Wednesday 29 April 2020

Covid-19 bied ook kerk selfondersoektyd




Suid-Afrikaanse dorpstigting is hoofsaaklik die nalatenskap van Europese immigrante en hul nasate, en vertoon 'n patroonmatigheid. Soos boere landinwaarts getrek het, is owerheidsbeheer uitgebrei deur distriksproklamering waarop gemeentestigting, kerkoprigting en onderwys sou volg.

Die hoof onderwysdoel was leer lees en skryf vir direkte Bybeltoegang, katkisasie (boerematriek) en kerklidmaatskap. Kerklike toringspitse  -  teoloog Christina Landman het daarna verwys as falliese simbole  -  was landelike bakens.

Voor in die wakis, op die binnelandse trek, was die Bybel. Tussen veeboere, geleidelik ontwikkelende tot 'n volk, en kerk ontstaan 'n kerk-volkverhouding. Vir dié afgesonderde volk word die kerk spoedig 'n volkskerk, veral in die Boererepublieke. Hiervan getuig 'n oorvloed van historiese geskrifte.

Tydens 'n onlangse besoek aan Toks, van Toks en Tjopsfaam, se Oos-Vrystaatse tuisdorp, besoek ek ook die statige ou sandsteenkerk, nou in onbruik, in die middel van die dorp, getuigende van die vervloë kerk-volkvennootskap.

Op dié kerkterrein is duidelike oorblyfsels van volksvoetspore te sien. Monumente ter nagedagtenis van gesneuweldes  -  vir volk én kerk  -  tydens die Basoetoe-oorloë en Anglo-Boereoorlog getuig daarvan. Tydens die 1938-Groot Trek Eeufeesvieringe is wa-, trekos- en touleierspore vasgelê in beton met 'n ossewa daarnaas.

Vandag distansieer die kerk sigself van dié historiese verhouding terwyl kompromiemakende transformiste kerkhistoriese reformiste verplaas. Moderne Bybelvertolkings en omstrede besluite bring verdere skeiding. Die vroeëre huis-kerk-skool onderwysvennootskap is tot niet, lidmaattalle daal, gemeentes sluit, kerkgeboue verkoop terwyl kerklosheid en  -loosheid toeneem. Stel dit die Kerkhoof tevrede?

Het die moderne kerk dan geen nasionale trooswoord vir siekes en sterwendes tydens Covid-19 nie  -  wat aan almal geleentheid vir selfondersoek bied; ook vir die kerk  -  in 'n tyd waarin gesamentlike aanbidding ongewens en selfs strafbaar is?








Wednesday 15 April 2020

Is dít verantwoordelike burger- en leierskap?




Volgens die jongste 2019-bevolkingsyfers stuur ons op 'n nasionale krisis af tensy tydige maatreëls daarteen getref sou word.

Die proporsionele ouderdomsprofiele van die SA-bevolking lyk soos volg (syfers geld alleen binne en nie tussen groepe nie): ouderdom 0-9 jaar: swart (20,7%/9 838 467); bruin (2,0%/952 930); Asiërs (0,4%/195 951) en wit (1,0%/484 037). Ouderdom 80+ jaar: swart (0,7%/322 416); bruin (0,8%/42 971); Asiërs (1,4%/21 608) en wit (4,6%/215 973). (Stats SA, MYPE,2019). Hieruit kan elkeen self sekere afleidinge maak.

Hierdie aanwas is nie volhoubaar nie gesien in die lig van ons beperkte hulpbronne, ekonomiese agteruitgang, werkloosheid, aardverwarming en klimaatsverandering.

Soos wat daar ongewensde sterftes is, so is daar ook, onteenseglik, ongewensde geboortes. Een van die grootste bydraende faktore tot ons ernstige sosio-ekonomiese probleme is juis die verwekking van kinders wie se verwekkers hul ouerlike verantwoordelikheid na die (gewillige) staat en belastingbetaler verskuif. Is dit verantwoordlike burger- en leierskap?

Besef ons met hoeveel potensieel addisionele ongewensde swangerskappe die inperkingstyd ons kan laat? In die badkamers van die kampus waar ek werksaam was, is kondome gratis vir studente beskikbaaar gestel. Is dit verregaande, om reklamegewys, op die verband   - ter beskerming en voorkoming  -   te wys betreffende die dra van gesigsmaskers en kondoomgebruik?

Openbaar omstrede al dan nie, dit bly 'n onbetwisbare feit dat ons besig is om af te stuur op 'n nasionale ramp. Oë sluit, kop-in-die-sand-steek en  swyg daaroor bied geen oplossing nie. Is dít verantwoordelike burger- en leierskap?

Minderheidsgroepe wat graag 'n openbare debat, sonder enige rassistiese oogmerke, daaroor sou wou voer, kan daarvan vergeet. Die ANC-leierskap laat eerder 'n verlies aan kennis en vaardighede deur grootskaalse emigrasie toe.


Wednesday 1 April 2020

Behou krisisperspektief op ANC se NDR




Ons nasionale skip bevind sigself in onstuimige vaarwater met vreesgevulde bemanning en passasiers aan boord op wie opeenvolgende krisisgolwe aanrol waarvan die Covid-19 pandemie die jongste is.

In navolging van die wêreldgemeenskap vaardig die skeepskaptein voorkomende maatreëls uit ter beskerming van alle opvarendes. Hiervoor verdien die kaptein welverdiende krediet en steun.

Die Covid-19-krisis vestig vele se aandag op die onmiddellike gevaar sodat weinig dink aan waarheen dié skip werklik op koers is. Vanweë sodanige kortsigtigheid verloor ons maklik ons toekomsperspektief betreffende die verdere ideologies verwante krisisse wat op ons wag.

In haar artikel: "The NDR nature of the 'new dawn' " vestig dr. Anthea Jeffery (Head of Policy Research at the IRR) juis die aandag op dit waarheen ons nasionale skip onderweg is, naamlik 'n ideologiese transformasieroete na algehele magsverkryging, die ANC/SAKP se krisiswekkende NDR-doelstelling.

Jeffery sê: "...it is the NDR that poses by far the greatest threat (and) the future into which president Ramaphosa is in fact propelling the country poses an enormous threat to political and economic freedom in South Africa".

Dit is belangrik dat ons in hierdie tyd nie ons perspektief op die toekoms, na Covid-19, sal verloor nie.Die NDR gaan nie saam met Covid-19 verdwyn nie. Die ANC/SAKP sit die roete na 'n sosialisties-kommunistiese samelewing onveranderd voort. Daarvan bly die skeepskaptein die gesagvoerende stuurman, sy verdienstelike hantering van Covid-19 ten spyt.