Tuesday 28 February 2012

NG Kerk volg in die transformasievoetspoor

My graad 1-kleinseun munt   -   soos sy ouderdomsgenote   -   uit in selfuitgedinkte verbeelding-  en eie reëlbepalende kompeterende speletjies. Daarin sien ek 'n parallel met die teenswoordige "kerkspel" waar 'n "verbeeldingspel" met die Bybel gespeel en dit terselfdertyd in kompetisie met die wetenskap geplaas word waarvolgens die Bybel volgens wetenskaplike spelreëls beoordeel word.

Met die skepsel plaasvervangend vir die Skepper, sit sommige teoloë se verbeelding met hulle op loop wanneer hulle beweer die Bybel is nié Goddelik geïnspireer nie, maar bloot mensewoorde oor God. Bybelse waarheidsinhoude word ontken en afgemaak as mites en verhale sonder enige relevansie vir ons dag.

Vervolgens het sommige teoloë ook "ingekoop" in die pseudo-wetenskap van die evolusionisme en onderwerp die Bybel met groot toewyding daaraan. Hierdie teoloë het gekies vir geloof in dié "wetenskap" eerder as geloof in die Bybel. Die NGKerk-leierskap mag dink alle lidmate is oningelig, maar dis 'n mistasting. Wanneer prof. Nelus Niemand die daling van 20 000 lidmate die afgelope boekjaar in dié kerk toeskryf alleen aan sekularisasie (Rapport,19.02), is dit 'n halwe waarheid. Die woelinge in dié kerk, vanweë die rigting wat dit in onlangse jare inslaan, is ook 'n groot oorsaak wat egter ontken word.

Beide teoloë, prof. Nelus Niemand en dr. Stefan Joubert, sê al teenvoeter en hoop vir die NGKerk lê in "alternatiewe vorme van kerkwees". In sy skrywe, "Tyd is verby vir keer en beheer" (Beeld, 27.02), meen Joubert die dalende NGKerk-lidmaattal moet nié gekeer word nie, en dat die tyd vir kerklike gesags-  en beheerstrukture verby is.

Hier lê 'n stryd van ongekende afmetings voor vir 'n kerk wat duidelik die transformasievoetspoor volg.  (ngn)







Thursday 23 February 2012

Laat sinodale besluite leraar struikel?

Ek verwys na Harry Gerber se brief, "Vrae oor leraar se stellings van die kansel" (DB,22.02), waarmee hy "graag reggehelp (wil) word" en nie " 'n gestry of getwis (wil) ontlok nie." Skrifgewys prysenswaardig, maar die Bybel sê ook in opdragtelike sin: "Moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak" (Efes.5;11). Weet verseker dat jy gehoorsaam is aan hierdie opdrag.

Die leraar sê: "Daar is nie maar net 'n Drie-enige nie, maar ook wel 'n vier-enige (die mens) en 'n vyf-enige (die wêreld)." Dit is ongetwyfeld 'n onskriftuurlike stelling   -   indien nie godslasterlik nie   -   wat nié met die Bybel en die belydenisskrifte versoenbaar is nie. Nog 'n kanselstelling: "Jesus het uit die hemel gekom en God se grense oorskry." Hierdie stelling maak, onder meer, van Jesus 'n opstandig ongehoorsame Godgestuurde en plaas Hom in dieselfde konteks as Lucifer   -   'n tweede onwaarheid. Die derde leraarstelling lui: "Mag die genade van Moeder God met julle wees." Hierdie stelling is beslis in ooreenstemming met die RK kerk se "Moeder Maria" en/of die "New Age"-beweging se "moedergod", Gaia   -   met Matreia as haar "messias"   -   maar baie beslis nié in ooreenstemming met God se Woord en ons kerklike belydenisskrifte nie   -   'n verdere onwaarheid.

Onwaarhede is maar net 'n eufemistiese vorm van leuens, en wie is nou weer die "vader" daarvan? Ek sou graag vir hierdie leraar wou vra om sy stellings vanuit die Bybel te verantwoord, asook die belydenisskrifte én sy legitimasie-eed wat hy afgelê het. Is dié leraar 'n "slagoffer" van sommige soortgelyke onskriftuurlike besluite van die jongste Algemene Sinode van die NG Kerk wat as voorbeelde vir hom dien?           (ngn)







Tuesday 21 February 2012

Tragies om nie volkseer te verdedig

My vroeëre skrywe, "Hieroor mág Afrikaners nie stilbly nie" (DB,28.01), was beswaarmakend teen Robin Binckes se boek, "Canvass Under the Sky", waarin hy 'n klomp moedswillige leuens kwytraak van ons Afrikanervoorgeslagte. "Die Afrikaner" (10-16.02) berig dat "'n groep Afrikaners dié boek vol leuens...in die openbaar verbrand..." het uit protes, en sê dat geen medialid daaroor berig het nie. Hierteenoor "steek opponente van Julius Malema 'n T-hemp met sy foto op aan die brand...(en) die media is daar...(met) 'n groot foto op Rapport se voorblad. Dit is nuus."

Ek vind dit vreemd van koerante wat die Suid-Afrikaanse Perskode se joernalistieke waardes van waarheid, akkuraatheid, regverdigheid en gebalanseerdheid onderskryf (DB,25.02.08).

Ek lees die een na die ander roerende verhaal soos deur Emily Hobhouse vertel in haar boek, "Die Smarte van die Oorlog", van die onmenslike wreedhede, lyding en vernedering wat Afrikanervroue moes verduur aan die hand van die Britse militêre owerhede tydens die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902). 'n Vrou sê aan 'n Britse generaal: "O, ek bid u, skiet my hier dood, want dit is dieselfde of ek hier sterf of in die (Potchefstroom) kamp...waar so baie grootmense en kinders sterf   -   soms sewe op 'n dag."

Oorlog laat diep en dikwels blywende letsels na. Dit is tragies wanneer ons die rug op ons volksverlede keer, maar veel tragieser as ons nie ons volkseer wil verdedig en handhaaf nie.                  (ngn)

Saturday 18 February 2012

Toename in bruin begrip kenmerk debat

Die Forumartikel, "Ons almal se moeder?" (DB,18.02), het betrekking. Hierin lug debatteerders hul mening oor Kaapstad as "Die Moederstad: Is sy 'n moeder vir al haar kinders?" My eerste vraag is: Watter vastelandse psige   -   Europa of Afrika   -   het eerste geboorte gegee aan die begrip "moederstad", en watter tong het dit die eerste keer in S.A. verwoord? Laat ons darem in alle billikheid realisties en eerlik wees met mekaar. Sedert 1652 tot en met 1994 was Kaapstad, die "Moederstad", die setel van blanke regering. Kan nie-Europeërs verkwalik word as hulle weinig erg het aan die begrip "Moederstad" en nie sterk daarmee assosieer nie?

Vir my is die "Moederstat"-omgewing 'n dinamiese, akademiese, intellektuele, welvaartskeppende, bybly of agterbly omgewing; in klasse verdeel oorwegend volgens materiële standaarde, net soos elders ter wêreld aangetref word   -   Indië, en selfs Engeland, as voorbeelde. Na my mening is dié "Moederstad" die sentrum van die mees toonaangewende van die RSA-provinsies (danksy ANC-niebeheer).

Ooglopend van dié Forumartikel is dat dit oorwegend bruin menings (4) en slegs een swart en een wit (David Kramer) se menings rapporteer. Maak dit nie dié artikel ongebalanseerd en nie-verteenwoordigend nie? Die indruk kan maklik geskep word dat dit net die stemme van "aanklaers" en nié dié van die "aangeklaagdes" is wat gehoor word. Gelukkig is daar egter die tekens van 'n toename in begrip van me. Patricia de Lille, proff. Jakes Gerwel en Russel Botman wat geloofwaardigheid aan dié debat verleen en voorkom dat dit nie in 'n soveelste rassegeding ontaard nie.


Tuesday 14 February 2012

ANC-beleid het SA-vloot laat sink

In aansluiting by die berig, "Al meer wurms peul nou uit die wapen-blik" (DB,14.02), die volgende opmerkings: Sub-Sahara Afrika uitgesonder, het volkere en nasies wat grens aan die see mettertyd die skeepsbou bemeester en nasionale vlote ontwikkel om die nasionale belange   -   soos verdedigings-, strategiese en handelsbelange   -   te dien en bevorder.

So ontstaan ook die SA-vloot op 1 April 1922 met Simonstad as vlootbasis sedert 1 April 1957. In sy artikel, "The Sinking of the South African Navy", sê Stephen Goodson: "Although hindered by sanctions from 1975 onwards, it remained one of the elite small navies of the world..." Dit is die vloot wat die ANC in 1994 oorneem.

Vir opgraderingsdoeleinde bestel die ANC-regering vier korvette en drie duikbote van Duitsland teen 'n aansienlik hoër aankoopprys as dié van 'n Spaanse konsortiumtender. Die rede hiervoor, sê Goodson: "...to accommodate the bribes and commissions paid to ANC cabinet ministers and their cohorts."

In 2011 is een duikboot totaal buite werking gestel deur 'n onervare seeman wat, vanweë elektriese oorbelading, al die rekenaars en kilometerslange bedrading daarvan vernietig het. Instandhouding is 'n hoë prioriteit van 'n vloot, maar volgens Goodson is geeneen van ons skepe operasioneel nie. Net die dinamo's word versien vir kragopwekking sodat offisiere gereeld warm etes kan geniet.

Dis duidelik dat ANC-eiebelang   -   nie nasionale belang nie   -   en impotente regstellende aksie, die SA-vloot die golwe in laat sink na die bodem van die see.




Saturday 11 February 2012

Verdeeldheid gaan die kerk vernietig

Christus het gesê: "...'n huisgesin wat onderling verdeeld is, spat uitmekaar" (Luk.11:17)   -   'n profesie van die Hoof van die Kerk ook vir Sy kerk van vandag. Daar is, onteenseglik, duidelike tekens van verdeeldheid in die kerk tussen die liberaal-vrysinniges en die Skrifgetroue behoudendes, deur eersgenoemdes tot "fundamentaliste" gebrandmerk.

Sommige meen dié kerklike verdeeldheid sal verdwyn indien dit geïgnoreer word en veranderinge in die kerk ongehinderd voortgaan. Daar is besliste tekens van polarisasie daarbinne. So word selfs beweer dat die kerk nog struktureel een mag wees, maar dat daar reeds twee duidelik onderskeibare "kerke" onder dieselfde dak bestaan.

Hierdie verdeeldheid blyk ook uit die volgende as voorbeeld: Enersyds sê dr. Christo Landman (My Beeld, 08.02): "Die wysgerige grondslae van die Belharbelydenis kan gevind word in die Kairos-dokument en in die teologie van die Suid-Amerikaanse bevrydingsteoloog, Gustavo Gutiérrez. Destyds is gevind dat, omdat die Kairos-dokument te radikaal was, 'n sagter aanslag in die vorm van die Belharbelydenis deur SA-bevrydingsteoloë geformuleer is...(wat) as sentrale propagandadokument teen die politieke orde gebruik (is)...dit staan vas dat Belhar 'n kind van die politieke bevrydingsteologie is."

Andersyds sê prof. Christina Landman (Beeld, 05.02): "Hier, skielik, kom 'n brief aan van 'n generaal wat die Belharbelydenis van geweld beskuldig. Dis net 'n vuil truuk om onmin tussen kerke te saai...(en) al die truuks wat die generaal...uithaal (is) om Belhar en die swartbewussynsteoloë by te kom...Ons kan godsdiens nou anders bedryf. Met nuwe doelstellings."

Tot Satan se grootste vreugde gaan verdeeldheid lei tot die vernietiging van Sy kerk.



Wednesday 8 February 2012

Hieroor sal God self finaal oordeel

Die polemiek oor oud-genl. Johan van der Merwe se memorandum aan die NGK-moderamen het betrekking. In die lig van die verdoemende en veroordelende kommentare van NG Kerkleiers daarop, die volgende vraende opmerkings:

Sal hierdie kerkleiers asseblief vir ons in die Bybel uitwys waar Christus Sy volgelinge opdrag gegee/aangemoedig het om regerings, in die algemeen, en/of die Romeinse owerheid van Sy dag, in die besonder, gewelddadig omver te werp? Toe die kommunisties-geïnspireerde rewolusie op sy felste was, en die SAP en veiligheidsmagte moes voorkom dat S.A. in totale chaos en vlamme opgaan, wáár was dié veroordelende kerkleiers en die polisielede van destyds onderskeidelik? Is daar sprake van enige pastorieweduwees soos wat daar wel van polisieweduwees sprake is vanweë dié rewolusie?

Wié het hulself snags heerlik warm agter vroutjie se rug gekoester met slaaptyd, en wié moes die lewensgevaarlike taak verrig om die burgery se lewens en eiendom te beveilig? Is dit nie so dat die Bybel ons leer/waarsku dat God se Koninkryk nie deur geweld gedien word nie? En toe die bevrydinsteologiese geestelikes die pad van vernietigende geweld kies, was dit Bybels gefundeerd? En toe hulle kies vir geweld, teen die Gees van die Bybel in, kies hulle Marxistiese geweld, en loop skouer-aan-skouer in massa-optogte onder die vaandel van die anti-christelike hamer-en-sekelsimbool. Is dit nie so nie? Is dit nie ook so dat dié rewolusie, eens buite die NG Kerk as geestesvyand, nou ook dié kerk onbybels binne gedra is met verskeie frontaanvalle daarop, en dit vanuit eie geledere nie?

Liberale kerkleiers beskuldig Van der Merwe dat hy apartheid verdedig (DB,07.02). Die waarheid is dat húlle rewolusie verdedig. As Regter sal God self hieroor die oordeel vel.         (ngn)




Saturday 4 February 2012

GKSA wakkerder teen dwaling as NG Kerk

In Beeld (18.01) is berig dat "betrekkinge tussen die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) en die NG Kerk een van die ergste laagtepunte sedert...1859 bereik (het)...nadat die GKSA...'n voorgestelde samewerkingsooreenkoms tussen dié twee kerke afgekeur het."

Dr.Kobus Gerber, algemene sekretaris van die NG Kerk, het gesê "hy het uit die vergadering gehoor daar was vrese dat leerstellige dwalings uit die NG Kerk die GKSA kan binnesluip." Volgens Gerber is dié besluit "'n klap in die gesig" van die NG Kerk.

Vanselfsprekend sal die NG Kerk dié aanklag ontken, dog dr.Henrietta Klaasing, lidmaat van die NG Kerk, sê die volgende op Kerkbode-aanlyn: "Die Gereformeerde Kerk moet geloof word vir die sterk standpunt teen dwaalleer. In die NG Kerk is daar oor die afgelope jare kommentaar gelewer...oor dwaalleer in die NG Kerk. Selfs boeke is (daaroor) geskryf (asook) 'n hele reeks DVD's gemaak oor Nuwe strominge in die teologie. Ten minste 'hoor' mense in die Gereformeerde Kerk...die dwaalleer-waarskuwings" waarop NG Kerkleiers nié ag slaan nie, ten spyte van   -  en ironies genoeg   -   hul sogenaamde "Seisoen van luister".

In aansluiting hierby wys ds.Slabbert le Cornu, GKSA-predikant, in "Pro Regno" (09.01) op kenmerke van die SARK waarvan die NG Kerk 'n lid is en dr.Kobus Gerber in die bestuur daarvan dien. Le Cornu sê van die SARK: "Dit is 'n valse verdraaide evangelie wat die SARK aanhang...'n bevrydingsteologie (en) niks anders as die ANC in gebed nie...intergeloof georiënteerd, en hoe meer jy 'saamwerk' met ander gelowe...hoe meer neem jy hul standpunte in (en) waar in die Skrif sien ons profete, apostels, Israel/die vroeë kerk met valse godsdienste saamwerk?"

Die GKSA blyk wakkerder ingestel te wees teen leerstellige dwaling as sy susterskerk, die NG Kerk.    (ngn)