Monday 28 March 2011

Katkisasiehandboek geruil vir ateïsme

Ek vind dit buitengewoon vreemd om by drie geleenthede, sonder dat ek hom daartoe aanleiding gegee het, in André se sms-visier te wees. Wil hy iets daarmee sê, en, indien wel, wat? Eers waarsku hy Hannes Slabbert dat ek hom "gaan bykom" oor sy brief (DB,17.03). Dan verwys hy my na sy katkisasiehandboek wat hy na 37 jaar weer deurgelees het (DB,23.03). Daarna sê hy vir my hy is 'n "doodgewone ateïs met common sense" (DB,24.03). Hoe hou dié sms'e verband en, verbeel ek my, of werk sy sms'e progressief op na 'n klimaks?

Hy reageer op my brief van 22.03 en stem (blykbaar?) saam dat blindheid in geen konteks 'n norm kan wees nie. Hy laat my verstaan dat hy ná 37 jaar besef dat hy vir "so lank met blindheid geslaan" was betreffende sy katkisasiehandboek (DB,23.03). Met sy: "Ek is 'n doodgewone ateïs...", posisioneer André homself en distansieer hom daarmee van sy katkisasiehandboek.

Dit is droewige nuus, en ek wil vir André sê ek is liewer (fisies) blind met 'n (geestelike) visie, as wat ek (fisies) sien, maar sonder (geestelike) visie is. As Christengelowige vra ek: Maar hoe het André se pad geloop vanaf katkisasiehandboek na ateïsme? Wat het gebeur? Die katkisasiehandboek impliseer die kerk, maar daar is tog ook sy ouers wat 'n doopgelofte oor hom afgelê het; hyself wat waarskynlik voorheen 'n belydende lidmaat was.

Derhalwe die vraag aan die kerk en die gesinslewe: Hoeveel identiese gevalle, soos dié van André, gaan tans deur julle hande, dog sonder dat julle dit besef? Wie wil die eerste klip na André gooi? Is hy nie maar net uitgesproke eerlik oor wat tans, potensieel, in die lewens van sovele ander Christene aan't gebeur is nie? En wat doen ons, as Christene, daaromtrent?







Tuesday 22 March 2011

Botman-stelling is kommerwekkend

Die Bybel sê in Joh.1:3: "Alles het deur Hom (Jesus) tot stand gekom;" , ook die mens. Wie ken die mens dus beter as die Skepper, Jesus, self? Dit is van Sy skepsele dat Jesus in Joh.12:8 sê: "Die armes het julle tog altyd by julle..." Komende van Christus, is dit tog 'n Goddelike uitspraak oor die armes waaromtrent Jesus in Luk.21:33 self sê: "Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit", en word in Jes.40:8 bevestig met "...die woord van ons God bly vir ewig."

In "Kerke pak armoede nou saam" (DB,17.03), word berig dat prof.Russel Botman, US-rektor én ook teoloog, hom aanmatig om van beter te wil weet as Jesus self wanneer hy sê: "As die Bybel verkeerd is oor een ding...is dit die stelling dat armoede altyd met ons sal wees. Dit is net waar as ons dit so wil hou."

Wat 'n geloofsgewys onaanvaarbare stelling van Botman. Die woord "Bybel" in sy stelling beteken effektief "Jesus". Wat Botman dus eintlik sê, is: "As Jesus verkeerd is oor een ding..." Jesus verkeerd volgens Botman? Nog nooit,dit is nié waar nie!

Dié Botman-stelling ontken ook die onveranderlikheid van die Goddelike uitspraak: "Die armes het julle tog altyd by julle...", wanneer Botman van armoede en die armes sê: "Dit is net waar as ons dit so wil hou." Met sy "Dit is net waar...", word geïmpliseer dat Jesus verkeerd bewys kán word,en dus ongeloofwaardig is. Met sy "...as ons dit so wil hou", word geïmpliseer dat die kwessie van armoede by die mens berus en nie by 'n Goddelike uitspraak nie.

Hierdie Botman-stelling is kommerwekkend gesien in die lig van wat Jesus self van die armes gesê het. Verpolitiseerde armoede is 'n wapen, veral in die hande van rewolusie-aanblasers.



Friday 18 March 2011

Is kind rolmodel vir samelewing?

Dis onduidelik of André se opmerking: "Oppas, oom Hannes, dr.TC gaan jou bykom oor jou voorstel dat ons soos kinders met ander rasse moet maats raak en vriendskappe smee" (DB,17.03), 'n subtiele uitnodiging of uitdaging is om op Hannes Slabbert se brief (DB,16.03) te reageer. Om tweërlei rede wil ek Hannes nie "bykom" nie: Hy is meningsgeregtig, en ek ag ons vriendskap belangrik.

Hannes hou, baie verdienstelik, kindergedrag voor as model vir samelewingsgedrag. Hiermee kan ek voorwaardelik saamstem, dog nie enduit ongekwalifiseerd nie. Volwassenes is rolmodelle vir kinders; nie andersom nie.

Wie en/of wat is 'n kind? Hieroor is baie nagevors waarin tipiese kindkenmerke beskryf word. Ek noem enkeles. Wie "kind" sê, sê daarmee "toekoms". Waarom? Die kind se volwassewording lê in die toekoms, en diegene wat hulle met die kind bemoei, is mede-aanspreeklik vir die kind se toekoms, waaronder ook die toekoms van die kind se geloof, taal, geskiedenis en kultuur.

Kinders het behoefte aan geborge behorendheid, 'n "tuiste" waar hy veilig en gemaklik voel. Sy eie geloofs-, taal- en kultuurgemeenskap bied so 'n "natuurlike tuiste". 'n Besondere kenmerk van 'n kind is sy kwesbaarheid. Dit is veral die kind se onvermoë tot onderskeiding wat hom kwesbaar maak. Kinders sterf omdat hulle nie kan onderskei tussen vloeistowwe soos water, koeldrank en paraffien, medisyne of gif nie.

In hierdie gesprek is die begrippe "kenmerk" (van die kind) en "konteks" (waarbinne sodanige kenmerk toepassing vind) baie belangrik. Jesus gebruik die kindkenmerke van opregtheid en onskuld in die geloofskonteks. Gebruik Hannes kinderlike "kleurblindheid", as resultaat van die kindkenmerk van onvermoë-tot-onderskeiding, as rigsnoer in samelewingskonteks? Kan blindheid, in enige konteks, 'n norm wees?

Die kind bereik volwassenheid sekerlik nie as "kleurblinde" nie, of hoe? Beteken volwassenheid nie juis om van "blindheid" tot "siendheid" te ontwikkel nie?




Wednesday 16 March 2011

ANC se eksklusiewe rasverabsolutering

In "Redakteurs moet die stem dik maak oor ras" (DB,15.03), beweer Rhoda Kadalie: "Die rassestryd sal nie bedaar voordat redakteurs en joernaliste rassisme onvoorwaardelik verdoem nie." So simplisties is die oplossing van die rassestryd nie regtig nie. Redakteurs en joernaliste blaas wel die rassevlam aan, maar kan kwalik as die brandstigters uitgewys word.

Die rassebegrip het in ons dag 'n latent-plofbare woord geword. Die rassismeverskynsel het binne die SA-samelewing 'n onuitblusbaar verterende vuur geword wat volgehou voortwoed, periodiek hoog opvlam, doelbewus gemanipuleer word, tot gevaarlike rassespanning lei en ernstige skade aanrig. Dit maak van rasseharmonie 'n onhaalbare droom wat in 'n nasionale nagmerrie kan ontaard.

Die ANC het homself onlangs weer eens bewys as 'n eksklusief rasverabsoluterende organisasie met Jimmy Manyi se rassistiese uitspraak   -   en die ANC se daaropvolgende beskermende laertrek rondom hom   -   teen Trevor Manuel, 'n bruin man. In dié rassegeveg vra die minister van verdediging se regsadviseur, Paul Ngobeni, vir Manuel of hy die "koning van die kleurlinge" is. Nie eers die gemeenskaplike lojaliteit aan die ANC vrywaar jou van rassebeskuldigings indien jy nié swart is nie.

Net die siende blindes bly die rasverabsoluterende karakter van die ANC miskyk. Selfs Mandela se aanvanklike rasseverdraagsaamheid moet opnuut bevraagteken word. Was dit bloot tydelik-bedoelde lippediens om die begogeldes te flous?

Nee, die rassestryd is nié wesenlik 'n redakteurs- en joernaliste aangeleentheid nie. Dit lê veel eerder opgesluit in die algemeen menslike selfbewussyn en kollektiewe rassebewussyn. Elke mens beskik, onteenseglik, oor 'n eie rasbewussyn en -identiteit waarin faktore soos rasidentifikasie, -assosiasie en -konformasie van deurslaggewende belang is.

Afrika het 'n sterk eksklusief, solidêr-kollektiewe rassebewussyn, en so ook die ANC wat ras en die swart bewussyn verabsoluteer. Dáárom word die grondwet gemanipuleer wat die akkommodasie van alle rasse waarborg.



Thursday 10 March 2011

NGK-ringstandpunt oor ANC se NDR

Vanuit die noorde berig Die Afrikaner (24.02) oor die standpunt van die NGK-ring van Louis Trichardt aangaande die Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) waarvolgens die ANC tans die land regeer. Hierdie ringstandpunt is in twintig punte vervat en aan die media bekend gestel.

Onder die vernaamste van hierdie standpunte is: Die NDR kan nié tot 'n versoenende nasiebou-aksie meewerk nie; die NDR skep " 'n dualistiese staatsorde van 'n staat binne 'n staat (met)...'n magselite (as)...'n binnestaat verhewe bo enige aanspreeklikheid van die reg...en 'n buitestaat waaraan almal buiten die magselite onderworpe is."

Die NDR se nasionalisering "is 'n proses wat net die magselite verryk en die middele en instellings waardeur die bevolking hulleself kan ophef, vernietig." Hierin maak die NDR gebruik van "die aanhitsing en bedryf van rassisme (en)...verskuil hierdie plundering met anti-rassistiese retoriek..."

Die NDR-filosofie en -optredes is in stryd met die Christelike geloof en die waardes daarvan. Lidmate wat hulself deur die NDR verryk, kan nié hulle optrede as Christene regverdig nie. Die NDR skep 'n dualistiese regspraktyk   -   " 'n rewolusionêre reg, naas en teenoor 'n konstitusionele reg in een samelewing (en dié ideologie is besig) om die staat en openbare gemeenskapinstellings te kriminaliseer."

Met hierdie standpunt het die Louis Trichardt-ring waarskynlik die kat in die duiwehok losgelaat. Volgens dié berig is baie lidmate van die NG Kerk ook lede van die DA en, "Wat hierdie filosofie van die ANC betref, verskil die DA (weinig) daarvan." Dié ring rig ook 'n waarskuwing tot die NG Kerk, omdat dit meen "aksies waarin die kerk hom as medewerker van die sosiale frontaksies van die NDR uitgee, maak die kerk mede-aanspreeklik vir die opbou van 'n tirannie wat die kerk en gemeenskap gaan vernietig."

Gaan hierdie standpunt na hoër sinodale vlakke vorder, of bloot geïgnoreer word?






Monday 7 March 2011

Leraar beweer kerk is 'n sinkende skip

Met verbasing, dog nie met te veel skok, lees ek wat 'n NG-predikant van die Wes-Kaap op Kerkbode Aanlyn onder die opskrif, "Dominees weet nie meer wat is reg en verkeerd", oor dié kerk skryf. Hy sê: "Eenvoudige dominees soos ek skryf nie aan Kerkbode nie en praat ook nie op sinodes nie, om die doodeenvoudige rede dat jy nie die Skrif aanhaal nie, want jy gaan teologies uitmekaar getrek word vir jou Skrifuitleg.

"Die feit is dat daar 'n groot aantal dominees soos ek is wat nie meer weet wat reg en verkeerd is nie." Wat 'n ontstellende bekentenis, en met watter vernietigende implikasies en gevolge vir dié kerk!

"Ek het soos baie ontnugtering ervaar met die kerk wat nie in staat is om 'n verskil te maak in mense se lewens...soos Angus Buchan (wat) baie meer 'suksesvol' is as die kerk, maar die kerk vind baie redes om hom uit mekaar te trek...Daar is baie van ons dominees en kritici wat nie in staat is om 'n verandering te bring nie. Hulle mag bekende name in die media wees en baie boeke geskryf het, maar hoeveel mense sal eendag voor die poorte God dank vir hul insette van geloof in sy lewe? Ons het al die teologiese kwalifikasies, maar ons is nie regtig effektief nie.

"Die NG Kerk beskik nie meer oor die vermoë om die tye te lees nie. As die Titanic sink, speel die orkes geestelike musiek terwyl niemand luister nie, want dalk mis hulle die reddingsboot. Die NG Kerk is besig om stadig te sink, en ons speel rustig ons korrekte, ongelooflike mooi musiek."

Bestaan die moontlikheid inderdaad dat "beterweter Skrifgeleerdes", met hul "hogere kennis", predikante "gyselaar" kan hou en sodoende 'n sinode kan "kaap"?         (ngn)






Wednesday 2 March 2011

Dominee wil hê gebed moet verander

Beeld berig in "Bid werk nie, sê dominee" (28.02) dat ds. Albert Cruywagen, van die NG-gemeente Riebeeckpark in Kemptonpark, meen: "Gebed in die vorm van versoeke rig aan God werk nie..." Die NG Kerk moet dus nuut dink oor gebed.

Cruywagen sê dit help nie om te bid dat God jou op pad in jou motor moet bewaar nie. Net so maak dit ook "nie vir hom sin om vir reën te bid nie", want hy glo nie dat "God in die weerstelsels ingryp nie." Dit word deur "groot natuurkragte" beheer.

Vir Cruywagen is gebed ten diepste 'n selfgesprek, en God luister net na dié monoloog. Hy vind aansluiting by die Oosterse tradisie van meditasie, en "het afgesien van die tradisionele teïstiese siening van God wat baie kerkmense nog huldig en noem sy benadering 'n nieu-teïstiese siening." Hy dink aan hierdie siening van hom "as die ridder op die wit perd wat tot die kerk se redding kom...(en) dink nie dat hy daarmee die kerk ondermyn nie."

Cruywagen sê hy ken jongmense wat niks meer van die kerk wil weet nie, maar aanklank vind by sy manier van dink. Hy sê: "...sy gemeente verstaan hom. Hulle voel rustig oor sy manier van dink en preek." Hy wil nie gebed afskaf nie, maar dit wel met ander inhoud vul.

As Christengelowige wonder ek wat Jesus Christus hiervan sê. Hy het ons immers nie in onsekerheid gelaat wat gebed betref nie, maar Homself duidelik daaroor uitgelaat, soos in die welbekende "Onse Vader"-gebed, in Sy gebed vir Sy dissipels in Johannes 17 en ook in Getsemane waar Sy sweet in bloeddruppels verander het.

Ek is bevrees dit is dié soort "nuwe insigte" wat NG-lidmate verwar en vervreem en tot die uiteindelike ondergang van dié kerk gaan lei.




Tuesday 1 March 2011

Diversiteitsforum van kerk ontstel

Daar is onrusbarende tekens dat alles in die NG Kerk nie pluis is nie. In 'n artikel, "Diversiteit?   -   'n gevallestudie" (25.02), skryf Philip du Toit in Truth Exposed oor diversiteitsforums (df's). Volgens hom word die begrip "diversiteit" tans wêreldwyd gehoor, komende vanuit die "postmoderne denke, waarin grense vervaag tussen rasse, kulture en belangegroepe (bv. kerkgroepe of geloofsgroepe)", en met groot beklemtoning van geloofsverdraagsaamheid en -integrasie.

"Inklusiwiteit" is 'n kernbegrip van postmoderne denkgroepe wat "diversiteit vier", wat meebring dat grense tussen reg en verkeerd, tussen waar en onwaar, en tussen sonde en dit wat nie sonde is nie, vervaag.

Onder postmodernistiese invloed kom df's ook onder kerkgroepe voor wat die diversiteit onder die verskillende kerkgroepe wil "vier". Laasgenoemde "viering" behels om oor dogmatiese grense met andersdenkendes, en selfs skeptici, gesprek te voer. Du Toit vra: "Kan 'n Christelike diversiteitsforum werklik grensloos wees dat dit enige diverse geloofsiening kan akkommodeer, of is daar bepaalde ononderhandelbare grense van die Christelike geloof wat ons nie in so 'n forum kan prysgee nie?"

Ook die NG Kerk het 'n eie df, en so het Du Toit sy "grens"-vraag aan dié forum getoets. Oor waar dié kerk se df sy grense trek , kon hy "nie 'n definitiewe antwoord kry nie". In 'n opvolgvraag wou Du Toit van die NGK-df weet "hoe 'n Christelike diversiteitsforum sy Christelike identiteit formuleer (want dit) kan tog nie so oop en grensloos wees dat dit enige denkbare ideologie akkommodeer, veral waar dit lynreg in stryd is met die Skrif en die Christelike belydenis nie." Ook hieromtrent kon hy "nie 'n definitiewe antwoord kry nie."

Die ontstellende gevolgtrekking waartoe Du Toit in sy ondersoek kom, is dat die NGK-df afstuur op die "prysgawe van die unieke identiteit van die Christelike geloof."