Monday 28 November 2016

Plan bring oplossing vir geloofsonmin

JT (DB,26.11) sê my skrywe (DB,18.11) bied "geen praktiese oplossing" vir sy probleem met geloof wat onmin in die wêreld veroorsaak nie. Hy sê: "Daar is geen oplossing nie".

Vir JT is 'n oplossing slegs moontlik "as alle gelowe uitsterf". So iets is egter onmoontlik. Waarom? Geloof is 'n inherente deel van menswees, mense synde tipies gelowende wesens wie se geloof kan setel in enigiets sigbaar en/of onsigbaar soos geld, materiële besittings, homself, verstand, wetenskap of godhede soos voorvaders, gode van verskillende geloofsoortuigings asook die Drieënige God van die Christendom. Sonder geloof, waarin ookal gesetel, is geen mens volledig mens nie.

Ek verskil van JT se "geen oplossing nie". Hoewel nie onmiddellik nie, is daar tog 'n toekomstige oplossing. Ter stawing hiervan, lig ek my stelling vanuit 'n christelike konteks toe. Kortliks; daar bestaan 'n Goddelike Plan met die skepping, die aarde en -bewoners waaromtrent geloof/ongeloof in dié Plan   -   soos in die Bybel vervat   -   van deurslaggewende belang is. Wat ook vandag in die wêreld aan't gebeur is, is juis die profetiese ontvouing van dié Plan.

Ons lewe tans tussen Christus se eerste koms en Sy wederkoms. Met Sy wederkoms bring Hy die "praktiese oplossing" waarna JT soek   -   nie vroeër nie, ook nie later nie; ook net Hy bring dié oplossing, en geen sterflike mens nie. Laat ons ons dus nie verknies oor 'n menslik onhaalbare oplossing vir JT se wêreldwye onminveroorsakende geloofsprobleem nie, maar, soos voorafgegane geslagte, ook gelowend geduldig daarop wag.





Sunday 20 November 2016

Besin deeglik oor "my kerk"-aanspraak

Telkens wanneer ek skrywers se verwysing na "my kerk" lees   -   soos onlangs weer in ds.G.Engelbrecht se: "Dit is 'n donker dag vir my kerk...", en Ontevrede NG Lidmaat se: "Los my kerk uit" (DB,15:11)   -   laat dit my skepties wonder oor die werklike bedoeling daarmee. Is dit dalk wat Sigmund Freud 'n "misvoltreffer" noem, 'n misskrywe waardeur die waarheid van die onderbewuste tot openbaring kom?

Hoewel dalk nie so bedoel nie, dui die "my" in die "my kerk"-aanspraak op besitreg. Is diegene wat van "my kerk" praat dalk geneig om te vergeet wat die kerk in wese is   -   volgens Kolossense 1:18 die Liggaam van Christus   -   en dat Hy daarom die enigste is wat van "My kerk" kan praat?

God kan met 'n afgod vervang word. Selfs die kerk kan tot afgod gemaak word soos wat Elizabeth Walters (DB,15.11) daaromtrent opmerk: "Mense moet ophou om van die kerk 'n afgod te maak. Kyk by hierdie afgod verby en sien die ware God...".

Kerklike verafgoding vind die maklikste plaas in die valse kerk   -   kenmerke waarvan soos dat dié kerk meer mag en gesag aan homself toeskryf as aan die Bybel, homself nie onderwerp aan die juk van Christus nie, en sigself meer op mense grondves as op Christus   -   soos duidelik deur artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) uiteengesit. Dié artikel maak dit moontlik om tussen die ware en die valse kerk te onderskei.

'n Voorbeeld wat ons onderskeiding verg: Tydens 'n RSG-uitsending op Sondag 20.11 beweer dr.Chris Jones, verbonde aan die US se teologiese fakulteit, dat dit toelaatbaar en nié verkeerd is om God ook as vrou en moeder te aanbid nie; dit terwyl Jesus self konsekwent na God as Sy Vader verwys het soos, onder meer: "So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is..." (Mat.6:9) Wie is reg: Jones of Jesus, volgens die Bybel en die NGB?

Vanweë die vertroebelende implikasies daarvan, verg die aanspraak op "my kerk" deeglike besinning eer dit gebruik word. 











Monday 14 November 2016

Kerk staan of val volgens Skrifbeskouing

As gewone kerklidmaat is ek bewus van die omvangryke aanslag, ook vanuit kerkgeledere, op die Bybel as synde die onfeilbare en onveranderlike Woord van God. Toenemende in felheid, gaan dié aanslag verder terug as slegs gister en eergister.

Alleen met die behoud van die suiwerheid van die Woord sal ook die kerk   -   daarop gefundeer   - as suiwere instelling kan voortbestaan. Daarsonder gaan die karakter van ware kerkwees verlore soos te onderskei van die valse kerk; uiteengesit in artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), een van die bestaande belydenisskrifte van die NG Kerk.

Ek lees van twee teenoorstaande interpretasies van die Bybel: die meganiese vertolking wat die Bybel erken as Goddelik geïnspireerd en geskryf onder die gesagsvolle leiding van Sy Gees vir alle mense van alle tye. Daarteenoor is daar die organiese interpretasie wat beweer dat die Bybel bloot 'n menslike geskrif is, deur mense geskryf vir die mense van 'n bepaalde tyd, en eintlik maar net 'n veranderbare relaas van kultuur-historiese gebeure is.

Binne laasgenoemde organiese Skrifvertolking is twee fronte te onderskei waarop Bybelaanvalle plaasvind: korruptering van die Bybel, deur opeenvolgende vertalings, en diskreditering van die Bybel, deur allerlei onbybelse interpretasies daarvan. Hierin moet die rol van kweekskole nie onderskat word nie.

Die NG Kerk se 2015-besluit oor gaylidmate en -predikante binne dié kerk en die jongste 2016-besluit daaromtrent, is 'n duidelike weerspieëling van die spanning- en verdeeldheidskeppende aanwesigheid van beide die meganiese en organiese Skrifbeskouings binne dié kerk wat mekaar nie kan vind nie. Op die lange duur sal dié twee Skrifbeskouings nie onder dieselfde kerkdak kan voortbestaan nie, en sal hul paaie móét skei ter wille van die behoud van kerksuiwerheid soos beoordeel volgens artikel 29 van die NGB.

Sy Skrifbeskouing, en nie die SA grondwet nie, gaan bepaal óf die NG Kerk gaan bly staan of val.












Friday 4 November 2016

Sintesering van Afrika en Europa is nodig

Indien ek 'n hond op my werf aanhou met die doel om my huismense en eiendom te help beveilig, maar hy terroriseer die bure en/of byt mense op straat, moet ek dié wanfunksionerende waghond óf vasketting óf van hom ontslae raak.

Ons geagte staatspresident is daar om oor die welsyn van al ons landsburgers en hul eiendom te waak. Sy gesagsbeweegruimte is afgebaken deur die grondwet waartoe hy, eedsgewys, verbind is. Wanneer hy dus sy perke wanfunksionerend tot nadeel van die nasionale huishouding oorskry, moet daar ook van hom ontslae geraak word. So voor die hand liggend en eenvoudig is dit. Maar waarom gebeur dit nie so geredelik nie?

In sy "SA finally African, all thanks to Zuma" (Sowetan,09.05), werp Prince Mashele lig hierop. Volgens hom bring Zuma die ware Afrikakarakter na vore. Dié karakter erken nié 'n grondwetlike regering en die oppergesag van die reg nie. Leiers word nie verantwoordbaar gehou nie, en wette word selfs gewysig om hulle te beskerm. 'n Geleerde en ingeligte bevolking is moeiliker regeerbaar; daarom is onderwys nie 'n hoë prioriteit nie. Die aandrang om dekolonialisering en onttrekking aan die internasionale geregshof is voorbeelde van teruggryping na die tipiese Afrika wyse van doen. Ook selfverryking van die politieke elite deur gewetenlose magmonopolisering is deel van dié karakter.

Vir die huidige gun ons Zuma sy danspassies in die hof   -   soos lank gelede reeds deur homself versoek   -   op die dansmaat van sy geliefde "Bring my masjiengeweer". Vir die toekoms egter, hoe onmoontlik en uitdagend dit ook al mag voorkom, benodig ons 'n geslaagde sintesering van swart Afrika (tese) en wit Europa (antitese) vir die vreedsame en voorspoedige voortbestaan van SA en al sy inwoners.