Monday 24 August 2020

In antwoord op Lampies se BLM-vrae




Lampies, in "Help my om BLM te verstaan" (22.08), vra etlike vrae oor dié beweging. Antwoorde daarop gaan merkbaar verskil.

BLM is 'n rasgebaseerde manifestasie van die kontemporêr wereldwye revolusionêre tydsgees. Komende in hoofsaak uit 'n swart rassekonteks, appelleer dit veral tot die werklose gefrustreerde jeug met ook rasse-  en geregsbotsings as oënskynlike oorsaak.

BLM is instrumenteel meewerkend tot die aftakeling en vernietiging van die ou/bestaande samelewingsorde met die doel van die vestiging van die sogenaamde Nuwe Wêreldorde (NWO). Agter die skerms word saamgewerk met groeperinge met dieselfde doel.

Die NWO moet noodwendig tot stand kom deur revolusie,vandaar die BLM se revolusionêre karakter. Vandalisering van beelde en standbeelde simboliseer die vernietigende uitwissing  van die ou/bestaande orde en invoering van die nuwe.

As rasgebaseerde beweging gaan die BLM  -polariserend te werk met 'n sterk anti-wit sentiment. Die kniebuiging/-val simboliseer instemmende ondergeskikstelling aan die gebalde vuis as simbool van uitdaging van die bestaande gesagsorde.

Die BLM-beweging behaal groot sukses met die strategie van verdeel-en-heers waaromtrent publisiteit baie daartoe bydra. Voorbeelde hiervan is die dilemma waarin SA Rugby en SA Krieket hulself onder druk van BLM bevind.

Ook die ANC ry die BLM-golf met gretige genoegdoening. Die Minister van Sport reageer op SA-spelers, wat oorsee nie aan die BLM-knieval wou meedoen nie, op 'n inmengende wyse wat 'n mens eerder van 'n dikdatoriale Vladimir Putin sou verwag.

Die ANC, lank reeds ademende 'n revolusionêre gees met sy NDR, se in vooruitsig gestelde "nuwe normaal" vind dan ook direkte aansluiting by BLM-ideale.





Wednesday 19 August 2020

Ommekeer in Skrifbeskouing skaad NG Kerk




Die Algemene Sinode (2019) van die NG Kerk se aanvaarding van verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag geniet volgehoue openbare publisiteit. So, vanwaar dié besluit?

My eie mening, en ek het een, hou ek op hierdie platform egter vir myself vanweë die omstredenheid van dié besluit. My kommentaar rus derhalwe op die kontroleerbaar feitelike.

In hoofsaak is dié besluit terug te voer na 'n omgekeerde (getransformeerde) Skrifbeskouing. Voorafgaande aan die afgelope vyftig tot sestig jaar, was die algemeen aanvaarde Skrifbeskouing in dié kerk dat die Bybel geskryf is onder die direkte leiding van die Heilige Gees as die geïnspireerde Woord van God.

Die heersend omgekeerde Bybelskouing verskil skerp van die voorgemelde. Die Bybel word vandag gesien bloot as 'n kultuurhistoriese geskrif, deur mense geskryf vir 'n bepaalde tydvak, en gekenmerk deur 'n "agterhaalde plataarde wêreldbeskouing", onbetroubaar vir vandag en daarom veranderbaar.

Dié ommekeer het tot gevolg dat geloofsekerheid en absolute waarheid vervang word deur verstandsgebaseerde historiese kritiek teen die Bybel, volgens 'n Skrifkritiese benadering, waarvolgens die Skrif by die gees van die tyd aangepas word.

Die vroeëre siening van die huwelik as Goddelike instelling as verbintenis tussen 'n man en vrou, word omgekeer na die aanvaarding van selfdegeslag huwelike weerspieëlend van die tydsgees. Vandaar die NG Kerk se noodsaak aan 'n nuwe huweliksformulier.

Vroeëre NG Kerkbesluite, Skrifbeskoulik-omgekeerd gebaseer, het tot grootskaalse ongelukkigheid, spanning en onmin gelei sodat duisende lidmate dié kerk reeds verlaat het.En die jongste besluit, waartoe gaan dit lei? Skrifbeskoulike verskille blyk onoorkomelik te wees om intern bygelê te kan word.                    (ngn)







Wednesday 5 August 2020

Boerderygemeenskap kry nie erkenning nie





Thoko Didiza, minister van landbou, se veroordeling van die Hartswatermoorde word verwelkom. Nou moet pres Ramaphosa ook net erken dat sy 2018-uitlating in die buiteland, dat hy van geen plaasmoorde weet nie, 'n onjuiste vergissing was. Dit behoort veel by te dra tot die verbetering van verhoudinge tussen boerderygemeenskap en staat.

Ons almal is afhanklik van, en het belang by, die boere en plaaswerkers vir bestendige voedselvoorsiening, dog hulle word vir te lank reeds deur die ANC gekasty.

Die behandeling wat boeregemeenskappe as noodsaaklike voedselverbouers van die ANC-regering ontvang, sluit, onder meer, die volgende in: 'n onsekere en verwarrende landboubeleid, dreigende onteiening sonder vergoeding, voorkeur finansiële hulp eerder aan opkomende boere as kommersiële boere, poging tot sentralisering van boere se voedselhulp om onder ANC-vlag versprei te word, asook verdere destabilisering van dié landbou-ekonomiese sektor.

Die ANC misgis hom indien hy dink ons almal voer 'n doofstomblinde bestaan en nie weet wié hulle aan drank vergryp sodat hospitaalbeddens onnodig daardeur beset word nie. Die ANC aarsel nie om ook die onskuldiges te straf waaronder, veral, drank-  en wynprodusente en  -uitvoerders.

Tragies-ironies is dit veral Afrikaanse boere, die nasate van volksgenote wat  -  vanweë wan-  en ondervoeding in hul duisende in Britse konsentrasieklampe gesterf het  -  vandag vir die ganse bevolking in die voorste linie teen voedselgebrek moet veg.

Maar, toemaar, ook Josef, 'n Israeliet, het vir sewe "maer jare" alle Egiptenare van kos voorsien. Enige verskil? Hy het erkenning gekry. Waarom nie ook ons boere nie?