Friday 26 February 2016

Verskaf bewyse of vra verskoning

Ek reageer op Petrus se skrywe (DB,26.02). Daarin verwys hy na my "vermaning...aan Rina", en eindig hy daarmee dat dit "uiters onsmaaklik (is)...om dié wat daarteen beswaar maak te kritiseer."

Indien Petrus my skrywe (DB,22.02) behoorlik sou lees, sal hy sien dat ek op Rina se ongesubstansieerde beskuldiging van álle dokters   -   en nie net "ene Dokter"   -   as synde siekefondsmelkers en geldgierige pasiëntuitbuiters te wees, gereageer het. My standpunt sentreer rondom die openbare verdagmaking van álle dokters op 'n veralgemenende wyse, en dit bly steeds my standpunt. Oor siekefondse het ek my nie uitgelaat nie   -  slegs suiwer oor die dokteraanklagte.

Die mediese professie verteenwoordig 'n konteks met eie spelreëls. Is Petrus en Rina ten volle op die hoogte daarvan? Het hulle 'n analise gemaak van die samestelling van dokters se goedgekeurde tariewe en die toelaatbaarheid van tariefheffings? Indien wel, as daar dan diegene is wat dié professie se spelreëls oortree, waarom hulle dan nie identifiseer en die regte kanale volg om hulle aan te kla nie, maar staak tog net die onaanvaarbare verdagmaking van die openbare beeld van álle dokters.

Petrus en Rina se werkswyse herinner aan die leerkrag met 'n klas van veertig leerlinge waarvan een leerling se geld verdwyn het, en nou   -   omdat die leerkrag planloos is, óf nie kan óf wil nie   -   al veertig leerlinge straf. Dis 'n onvergeeflike onreg; presies wat Rina en Petrus met dokters doen.

Bewaar SA tog daarvan dat iewers in die toekoms 'n "Doctors Must Fall"-beweging aan die gang sal kom. Sal ons juig as ons dokters landuit begin beweeg? Dit is nou vir Petrus en Rina om te bewys dat óf álle dokters aan geldgierigheid skuldig is, óf die onskuldiges om verskoning vra. Soos die Engelssprekendes sê: "I rest my case."








Monday 22 February 2016

De Klerk is korrek oor SA-verlede

Vergelyking is inherent aan die mens. Besoeke aan Stonehenge (Engeland), Knossus (Kreta), Colosseum (Italië) en Porta Nigra (Duitsland)   -   om net enkele voorbeelde van vele te noem   -   bring jou, deur waarneming en vergelyking, tot die besef van SA se ontwikkelingsagterstand soos oor eeue heen.

Wes-Europese kultuurinhoude soos argitektuur, beeldhou-  en skilderkuns, musiek, letterkunde, dramas, fisika, wiskunde, sterrekunde, geneeskunde, voedselverbouing, en so meer, is in die 17de eeu na SA oorgeplant.

Die inheemses het mettertyd, enersyds, veel gebaat by dié Europese kultuurgoedere, dog, andersyds, aan eie kultuur ingeboet. In 'n poging om laasgenoemde te herstel, vind ons vandag vele voorbeelde   -   soos die "Must Fall"-beweging   -   van die oorname en uitwissing van die wit kultuur. Daar is toenemende ongelukkigheid onder wittes oor die nie-erkenning en verstoting van hul bydrae tot die opbou van SA soos deur die ANC in 1994 oorgeneem.

Teen hierdie agtergrond sê mnr. F.W.de Klerk (DB,20.02) in Bogota, Colombia: "Een van die grootste mislukkings van die nuwe Suid-Afrika is die feit dat daar nooit konsensus bereik is oor die land se verlede nie...Dit is byna belangriker om oor die verlede te onderhandel as wat dit is om oor die toekoms te onderhandel."

Wat tans, volgens De Klerk, gebeur, is dat die historiese weergawe van die ANC en swartes se struggle aan die res van die samelewing opgedwing word. Hieromtrent is hy absoluut korrek. Geld regstellende aksie, billikheidshalwe, dan nie ook daarvoor nie?              (ngn)










Friday 19 February 2016

Rina 'n verskoning aan dokters verskuldig

Rina (DB,11.02) maak die stelling: "Pasiënte en siekefondse word gemelk", en vra dan: is dokters se "werk deesdae net 'n beroep om geld te maak?" Sedert Rina se stelling en suggestiewe vraag, het 'n debat op gang gekom. Met Alexa (DB,18.02) wat sê: "Dis tyd dat die geldhonger en arrogante artse op hul plek gesit word", word die grense van aanvaarbaarheid daarmee oorskrei.

In antwoord op Rina, sê Dokter Ook Maar Mens (DB,13.02) "...ek is 'n dokter...met 'n roeping in my hart". Sy selferkende roepingsbewustheid is van 'n hoër etiese orde as Rina se beroepsgedagte. In 'n dalende volgorde van arbeidsetos kan die begrip "werk" (Eng. :job) onderaan daaraan toegevoeg word. Alle professies word gekenmerk deur beoefenaars wat   -   volgens innerlike ingesteldheid   -   in dié etos-dalende kategorieë van roeping, beroep en werk (job) geplaas kan word. Dit geld ook ander professies; dus ook die mediese professie.

Ongelukkig tref Rina nie hierdie onderskeid nie, maar skiet veralgemenend vanaf die heup in die bondel   -   en kwe(t)s sodoende die onskuldiges   -   op 'n lukraak mogge-treffe grondslag ten einde die kind met badwater en al uit te gooi. Haar veralgemenende stelling diskrimineer onbillik teen minstens sommige dokters, terwyl sy ten opsigte van ander moontlik reg mag wees.

Ek beskou dit as 'n ernstige oordeelsfout om lede van 'n noodsaaklike, onmisbare en gerespekteerde professie   -   of enige ander professie   -   te beskuldig sonder deeglike vergewissing van, en verskaffing van, stawende feite ter ondersteuning van sodanige aantygings. Indien daar wel skuldiges is, ontmasker hulle dan, maar 'n veralgemenende beskuldiging is onaanvaarbaar.

Op grond van haar onbewese stelling, meen ek dat Rina 'n verskoning aan dokters verskuldig is.










Monday 15 February 2016

ANC vertrap minderheidsregte skaamteloos

Dat 'n tradisioneel aarts-sosialisties eenparty ingestelde ANC oornag tot 'n veelparty demokrasie bekeer kan word, berus op uiters naïewe denke. "A leopard cannot change its spots", het Bennie Alexander/Khoisan X (PAC) vroeër van wittes gesê. Dit geld in oortreffende trap ook die magsbeluste ANC.

ANC-vriendskapsbande met lande soos Rusland, China en Kuba   -   en sy rugkering op wes-europese demokrasieë wat hom in sy bevrydingstryd gesteun het   -   lewer bewys van sy afkeer van die demokrasie, en voorkeur vir sy internasionale sosialisties-kommunistiese geesgenote. Dit is 'n duidelike aanduiding van die soort ANC-toekoms waarheen SA neig.

'n Belangrike bydraende faktor tot ANC-monopolie oor minderheidsgroepe se toekoms, is gesetel in die NP-hoofargitek, FW de Klerk, en sy nuwe SA argitekspan se ontwerp van "magsdeling" en "wigte en teenwigte"  -   as illusionêre fondamentstene waarop minderheidsregte gevestig sou wees  -   wat soos 'n kaartehuis ineen gestort het.

As onderhandelingsvennoot en medetoesighouer oor die onderhandelde nuwe SA-bouprojek, onttrek dié Nobelprysbekroonde hom aan die regering van nasionale eenheid (RNE), laat minderheidsgroepe daarmee kwesbaar in die steek, en sodoende word die konstruksie van die nuwe SA uitsluitlik in die hande van die sosialisties-kommunistiese ANC, met weinig gevoel vir minderhede, geplaas. Daarmee is die toekoms van minderheidsgroepe volledig aan die magsmonopolistiese ANC uitgelewer.

Ongeag die regte wat die grondwet aan minderhede toeken, steur die ANC hom nie daaraan nie.'n Goeie voorbeeld is die skaamtelose vertrapping van taalregte binne die onderwysstelsel op die primêre, sekondêre én tersiêre vlakke daarvan. Lede van verontregte minderhede moet daarom enige, hoegenaamd bestaande, steun aan die ANC onttrek.            (ngn)











Wednesday 10 February 2016

Vals beskuldigings bevorder rassefobie

'n Fobie, volgens die HAT, is 'n onnatuurlike of sieklike vrees, soos kloustrofobie (engtevrees) en hidrofobie (watervrees). Word SA tans gekenmerk deur 'n ontwikkelende rassefobie   -   veral onder, en ten koste van, wittes   -   vanweë die toenemend intimiderend teisterende beskuldigings van rassisme teen hulle? (Rassefobie, as vrees vir valse beskuldigings van rassisme, is nie te verwar met afrofobie of xenofobie nie, maar 'n skuldgevoelwekkende strategie gerig op die kapitulering van wittes.)

'n Voorbeeld hiervan is die twee US-damestudente wat op uiters omstrede en ongevoelige wyse van rassisme   -   "blackfacing"   -   beskuldig word. 

In reaksie op die US se summiere skorsing van dié twee studente vra adv.T.du Preez van Menlopark in sy skrywe; "Is pers nou swart by die US?" : "Waar is die audi alteram partem-reël wat beteken: hoor die ander kant se weergawe"? Dié regsgeleerde beveel aan dat die US om 'n verskoning gedagvaar word; skadevergoeding geëis word vir pyn, lyding en naamskending, asook vir toekomstige verlies van werkgeleenthede omdat die US hulle lewenslank gekoppel het aan (rassistiese) "blackfacing".

Wat ook al die uitkoms van dié voorval gaan wees, is die skade reeds verrig en wel in die vorm van permanente psigiese letsels vanweë die valse brandmerking van dié studente as rassiste. Dit is die vrees vir blootstelling aan die uitkringende valse beskuldigings van rassisme wat rassefobie by wittes bevorder.






Monday 8 February 2016

Beskerm Afrikaans teen US-taalkremasie

Die ANC-getransformeerde besluitnemingskamers van voorheen Afrikaanstalige universiteite is omskep tot taalkrematoriums waarbinne die verassing van die Afrikaanse taal reeds geskied het, en steeds geskied. Ook binne die US is daar diegene wat met groot ongeduld nie kan wag dat dié taal 'n natuurlike dood moet sterf nie, maar dit, steeds lewend, tot as wil verbrand. Met dié taalmoeder se  -bors tot as verbrand, word ons kinders verplig om aan die taalbors van 'n vreemde  -moeder te drink.

Die afgelope week het daar tegelyk interessante én insiggewende artikels van Leopold Scholtz (DB,04.02), prof.Christo Viljoen (DB,04.02) en Max du Preez (DB,06.02) oor die US-taaldebat verskyn.

Scholtz sê Lovelyn Nwadeyi   -   doktorale US-student in politieke wetenskap en afkomstig van Nigerië   -   het tydens die Stellenbosse konvokasievergadering " 'n hartstogtelike pleidooi gelewer dat wit mense met 'n oop gemoed na swart mense moet luister." Scholtz vra: "Moet swart mense nie ook na wit mense, ja, selfs na Afrikaners, luister nie?...Ons wil oorleef. Nie slegs as individue nie, maar as volk (Scholtz kursivering)...want wanneer Afrikaans sy hoër funksies soos akademiese taal verloor...lui mettertyd die doodsklok."

Prof.Viljoen wys op die stryd tussen die histories georiënteerde aansprake voortvloeiend uit die erflikheidselemente van die US, en die aansprake van die kontemporêre omgewing. Kompromieë tussen dié aansprake moet gevind word. Hierin vra Afrikaans nie "spesiale behandeling nie, maar net gelykberegtiging."

Du Preez sê: "Skreiende onkunde oor Suid-Afrika se geskiedenis...geld ook die geskiedenis van Afrikaans." Hy haal prof.J.J.Smith aan wat beweer dat Afrikaans reeds rondom 1750 "ongetwyfeld in Stellenbosch, Paarl en Malmesbury" sy moderne vorm gekry het. Hoe tragies sal die toekomstige verwyt nie teen ons geslag wees indien dié Wes-Kaapse kraamkamer van ons taal ook die sterfkamer daarvan moet word.








Monday 1 February 2016

Enkele oorwegings vir 'n SA rassismegesprek

By verskeie geleenthede reeds verneem ons van die dringende noodsaaklikheid van 'n nasionale gesprek oor rassisme. Rasse praat ván mekaar; nie mét mekaar nie   -   die probleem bly, die oplossing bly uit. Is eerlike saamsoeke na 'n oplossing elkeen se burgerplig, of net om by die selfaangestelde politiek korrektes se rasbeoordelende kommentare in te meng?

Tydens so 'n nasionale gesprek sou die volgende oorwegings, van vele meer belangrikes, die aandag kon geniet; 1. Binne alle rasse, sonder uitsondering, is indiwidue wat hulle skuldig maak aan rassisme. Emosioneel belaaide beskuldigings bied geen oplossing nie. 2. Daar bestaan nie net 'n enkele ras   -   die menslike ras   -   soos wat ideoloë ons wil wysmaak nie, maar wel 'n veelheid van rasse. Rasse en  -verskille is 'n werklikheid. Erken en respekteer dit.

3. Vanweë die kompleksiteit van die rassismekonsep kan dit nie simplisties benader word nie. 4. Mense is nie mekaar se gelykes nie. Erken die universele beginsel van menslike ongelykheid-in-gelykwaardigheid. 5. Staak die ongrondwetlike verabsolutering van die beginsel van eenheid-in-verskeidenheid. Herstel dié balans deur ook die verskeidenheid-in-eenheid beginsel erkennend te implementeer. 6. Kom tot 'n rasioneel ooreengekome definisie of omskrywing van rassisme sodat Jan en Alleman dit as riglyn self kan aanwend.

7. Vanweë inherent ingeskape rasverskille is oplossingsoeke in nierassigheid futiel. Laasgenoemde het sy plek, maar voortgesette "krapperigheid", soos dit in sommige sportsoorte en skole voorkom, bied nie die finale oplossing vir rassisme nie. 8. Erken en respekteer die bestaan van rasgrense. 'n Woord of sêding binne die eie raskonteks (intrarassig) wat nie opskudding sal veroorsaak nie, mag, sodra oor 'n vreemde rasgrens (interrassig) gebruik, wel vure aansteek. Wees bedag op oorgrensvertolking. 9. Elke ras bring 'n raseie kultuur voort. Veelrassige SA is ook 'n multikulturele menselandskap. Rassisme hou daarom ook negatiewe implikasies in vir enige ras se kultuur.

Deelnemersgesindhede en 'n analities waarheidsoekende denkingesteldheid is twee noodsaaklike voorwaardes vir so 'n gesprek.                      (ngn)