Monday 25 July 2016

Is die aanklaer nie self skuldig aan dwaling?

In sy brief, "Biddae vir reën is geloofsdwaling" (DB,21.07), maak Pitout hom skuldig aan ongeoorloofde kontekstuele grensoorskryding, bedoelende daarmee dat hy die Bybelse kontekstuele geloofspelreëls ignoreer en dit onderwerp aan kriteria vanuit die wetenskapskonteks. Dit is ontoelaatbaar. Dit is soos 'n skeidsregter wat, volgens sokkerspelreëls, 'n rugbywedstryd probeer hanteer   -   absurd en chaoties.

Met sy wetenskaplik kritiese ingesteldheid oor gebede vir reën, sê Pitout dit is "'n geloofsdwaling...
teen die Liefdesgebod in die Bybel...'n kerklike dwaling...(en) onbybels" om te bid vir reën. Om dit te kan beweer, kan ons verwag dat Pitout seker 'n diepgaande kennis van die Bybel sal hê.

Wat sê God egter: "My gedagtes is nie julle gedagtes nie...(maar) bo julle gedagtes" (Jes.55:8-9). Verder sê Hy: Hy ken al ons behoeftes (Mat.6:31-33); as ons bid sal ons ontvang (sonder uitsondering dus ook reën) (Mat.7:7), en Hy gee aan regverdige sowel as onregverdige (Mat.5:45). Jakobus 5:17-18 beskryf 'n tweeërlei gebedsverhoring om reën: die stuur van reën, en die weerhouding daarvan.

Pitout vind 'n geesgenoot in ds. Albert Cruywagen van die NG Gemeente Riebeeckpark in Kempton Park wat, volgens Neels Jackson in Beeld (28.02.11), sê: "Dit het nie vir hom sin om vir reën te bid nie. Hy glo nie dat God in weerstelsels ingryp nie. Daar is groot natuurkragte wat dit beheer." Beide Pitout en Cruywagen skei die Skepper deïsties van Sy skepping en impliseer sodoende 'n God wat Hom aan Sy skepping onttrek het.

Die vraag wat beantwoord moet word, is of Pitout, as aanklaer, nie self aan geloofsdwaling skuldig staan nie.                   (ngn)






Thursday 21 July 2016

Heilige graal oor Afrikaner steeds nie gevind

Petrus lewer 'n, Giliomee-gerugsteunde, verdienstelike bydrae (DB,19.07) tot die Afrikanergesprek. Tog verteenwoordig dié bydrae maar net nog een van vele meer uiteenlopende eietydse vertolkings van die Afrikaner, en -volk, onder veranderde omstandighede.

Sentraal in dié Afrikanergesprek staan identiteit   -   en die behoud of verlies daarvan   -   die belangrikheid waarvan deur Petrus onderbeklemtoon word, en so 'n leemte in sy beredenering laat. Ons leef juis in 'n tyd wat 'n identiteitlose wêreldgemeenskap gepropageer word.

Om op 'n spontaan ongedwonge wyse met mense en "dinge" te identifiseer, is tipies, soos, byvoorbeeld, 'n seun met sy pa en 'n dogter met haar ma. Dit geld eweneens die ongedwonge identifisering met Afrikanerwees en die  -volk. Op identifisering volg assosiëring op grondslag van keusevryheid tot assosiasie of dissosiasie. Op assosiasie volg konformering   -   om ingebind te word met diegene met wie geïdentifiseer en geassosieer word, soos pa-seun en ma-dogter.

Die besluitnemingsreg van elke individu word onderlê deur die keusevryheid met wie jy wil identifiseer, assosieer en konformeer. Dié reg geld ook binne die Afrikaner-  en -volkskonteks. In my brief (DB,16.07) , volgens my keusevryheid, verwys ek na myself as 'n Euro-Afrikaner. Petrus maak hierteen beswaar wanneer hy sê: "Name soos Euro-Afrikaner...toon neigings tot ideologiese nasionalisme wat weinig bydra om eenheid in diversiteit te bevorder.."

Ek verneem graag van Petrus of alle nasionalismes (in die algemeen) dan van ideologiese aard is; of Afrikaner-nasionalisme (in die besonder)   -   volkse Afrikaners is tans juis gewikkel in 'n oorlewingstryd om identiteitsbehoud   -   ideologies is, asook van watter kriteria hy gebruik maak ten einde ideologiese nasionalisme te bepaal.

Om ook uitsluitlik "eenheid in diversiteit te bevorder", is tegelyk wanbalansig, onbillik en oneerlik. Ook diversiteit in eenheid het gelyke aanspraak op erkenning en bevordering. Dié twee moet in harmoniese ewewig verkeer.

My oorwoë mening is dat ook Petrus nie daarin slaag om die heilige graal, oor presies wie en wat die Afrikaner is, te vind nie.







Monday 18 July 2016

Wêreldgebeure tekens van 'n voorspelde tyd

Durf ons, veral as Christengelowiges, apaties onverskillig staan teenoor die dryfvere vir die toenemend bloedige terreurdade in Europa en die VSA gemik op wraaknemende lewensverlies? Dit is simptome wat ongetwyfeld in toekomsterme vertolk moet word. Dat Christene 'n lewensbedreigend geloofsbeproewende toekoms tegemoet gaan, is gewis en seker.

Wie het dié toekoms beter as Christus self voorspel? Daarvolgens gaan Sy volgelinge verdruk, vervolg, gehaat en gedood word, alles in aanloop tot 'n eindtydse Godlose eenwêreldbedeling. In nie minder as 50 lande word Christene reeds verdruk en soms wreed vervolg, dog die gemanipuleerde hoofstroommedia berig weinig, indien enigiets, daaromtrent.

Teen die agtergrond van dié betekenisvolle wêreldgebeure, is dit interessant om Albert Pike se brief aan Guiseppi Mazzini   -   tot almal se beskikking op die internet   -   te lees. Pike was 'n vrymesselaar-grootmeester, ateïs en illuminaat in die VSA; Mazzini dieselfde in Italië. Die brief is gedateer 15 Augustus 1871, was tot 1977 te lees in die biblioteek van die Britse Museum; het toe "verdwyn", waarna die bestaan daarvan ontken word.

In dié 1871-brief voorsien Pike drie wêreldoorloë, almal ingestel op die fasegewyse daarstelling van 'n uiteindelike antichristelike eenwêreldregering. WO1 was beplan om die Russiese Christen-tsaar omver te werp en 'n Godlose kommunistiese bewind te vestig wat Christene sou vervolg. WO2 sou Nazisme, vyand van kommunisme, vernietig en eindig met 'n Joodse staat ernstig gekonfronteerd met omringende Islamitiese buurlande. Beide WO1 en WO2 is gekenmerk deur bloedige lewensverlies van miljoene slagoffers.

WO3, volgens Pike, sal plaasvind tussen Israel en sy Islamitiese vyande, 'n oorlog waarin beide mekaar sal vernietig. Hierna sal die ontredderde wêreldbevolking, ontnugter met die (vervalste) Christendom, na nuwe vastigheid soek en dit vind in "the true light through the universal manifestation of the pure doctrine of Lucifer...which will follow the destruction of Christianity"   -aangehaal uit Pike se brief.

Christengelowiges mag die jongste wêreldgebeurlike tendense, as tekens van 'n voorspelde tyd, nie ignoreer nie.                       (ngn)








Wednesday 13 July 2016

Het hulle bruin en swart mense geraadpleeg?

Geert de Boon (DB,13.07) laat nie toe dat Albert Nothnagel in sy, "Maak die woord 'Afrikaner' los van ras" (DB,08.07), "met sy redenasies wegkom nie." Hy verwyt Nothnagel dat hy " 'n parlementslid van die verkrampte vleuel van die Nasionale Party (was)...en nie die standpunt gehuldig het dat alle Afrikaanssprekendes Afrikaners is nie."

De Boon vra wat Nothnagel doen "om die skeidslyne tussen wit en bruin en swart Afrikaners op te hef sodat ons in ons taal mekaar as volk-  en geesgenote mag vind?" Waar Nothnagel in sy skrywe ras, Afrikaner en taal op dieselfde lyn plaas, voeg De Boon ook die gemeenskaplike volksgedagte daarby.

Nothnagel doen 'n beroep op lesers om die begrip "Afrikaner" te ontdaan van ras. Vir hom is wit, bruin en swart almal Afrikaners. Self het ek geen probleem nie, op voorwaarde dat ek toegelaat word om na myself as 'n Euro-Afrikaner te verwys soos wat swart Amerikaners trots na hulself as Afro-Amerikaners verwys.

Nothnagel se, "Ons moet net 'ras'-suiwer praat", verwar my egter. Die een oomblik "ont"-ras hy Afrikaners, en die volgende "ver"-ras hy die Afrikaanse taal. Wat behels dié "ras"-suiwer praat vir Nothnagel in die lig van die variante van ons taal soos Kaaps-, hibriede-, streeks-  en standaard-Afrikaans?

Soos Nothnagel, ontkoppel ook De Boon wit, bruin en swart van enige rassigheid, word almal Afrikaners, en maak hy hulle tot volksgenote. Soos ouer en kind deur gemeenskaplike bande van bloed en geloof gebind word, so word ook 'n volk deur gemeenskaplike bande van bloed, geloof, historiese herkoms, taal en kultuurbeoefening gebind. Is dié bande by wit, bruin en swart identies, of skep hy 'n "kunsmatige volk"?

Beide Nothnagel-  en De Boon-denke pas perfek binne die raamwerk van die ANC-transformasiedenke oor die nivellering van alle ras-  en kultuurverskille. Dit ontbreek beide egter aan rapportering oor hul raadpleging van bruin en swart mense oor dié se reaksie op gemeenskaplike Afrikanerskap en volkskap.










Wednesday 6 July 2016

Moeitewerddinge kom teen 'n prys - soms baie hoog

Synde self van die ouer geslag, simpatiserend met die ouer geslag Britte wat deur Charl Adams (DB,04.07) verwyt word vir "(hul) eie selfsugtige en korttermynredes...(en) die toekoms van die opkomende jong geslagte vir 'n pot lensiesop verruil het", voel ek my genoop om op sy aanklag te reageer. Hy mag dalk reg wees; dalk nie.

Ek verskil in waarde-oordeel en prioritisering van Adams. By gebrek aan relatief diepgaande kennis aangaande die histories doelgerigte aanloop en opbou tot die EU; die mees onlangse diktatoriaal gekenmerkte ontwikkelingstendense daarbinne, asook die heel grootste agtergrond waarteen Brexit gesien moet word   -   die EU se rol in die totstandkoming van 'n uiteindelike eenwêreldbedeling   -   beskou ek Adams se standpunt as ondeurdag simplisties.

Die spreekwoord: "Met grysheid kom wysheid" (nie met Adams se jeug te assosieer nie) is hier van toepassing. Die ouer Britse geslag dra nog die herinneringsresiduele oorblyfsels van WO2 waartydens hulle die bedreiging van militêr-totalitêre Nazisme en die bevegting daarvan lyflik ervaar het.

Daar is onteenseglik aanduidings van hoe die selfstandig outonome soewereiniteit van EU-lidstate deur verpligte EU-resolusies weggekalwe word tot 'n Brussels-gesentreerde magsopbou na een groot Eurostaat waarbinne volke met hul nasionale grense sal verdwyn, opgaande in een internasionale wêreldburgery.

Voeg hieraan toe die resente lyflik ervaarde dreigemente en ekstremistiese terreurdade komende uit die honderdduisende Moslemvlugtelinge met hul onverbloemd uitgesproke doel van uiteindelike Europese verowering, 'n nie-ignoreerbare lewens-  en voortbestaansbedreigende gevaar. Die lojaliteit van die EU lê nie by die Europeërs nie, maar wel by dié nie-Europeërs.

Die ouer geslag Britte sien ongetwyfeld 'n parallel tussen WO2 se vooroorlogse opbou en die huidige EU magsmonopoliserende opbou. Die Britte het die Brexit-referendumkeuse korrek vertolk: Britse voortbestaan, óf ondergaan. Die ekonomie kan weer herstel; onafhanklikheidsverlies nie weer nie. Selfbehoud is die moeite werd. Moeitewerddinge kom egter teen 'n prys   -   soms baie hoog.









Monday 4 July 2016

Hoe word dié aanstootlike boektitel verduidelik?

'n Vriend leen my Francois Smith se boek, "Kamphoer", om my mening daaromtrent te hoor. Self sou ek dit nie sommer aankoop nie. Die titel wek by my 'n voorlopig agterdogtige vermoede van die moontlikheid van 'n poging tot Afrikanerverguising soos dié gevind by Robin Binckes.

In "Seks, dwelms en volkspele" vertel Kirby van der Merwe (BY/DB,21.01.12) van Robin Binckes se debuutroman, "Canvas under the sky", waarin Binckes van die allerwalglikste leuens oor die vroegste Afrikanervroue kwytraak in 'n poging tot volksverguising, met Binckes in die posisie van toergids oor die Afrikanerverlede by die Voortrekkermonument.

Binckes sê ons volksmoeders was "wulps en sedeloos...(wat) op die katel in mekaar se arms troos gevind het...(en) 'n vrou wat tydens die Slag van Vegkop twee mans na haar wa lok vir groepswoeps."

My aanvanklike vermoede dat "Kamphoer" dalk in dieselfde Afrikaner-verguisend vulgêre styl van Binckes geskryf mag wees, moet ek, na my lees daarvan, egter laat vaar. Wat wel pla, is die titel van die boek, "Kamphoer". Waarom dié aanstootlike boektitel?

Op die agterblad van die boek vind die voornemende leser die volgende: " 'Kamphoer' is die ware verhaal van 'n vrou wat gedurende die Anglo-Boereoorlog wreedaardig verkrag en vir die aasvoëls gegooi is"   -   die verkragters twee Britse offisiere en 'n Boere "Scout" (Joiner).

Nêrens in die verhaal word enige sweem van aanleidende seksuele aktiwiteite van dié vrou gevind wat haar as hoer tipeer nie. Nee, inteendeel, sy was die tragiese slagoffer onder uiters haglike kampomstandighede. Waarom dan dié karakterskendend aanstootlike voorstelling van 'n verkragtingslagoffer onder die titel van "Kamphoer"? Dalk in navolging van Nico Moolman se boektitel, "The Boer Whore", oor dieselfde vrou, sensasie, leserskok, verkope of literêre vryheid? Kan enige welingeligte dalk lig op dié vraag werp?