Thursday 22 October 2009

Mag Afrikaners eie identiteit behou?

Willem Jordaan se Brandpunt (DB, 14.10.2009) verwys. Hierin toon hy hoegenaamd geen begrip vir die eeue-oue drang na vryheid en onafhanklikheid van Afrikaners nie, en wend hy ook geen poging aan om deur die bril van die verskillende "ismes" in ons land na die "isme"-konflikte daarbinne te kyk nie.

Die liberalisme, die kommunisme, swart nasionalisme en Afrikaner-nasionalisme is vier sulke "ismes" waarvan laasgenoemde twee voorbeelde van onderskeibare nasionale aard   -   nasieskap of volkskap   -   is. In teenstelling met swart nasionalisme distansieer Afrikaner-nasionalisme sigself ten sterkste van die kommunisme en die liberalisme. Dié "ismes" kan afsonderlik op 'n kontinuum voorgestel word met ekstremisme en apatie as waarskynlike uiterstes van elke sodanige "isme"-kontinuum.

Selfondersoek bring aan die lig dat elkeen homself, eerstens, op 'n bepaalde "isme"-kontinuum en, tweedens, iewers tussen ekstremisme en apatie daarop bevind. Ek plaas Eugene Terre'Blanche aan die ekstreme kant van Afrikaner-nasionalisme. Net so plaas ek Cosatu en Julius Malema aan die ekstreme kant van swart nasionalisme.

Jordaan lê egter die lat van kritiek en verkleinering opsigtelik ongebalanseerd eerder onder die ekstremiste van Afrikaner-nasionalisme as swart nasionalisme in.

Vind Jordaan dit is orde dat die Zoeloe, Xhosa, Sotho, Tswana en Pedi in etniese en stamverband mag voortbestaan en hul identiteite behou, maar nie die Afrikaner in volksverband nie? Indien wel, is Jordaan 'n verduideliking aan die Afrikaners verskuldig.

Friday 16 October 2009

Evolusieleer die groter gevaar

Die versoek  "Kerke moet verbruikerskultuur striem" (DB,08.10.2009), is deur 'n UWK-teoloog op 'n teologiese konferensie in Pretoria tot die kerk gerig. Dié teologiese voordrag word gekenmerk deur groot kommer oor die "koolstofvoetspoor" wat die (materiële) aarde bedreig.

Maar wat van die verwoestende effek van die Luciferiese voetspoor in ons samelewing soos tans ook ingedra in skole deur midel van evolusie-onderrig?

Pieter Pelser sê in sy boek, The Hoax of Darwinism and the African Eve   -   A Challenge to the Minister of Education : "...the aim of evolutionary teaching is pure materialism...(and) to banish God from the minds of our children." Hy vra die minister om te verduidelik waarom daar besluit is  "...to build our national system of education on a lie."

Is Pelser se vraag dan nie 'n vraag wat ons kan verwag teoloë en die kerk behoort te vra nie? Hoe verdienstelik ook al die koolstofvoetspoor-argument, kan dit nooit opweeg teen kinders se geestelike welsyn nie.  Verteenwoordig die UWK-teoloog se oproep op die kerk moontlik net 'n aardse en horisontalistiese ingesteldheid?

Saturday 10 October 2009

Bewondering vir dié jong gelowige

As senior burger is ek daarvan bewus dat ek myself in die vertreksaal van die lewe bevind, saam met ander, wagtende op die onverpasbare vlug na die anderkant. Morbied? Nee, dit is 'n absolute werklikheid.

Ek was ook eens in die aankomssaal van die lewe waarvandaan ek op 'n lewensending vertrek het. Op dié sending was ek altyd bewus van die eie roeping en taakopdrag tussen aankoms en terugkeer. Die roeping impliseer opdrag-uitvoer waarvoor elkeen van ons volkome toegerus is (2 Timoteus 3:17).

My lewe lank was, en is, koning Dawid vir my 'n besondere Bybelfiguur. Die verhaal van sy oorwinning oor Goliat het my lewenslank bygebly en ook geïnspireer om te bly glo dat daar uit die moederskoot van my volk iemand gebore sal word wat sal sê : "Wie is hierdie heiden, hierdie Filistyn, nogal dat hy die linies van die lewende God verkleineer?" (1 Samuel 1726b)

Toe ek  "Leerder begin Facebook-groep vir godsdiensonderrig by skole" (DB,07.10.2009), lees, het ek geweet dat dit wat ek glo, nie so vergesog is nie.

Dankie, Jessie Bester, vir jou manmoedige standpunt aangaande jou ywer vir die behoud van Christelike skole ter beskaming van sovele volwassenes wat, soos Petrus van ouds, ook sê dat hulle Christus nie sal verloën nie, maar vir wie die haan in ons dag dalk reeds drie maal gekraai het.

Sterkte vir die toekoms, jou jong geesgenoot, jy wat sê : "Ek baklei spesifiek vir die Christendom". Ek bewonder jou jeugdige geloofsmoed.

Thursday 8 October 2009

Onderwyskeuse vir SA-ouers nodig

Naguil se brief,  "Breitenbach moet boeke laat staan" (DB,03.10.2009), verwys. Dit is duidelik dat Naguil nie goed begryp het wat ek in my brief, "Christelike skole vir Christenkinders" (DB, 01.10.2009), gesê het nie. Dit blyk veral uit Naguil se opmerking  "...as Christene op...'eie' skole aandring, dan het enige ander godsdiensgroep in Suid-Afrika se demokratiese bestel dieselfde reg."

Presies, dit is juis die kernpunt wat ek probeer tuisbring het met my verwysing na navorsingsbevindinge in Brittanje, Duitsland, Nederland, Australië en Amerika, waar voorsiening gemaak word vir godsdienstig-georiënteerde skole volgens ouerkeuse. Naguil kon blykbaar nie die kloutjie (dat wáre demokrasieë voorsien in die behoefte aan godsdienstig-georiënteerde skole) by die oor (dat ons in Suid-Adrika ons self ook as 'n demokrasie beskou) bring nie.

Wat godsdienstig-georiënteerde onderwysvoorsiening betref, is ons "demokrasie" dus nie "in lyn" met die vyf gemelde "ware" demokrasieë nie ; die eerste logiese afleiding om te maak. Keuse, binne perke, en nié dwanguitoefening in skole soos by ons die geval is nie, is 'n hoeksteen van 'n ware demokrasie. Soos deur die navorsingsbevindinge aangetoon, behoort ook alle Suid-Afrikaanse ouers 'n keuse te kan uitoefen oor die tipe onderwys wat hulle vir hul kinders verlang. Ons het dit nie, en dit plaas daarom 'n vraagteken agter die soort demokrasie in ons land ; 'n tweede logiese afleiding.

Eenvoudiger kan ek dit nie verduidelik nie, en ek vertrou Naguil sal nou begryp. Naguil, op jou vraag : "Namens wie praat u hier?", is my antwoord : Ek praat namens myself. Mag ek, ewe billik, ook vra : Namens wie praat Naguil?

Thursday 1 October 2009

Christelike skole vir Christenkinders

Dankie, Joan du Toit, vir die vriendelike opmerking in jou brief,  "Leef jou geloof uit om dit sterk te hou" (DB,29.09.2009).

Is dit blote toeval dat jy in jou brief sê : "Reg oor die wêreld het 'n alliansie tussen staat en kerk...geen goeie gevolge gehad nie", en ek op dieselfde dag 'n resensie van 'n boek oor dieselfde onderwerp,  The Challenge of Pluralism : Church and State in Five Democracies, sou lees? Dié boek bevat navorsingsbevindinge oor die verhouding tussen Kerk en Staat   -   en in die besonder oor hoe die onderskeie onderwysstelsels daardeur geraak word   -   in Brittanje, Australië, Nederland, Duitsland en Amerika.

Amerika verskaf geen finansiële hulp aan godsdiensgebaseerde privaatskole nie. Hierteenoor vereis Brittanje steeds Christelike godsdiensonderrig in sowel openbare as privaatskole. Duitsland voorsien godsdiensonderrig in sowel Protestantse as Katolieke skole, maar nie vir Moslems nie.

Van dié vyf demokrasieë voorsien Nederland en Australië die beste in ouers en leerlinge se godsdienstige behoeftes deur die voorsiening van 'n verskeidenheid van godsdienstig-georiënteerde én sekulêre skole.

Wat staan in die weg van 'n gesamentlike poging deur alle Christelike kerkinstansies, gesteun deur Christelik-georiënteerde onderwysersverenigings en kultuurorganisasies, om met die owerheid in gesprek te tree met die oog op grondwetlike wysigings waarvolgens Christelike skole in ons land 'n konstitusionele werklikheid kan word?

Waarom 'n sekulêre onderwysbedeling afdwing op Christene, wat die oorgrote meerderheid van die Suid-Afrikaanse bevolking uitmaak? Christenkinders het géén heilsbehoefte aan kennis van nie-Christelike gelowe óf die evolusiegeloof óf dreigemente van persone soos George Claassen binne die bestaande skoolstelsel nie.