Monday 29 August 2011

Welvaartsbelasting, Tutu en "The Elders"

'n Engelse gesegde lui: "It is possible to fool some of the people all of the time, and possible to fool all the people some of the time, but it is not possible to fool all the people all of the time." Dit geld in besondere mate vir emeritus aartsbiskop Desmond Tutu; hy flous nie almal nie. In sy artikel, "Sê 'ja' vir versoening" (DB,27.08), word Fanie du Toit nog deur Tutu geflous.

Tutu is beslis iemand met 'n dubbele agenda. Hoe kan hy, as "Man van die Kleed", dinge kwytraak soos: God is "homofobies", en Hy moet Sy veroordeling van homoseksualisme bely (Juig! Tydskrif, 22.07.10); "God is clearly not a Christian" (Pelser, NG Kerk Reformeer of...Disintegreer?) en "Jesus was 'n revolusionêr. Ek is 'n revolusionêr. Elke Christen moet 'n revolusionêr wees." (Daily Telegraph,11:84).

Dit is nie algemeen bekend dat Tutu 'n lid, en voorsitter, is van die internasionale organisasie, "The Elders", bestaande uit lede soos Nelson Mandela, Kofi Annan, Jimmy Carter, Graca Machel en Martti Ahtisaari, nie. Op inisiatief van Richard Branson en Peter Gabriel word "The Elders" in Julie 2007 onder leiding van Nelson Mandela gestig om wêreldprobleme en menselyding aan te spreek. "The Elders" is reeds betrokke in lande soos Ciprus, Myanmar, Soedan, Zimbabwe en die Midde-Ooste. Nou is dit duidelik Suid-Afrika se beurt vir "The Elders"-inmenging, en dit by wyse van welvaartsbelasting vir wittes.

Alhoewel ek oor geen tasbare bewyse beskik nie, vermoed ek dat Tutu se idee van welvaartsbelasting van nêrens anders as uit "The Elders"-geledere kom nie. Vra uself egter: Wie sit agter "The Elders", en wie beheer hulle? Met die vermelde name van "The Elders"-lede en húl verbintenisse met ander internasionale organisasies, is dit nie só moeilik om te raai nie.               (ngn)

Thursday 25 August 2011

"Afrikanisering" van predikante-opleiding?

Vanuit die media (Radio Pretoria,12.08) word berig van 'n teoloog wat die standpunt huldig dat die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Pretoria moet "afrikaniseer". As 'n universiteitsfakulteit aan 'n staatsuniversiteit is dit seker te verwagte dat hierdie fakulteit in dieselfde rigting as die heersende regeringsideologie sal beweeg en nie langer, soos vanaf 1917 reeds, alleen diens aan Afrikanerkerke mag lewer nie.

Wat word bedoel met die "afrikanisering" van 'n teologiese fakulteit? Hoe sal dit binne so 'n "afrikaniseringspot" lyk? Dié deksel word reeds effens deur relevante uitsprake gelig. Ek noem enkeles.

In sy boek, "Dominee, Are You Listening to the Drums?", sê A.S.van Niekerk: "...the theologies...of Africa should also be allowed to play a role in shaping a truly South African theology...(which) aims at Black liberation, rejects Western standards and (works) for  'a totally new social order' ...(because) the desperate suffering of Blacks are to be blamed not only on the Whites but also on  ' the White man's God '."

Dr.Wiets Beukes, afgetrede Volkekundedosent aan die UP, sê dat, vir swart mense, godsdiens en politiek mekaar aanvul; afwykende Bybelvertolkings kom voor; die Westerse kerkliturgie moet by swart behoeftes aanpas, en daar is 'n onwilligheid om Christelike waardes te aanvaar.

Vroeër reeds is berig (DB,19.03.09) dat kerkleiers wat hulle te Mafikeng om Zuma geskaar het, belowe het "...om die ANC se boodskap met dieselfde ywer te versprei as waarmee hulle God se Woord verkondig."

In die tydskrif, "Juig!"(22.07.10), word berig dat Tutu "...nou al male sonder tal Bybelse konsepte soos geestelike weergeboorte, redding deur Jesus Christus alleen, sondebelydenis en straf as absolute twak afgemaak (het)".

'n Ononderhandelbare nee! vir die "afrikanisering" van teologiese opleiding. Geen wonder dat stemme reeds opgaan dat Afrikanerkerke uiteindelik 'n eie seminarie vir predikante-opleiding sal moet oprig.

Tuesday 23 August 2011

Wolf in skaapsklere

Die berig, " 'Kill the Boer' op Kovsies" (DB, 18.08), verwys. Dié ANC-gesanksioneerde haatgevulde rassistiese slagspreuk is oorbekend. Minder bekend, dalk, is die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) se volgehoue betrokkenheid by die ANC-revolusie. So word berig dat "Sasco, die Jong Kommuniste-liga en die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke in die Vrystaat honderde van hulle lede met busse na die kampus aangery het."

Die SARK in bondgenootskap met kommuniste? Ja, hulle streef dieselfde doel na. Ook die NG Kerk is 'n lid van die SARK en twee van sy lidmate in hoë posisies daarby betrokke: Dr. Kobus Gerber, algemene sekretaris van die NG Kerk, is vise-president van die SARK en me. Rinel Hugo, moderatuurslid van die algemene sinode, 'n lid van die SARK nasionale uitvoerende raad.

Gegrond op inligting verskaf deur prof. J.S.Malan, skryf 'n Nederlander soos volg: "Een van de meest schokkende ontwikkelingen in de oecumene in Zuid-Afrika is de aanmoediging van voorouderaanbidding en andere heidense rituelen in de kerken door de Zuid-Afrikaanse Raad van Kerken." "Beeld" van 27.09.07 het berig dat ds. Andre Bartlett, NG-predikant en voorsitter van die Gautangse tak van die SARK, 'n groep ANC-lede na Suid-Tanzanië vergesel het om die geeste van gestorwe ANC-vryheidsvegters  vandaar "huis toe te bring".

Op sy beurt is die SARK lid van die internasionale "moederverleier" van kerke, die Wêreldraad van Kerke (WRK), waarvan prof. A.M. Murray vroeër reeds gesê het dat dit 'n "kommunistiese frontorganisasie" is. In 1977 sê ook wyle dr.Koot Vorster dat "geen woord van troos of steun gaan (vanaf die WRK) uit na die Christene wat onder die Rooi Draak uitgedelg word nie." Beide die SARK (nasionaal) en die WRK (internasionaal) werk saam om "in die naam van God ook alle verskeidenheid weg te vee".

Beide WRK en SARK is wolwe in skaapsklere.

Wednesday 17 August 2011

Gebrek aan insig rede vir kritiek

Om nie op Kupido se "Swartes kreun nog elke dag onder juk" (DB,17.08) te antwoord nie, is om sy skewe mening te sanksioneer. Kupido gebruik Kadalie se artikel (DB,16.08) om daarmee aan sy wrewel, vooroordeel en ongegronde kritiek teen wittes uiting te gee, hulle wat nog grootliks daarvoor sorg dat Suid-Afrika nie in hongersnood gedompel word nie terwyl dié voedselproduseerders stelselmatig uitgemoor word.

Kadalie sê: "Die aandrang op welvaartsbelasting vir wittes is ten eerste rassisties en ten tweede onverantwoordelik..." Sou ék 'n verband lê tussen Kupido se standpunt en rassisme, sal ek sekerlik van rassisme beskuldig word (omdat ek wit is), maar nou het Kadalie dit gesê. Dit gaan ten diepste hier oor welvaart en die verwerwing (rykdom) of die nie-verwerwing (armoede) daarvan.

Die verskil tussen ryk en arm volkere is nie hoe oud 'n volk is nie. Indië en Egipte is elk meer as 2000 jaar oud en bly steeds relatief arm. Daarteenoor is lande soos Kanada, Australië en Nieu-Zeeland veel jonger lande wat ontwikkeld en welvarend is. Rykdom berus ook nie net op natuurlike hulpbronne nie. Japan is 'n land met 80% bergagtige gebied wat grondstowwe invoer en verwerk wat van hom die tweede grootste ekonomie ter wêreld maak. Wat maak dus die verskil?

Die antwoord lê in die ingesteldhede van 'n volk wat oor eeue heen deur opvoeding en kultuur vasgelê is tot volksgewoontes. Welvarende volke word gekenmerk deur werksetiek, integriteit, verantwoordelikheid, respek vir wette en regulasies, liefde vir werk, spaarsamigheid en belegging, die wil tot produktiwiteit en stiptelikheid. Arm volkere is arm omdat hierdie beginsels nie deel van hulle bestaan vorm nie.

Kupido, pas hierdie welvaartsbeginsels toe op die rasseverskeidenheid in ons land, en kyk of jy nie lig begin sien nie. Kadalie beskik oor sodanige insigte waarvan Kupido nog nie eers kon droom nie.

Sunday 14 August 2011

Geestelike verval ook kenmerk van SA

'n Britse dagblad, die "Daily Mail" (29.07), berig dat talle kinders by skooltoetrede nie hul eie name ken nie, omdat ouers nie tuis met hulle praat nie. Dié kinders se kommunikasievaardighede is uiters swak en word aan ouers se nie-belangstelling om met hul kinders te speel, praat of storielees toegeskryf. Ook die TV en internet dra by tot dié agteruitgaande ouer-kind kommunikasie, rampspoedig vir suksesvolle onderrig-leer.

As kinders nie eers hul eie naam ken nie, hoe sal hulle die Naam ken van dié Een met wie hulle ouers nie meer kommunikeer nie en wat deur Sinterklaas verdring is? Hierdie vraag tref met ontsteltenis by die aanskoue van die mensemassa in hul duisendtalle op die strate, pleine en lang toue by besienswaardighede in stede soos London, Parys en Amsterdam. Dit herinner my aan die boektitel, "Der Untergang des Abendlandes" van Oswald Spengler, waaruit ons Duitse skoolhoof, Johann Ulrich Hahn, ons in die laat vyftigerjare van die vorige eeu grepe meegedeel het tydens ons Wiskundeperiodes.

Robert Pigott, 'n godsdiens verslaggewer, berig uit Amsterdam dat die Nederlanders Christenwees "herbedink" vir 'n twyfelende wêreld. Hy verwys na ds. Klaas Hendrikse wat deel is van die Protestantse Kerk van Nederland (PKN) wat sê: "Maak die meeste van die aardse lewe, want dit is die enigste lewe. Ek glo nie in 'n na-aardse lewe nie." Hy glo ook nie in God as 'n Bo-natuurlike Wese nie. Die Jesusverhaal is bloot 'n mite, en so ook Sy opstanding en hemelvaart. Een uit elke ses leraars van die PKN is òf agnosties òf ateïsties. God is net 'n "somethingism", en Nederland die laboratorium vir die "nuwe Christelikheid".

Maar wat van my eie land? Dan besef ek dat die toenemende korrupsie, verkragting, misdaad en moord simptome is van ons eie geestelike verduistering, agteruitgang en verval.

Friday 5 August 2011

Wat ons saai, sal ons oes

Anne Graham, dogter van die bekende evangelis, dr.Billy Graham, het ná die "Twin Tower"-terreuraanslag van 11 September 2001 'n joernalis se vraag waarom God dan kon toelaat dat so iets gebeur, soos volg beantwoord: Baie jare al sê ons vir God om uit ons skole, ons regering en ons persoonlike lewens pad te gee. Bybellees en gebede tot God is in skole verbied. Lyfstraf is afgeskaf omdat dr.Benjamin Spock so gesê het. Skole weier om wandragtiges te dissiplineer want dit beteken negatiewe publisiteit vir 'n skool. Aborsies op skoolmeisies, sonder ouers se medewete, word uitgevoer. Skole voorsien kondome aan skoolseuns ook sonder ouers se medewete.

Pornografiese tydskrifte verskyn onder die voorwendsel van bewondering vir die vroulike liggaam. Hierop volg ook kinderpornografie. Die vermaaklikheidsbedryf voorsien naakfilms asook musiek wat dwelms, verkragting, moord, selfmoord en satanisme propageer. Die koerante word geglo, maar nie die Bybel nie.

Skielik verstaan ons nie waarom kinders gewetenloos is, nie tussen reg en verkeerd kan onderskei en vreemdelinge, hul klasmaats en hulself vermoor nie.

Anne Graham sluit deur te sê: Wat ons saai, sal ons oes.

Voorgemelde is ook ons voorland indien persone soos George Claassen, Hans Pietersen en dr. Jurie van den Heever hul sin met die onderwys van ons kinders kan kry. Claassen lewer kommentaar, "Ligpunt in Afrikaners se dikwels donker denkwêreld" (DB,01.08), op Pietersen se boek, "Die vrese van ons vaders:Geloof, onderrig en die Afrikanerkind". Claassen laat sy ontsteltenis blyk dat Afrikanerkinders so onkundig is oor die "waarheid van wetenskaplike bevindings" (lees: dat hulle die evolusieleer verwerp). Voorwoordskrywer, Jurie van den Heever, sê: "...dat jy nie in 'n god hoef te glo nie."

Ons kinders op die altaar van hierdie denke offer en hulle oopoë hel toe stuur? Nog nooit!

Anne Graham is reg: Wat ons saai, sal ons oes.