Wednesday 23 September 2020

Bid vir 'n wonderwerk




Tronkvoël se skrywe (08.09) bly my by soos weinig ander skrywes. Daarin skets die skrywer op openhartig eerlike wyse sy/haar empatiewekkend heersende psigiese gemoedstoestand, toepaslik op vele ander, veral bejaardes.

Tronkvoël beskryf sigself as 'n "depressielyer...jaloers op elkeen wat doodgaan...Elke dag is 'n stryd...Jy bedink maniere van selfdood...soek die heeltyd uitkomplek...jy bid vir 'n wonderwerk."

Die kontekstueel presiese omstandighede word nie uitgespel nie; is ook nie nodig nie. Dit verskil van mens tot mens. Ek lees geen selfbejammering daarin nie, maar 'n hunkering om ontvlugting vanuit defaitisties onhoudbare bestaansomstandighede.

Die ongeëwenaarde verval en agteruitgang van Suid-Afrika, volgehou oor 'n lang tydperk  -  gereeld goed toegelig deur bekwame briefskrywers  -  het gelei tot traumatiese verandering wat psigies moeilik verwerkbaar is. Veral senior burgers beleef 'n toenemende verlies aan ou seker- en vastighede.

Dr Dirk Hermann verwoord die neerdrukkend uitsiglose en morbiedwekkende tydsgees raak wanneer hy sê: "Ek is keelvol vir die rasmalheid van hierdie land. Die oneerlikheid van die samelewing word nou te veel...geboelie deur die staat vanweë my ras...(waaromtrent) ek ewig in die skuld is...(want) vir alles is daar 'n rassewet."

Voorafgaande toestande soos deur Hermann beskryf, lei tot die verval in toestande soos dié waarin Tronkvoël sigself bevind. Anti-depressante middels verkoop vandag  waarskynlik soos in geen ander vooraf tyd nie.

Tronkvoël se opmerking: "jy bid vir 'n wonderwerk", blyk die aangewese roete te wees ten einde te ontsnap aan sielkundige teistering as faset van die strategies gevoerde ANC-revolusie.




Wednesday 16 September 2020

Op soek na antwoorde in herhalende debat




George Claasen (Rapport 02.08) veroordeel Solidariteit se Skole-ondersteuningsentrum se "betrokkenheid by 'n veldtog om kreasionisme...by skoolleerplanne in te smokkel...(om sodoende) perdedrolle as vye (te) probeer verkoop" aan kinders.

In 'n artikel van Jurie van den Heever (Rapport 16.08) verskyn 'n grafiese voorstelling wat sy artikel goed saamvat,te wete 'n sand- of uurglas met 'n aapagtige wese in die boonste, en 'n menslike wese in die onderste gedeelte. Vir oningeligte kinders is dit vreemd en verwarrend.

Met menings soos dié, genietende openbare publisiteit, mag kommentaar daarop, in die vorm van vrae, seker ook gelewer word. Daar is diegene wat hulself slegs deur die openbare debat laat inlig. Die soeke na antwoorde in dié altyd herhalende openbare debat kan dus nie uitgesluit word nie.

Een van die kernvrae wat ons gewone mense konfronteer  -  en nie of dít of dát wetenskap is of nie  -  is: het mense uit aapagtige diere ontwikkel, of is ons, aldus die Bybel, deur God na Sy beeld geskape? Komende vanuit 'n Christelike opvoedingsagtergrond, is dié vraag vir kinders van wesensbelang; die skoolse onderwys bots daarmee.

Sonder 'n verantwoorde kindbeeld, dus: wat is 'n kind? en:hoe en waartoe onderrig ons kinders?, kan onderwysers nie hul taak verrig nie. Aansluitend hierby word eeue oue antwoorde op ewe oue vrae: wie is ek? waar kom ek vandaan? wat is my eindbestemming?, vandag op die kop gekeer.

Ter stawing van sy teorie, het Darwin Australiese Aborigines laat skiet, hul skedels laat kook, en dit in 'n Londense museum uitgestal. Laaste vraag: is dit wetenskap, of moord? Seker nie wanneer die slagoffers as evoluerende diere gesien word nie.         (ngn)









Wednesday 9 September 2020

EFF slaan munt uit Clicks-verleentheid




Die Clicks-voorval bied toe 'n gulde geleentheid vir die EFF-aasvoëls om 'n emosioneel hoogs gelaaide situasie daarvan te maak om polities propagandistiese munt daaruit  te slaan, mét openbare nuusdekking as bonus. Die opstellers van die gewraakte rasvergelykende haaradvertensie het ongelukkig nie rekening gehou met die hiper-sensitiewe en raspolariserende rasse-omgewing waarbinne vandaliserende rassekonflik vinnig opvlam nie.

Daar bestaan vele aanduidings van Afrikamense se akkulturasie vanweë beïnvloeding deur die Europese kultuur. Voorbeelde: behuising, kleredrag,vervoer,voedsel,onderwys, gesondheidsorg en selfs skoonheidsmiddels ('n ellelange lys),sodat die Clicksadvertensie, vir die opstellers daarvan,waarskynlik gerieflik binne die konteks van akkulturasie sou inpas.

Die probleem is egter van so 'n sensitiewe aard dat, al sou selfs die korrektheid van die kontinentaal-verskillend haarvergelyking wetenskaplik gestaaf kon word, dié advertensie, voorspelbaar, in 'n hoogs rasgepolariseerde klimaat  -  versterk deur 'n anti-Euro sentiment  -  'n gebrek aan gevoeligheid vir die menswaardigheid van ander openbaar.

Waar, in hierdie voorval, die EFF geen respek toon nie, laat dit egter nie toegeskryf  word weens 'n gebrek aan ons eie selfrespek nie  -  die voorwaarde vir respek vir ander  -  en, al is almal se gedrag nie altyd goedkeurenswaardig nie, laat ons egter steeds die inherente menswaardigheid van alle mense respekteer, hoe moeilik ook al soms.

Laat ons liewer die psigiese seerkry van mense, deur aanstootlike rasgebaseerde vergelykings, onmiddellik met apartheid geassosieer,  in die openbaar vermy. Dit is teenproduktief vir rasseharmonie, iets waaraan Julius Malema hom al by herhaling skuldig gemaak het, dog sonder enige gewelddadige reaksie van sy geïntimideerde slagoffers.