Wednesday 28 September 2011

Nuusredakteur én kerk moet antwoord

My brief, "Godslastering op Kletskerk bevorder" (DB,26.09), het dusver reaksie van "Gelowige", Kappie, Jaco (DB,27.09) en Adonis (DB,28.09) ontlok. "Gelowige" beskuldig my dat ek "veroordelend teenoor ander se menings staan" en my behoort te skaam vir my "geestelike onverdraagsaamheid (want) elkeen het sy reg op 'n opinie..." Indien "Gelowige" met "ander se menings" en "elkeen het sy reg op 'n opinie" bedoel dat sulke "menings" en "opinies" ook toelaat dat godslasterlike dinge van Christus gesê word, dan word die protestant in my wakker en verdedig ek die Seun van God. As dit vir "Gelowige" "geestelike onverdraagsaamheid" is, laat dit dan vir hom/haar so wees.

As my protestants-Christelike beswaarmaking oor die godslasterlike aantasting van die heiligheid en eer van Jesus Christus vir Adonis 'n "obskure agenda" en "eierdans" van my kant is, dan sê dít vir my baie van Adonis self. Jaco van "Israel Visie" se opmerking, "Tog so voorspelbaar", is nie so duidelik nie, tensy hy daarmee bedoel dat die bespottende en godslasterlike dinge wat van Christus gesê sal word, reeds in die Bybel voorspel word.

Kappie sê dit "sou dalk regverdig en billik wees (om te) verduidelik wie Kletskerk is en waarvoor (dit) staan." Kappie, in my brief het dit nie oor Kletskerk gegaan nie, maar wel oor Jean Oosthuizen, nuusredakteur van die NG Kerk se Kerkbode-tydskrif, wat publisiteit verleen aan godslasterlikhede. Hoewel belangrik, is Kletskerk en ateïs Van den Heever hierin sekondêr. Hoofsaak is Oosthuizen, Kerkbode en NG Kerk, en dan veral laasgenoemde se standpunt   -   indien hy een het   -   oor sy Kerkbode-nuusredakteur se betrokkenheid by godslastering. Kletskerk is bloot die mondstuk vir Van den Heever se godslastering deur Oosthuizen geakkommodeer.

Oosthuizen én die NG Kerk behoort te verduidelik hoe hulle eersgenoemde se gelyktydige betrokkenheid by Kerkbode én Kletskerk-godslastering verantwoord. Jakobus (2:11) sê fonteine lewer nie terselfdertyd vars- én brakwater nie.



Sunday 25 September 2011

SAPD-knoeisyfers lank reeds vermoed

Die voorbladberig, "Polisie se leuens oor vuurwapens" (DB,24.09), verwys. Vir geruime tyd bestaan daar vermoedens hieromtrent wat nou bevestig is. Wat ook al die beweegredes vir dié SAPD-korrupsie, bly dit 'n feit dat 'n gedeelte van ons nasionale bevolking as't ware deur die SAPD van wapens voorsien is, terwyl 'n ander gedeelte van die bevolking deur hulle ontwapen is. So dra die ANC by tot verdere rassespanning en -polarisasie. Dit grens aan verraad teen ons burgerlike samelewing. Só word verraderlike ANC-"versoening" dan ook ontmasker.

Hierdie is 'n aangeleentheid wat nie ligtelik opgeneem kan word nie, aangevul deur 'n klimaat deur Zuma en Malema geskep met hul "Bring my masjiengeweer"- en "Kill the Boer"-liedjies. Kan wittes hul vermoedens en agterdog verkwalik word in die lig van plaasmoorde sowel as stedelike roof en geweld waarvan die voorkomsfrekwensie daarvan doelbewus deur SAPD-statistiek na willekeur gemanipuleer word?

Wie, dink die ANC, flous hy? Beslis nie almal nie; dalk wel 'n meerderheid van goedgelowige wittes wat krampagtig bly vasklou aan ANC-"demokrasie". Juis in laasgenoemde lê die tragiek opgesluit vir die uiters onsekere voortbestaan van wit Suid-Afrikaners in hierdie land, te wete die algehele ontkenning van die groot gevaar waarmee hulle daagliks saamleef.

Wie ook al mag dink dat die SAPD-vuurwapenwurmblik nou heeltemal oopgemaak gaan word om te wys op hoeveel rooftogte reeds uitgevoer en moorde met potensieel SAPD-verdwene vuurwapens gepleeg is, leef in 'n gekkeparadys. Forensies is dit wel moontlik, maar die wil, in nasionale belang, ontbreek om dié wurms te vermorsel. Sodanige statistiek sal beslis weerhou word uit vrees vir nasionale paniek asook ons verdere verswakkende beeld in die buiteland.

Hierdie onthulling van korrupte SAPD-leuensyfers, vanaf Selebi na Cele deur alle range tot op SAPD-grondvlak, was te verwagte; uiteindelik word leuens deur waarheid agterhaal. Dié SAPD-knoeisyfers is lank reeds vermoed.                   (ngn)

Friday 23 September 2011

NGK-nuusredakteur moet verduidelik

Hierdie skrywe is 'n regstelling van 'n vorige skrywe, "NG Kerk se KBA is mondstuk vir ateïs", waarin gesê is dat Jurie van den Heever se "Quo Vadis: 'n Ope brief aan die gereformeerde kerke in die RSA" op die NG Kerk se Kerkbode Aanlyn (KBA) gepubliseer is. Dit is nie korrek nie. Dit is nie daarin gepubliseer nie, maar wel in "Kletskerk" waarvan Jean Oosthuizen   -   tegelyk die NG Kerk se Kerkbode-nuusredakteur   -   die webmeester is. Hiermee dus verskoning aan enigeen wat, vanweë 'n misverstand, moontlik deur dié skrywe benadeel mag voel.

 
Jean Oosthuizen, nuusredakteur van die NGK-mondstuk, "Kerkbode", akkommodeer die ateïs, dr. Jurie van den Heever, op die webblad, "Kletskerk", om gal te braak teen Christus en Sy kerk. Wat beoog Oosthuizen hiermee   -  geloofsversterking van NGK-lidmate, of geloofsverdagmaking in aansluiting by die huidige liberale teoloë?

Wie is Van den Heever? Hy is 'n Stellenbosse dosent, mede-aanbieder van die Sondagoggendse RSG-program, "Hoe verklaar u dit?", en wat graag sy evolusionistiese oortuigings van tyd tot tyd met "Die Burger"-lesers deel.

Wat sê Van den Heever, onder meer, in sy "Quo Vadis: 'n Ope brief aan die gereformeerde kerke in die RSA", op "Kletskerk" (11.08) van Jean Oosthuizen? Hy beweer dat dit vandag "allerweë erken (word) dat die Bybel deur mense geskryf is (en) voorgehou (word) as 'n goddelikgeïnspireerde teks (wat) dit beslis nie is nie... Op grond van al hierdie (navorsings-) inligting sal die gereformeerde kerke uiteindelik oop kaarte moet speel en erken dat groot dele van die Bybel verkeerd vertolk is..." Deur watter "geestelike dampkring" is dié navorsing geïnspireer?

Van den Heever sê lidmate is nie meer tevrede met die tradisionele dogma  -  deur mense geskryf  -  en wat as goddelike uitsprake "opgedis" word nie. Lidmate vra dan glo "ernstige vrae rondom die persoon van Jesus". Hy sê: "...ingeligte lidmate weet reeds dat Jesus nie die Seun van God was nie, nie uit 'n maagd gebore is nie, nie ter helle neergedaal het nie, nie uit die dood opgestaan het nie en beslis nie opgevaar het na die hemel nie. Hy sal gevolglik ook nie daarvandaan kan terugkeer nie." Hy verwys na "...die mite wat rondom die persoon van Jesus in stand gehou word."

Hiermee verdra, akkommodeer en bevorder Oosthuizen godslasterlikhede. Hoe bevorder dit Gods Koninkryk? Hy is NGK-lidmate 'n verduideliking verskuldig.

Tuesday 20 September 2011

NG Kerk se KBA is mondstuk vir ateïs

Watter vertolking moet ons heg aan die NG Kerk se Kerkbode Aanlyn (KBA) wat publisiteit verleen aan 'n ateïs se anti-Christelike galbraking teen Christus en Sy kerk? Watter doel moet sodanige godloënende inset dien? Dra dit by tot NG Kerklidmate se geloofsversterking, of bevorder dit geloofsverdagmaking soos deur die liberale teoloë subtiel gepropageer?

Dié ateïs-skrywer is dr. Jurie van den Heever, Stellenbosse dosent, mede-aanbieder van die Sondagoggendse RSG-program, "Hoe verklaar u dit?", en wat ook graag sy evolusionistiese oortuigings met "Die Burger"-lesers deel.

Wat sê Van den Heever, onder meer, in sy "Quo Vadis: 'n Ope brief aan die gereformeerde kerke in die RSA", op KBA (11.08) soos gepubliseer deur Jean Oosthuizen, bestuurder van KBA? Hy beweer dat dit vandag "allerweë erken (word) dat die Bybel deur mense geskryf is (en) voorgehou (word) as 'n goddelikgeïnspireerde teks (wat) dit beslis nie is nie... Op grond van al hierdie (navorsings-) inligting sal die gereformeerde kerke uiteindelik oop kaarte moet speel en erken dat groot dele van die Bybel verkeerd vertolk is..." Vanuit watter "geestelike dampkring" kom dié (navorsings-) inligting?

Van den Heever sê lidmate is nie meer tevrede met die tradisionele dogma   -   deur mense geskryf   -   en wat as goddelike uitsprake "opgedis" word nie. Lidmate vra dan glo "ernstige vrae rondom die persoon van Jesus." Hy sê: "...ingeligte lidmate weet reeds dat Jesus nie die Seun van God was nie, nie uit 'n maagd gebore is nie, nie ter helle neergedaal het nie, nie uit die dood opgestaan het nie en beslis nie opgevaar het na die hemel nie. Hy sal gevolglik ook nie daarvandaan kan terugkeer nie." Hy verwys na "die mite wat rondom die persoon van Jesus in stand gehou word."

Hiermee verdra, akkommodeer en bevorder KBA godslasterlikhede. Oosthuizen moet sê hoe dit Gods Koninkryk bevorder. Hy is NG Kerklidmate 'n verduideliking verskuldig.

Let wel: Omdat daar enkele foute in dié skrywe voorkom, is dit reggestel met 'n skrywe op 23-09-2011.

Thursday 15 September 2011

Gebeure rede vir "donker prentjies"

Tina sê: "T.C. se vrese van 'n nasionalistiese revolusie is die gevolg van iemand wat net op die negatiewe, donker prentjies van die lewe fokus. Hy moet oppas of sy Ark sink ook weg." (DB,15.09).

Tina, jou mening is jou reg. Weet egter daar kán nooit weer 'n Ark wees (wat kan sink) nie. Die reënboog is die belofte daartoe. My heil lê nie in 'n Ou Testamentiese Ark nie, maar in die Nuwe Testamentiese Gekruisigde wat vir my sê: "Knoop die stryd aan vir die waarheid" (Ps.45:5), en: "Moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak" (Efes.5:11).

Daar is sovele praktyke van duisternis in Suid-Afrika. Ons opdrag is om die leuens van ons dag te ontmasker en met waarheid te vervang. Tina, dink jy nie ons is dit aan die Waarheid (Joh.14:6) verskuldig nie? Tina sê ek "moet oppas of (my) Ark sink ook nog." Sou dit gebeur, sink jy saam met my. Waarom? Luister wat Thato Mbateti in Maart 2010 gesê het: "You f..king white pigs...white wh..res we will rape them...till the last breath is out. White kids will be burned...Men will be tortured...Households will be broken into and families will be slaughtered."

Vanweë die DA se ingryping is hierdie bloeddorstige haatspraak van Facebook verwyder nadat dit wye nuusdekking geniet het soos in "Business Day", maar die skade is gedoen. Wit-swartverhoudinge is daarmee verder verpolariseer. Dit dui ook op die anti-wit sentiment in die harte en gedagtes van sommige swartes   -   klimaatskeppend vir "'n nasionalistiese revolusie", Tina?

Tina sê dat ek "net op die negatiewe, donker prentjies van die lewe fokus". Nee, Tina, jy fouteer. Ek gaan net baie realisties om met die gebeure in ons land. Ongelukkig verteenwoordig dié gebeure verreweg "negatiewe, donker prentjies". (ngn)

Wednesday 14 September 2011

Haatspraaklied nié "historiese" lied

In 'n publikasie, "Leadership" van 08.04.10, onder die artikelopskrif, "Who really is attempting to rewrite history", word gevra of die lied, "Dubula iBhunu" (Kill the Boer), werklik deel uitmaak van die ANC se historiese bevrydingsliedere. Dié artikel weerlê die huidige ANC-aanspraak dat dit deel van hul historiese besit is.

'n Ondersoek na die herkoms van dié lied het, onder meer, die volgende aan die lig gebring: In die vroeë 1990's is woorde van dieselfde effek as "Dubula iBhunu" saam met hul slagspreuk, "One settler, one bullet", deur die PAC gebruik. In 1993 neem Peter Mokaba dié PAC-slagspreuke oor en verander dit na "Kill the Boer, kill the farmer" na die moord op Chris Hani, Kommunistiese Partyleier.

Vanuit 'n ondersoek kon nêrens bevind word dat "Kill the Boer" 'n ANC-lied gedurende die "struggle"-jare was nie. In 2002 is 'n dubbele CD met 25 ANC-vryheidsliedjies vrygestel waarby Ronnie Kasrils, Baleka Mbete en Pallo Jordan betrokke was. "Kill the Boer" is nie een van dié 25 nie!

In Augustus 1999 het PAC-lid, Thomas Ramaila, aan die WVK gesê dat hy die boer, Neville Rudman, vermoor het vanweë die invloed van die PAC-slagkreet, "Kill the farmer, kill the Boer". In Augustus 1993 is dié slagspreuk gedreunsang voor die moord op die Amerikaanse student, Amy Biehl. En dan word te kenne gegee dié singery is "onskuldig"!  Na 27 April 1994 het die PAC homself egter van dié lied gedistansieer.

In 2002 het oud-pres.Mbeki, en in 2003 het vise-pres. Kgalema Motlanthe, in sterk bewoording hulself van dié lied gedistansieer en gesê dit was nooit, en sal ook nooit, deel van die ANC word nie. Toe was daar géén aanspraak dat dit 'n ANC-lied is nie.

Maar stel Zuma self dan nie die voorbeeld met sy, "Bring my masjiengeweer!", nie? Raak van Zuma ontslae!

Tuesday 13 September 2011

Moenie dat begrippe jou mislei nie

Noag het die Ark gebou in opdrag van God. Almal wat oor dié konstruksiewerk vrae gevra het, wou hulself disnis lag vir Noag se antwoorde. Waarom? Sy antwoorde was totaal absurd en prakties onmoontlik. Vir hulle het Noag "onsin uitgedink". Die Titanic vertrek op haar nooiensvaart oorsee; na bewering onsinkbaar. Diegene wat dié aanspraak bevraagteken het, is waarskynlik òòk van "onsinnige denke" beskuldig. Waarom? Dit was tog onmoontlik dat dié skip kon sink!

Met hierdie voorbeelde probeer ek aantoon hoedat die, menslik beoordeelde, onmoontlike wel dramaties omgekeer is tot gerealiseerde werklikheid. Beide voorbeelde toon ooreenkomste, hoewel nie identies nie. In die Ark se geval was die vraestellers tegelyk selfversekerde spotters. In die Titanicgeval word die vraestellers egter bespotlik gemaak.

In my brief, "ANC-manifes dalk oorlogsverklaring" (DB,08.09), vra ek: "Is die NDR-'manifes' (Nasionale Demokratiese Revolusie) nie die ANC se eensydige 'oorlogsverklaring' teen alle anti-ANC burgerlikes nie?" Hierop antwoord Alwyn du Plessis: "Die antwoord is 'n ongekwalifiseerde néé. Ek kan nie glo dat sulke onsin uitgedink word nie" (DB,09.09) - 'n bespotlikmakende antwoord op die "Titanic"-vraag.

Enkele opmerkings: 1.Ek het nie beweer die NDR is 'n oorlogsverklaring nie, maar wel, in die lig van die talle plaasmoorde, dié vraag gestel. 2. Du Plessis het òf nie die NDR-dokument gelees nie, òf hy onderskryf dit "ongekwalifiseerd", 'n dokument wat, "pilversuikerd", onteenseglik daarop dui dat Suid-Afrika fasegewys tot 'n tipies kenmerkende sosialistiese Afrikastaat omskep gaan word. 3. Sosialisties-kommunistiese revolusies verloop nie bloedloos nie; NDR-geskepte verwagtinge is klimaatbereidend daartoe. 4. Onthou Du Plessis nog die voormalige kommunistiese Oos-Duitsland, bekend as die Duitse Demokratiese Republiek (DDR), en hoedanig sy burgers behandel is agter die Berlynse Muur en Ystergordyn? Diegene wat aan dié "demokrasie" wou ontsnap, is summier geskiet.

Die NDR is 'n Nasionaal Sosialistiese Revolusie (NSR), verskuild agter "demokrasie". Moenie dat begrippe jou mislei nie.

Thursday 8 September 2011

ANC-leuenpropaganda teen wittes gemik

Betogings oor swak   -   dikwels géén   -   dienslewering word ontlont deur die vorige regering daarvoor te blameer en so die bestaande anti-wit sentiment kwaadwilliglik te versterk. Dit is 'n leuen wat, ná 17 jaar van "demokrasie", propagandisties benut word om ANC-mislukkings te ontken.

In sy skrywe, "Two Sides to Every Story", laat Chris Kritzinger statistiese waarheidslig die donker ANC-leuenkamer belig. Gedurende die vorige bedeling het Suid-Afrikaanse swartes die hoogste lewenstandaard en geletterdheidspeil van alle swartes in Afrika geniet. Die apartheidsregering het tien universiteite met wit belastingbetalersgeld gebou, waaronder ook Medunsa wat jaarliks 200 hoogs opgeleide swart dokters gelewer het. Tutu kon homself as onderwyser bekwaam, en so Mandela homself as prokureur.

Baragwanath, grootste hospitaal in Afrika met 3200 beddens, 23 teaters, byna 8000 personeellede, 450 voltydse dokters wat 112 000 gehospitaliseerdes en 1,62 miljoen buitepasiënte jaarliks bedien het, is met wit belastinggeld gebou en in stand gehou. 90% van alle bloedskenkers was wittes wat bloed kosteloos aan dié hospitaal verskaf het om swart lewens te red (The Citizen,02.04.87).

In 1987 het 4,8 miljoen wittes 77%, en 18,2 miljoen swartes 15% van alle belasting tot die staatskas bygedra waarvan 56% van die totale regeringsbegroting na swartes gegaan het (Vox Africana Nr.29 4/87, 11.02.87). Sedert 1970 het die swartonderwysbegroting jaarliks met 30% toegeneem en is daar elke weeksdag vyftien nuwe klaskemers vir swartes opgerig.

In 1978 het Soweto alleen oor 115 sokkervelde, 3 rugbyvelde, 4 atletiekbane, 11 krieketvelde, 2 gholfbane, 47 tennisbane, 7 Olimpiese-standaard swembaddens, 81 netbalbane, 39 speelparke, talle gemeenskapsale, flieks, klubhuise, 300 kerke, 365 skole, 2 Tegniese Kolleges, 8 klinieke, 63 dagsorgsentrums, 11 poskantore en 'n eie vrugte- en groentemark beskik.

Hierdie statistiese gegewens verteenwoordig slegs 'n druppel aan die emmer wat deur die apartheidsregering aan swartes voorsien is. Hoe tragies dat politieke vryheid vir sovele swartes toenemende armoede beteken terwyl wittes leuenagtig daarvoor blameer word.

Saturday 3 September 2011

Is die ANC se NDR 'n oorlogsverklaring?

Die berig, "Oupa (70) oudste Kanaal-swemmer" (DB,02.09), voer my gedagtes terug na vroeg-Julie toe ons met 'n P&O-veerboot van Dover na Calais oor die Engelse kanaal gevaar het. Tydens dié heenvaart vra ek myself af hoeveel duisende Britse, en Geallieerde, soldate tydens twee wêreldoorloë oor dié kanaal na hul dood op Europese slagvelde gevaar het.

Op die Vlaams-Belgiese slagvelde het militêre begraafplase, soos dié by Tyne Cot met sy 12 000 Geallieerde soldategrafte   -   baie slegs met die grafskrif: "Known Unto God"   -   die wrede werklikheid van oorlogvoering beklemtoon. Onbeskryflik wrede tonele het hul in die modderdeurdronge velde in die Passchendaele-omgewing van Vlaandere afgespeel. Gesneuwelde soldate is in bomgate toegegooi, net om weer 'n dag of wat later deur volgehoue bombardemente in flarde daaruit geskiet te word. Die oorlogsmuseum in Ieper (Ypres) beeld die wreedheid, lyding, tragiek en futiliteit van oorlogvoering treffend uit.

Ongeag die wreedheidsintensiteit van oorlog, bly die resultaat dieselfde: dood, intense hartseer en verwoestende verliese (korttermyn), maar ook bitterheid en wraakgedagtes lank na vredesluiting (langtermyn), 'n resep vir gespanne betrekkinge, toekomstige konflik en nie-versoening.

Op die terugvaart van Calais na Dover is my gedagtes by my eie land, Suid-Afrika. Afrikaners het in twee oorloë teen Groot Brittanje geveg, groot verliese en uiterste ellende beleef (korttermyn), en nog het dié wonde nie heeltemal genees nie (langtermyn). My gedagtes kring uit na die wreeds-denkbare plaasmoorde   -   ook in stedelike gebiede   -   wat plaasvind. Vir my dui dié moorde op lae-intensiteit oorlogvoering. 

"Normaalweg" is 'n oorlogsverklaring 'n parlementêre besluit namens 'n volk en openlik bekend. Daar heers egter 'n "onverklaarde oorlog" in Suid-Afrika en wat nie openlik aan die buitewêreld bekend is nie. En nou die vraag: Is die NDR-"manifes" (Nasionale Demokratiese Revolusie) nie die ANC se eensydige "oorlogsverklaring" teen alle anti-ANC burgerlikes nie? En al die mooi praatjies van versoening blote huigelary en leuentaal?