Monday 30 March 2015

Waarheidstransformasie lei tot krisisse

Post-1994 SA word deur transformasie, een van die kragtigste wapens in die NDR-arsenaal, gedryf met feitlik geen samelewingsektor wat nie daardeur geraak word nie.

Dit is geen bedrieglik intuïtiewe aanvoeling dat ook waarheid getransformeer word nie. Onmoontlik om te kwantifiseer, weet ons egter   -   afleibaar vanuit die bedenklike waarheidsmiskenning in die wapen- , Gupta-  en Nkandlaskandaal, kwalifikasievervalsings, Eskomverskonings, korrupsie, en 'n legio meer gevalle   -   hoedat skynwaarheid en waarheidsontkenning toenemend veld wen. Hoevele kere, veral betreffende ondersoekbevindinge, vra ons onsself af of dit waar, en of dit toesmeerdery is.

Waarom floreer dié bedrieglike waarheidstransformasie, en het ons elkeen nie ook 'n plig om waarheid te beskerm nie? Edmund Burke antwoord soos volg: "All that is needed for the forces of evil to triumph is for enough good men to do nothing...(and) to remain silent." Psalm 45:5b antwoord met 'n duidelike opdrag: "Knoop die stryd aan vir die waarheid."

George Orwell wys op die risiko verbonde aan die beskermende verdediging van waarheid wanneer hy sê: "The further a society drifts from truth, the more it will hate those that speak it." Plek-plek in Europa word Orwell korrek bewys waar waarheidstransformasie reeds so ver gevorder het dat waarspraak as haatspraak veroordeel word. SA brandmerk waarspraak as polities inkorrek.

Allerlei krisisse in SA word beklemtoon, dog, indien nog nie in 'n waarheidskrisis nie, is ons sterk op pad daarheen. Onderliggend aan al dié krisisse lê die waarheidskrisis, die direkte gevolg van waarheidstransformasie.








Monday 23 March 2015

ANC-mensbeskouing laat verwoestingspoor

Een van die krities belangrike vertrekpunte vir opvoeding en onderwys is die mens-  en wêreldbeskouing van 'n gemeenskap en/of samelewing. In 'n multikulturele samelewing, soos SA, kom   -   vanweë kultuur-historiese faktore   -   mensbeskoulike verskille voor, en bestaan die moontlikheid derhalwe dat sommige deur die dominante beskouing (teenswoordig dié van die ANC) benadeel mag word.

Die skool   -   ouers veral dikwels onbewus daarvan   -   indoktrineer kinders subtiel   -   deur onderrig-leerinhoude, -metodes en  -doelstellings met die leerkrag as rolmodel   -   tot die aanvaarding van die staat se mensbeskouing met die doel van die kweek van owerheidslojale landsburgers.

'n Dominante faset van die ANC-mensbeskouing, met sy standaardverlagend vernietigende uitwerking op die onderwys en ander samelewingsektore, is sy populêre uitspraak: "Everyone has potential". Hoewel waar, is dit egter 'n halwe waarheid. Die volle waarheid is dat nie almal oor ewe veel potensiaal beskik nie. ANC-denke ontken dit heftig, en enige verwysing na potensiaalverskille word summier as rassisties verwerp.

Hierdie mensbeskoulike potensiaal-ontkenning het die erodering van SA se menslike potensiaalbron, wat in belang van SA en en al sy mense benut kon word, tot gevolg. Nie merietevol bewese potensiaal nie, maar partylojaliteit, nepotisme en ras is ANC-kriteria vir aanstellings en bevorderings. Nimmereindigend uitgerekte mannekrag-,  tyd-  en geldverkwistende hofgedinge, om die burgery teen endemiese korruptheid en uitbuiting te beskerm, is simptomaties hiervan.

Die argaïese en uitgediende ANC-mensbeskouing beskik nie oor die nodige lewensvatbaatheid vir die ontwikkeling van 'n moderne SA in 'n sterk mededingende wêreldomgewing nie. Dit is verstikkend en versmorend; 'n rasgesentreerde mensbeskouing waarvan die spoor van verwoesting duidelik sigbaar is.                   (ngn)






Monday 16 March 2015

Islamterreur neem toe met getallegroei

"Tereggestel...deur 'n kind" (DB,12.03), berig dat 'n Israels-Arabiese tiener (19)   -   beskuldig van spioenasie vir Israel   -   deur 'n jong seun, een van IS se "kalifaat welpies", doodgeskiet is. Is daar aanduidings hoe Islamfundamentalisme tot dié afgryslik barbaarse IS-terreurdade ontwikkel? Ja, daar is. Islam ekstremistiese terreur neem toe met getalle-aanwas, soos dit tans ook in Europa duidelik word.

In sy boek, "Slavery, Terrorism and Islam:The Historical Roots and Contemporary Threats", vestig dr.Peter Hammond, Christenskrywer, die aandag op die verband tussen Islamterreur en getallegroei.

Verteenwoordigende minder as 2% van 'n samelewing, is Islamiste vredeliewend en bedreig nie ander burgers nie. Groeiend van 2% tot 5%, vind aktiewe ledewerwing uit etniese minderheidsgroepe plaas. Bó 5% kom groot druk op die bevolking voor, soos die eis om die halaalmerk op sekere kossoorte wat tegelyk werksgeleenthede skep. Bó 10% laai spanning op vanweë wetteloosheid voortspruitend uit Islamiste se besware teen   -   vir hulle   -   onaanvaarbare toestande.

Synde 20% van die bevolking, vind opstande, afbrand van kerke en sinagoges, en sporadiese moorde plaas. Op 40% kom chroniese terreur en wydverspreide menseslagtings voor.  Bo 60% word nie-Islamiste vervolg, Shariawette ingestel, "ongelowiges" finansieel swaar belas, en vind etniese volksmoorde sporadies plaas.

Op 80% word "ongelowiges" verdryf, gewelddadige jihad vind plaas, en etniese suiwering kan voorkom. Teen 100% heers daar (teoreties) totale "Islamvrede", dog radikales bevredig hul bloeddors steeds op minder radikales   -   soos die jong Israels-Arabiese tiener-"spioen".              (ngn)




Wednesday 11 March 2015

Geestelik- eerder as literêr volwasse

Ek en Perfidius Albion (PA) (DB,11.03) lees E.C.Botha (DB,09.03) se besadigd nie-aanvallende skrywe beslis deur twee verskillende brille   -   PA waarskynlik deur 'n literêr-kritiese, en ek deur 'n geloofsbril. Ek ondersteun Botha in sy standpunt waarvolgens hy sy "weersin oor die inhoud" van geskrifte, wat nié met ons Christelike geloofsetos versoenbaar is nie, verwoord.

By die lees van PA se skrywe vra ek, as Christengelowige, myself die vraag af: Wat bring diens aan die literêre afgode van ons dag   -   dink aan die onlangs druk-gedebateerde "Fifty Shades of Grey"   -   Christene in die sak? Daar is 'n streep, 'n grens, wat Christengelowiges net eenvoudig nié oorskry nie. Hierin is Woordgesag die gesagsmaatstaf vir alle ander woorde; ook "literêre woorde".

Wat ons lees, of nié lees nie, is 'n kwessie van persoonlike keuse wat op ons waardestelsel   -   Christelik óf sekulêr   -   berus. Nie net ons waardes, maar ook ons gewete is hierin deurslaggewend. Die Christengewete word deur die Heilige Gees gelei. Verder bely Christene dat hulle hul hande, voete, oë en ore vir Sy diens beskikbaar stel, en tegelyk tempels is waarin Hy woon. Hoe kán ons dan deur ons sintuie, willens en wetens, bewustelik dinge in dié tempel toelaat wat ons wéét nie daar tuishoort nie? 'n Fontein laat mos nie tegelyk vars-  en brakwater opborrel nie?

Hoor ek die oer-misleidingstem: "Het God regtig so gesê?" ook in die kontemporêre "literêrestem"? Saam met Botha verdra ek eerder beskuldigings van literêre onvolwassenheid, en streef na geestelike volwassenheid.                       (ngn)




Monday 9 March 2015

Skrywer vergis haar met "apartheids-wind"

Met: "...ek (is) 'n 34-jarige...nie deel aan die (apartheid-)stelsel gehad...nooit vir die NP gestem...te jonk om te weet wat apartheid behels het", pleit Arnim van Wyk in Forum: "Apartheid-wind steeds in ons seile" (DB,05.03), onskuldig aan apartheid. Sy lees buitelandse menings waarop "vae lyne...'n duidelike prentjie begin vorm" het.

Sou Van Wyk kon toegee dat mense van alle eeue deur onderskeibare stadiums   -   onder meer jagter-, herder-, landbouer-  en nywerheidstadium   -   progressief ontwikkel het? Dat nie alle kultuurgemeenskappe ewe vinnig ontwikkel (het) nie? Dat haar vroegste Europese voorsate waarskynlik reeds vroeg bewus was van die verskil in ontwikkelingspeil tussen destydse Europa en Afrika? Dat sulke verskille nié oornag verdwyn nie? Dat 'n meer ontwikkelde gemeenskap sigself intuïtief mag beskerm teen minder ontwikkelde verswelging?

Bied histories aanwysbare verskille in kulturele ontwikkelingspeile tussen Europa en Afrika nie dalk 'n logiese verklaring vir apartheid   -   waarmee eintlik "afsonderlike ontwikkeling" bedoel was   -   in 'n na-oorlogse wêreld gekenmerk deur sy Koue Oorlog en dekolonialisering, gepaardgaande met sy "uhuru-winde" nie?

Ek vertolk Van Wyk se "apartheid-wind" in haar "seile" as 'n vergissing. Dié "wind" is inderdaad niks anders as die erfenis van haar Europese voorsate nie, behorende tot 'n meer ontwikkelde kultuurgemeenskap waarvan apartheid later   -   gedurende haar eerste 14 kinderjare   -   slegs die "kurator" van haar erfenis was, en nié die "wind" self nie. Die "apartheidsboeke" is reeds pre-1994 "afgesluit". Het die ANC dan dié "wind" weer in jou "seile" losgelaat? Beslis nie! Ook dit wat Van Wyk die afgelope 20 jaar ervaar, is, eweneens, nié 'n "apartheid-wind" nie, maar wel wat die grasie van die SA-grondwet aan haar toesê   -   nog 'n vergissing.          (ngn)




Monday 2 March 2015

Is staatsveiligheid 'n ANC-prioriteit?

Die ANC-regime laat toe dat SA 'n sagte teiken en parasietgasheer vir internasionale skurke soos dwelmsmouse en buitelandse spioene en terroriste word. Die twyfelagtige prioriteit vir ons nasionale veiligheid blyk uit die laksheid jeëns infiltrasie deur sodanige elemente van buite. Gevaartoestande, waarvan ons salig onbewus is, word so geskep vir SA.

Prof.Hussein Solomon van die Universiteit Vrystaat beweer (Rand Daily Mail,25.02) dat internasionale terreurnetwerke SA sedert die 1990's binnedring. SA huisves reeds vyf Hezbollah-kampe sedert 1995; 'n Al-Qaeda teenwoordigheid sedert 1997. In 1999 word 'n man op die Kaapstad-lughawe gearresteer vir die 1998-bomaanvalle op VSA-ambassades in Kenia en Tanzanië.

Samantha Lewthwaite, Britse burger en bekend as "White Widow"   -   argitek van die terreuraanval op Kenia se Westgate Mall   -   het 'n SA-paspoort besit. Solomon beweer daar is, nadoods, in Osama bin Laden se skuilplek dokumente gevind wat terreuroperasies in SA gemagtig het omdat dit 'n "open country" is. Hy waarsku ook teen die nader-aan-huis Boko Haram; ewe dodelik as IS.

Solomon noem die hoë vlakke van korrupsie en die gemak waarmee identiteitsdokumente en paspoorte bekombaar is, as redes vir terreurgroepe se maklike toegang tot SA. Joernaliste en tenderskandale geniet groter ANC-aandag as terreurorganisasies. Is staatsveiligheid, daarom, 'n hoë ANC-prioriteit, of nóg 'n korrupsie-geërodeerde aangeleentheid?   -   'n geregverdigde vraag.

Gegewe die ANC se eie verlederekord van terreur, is potensiële terreur-simpatisering met  -geesgenootlikes heeltemal uitgesluit? Selfs Mandela het tot met sy dood nooit terreurgeweld afgesweer nie. Slegs ons VVO-lidmaatskap lê die ANC die verpligting op tot optrede teen terreurorganisasies.