Thursday 24 February 2011

Nierassigheid bruin uitweg uit impasse?

Dennis Cruywagen se Woensdag Aktueel-artikel (DB,23.02) wek begrip vir die histories-ontwikkelde posisie van hedendaagse bruin mense. Waarskynlik sou net Olimpusberg se gode die vele ongelykheidsverskille tussen die vroeë inwoners van Suid-Afrika foutloos kon hanteer het in die skepping van 'n utopies-moderne S.A. na almal se smaak.

Dat sómmige rasse dit moeiliker gehad het as ander rasse onder apartheid, kan nie ontken word nie; dat álle rasse vandag, insluitende swartes, swaarkry onder die ANC-regering, is 'n feit. Ek wil egter reageer op die nierassigheidsbegrip wat Cruywagen óók gebruik, en só dikwels by uitstek deur ander bruin skrywers gebruik is/word.

Dit blyk dat géén mens sy rasgebondenheid kan ontkom nie. Deel van my identiteitsamestelling is ook my rasidentiteit. Identiteit, en veral die behoud daarvan, is sigbaar nie vir alle mense ewe belangrik nie. Daarmee het ek geen probleem nie; dit is immers 'n kwessie van keuse. Dit word egter wel 'n probleem indien "rasbehoudendes" op die een of ander wyse gedwing kan word tot "rasafstanddoening"  en só van hul rasidentiteit beroof sou word.

Skrywers oor nierassigheid, en dis veral bruin skrywers, laat my telkens dink aan iemand wat 'n "spook" gesien het, daardeur ontstig is, maar nie in staat is om dit vir ander te beskryf nie. Voorstanders van die nierassigheids-idee bly tot dusver in gebreke om dit vir ons te omskryf; om van definieer nie eers te praat nie. Is dit vanweë onwilligheid, onbekwaamheid of onmoontlikheid?

Vir my lyk die hele kwessie van bruin beroepe op nierassigheid eerder na bruin mense se (begrypbare) belewing van, en reaksie op, onbillike diskriminasie teen hulle; soos nou weer met die voorgestelde wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming waardeur bruines benadeel sal word. Is nierassigheid daarom nie 'n bruin uitweg uit dié impasse nie?   (ngn)





Monday 21 February 2011

Profesievervulling is geen verrassing

Die berig, "Verenigde liggaam vir gelowe 'is nié gestig' "(DB,19.02), het betrekking. Een van talle vrae is: Watter profesie-vervullende potensiaal is daar opgesluit in die eenwording van alle godsdienste? Die Bybel sê duidelik en opdragtelik: "Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie...Hoe kan 'n ooreenkoms tot stand kom tussen die tempel van God en afgode?" (2 Kor.6:14,16).

Belanghebbende partye   -   die ANC-gesinde NILC en SARK-georiënteerde NRLF   -  weerspreek mekaar oor die vordering na eenwording tussen dié liggame tot " 'n enkele nasionale intergeloofsorganisasie". Ook Zuma het (betekenisvol) hierna verwys, en daarom kan met reg gevra word: Wat maak Saul (ANC) onder die profete (kerk)?

Dit kom voor asof die NG Kerk nie ag slaan op die waarskuwende vermanings in Gods Woord om nié in 'n eenheid met Christen-ongelowiges op te gaan nie. Dr. Kobus Gerber, algemene sekretaris van die NG kerk, het gesê "hy is deel van 'n taakspan wat tans met die (ANC-gesinde) NILC samesprekings voer."

Dit is duidelik dat die ANC die grondwet sal inspan om sy ideologiese vlerke subtiel-voorskriftelik ook oor die ganse godsdiensterrein te sprei. Die grondwet verklaar immers alle mense gelyk en dit impliseer ook die gelykheid van alle godsdienste. Geen godsdiens durf dus beweer dat dit oor die enigste waarheid, soos wat Christene beweer, beskik nie. Sodoende moet ook die Christelike godsdiens deur "regstellende aksie" getransformeer word.

Christene moenie verbaas wees indien gebeure nog sodanig gaan ontwikkel dat hul geloofsaanspraak op die Drieënige God as enigste ware God as 'n skending van grondwetlik-erkende menseregte en dus as strafregtelik vervolgbaar beskou sal word nie. Is die potensiële aanstelling van grondwetlik-kontrolerende "godsdiensinspekteurs" en hul periodieke besoeke aan godsdiensinstellings té vergesog?

Die huidige verwikkelinge kom as geen verrassing nie, maar wel as die vervulling van Jesus se profetiese woorde: "As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg" (Joh.15:20b).      




Friday 18 February 2011

Zuma nog in Rip van Winkelslaap

Afrikaners gaan, gesien die haglike omstandighede waarin vele hulle tans bevind, nie toelaat dat Zuma hulle sagmakend met vleitaal flous nie.

Zuma het vroeër reeds na Afrikaners as "die enigste wit stam van Afrika" verwys (DB,03.04.09). Nou verwys hy na "Afrikaners se unieke geskiedenis en hoe dit hulle van ander wit mense in die land onderskei...die enigste wit groep wat daarop aanspraak kan maak dat hulle óók vir hul vryheid...geveg het...Hulle het 'n bydrae gemaak om Suid-Afrika te ontwikkel..." (DB,17.02).

Maar nou moet Afrikaners hul "eie Nkandla vind...nie 'n staatkundige grondgebied nie, maar 'n sielkundige tuiste. (Omdat) Afrikaners...reg oor die land woon...het hulle nie 'n 'fisieke Nkandla' nie" (DB,17.02).

Zuma ontken die nasionale karakter van die Afrikaner en sy histories-volgehoue onafhanklikheidstrewe. Die Afrikaner moet nou egter tevrede wees om "sielkundig" ge-"borsrok" te word binne die Nkandla-model.

Zuma is korrek as hy beweer Afrikaners "het 'n bydrae gemaak om Suid-Afrika te ontwikkel...(en dat hulle) reg oor die land woon." Wat hy nie raaksien nie, is die verband tussen Afrikaners se "bydrae" en waar hulle "woon". Vooruitgang het gelei tot horisonverruiming en -verskuiwing.

Anders as in Zuma se Nkandla-omgewing, bevind Afrikaners   -   as potensiaalontwikkelaars, werkskeppers en -gewers   -   hul verspreid oor die land. Het Zuma se Nkandla-omgewing, hierteenoor, dalk staties gebly? Wie het weggebreek uit isolasie en 'n spoor van ontwikkeling vir ander gelaat, en wie het in onontwikkelde isolasie gebly? Wie pluk wie se vrugte vandag?

Teenoor Zuma se etnies-eie, stameie en kultuureie Nkandla Zoeloe-gemaksone, verwag hy Afrikaners moet hulself tevrede stel alleen met 'n "sielkundige tuiste". Kan enige volk ter wêreld sy nasionale aspirasies uitleef sonder 'n eie grondgebied as soewereine jurisdiksiegebied?

Nee, Zuma, vergelyk asseblief appels met appels. Terwyl hyself nog in 'n Rip van Winkelslaap verkeer, het die Afrikanerwêreld reeds onder hom uitbeweeg.




Tuesday 15 February 2011

NG Kerk te min te laat - hoe jammer

Die Burger-beriggewing (12.02), "SA g'n hemel onder ANC  -  kerk", bevestig my vroeëre skrywe, "Kerk se reaksie op Zuma stel teleur" (DB,12.02), dat die NG Kerk veel meer getuienislewerend en leidinggewend op pres. Zuma se onlangse uitlatings kon gereageer het.

Elke NG Kerklidmaat is geregtig op 'n eie mening in dié verband, dog ek vind dit veel makliker om met die VGK se besware teen die Godonterende Zuma-uitsprake te identifiseer as met dié van die NG Kerk. Wat ek ironies, indien nie tragies, vind, is dat dié twee kerke hulle as't ware in 'n "moeder-dogter" verhouding bevind, met die "dogter" wat 'n veel sterker standpunt inneem as die "moeder", en sodoende 'n voorbeeld vir die "moeder" stel.

Die Burger (12.02) berig die VGK-verklaring "is een van die sterkste kerklike reaksies nóg op pres. Zuma se gelykstelling van die ANC en die hemel..." Oor watter dinge is die VGK besorg wat die NG Kerk nie meldenswaardig ag nie?

Die VGK-moderatuur sê "dat Suid-Afrika onder die ANC-bewind geen hemel is nie", en dat Suid-Afrikaners slagoffers is van moord, geweldsmisdade, armoede, werkloosheid, swak onderwys, veragtelike dienslewering en, "Dit is nie hemel nie...(maar) vir baie Suid-Afrikaners hel..."

Wat Zuma se aantasting van die Christelike geloof betref, is die VGK-standpunt, onder meer, soos volg daarop: Wat Christene onder "hemel" verstaan, word toegelig; die enigste pad hemel toe is deur Jesus Christus; die ANC respekteer nié dit wat Christengelowiges kosbaar ag nie.

Ten slotte rig die VGK-moderatuur 'n "boodskap aan lidmate...om...hulself af te vra of hulle...vir enige party kan stem wat geen respek vir hul geloof het nie." Dié VGK-verklaring sal van kansels gelees en in gemeentenuusbriewe gepubliseer word.

My antwoord op ds. Schutte se "NG kerkraad steun VGK se verklaring" (DB,15.02), is daarom: NG Kerk te min te laat  -  hoe jammer.                  (ngn)



Monday 14 February 2011

Fouteer teoloog nes Mandela en Zuma?

Die Christelike geloofsbeskouing word beslis nie deur alle kulture identies en ewe suiwer vertolk en aanvaar nie. Dat dít so is, blyk ook uit die berig, "ANC kap terug oor kritiek" (DB,09.02). Gemelde berig handel oor "Zuma se hemel-opmerking", Gwede Mantashe se verdediging daarvan, asook dr. Gerrit Brand van die Stellenbosse teologiese fakulteit se kommentaar daarop.

Die gewraakte Zuma-stelling lui "dat 'n ANC-lidmaatskapkaart 'n kaartjie hemel toe is". Hou egter in gedagte dat Zuma vroeër gesê het hy "wil in die gees van oud-president Nelson Mandela die leier van alle Suid-Afrikaners wees" (DB,07.05.09).

Dié Mandela-"gees" blyk gedeeltelik uit sy "Long Walk to Freedom" waarin hy sê: "My father remained aloof from Christianity and instead reserved his own faith for the great spirit of the Xhosas, Qamata, the God of his fathers." Voeg hieraan toe dat Mandela, skertsend, gesê het hy sal by sy aankoms in die hemel dadelik na die naaste ANC-tak verneem en daarby aansluit.

Dit is binne dié klimaat, geskep ook deur die Mandela-"gees", wat Zuma-uitsprake soos; "Wie op dees aarde kan teen ons (ANC) wees as God aan ons kant is?" (DB,19.03.09); dat die ANC tot Christus se wederkoms sal regeer, asook sy jongste uitlatings, beoordeel moet word.

Terwyl daar enersyds, menslik gesproke, 'n mate van begrip mag wees dat Mandela én Zuma dit dalk moeilik vind met hul verwerking van die westerse Godsbegrip, hoe moet teoloog Brand se kommentaar, andersyds, beoordeel word?

Brand beweer: "Zuma se uitlatings is nie problematies omdat dit God se gevoelens seermaak of aan gelowiges aanstoot gee nie" (DB,09.02). Beeld (08.02) berig Brand het ook gesê: "God kan dit vat en gelowiges moenie so liggeraak wees nie".

Is Brand nie maar net so skuldig aan Godonterende uitlatings   -   "God kan dit vat..." as karakterontering van God   -   soos Mandela en Zuma nie?


Wednesday 9 February 2011

Kerk se reaksie op Zuma stel teleur

Die NG Kerk se persvrystelling deur dr. Kobus Gerber, algemene sekretaris van dié kerk, oor Zuma se Godonterende uitlatings, is teleurstellend. Gerber sê: "Die...NG Kerk wil sy sterkste misnoeë te kenne gee oor die uitlatings van president Zuma...(en het reeds in) 2009 sy kommer uitgespreek oor hierdie tipe retoriek van die President en die ANC...(en) vereenselwig hom ten volle met die persvrystelling van die SARK...(en) wil aandring op 'n onvoorwaardelike verskoning van die ANC aan Christene en kerkgroepe in Suid-Afrika."

Hiermee sê Gerber, namens die NG Kerk, teleurstellend min. Dit is jammer dat hy godslasterlikhede afmaak as blote retoriek waarmee die NG Kerk slegs sy "sterkste misnoeë te kenne gee". Waarom verwag Gerber 'n "onvoorwaardelike verskoning" aan Christene en kerkgroepe en nié, primêr, aan die God van die Christendom nie?

Gerber hou die kommentaar van biskop Jo Seoka, president van die SARK, voor as synde mondstuk ook van die NG Kerk. Gewone lidmate verwoord hul ontsteltenis en besware veel sterker en omvattender as die moderatuur van die NG Kerk. Hopelik is dié kerk nie maar net "His Master's Voice" van die SARK in 'n poging om "polities korrek" te wees nie.

Ek dink nie lidmate verwag 'n verdoemende aanval op Zuma nie, maar wel 'n baie ernstige vermaning in die lig van die Bybel oor wie en wat God is. Waar Zuma van God 'n politieke speelbal maak, pas dit nie Christengelowiges om by dié Zumaspel betrokke te raak nie.

Vanweë swak leierskap het die NG Kerk 'n gulde geleentheid laat verbygaan om 'n duidelike en sterk verwoorde standpunt daar te stel aangaande die onaantasbaarheid van die Koning van die kerk, en om dié Christelike oortuiging aan die ganse SA-samelewing te kommunikeer, 'n samelewing wat, sensusgewyse, uit 'n Christenmeerderheid bestaan.




Thursday 3 February 2011

Kerk herhaal fout met wetenskap

Betreffende die kerk en wetenskap, is James Maré se skrywe, Galileo en die eintlike nar op die kantlyn, insiggewend om te lees. Hierin opponeer Maré diegene wat beweer "...dat die Kerk op dun ys is as hy nét na die Bybel kyk as basis waarop al sy denke en beskouings geskoei is instede van hoofstroom-wetenskaplikes se konsensuspolitiek" te aanvaar.

Maré verwys na The Galileo Twist van Russell Grigg wat daarop wys dat Aristoteles (384-322 vC) geosentrisme verkondig het met Ptolemaeus (200 nC) wat daarop voortgebou het. In die 16de eeu kom Copernicus met sy heliosentriese teorie vorendag, gesteun deur Galileo in die 17de eeu, waardeur Aristoteles en Ptolemaeus se teorie weerlê is.

Ten spyte van Copernicus en Galileo se wetenskaplike deurbrake, is die foutiewe Aristoteliaanse siening steeds ywerig deur die akademici van die tyd aan studente oorgedra. Synde ook brood-en-bottersake vir dié akademici, is Copernicus en Galileo as belaglik voorgestel.

Wat die kerk betref, is kerkleiers sterk deur die Aristoteliaans-geosentriese universiteitsdosente beïnvloed. Kerkleiers het hulle laat oortuig dat die Bybel geosentrisme ondersteun en dat Galileo se leer teenstrydig was daarmee; daarom dreig hulle hom met marteling. So het kerkleiers die heersende nie-Christelik (Aristoteles/Ptolemaeus) wetenskaplike werklikheidsbeskouing tot dogma verhef. Kerkleiers het die Bybel vanuit dié heersende wetenskapbeskouing vertolk in plaas daarvan om die Bybel te gebruik om die beskouing van die dag te beoordeel. Hulle het die meerderheidsopinie van die dag (hoewel verkeerd) gesteun en die minderheidsmening verwerp.

Grigg sê: "Once again many Church leaders have allowed themselves to be persuaded by the 'science' taught at the universities...they are using the 'knowledge' of the (evolutionist) day to interpret Scripture, instead of using the Bible to evaluate the knowledge of the day."

Die kerk, as sigbare instelling, herhaal sy vroeëre fout met die wetenskap.