erdogan, Turkse president, beweer dat 'n 12/14-jarige kind   -   selfmoordbomaanvaller en agent van ISIS   -   verantwoordelik was vir die dood van 51 mense tydens 'n Turkse troue (DB,22.08). Beide Sirië en Turkye is Moslemlande. 

'n Belangrike vraag is óf die sensasiehonger mens van ons dag dan feitlik daagliks nét gevoer moet word met slegte nuus oor anargie, dood en verwoesting wat telkens volg op die Alluh Akbarkreet?

Hierteenoor het erkenning aan God deur Christendeelnemers en  -presteerders tydens die pas afgelope Olimpiese Spele   -   soos Wayde van Niekerk, Usain Bolt, Gabby Douglas, Daniel Smith, David Boudia, Steele Johnson, Madeline Di Rado, Nick Willis en Christine Ohuruogu   -   so goed as geen nuusdekking geniet nie.

Wat die polemiek betref wat juis gevoer word rondom die BBC se gebrek aan beriggewing hieromtrent, sê David Robertson: "There is both a subconscious and a conscious attempt by the...media...in the UK to sideline or remove Christianity from the narrative...the BBC has moved far away from its Christian heritage and has become the Secular Broadcasting Corporation."

Dat die Christendom toenemend op die agtergrond geskuif en aan't verdwyn is uit die gesigsveld van 'n mediageskepte ongelyke beriggewingsveld, is duidelik.                (ngn)






Friday 19 August 2016

Pragmatiese meerdimensionaliteit en die Bybel

Ek reageer op Pitout se: "Gay-troues: Dink meerdimensioneel" (DB,18.08); in besonder op sy stelling: " 'n Pragmatiese beginsel is om gesprekspunte meerdimensioneel te belig..." Natuurlik is daar 'n direkte verband tussen sy "pragmatiese beginsel" en sy "meerdimensionaliteit".

Om sy doel te bereik, maak die pragmatis toegewings tydens kompromiesluiting   -   ook tussen Bybel en wetenskap. Laat die Bybel hom egter voorskryf deur kompromiemakende toegewings aan die wetenskap oor dié dinge waaromtrent die Bybel ons voorskriftelik uitdruklik verbied? Ek dink nie so nie.

Die tyd van of...of is verby  -   óf die Bybel óf die wetenskap   -   en die tyd van en...en het aangebreek   -   én die Bybel én die wetenskap   -   as moderne geloofs-  en lewensrigsnoer. Die Bybel-plus, of Christus-plus, is 'n tipies moderne benadering tot die oplossing van knellende lewensvrae, ook oor gay-troues.

Die moderne en...en-benadering tot die Bybel verlaag die gesagstatus daarvan vanaf volkome soewereiniteit na onderhorig afhanklike susereiniteit. Hierdie paradigmaskuif oor Bybelse soewereiniteit, en die respektering daarvan, hou implikasies in vir ons voortgesette geloof daarin asook ons -besluite.

Die wetenskaplike kennis van die geloofsmondige en -geëmansipeerde mens moet nou tot die redding kom van die onselfgenoegsame Woord van God. Pragmatiese meerdimensionaliteit is 'n voorbeeld hiervan wat die Bybelse veroordeling van 'n homoseksuele lewe in die voue van mooiklinkende begrippe en wetenskaplik-verdienstelik verworwe kennis wil verberg.

Pitout is korrek wanneer hy sê: "Medegelowiges kan kies om slegs vanuit die Bybel eendimensioneel oor die gay-kwessie te besin...". Teenoor sy "pragmatiese beginsel" kom vir my te staan die "Sola Scriptura"-beginsel   -   slegs God se soewereine Woord en niks anders nie.

Ek skaar my by Magda van Despatch (DB,15.08;19.08) van wie Pitout sê: "Jou uitgangspunt is skynbaar slegs Bybelgefundeerd, en dit is jou goeie geloofsreg..." Wat Pitout glo, is eweneens sy goeie geloofsreg. Die gemene deler tussen Pitout, Magda en myself, is die aanvaarding van verantwoordelikheid vir ons elkeen se geloofskeuse.               (ngn)






Monday 15 August 2016

Ondersoek kerklike besluit se waardebasis

"Die hof...kan beveel dat die NGKerk sy besluit uitvoer om gay-huwelike toe te laat." So word berig omdat "11 NG-lidmate...dreig om hul eie kerk hof toe te sleep om hom te dwing om gay mense toe te laat om in die kerk te trou...(gesteun deur) die regsadvies van adv.Wim Trengove SC...(wat) meen dat die kerk strydig met sy eie kerkorde optree deur nie sy eie besluit toe te pas nie..."(DB,15.08).

Ek stel die volgende twee vrae in dié verband: 1. Is alle menslike besluitneming   -   onderhewig aan menslike feilbaarheid, waaraan ook kerklike besluitneming onderhewig is   -   gegiet in beton sodat dit nooit gewysig óf herroep mag word nie? Kan dan nie selfs ook 'n hofuitspraak ná 'n appélaansoek gewysig word nie? Ek vra dié vraag as juridiese leek.

2. Enige besluit is wel analities ondersoekbaar daarin dat dit die vierde van drie voorafgaande stappe verteenwoordig wat in die vyfde stap, van besluitimplementering, kulmineer. Alle opsies waaroor daar besluit moet word, impliseer die toepassing van dié stappe waardeur dit onderlê word.

Alle moontlike besluitnemingsopsies word primêr onderlê deur die evaluering van elke opsie aan die hand van waardes. Opsies word "geweeg" aan kontekstueel relevante waardes, en daarna rangordelik geplaas volgens keuring. Die keuse word bepaal deur voorkeur te verleen aan dié waarde-geweegde opsie wat die swaarste weeg. Keuse-finaliteit kulmineer in 'n besluit omtrent die opsie-verskeidenheid. Besluit-implementering berus dus ten diepste op 'n waardebasis.

My vraag is dus óf die waardebasis waarop die betwiste kerklike besluit berus, analities deeglik ondersoek is of dit wel Bybels-kerklike waardes, en of dit humanisties-sekulêre waardes, as basisvertrekpunt neem vir die vier stappe wat daaruit voortvloei. Die wesenlike moontlikheid bestaan dat dié betwiste NGKerkbesluit op Bybels buitekontekstuele waardes berus en daarom ongeldig en betwisbaar is.           (ngn)







Thursday 11 August 2016

Plakkate wil waarsku; nie veroordeel nie

Ek verwys na vier jong vroue se plakkaatprotes   -   voor die podium van die Onafhanklike Verkiesingskommissie se nasionale uitslagsentrum in Pretoria   -   tydens pres. Zuma se toespraak. Pres.Zuma se hofsaak van tien jaar gelede, waartydens hy van die verkragting van 'n jong vrou aangekla is, was die rede vir hul protes (DB,08.08).

Met dié voorbeeld van 'n openbare plakkaatprotes, wil ek ook twee plakkate in die openbaar vertoon. Ek wys op die redes vir dié plakkate.

Plakkaat 1-bewoording: Nêrens vertel die Bybel ons van enige politieke party in die hemel nie. Rede vir dié plakkaat: Mmusi Maimane, DA-leier, sê: "Die beste tak van die ANC is in die hemel, waar Nelson Mandela is...Dié verkiesing gaan daaroor om dit vir uTata te doen..." (DB,03.08).

Hierdie is 'n direkte naprating van Mandela self wat by geleentheid gesê het dat, na sy dood met sy aankoms aan die "anderkant", hy onmiddellik na die naaste ANC-tak sal verneem en daarby aansluit.

Plakkaat 2-bewoording: Die Bybel ken nêrens aan voorvadergeeste enige plek óf rol toe nie. Rede vir dié plakkaat: Pres.Zuma is op rekord dat hy sou gesê het 'n stem vir die ANC bied 'n vrypas na die hemel, en ook dat, as die mense nie vir die ANC stem nie, sal die voorvadergeeste hulle kom regsien.

My plakkate wil van 'n waarskuwende aard teen twyfel, verwarring  en misleiding wees   -   potensieel teweeg gebring deur Zuma en Maimane se nie-Bybelse uitsprake wat die gevaar inhou om Christenkiesers te vervreem   -   veel eerder as van 'n veroordelende aard. Ek rig dié waarskuwing in die lig van die reg daartoe verleen aan alle SA-burgers deur die Suid-Afrikaanse Handves van Godsdiensregte en  -vryhede; veral artikels 6.1(a), 6.3 en 6.4 daarvan.






Friday 5 August 2016

Diensleweringsbestuurstyl moet radikaal verander

Met die verkiesingseuforie verby, word verkose raadslede nou gekonfronteer met die daadwerklike realisering van kiesersbeloftes. Deur allerlei realistiese én onrealistiese beloftes, waaronder die uitwissing van ANC-onbekwaamheidspore, is hoë kiesersverwagtinge geskep.

Daar moet spoedeisend 'n ooglopend sigbare, deursigtige en radikale verandering in diensleweringsbestuurstyl intree ter wille van die geloofwaardigheid van verkiesingsbeloftes, die behoud en versterking van kiesersvertroue en  -lojaliteit met die oog op vooruitgang en stabiliteit in ons metropool. Daar moet op álle fasette van ANC-dienslewering verbeter word, soos gehalte, die tydsraamwerk asook 'n groter erkennende ingesteldheid teenoor mense se grondwetlike taalregte.

ANC-rompslomp, navraefrustrasies, nepotistiese aanstelling van onbekwames, eentaligheid en dergelike euwels moet sonder versuim uitgeroei word. Groter sigbaarheid, én beskikbaarheid van raadslede, is ononderhandelbaar; so ook volgehoue kontak met wyksbewoners met wie oorlegplegend vergader moet word   -    met die doel van inligtingskommunikasie en die verkryging van eerstehandse inwonersinsette oor wyksbehoeftes   -   is onontbeerlik vir demokratiese plaaslike regering.

Wyksraadslede en  -bewoners verkeer in 'n wedersyds afhanklike verhouding tot mekaar, 'n waarheid wat die outokratiese ANC geminag het. Kiesers fouteer indien hulle dink dat hulle nou passief kan sit en wag op dienslewering. Hul aanspreeklikheid eindig nie by die trek van 'n kruisie nie. Hulle is deel van 'n vennootskap waarbinne elke vennoot 'n eiesoortige verantwoordelikheid het om demokratiserende dienslewering te laat slaag.

Kiesers het ongetwyfeld inspraak in die bestuur van die metropool deur die verantwoordelikhouding van raadslede. Dié demokratiese kiesersinspraak moet erken, geïmplementeer, uitgebou en versterk word ter wille van 'n gelukkige en harmonieuse samelewingsgemeenskap.

Gelukwense aan al die verkose raadslede. Sterkte toegewens met jul onbenydenswaardige taak vir billike dienslewering aan alle inwoners. Mag die koerswysiging na doeltreffende dienslewering spoedig vir almal sigbaar word.