Tuesday 21 March 2017

Malende langsaam sal die wiel weer draai

Dit is vandag Menseregtedag, en moeilik te oortuig dat waarheidpraat een van dié regte is. Hiervan is die Zille-debakel 'n sprekende voorbeeld (DB,17.03). Benewens die ANC en EFF eis ook swart DA-leiers haar kop sodat sy Julius Caesar sou kon nasê: "Et tu, Brute?"

Indien ons dan nie mag verwys na die vooruitgang en welvaart gekenmerk deur die koms van Europese koloniste na Suid-Afrika, en ook elders in Afrika nie, dan word ons gedwing om te vra: vanwaar dan dié dinge waarop Zille in haar twiet gewys het   -   vanuit Afrika self? Dié werklikheid is te pynlik selfs vir politiek korrekte lakeie soos Max du Preez (DB,21.03) om te erken.

'n Anti-wit sentiment, lank reeds met ons, is toenemend aan die opbou. Politiek korrektheid en gebrek aan MRK-optrede bevorder dié sentiment. Onlangs nog bid Esethu Ha-sane oor die droë Wes-Kaap: "Asseblief, Here, ons het swart mense daar, kies 'n ander manier om wit mense te straf" (DB,01.03), terwyl Duduzile Manana, ANC-LP, tydens die parlementêre debat oor plaasaanvalle en  -moorde onbeskaaamd uitroep: "Bury them alive!", verwysende na wit boere. En dit is aanvaarbaar en vereis zero optrede?

Hierdie is die realiteite waarmee wittes gekonfronteer word: traagheid van optrede van die MRK in gevalle van haatspraak teen en moorde op wittes, terwyl indiwidue soos Max du Preez en die media se politiek korrekte ingesteldheid 'n klimaat skep waarbinne die anti-wit sentiment floreer.

Dit herinner my aan 'n spreekwoord van weleer: Die meule maal langsaam, maar die wiel sal weer draai.






Sunday 5 March 2017

Grondwetlike "waarborge" nié gewaarborg nie

Jeremia (7:4) wys oud-Israel op hul valse gerustheid wanneer hulle sê: "Ons is veilig! Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel." Ons doen vandag presies dieselfde wanneer ons sê: "Ons is veilig. Ons het die Grondwet en Handves van Regte, ons het die Grondwet en Handves van Regte."

Dit is die geïmpliseerd oorwoë mening van prof. Koos Malan van die UP se Regsfakulteit soos verwoord in sy voordrag getitel: "Die ongewaarborgde waarborge van die Suid-Afrikaanse Grondwet", gelewer tydens die TLU SA se jongste jaarkongres.

Malan sê: "...ofskoon vry algemeen na die grondwetlike regte as waarborge verwys word, dié regte inderdaad nie gewaarborg is nie." Ook die Grondwet is nie verskans nie. Hierdie wete is ontstellend. Hy sê ons moet ons nie hieromtrent laat mislei nie.  

Hy beweer die verwysing na "gewaarborgde regte" is bloot 'n vorm van algemeen aanvaarde bygeloof   -   'n "sekulêre godsdiens"   -   waarmee ons sedert 1994 geteister word.

Malan verduidelik soos volg: 1. Regte spreek nie vanself nie. Regte kry betekenis na gelang van hoe hulle vertolk en toegepas word. 2. Grondwetlike regte is deurtrek van fundamentele teenstrydighede wat aan vertolkers   -   soos geregshowe, staatsorgane en politieke maghebbers   -   groot beweegruimte verleen om na goeddunke te vertolk. 3. Die betekenisse van regte kan met verloop van tyd verander sodat vertolkers daarvan kan bereik wat húlle daarmee wil bereik. 4. Hou in gedagte dat die SA-Grondwet as 'n transformatiewe regsinstrument beskou word, gemik op 'n egalitaristiese samelewing, en nie die "status quo" nie   -   'n sterk dryfveer vir regtevertolking.

Volgens Malan is grondwetlike regte in groot omstredenheid gehul; kan ons nie daarop peil trek nie; waarborge (soos eiendomsreg) wat dit verskaf, is nie werklik waarborge nie, en die reg is nooit ideologies neutraal nie, maar word verdoesel in die regstaal. Laat ons dus nie langer valse sekuriteit probeer vind in "waarborge" wat geen waarborge is nie.                   (ngn)