Friday 31 August 2012

Moenie dobbel met jeug se toekoms nie

'n Samelewing se selfbeskouing én toekomsvisie word ook weerspieël in die agting vir sy jeug. Was daar al ooit 'n tyd in SA se verlede waarin sy jeug so verwaarloos word soos nou?
 
In "SA kort 'n nasionale databasis oor duisende weggooibabas  -  DA" (DB,27.08), word berig dat tot 2500 babas jaarliks in SA "weggegooi" word. "Times Live" berig dat 59 447 wettige aborsies in 2010 en 77 771 aborsies in 2011 uitgevoer is (Departement van Gesondheid se syfers). Solidariteit se Helpende Hand beweer dat ongeveer 530 kinderverkragtings daagliks in 2009 plaasgevind het. Nagenoeg 88% word nooit aangemeld nie. In 2007/08 is 1410 kindermoorde aangemeld, 'n toename van 22% op die vorige jaar. In  "2010 child trafficking concerns highlighted" beweer Bianca Silva dat 1700 kinders jaarliks as vermis aangemeld word. Volgens prof. Susan Kreston (UV) was daar in 2007 tussen 28 en 35 duisend kinderprostitute in SA. Kinders word na die buiteland verhandel, as sekswerkers en dwelmkoeriers aangewend, pornografies misbruik en ook vir moetie vermoor.
 
Vandag se kind is môre se volwassene, bouer van oormôre se samelewing. Watter agting toon ons SA-samelewing vir sy jeug? Watter waardes word aan hulle oorgedra? Net Christelike beskawingswaardes kan ons teen vorms van barbarisme beskerm. Sedelike verval word ook weerspieël in onverantwoordelike kinderverwekking. Deur die betaal van toelaes is die ANC besig om 'n samelewingskomponent met rewolusionêr plofbare potensiaal te skep   -   'n stadigtikkende tydbom.
 
Die noodkrete van ons jeug klink landswyd op. Die ANC moet sy voortdurende gesanik oor rassisme en apartheid laat vaar en fokus op die herstel van die SA-gesinslewe as prioriteit. Vandag se jeug is die samelewingsbouers van môre. Moenie langer met die jeug en hul toekoms dobbel nie.
 
 
 
 
 
 
 

Monday 27 August 2012

Waarom nie ook dié redes noem nie?

Dit is waar dat duisende NGK-lidmate reeds dié kerk verlaat het en dat die media ons ook goed ingelig daaromtrent hou. Wat my egter opval, is die vreemde gelatenheid waarmee dié kerk, oënskynlik, dié verlating aanvaar. Oor jare heen merk ek dit ook in die eie gemeente. Tydens 'n biduur waag ek dit om te vra of die gelykenis van die verlore skaap dan geen segswaarde meer vir ons het nie. Ek merk 'n gesindheid van : As hulle dan wil gaan, laat hulle gaan, midde in 'n "seisoen van kerklike luister"   -   hoe ironies en tegelyk tragies.
 
In 'n artikel, "Weg van kerke, na nuwe tuiste" (Beeld,19.08), wys die NGK-moderator daarop  "dat Suid-Afrika een van die lande ter wêreld is waar godsdienstigheid die vinnigste afneem." Volgens hom vind kerkverlating plaas vanweë die ouderdomsfaktor, dalende geboortesyfer, emigrasie en sekularisering, almal sekondêre eksterne redes, dog hy noem geen primêr kerklik-interne redes daarvoor nie, terwyl sulke redes ongetwyfeld bestaan. Waarom nie alle redes, ter wille van die waarheid, in hul volledigheid noem nie?
 
Dit wil voorkom of die NGK nie langer meer Bybelse waarheid onvoorwaardelik beskermend wil verdedig nie, maar geneig is tot onaanvaarbare toegewings   -   'n besliste rede vir kerkverlating. Lidmate en ook leraars ervaar druk om die erg verdelende Belharbelydenis te aanvaar; die diskreditering en korruptering van die Bybel word oogluikend verdra; teoloë en predikante maak skokkende dwaalleer-uitsprake; en die evolusieleer het ook reeds sy voet in die deur gekry.
 
Ek vra myself af:  Is NGK-taal steeds suiwer Bybeltaal, of het dit, afwykend, bloot mensetaal en daarom beslis ook 'n kernrede vir kerkverlating geword?                  (ngn)
 
 

Wednesday 22 August 2012

ANC-leierskap grootliks te blameer

Oorsake van die Marikana-sterftes is van komplekse aard. Media-gerapporteerde redes bevat almal grade van legitimiteit. Aanvullend daartoe identifiseer ek self 'n kombinasie van drie bydraende faktore tot dié gebeure. Hierdie faktore is die kapitalistiese mynbase, die sosialistiese ANC-manifes (1955) en sommige ANC-leiers se korrupte ontrouheid en verraad teen dié manifes. Die voorafgaande klimaatskepping tot dié voorval is dan ook wel binne die raamwerk van dié drietal faktore te vinde.

In sy artikel, "Mining Bosses' Worst Fears Realized. What Now?", sê Mike Smith dat valse propaganda die indruk geskep het dat apartheid die rede vir die "struggle" was, maar  "It was about the British and American interests in our mineral riches...blacks are not in control of South Africa. The mining bosses are."

In 1955 verklaar die sosialistiese ANC-manifes dat "all shall share in the wealth of the country." Hierdie nou reeds halfeeu-oue ideaal het nog nooit gerealiseer nie; selfs nie eers naastenby na agtien jaar van ANC-bewind nie. "The people" is sat van leë beloftes, hoogs gefrustreerd en dring aan op hul  "share in the wealth of the country".

'n Derde verwante faktor is dié van verraad teen die 1955-manifes deur sommige selfverrykende ANC-leiers. Smith sê dat, na geheime ontmoetings met die mynbase in die buiteland, die ANC deur omkopery met behulp van dié mynbase aan bewind gekom het. Sosialistiese ANC-leiers is omgekoop deur kapitalistiese mynbase vir persoonlike selfverryking. Smith beweer dat  "Patrice Motsepe, Cyril Ramaphosa, Tokyo Sexwale and even Nelson Mandela became billionaires overnight...(and) only a handful of the ANC elite are sharing in the wealth."

Mynwerkers, voetsoolvlakse ANC-lede, raak toenemend beter ingelig oor die ware toedrag van sake en is bereid om, benewens die mynbase, ook ANC-leiers te konfronteer wat lei tot voorvalle soos dié by Marikana. Hiervoor is die ANC-leierskap self grootliks te blameer. Hulle kón dié tragedie voorkom het.                     






Monday 20 August 2012

Jablonski-bewerings weerspreek die Bybel

Elsabé Brits se artikel, "Ras lê nie veldiep" (DB,15.08), het betrekking. Hierin stel sy die Bybels onversoenbare evolusionistiese siening van prof. Nina Jablonski oor die mens in die algemeen, en sy velkleur in die besonder. Uit haar bewerings is dit duidelik dat Jablonski nié die Bybelse skeppingsverhaal oor die mens erken nie. Haar bewerings daaromtrent is derhalwe heeltemal teenstrydig met die Christelike geloofsraamwerk.

Vir Jablonski is velkleurverskille bloot 'n "evolusionêre ontwikkeling en produk van natuurlike seleksie". Sy beweer velkleur is bloot die vel se vermoë om by wisselende klimaatsveranderinge aan te pas en is die mens ook die enigste "self-decorating ape"   -   'n onbybelse mensbeskouing. Verder het "patrone van migrasie, die son en natuurlike seleksie die mens se velkleur bepaal", en nie die Skepper nie.

Volgens Jablonski het "homo sapiens" in Oos-Afrika naby die ewenaar (evolusionêr) ontwikkel en was donker van kleur. Dit is egter nie wat die Bybel sê nie. Ook het God ménse gemaak; nie "homo sapiens" nie. Ons voorsate se naakte liggame was blootgestel aan die DNS-skadelike ultravioletstraling van die son, daarom was "die ontwikkeling van 'n donker vel noodsaaklik vir oorlewing". Met "homo sapiens" se trek na ander wêrelddele moes hy deur genetiese aanpassing weer van velkleur verander. Ja, sê die Bybel, die eerste mensepaar was wel naak, maar na die sondeval het God self hul deur-sonde-ontdekte naaktheid met dierevelle bedek.

Jablonski se bewerings pas die heersende wêreldstrewe na die uitwissing van alle sosio-kulturele verskille tussen mense   -   met die oog op 'n antichristelike eenwêreldbedeling   -   soos 'n handskoen, en moet daarom in dié lig beoordeel word.




Friday 17 August 2012

Kan SA hom van dié "nuwe ketting" bevry?

Die ANC (DB,11.08) en SAKP (DB,14.08) se ongrondwetlike kritiek teen adv. Madonsela, die openbare beskermer (OB), se optrede by 'n DA-gereelde vrouebyeenkoms op Vrouedag, het my aan 'n tweedelige spotprent uit die dertigerjare van die vorige eeu herinner. Die spotprent beeld 'n vasgekettingde bobbejaan op grondvlak uit met daarnaas dieselfde bobbejaan in 'n kas bo-op 'n paal, dog steeds vasgeketting.

Die bobbejaan simboliseer die destydse Unie van Suid-Afrika in sy verhouding tot imperiale Groot Brittanje. Die ketting simboliseer Suid-Afrika se posisie van onderhorigheid aan dié imperiale moondheid op daardie stadium (1910). Saam met Kanada, Australië en Nieu-Zeeland, "dogters van Moeder Engeland", het SA, agt jaar ná die Tweede Vryheidsoorlog, "verhoogde dominiale status" geniet, dog steeds met kettings gebind aan die imperiale heerser. Dit sou die Balfourverklaring (1926), die Statuut van Westminster (1931) en die Status van die Unie-wet (1934) verg om na dekades eers dié "bobbejaan" te ontketting.

Die ooreenkoms tussen die gemelde spotprent en die ANC/SAKP-kritiek op die OB? Ongetwyfeld geniet die posisie van die OB hoë aansien / status in ons grondwetlike bedeling. ANC/SAKP-reaksie wek egter die indruk as sou dié amp onderhorig en "geketting" wees aan ANC/SAKP-ideologie en nié die grondwet nie. Ons durf geen illusies hê oor die ANC/SAKP se magsvraatsug soos dit met Britse imperialisme ook die geval was nie. Kan ons te wagte wees dat die OB se vryheid van beweegruimte ook toenemend beperk gaan word, en sal SA daarin kan slaag om hom ook van die ANC/SAKP se "nuwe ideologiese ketting" te kan bevry?                    (ngn)




Monday 13 August 2012

Nuwe wêreldorde bring ANC aan bewind

In 1994 erf die ANC 'n   -   aan Afrika-vreemde   -   republikeinse staatsvorm waarvoor Euro-Afrikaners sedert die 18de eeu met gemengde welslae teen vreemde en vyandige oorheersing gestry het. Ter toeligting was daar, onder meer, die kortstondige "Vrij Colonies" van Graafff-Reinet en Swellendam, die republieke van Natalia, Kliprivier, Utrecht, ZAR, OVS, Lydenburg, Potchefstroom, Winburg, Gosen, Stellaland en die Nieuwe Republiek, almal uitingsvorme van die wordende Afrikanervolk se volgehoue ideaal van onafhanklike selfregering waarvoor groot offers en 'n dure prys aan goed en bloed betaal is.

Die tienjaar-lange mensereg-negerend sloerende Boeremagverhoor   -   mense wat hul steeds beywer vir die eeue-oue Afrikanerideaal van 'n vrye en onafhanklike volksbestaan, dog ongrondwetlik te werk gaan in die verwesenliking daarvan   -   roep die ANC se "voor-demokratiese" terreurspoor assosiatief sterk na vore. Die onverskoonbaarheid van wat Boeremaglede beplan het, is net so van toepassing op die ANC wat nie net terreur beplan het nie, maar dit ook uitgevoer het. Laat daarom reg geskied aan gebalanseerde rapportering van dade van hoogverraad.

Na afloop van die Rivoniahofsaak, waartydens Mandela gevonnis is, berig die liberale dagblad, "Rand Daily Mail", soos volg: "The men found guilty had planned sabotage on a wide scale and had conspired for armed revolution. As the judge pointed out yesterday, the crime of which they were found guilty was really high treason. The death penalty would have been justified."

Tussen 1984 en 1989 vernietig ANC-terreur 1770 skole, 7187 wonings van swartes, 10318 busse, 152 treine, 12 188 private voertuie, 1265 winkels en fabrieke, 60 poskantore, 47 kerke, 30 klinieke, 300 mense is volgens die "halssnoer"-metode vermoor terwyl 372 in brandende huise sterf.

In November 1994 berig Peter Younghusband soos volg in die "London Daily Mail" : "The ANC never was worth much as a liberation movement...the ANC very conveniently sat in exile waiting for the world to bring the White regime to its knees." Hieruit blyk dit dat F.W.de Klerk en geesgenote  voor die nuwe wêreldorde geswig het; nié voor die ANC nie.                  (ngn)


Wednesday 1 August 2012

Minderhede moet waak teen diktatuur

In sy "SA behoort aan almal" (DB,31.07), wys Corné Mulder op Nkosazana Dlamini-Zuma se stelling "dat minderhede by die meerderheid moet aansluit en ophou dink hulle verdien  'aparte en spesiale'  behandeling." Mulder is reg wanneer hy sê dit "getuig van arrogansie en tipiese meerderheidsdenke", terwyl geen minderheidsgroep hoegenaamd meer vra as wat grondwetlik toelaatbaar is nie.

Met Dlamini-Zuma se uitspraak word die politieke onverdraagsaamheid en demokratiese onvolwassenheid van die ANC weer eens beklemtoon. Sy politieke dominansie ten spyt, manifesteer die ANC sigself as voortgesette bevrydingsbeweging wie se magshonger aan onversadigbaarheid grens.

Mulder is korrek met sy bewering dat die ANC hopeloos met nasiebou misluk het. 'n Regering wat nasionale belang voorop stel laat nie toe dat handboektekorte, en so laat in die skooljaar, nasionale afmetings aanneem nie, en hou ook nie vol met die herhaalde aanstelling van beroepsvreemdes as mislukking gedoemde polisiehoofde nie   -  beide voorbeelde van eiebelang bo nasionale belang.

Vir die ANC gaan dit primêr om ANC-solidariteit soos uitgedruk in party-politieke eenheid en nié om nasionale eenheid nie, kortsigtige kenmerk van 'n bevrydingsbeweging. Eiebelang staan voorop met minderheidsbelange sekondêr; vandaar Dlamini-Zuma se stelling.

Die ANC sal hom dit beslis laat welgeval sou hy as leier van 'n eenpartystaat kon regeer. Om ons teen die diktatuur van die  magsugtige en wraaklustige Malemas te vrywaar, is waarskynlik een van die mees kritieke rolle wat minderheidsgroepe   -   in terme van wat die grondwet hulle toelaat   -   te speel het. Hierdie voorkomende rol durf minderheidsgroepe nooit prysgee nie.