Wednesday 28 January 2015

Eskom simbool van uitsiglose SA-toekoms

Ons almal ervaar emosies op 'n vertikale glyskaal vanaf hoogs positief tot uiters negatief. Die emosionele toestand van die SA-burgery blyk baie onstabiel en onvoorspelbaar te wees. 'n Stiksinnig mislukkende ANC, in die nie-voldoening aan verwagtinge en behoeftes, mergel emosies tot vooswordens toe uit.

Die ploeterende ANC leef in 'n staat van ontkenning en vind sondebokke om vir sy mislukkings te blameer. Om sy ondersteuners misleidend te paai, blameer hy wittes en apartheid vir alle mislukkings. Weinig glo dit nog; die apartheidsverskoning se rakleeftyd het verval. Toenemende beskuldigings van rassisme en ook haatspraak   -  met Nommer Een fluks deelnemend   -   versluier nou die ware blaam.

En die geteikende slagoffers van hierdie apartheid-rassisme-haatspraak ANC-offensief, hoe reageer hulle daarop? Daar is sterk aanduidings van die geslaagde vestiging van skuldgevoelens by hulle met die oog op uiteindelike kapitulasie. Verder ook op 'n, vir my, verfoeilike wyse deur te swig voor ANC-bevoordelende eensydige politieke korrektheid as geveinsde reaksie op valse beskuldigings. 

Dit staan wittes vry om vir alles skuld te aanvaar, maar moenie ons almal verkleinerend en vernederend tot politieke korrektheid probeer regimenteer nie. Daar is wel nog hulle wat trots en daadkrag besit om hulself, hul selfrespek en hul mense te verdedig soos 'n Steve Hofmeyr, Sunette Bridges en Zelda le Grange. Dit is tragies dat diesulkes deur Afrikaner-vyandiggesindes   -   soos die Max du Preez's   -   geteister en verguis word. 

Steierende Eskom se dreigende algehele ineenstorting simboliseer die kruipende verval van die SA-psige en emosievlakke onderweg na die bodemlose Nommer Een-gat met sy uitsiglose SA-toekomsvisie.




Thursday 22 January 2015

Is so 'n swaai realisties moontlik?

Henry Campher, duidelik ontnugterde ANC-ondersteuner, se brief: "Net die man in die maan glo hulle nog" (DB,19.01), lewer 'n insiggewende bydrae tot die voortgesette debat oor die mislukkende ANC. As opsigtelik selfstandige denker laat hy hom, met sy selfverworwe insigte, blykbaar nie verknegtend indoktrineer ter wille van bedrieglike ANC-beloftes en  -voorverkiesingskospakkies nie.

Van ANC-Cosatuleiers, Marius Fransman en Tony Ehrenreich, sê hy krities onbeskroomd: "Gelukkig praat hulle nie namens almal in die ANC nie...met minagting van hulle op voetsoolvlak gepraat...Dis net deur sentiment dat baie van ons die ANC nog ondersteun." Hiermee spreek Campher 'n nugtere oordeel uit, want sentiment alleen is geen toekomswaarborg nie. Hy konfronteer homself met sy persoonlike verbintenis tot die ANC; met vrug navolgenswaardig ook deur ander.

Voorafgaande lei tot die besef dat ons soms brûe agter ons moet afbrand. Prof.D.F.M.Strauss, emiritus filosofie-professor van die UV, wys op drie fases van lidmaatskap van enige organisasie waartoe ons ook al mag behoort: 1. Die solidêre fase wanneer ons 'n saak onkrities met toe-oë ondersteun. 2. Wanneer daar barste en krake in ons vertrouensmuur op so 'n organisasie   -   om aanwysbare redes   -   verskyn, en ons afstand begin neem van ons blinde lojaliteit. 3. Uiteindelik word die kritiese oë-oopgaan-fase bereik en die organisasie slegs krities bejeën, ons geen positiewe bydrae meer daartoe te lewer het nie, en ons onsself daarvan distansieer.

Dui Campher se insigte in sowel sy eie posisie as dié van die magsmonopoliserende ANC-absolutistiese posisie dalk daarop dat hy fase 2 geleidelik binne beweeg? Is so 'n swaai deur ANC-ondersteuners na fase 2 en 3   -   vir  beter toekomsvooruitsigte  -   'n realistiese moontlikheid?









Monday 19 January 2015

Wat simboliseer "Van Riebeeck se gees"?

By geleentheid van die ANC se 103de bestaansviering in Kaapstad het 'n Khoi-geestelike "Jan van Riebeeck se gees" deur gebed uitgedryf (DB,12.01). Wat simboliseer "Van Riebeeck se gees" vir die ANC wat dié "gees" so verwerplik vind dat dit selfs deur gebed (gewoonlik bose geeste) uitgedryf moet word?

Daar is 'n verskeidenheid van perspektiewe van waaruit dié vraag benader kan word   -   myne is slegs een. Voorop staan vir my die opsigtelik onversoenbare waaromtrent Afrika en Europa dramaties van mekaar verskil. Allereers simboliseer "Van Riebeeck se gees" die gekerstende Europese beskawingsgees in teenstellng met die tipiese animistiese "gees" van Afrika. Met voet aan wal, bid Van Riebeeck tot die "Barmhertige Goedertieren Godt ende Hemelsche Vader." So onlangs nog as met die Wêreldbeker-sokkertoernooi (2010) het sangomas en inyangas (tradisionele genesers)   -   ongeag kersteningspogings sedert 1652   -   nuwe stadions "geseën" in die naam van die tradisionele Afrika-"gees".

Hoewel nie die oorspronklike bedoeling nie, word Van Riebeeck onthou as die vestiger van die wit Europese ras, in die algemeen, en die volksplanter van die Afrikanervolk, in die besonder   -   gesien as indringerras en -volk in S.A. Vir my simboliseer hierdie drie   -   geloof, ras en volk   -   by uitstek "Van Riebeeck se gees"; 'n algemeen blank Europese "gees" onversoenbaar met dié van Afrika.

Dié "gees" simboliseer ook 'n aan-Afrika-onbekende verhouding van onderdaan (swart) teenoor heer (wit) vanweë oorspronkilke verskille in kulturele ontwikkelingsvlakke. Sedert 19994 is dié rolle egter deur rewolusionêre emansipasie omgekeer. Dit is duidelik dat die verskille in tradisionele Afrika-  en Europese regeringswyses té groot is om S.A.-nasiebou te bevorder. Met "Van Riebeeck se gees" uit die weg geruim, kan laasgenoemde makliker geskied.






Tuesday 13 January 2015

Wysgeer Plato werp lig op ANC-duisternis

As hoedanig moet die volgende ANC-uitsprake, as voorbeelde van tipies selfbedriegende uitsprake, vertolk word? "Hy (Zuma) het ons verenig...Daar is nie onenigheid onder ons nie", het Ramaphosa gesê (DB,09.01). "Die mense hier (Wes-Kaap) is arm omdat hulle nie deur die ANC regeer word nie...Die mense wat hier regeer, weet nie wat hulle doen nie. Ons wil dinge regruk...", het Zuma gesê (DB,08.01). Vroeëre uitsprake soos: "Die ANC sal tot met die wederkoms regeer" ; "Swart mense is nie rassisties nie; wit mense wel", en: "Korrupsie is 'n westerse verskynsel; nie 'n Afrika-verskynsel nie", is reeds oorbekend.

Na my mening word hierdie, en soortgelyk openlik waarheidsteisterende ANC-uitsprake, gekenmerk deur gruwelike vervalsing van die waarheid, 'n totale gebrek aan realisme, asook 'n onvermoë tot nugtere en gebalanseerde selfkritiek. Vir dié siening sal ek waarskynlik as rassis gebrandmerk word, en tog is dit hierdie tipe uitsprake wat sy gebreinspoelde ondersteuners die ANC blindelings die duisternis in laat volg.

Dit herinner aan Plato se grotmite wat soos volg lui: Vir geruime tyd al sit 'n aantal gevangenes in 'n duisternisgehulde grot, vasgeketting met hul gesigte onbeweeglik na die rotswand gekeer. Agter dié gevangenes is 'n vuur wat maak dat skaduwees teen die grotmuur gewerp word telkens wanneer iets tussen die vuur en die gekettingdes beweeg. In plaas van die werklik lewensgetroue figure agter hulle, sien die sittendes slegs die skadubeelde daarvan teen die grotwand. Dié skadubeelde word vir die werklikheid (waarheid) aangesien waaraan selfs name toegeken word.

Alvorens die ANC en sy ondersteuners nie eers uit sy besettte grot van duisternis en bedrieglike skynwaarhede na die lig daarbuite beweeg nie, kan hy nie die ware werklikheid van die 21ste-eeuse SA-samelewing leer ken en daarvolgens regeer nie.



Thursday 8 January 2015

Koos- , Steve-keuse 'n ideologiese keuse

Ek reageer op Koos Kombuis (KK) se "Halwe waarhede van 'n pampoenkenner" (DB, 07.01) waarin hy Steve Hofmeyr op onoortuigende wyse kritiseer. Wie is KK, en bevind hy homself enigsins op hoër morele grond as Hofmeyr? Albei bevind hulle in 'n musiek- en skrywersomgewing, beskik oor besondere talente, en beide word gekenmerk deur 'n relatiewe omstredenheid wat hul persoonlike en private lewe betref.

In die 1980's was KK 'n voorstander en ondersteuner van die Voëlvry anti-apartheidsbeweging. Van sy betrokkenheid daarby sê hy: "Ons het die idealistiese droom gehad om die Apartheid-regime met 'n paar liedjies vol woede, bravade en vloekwoorde omver te werp" (Koos Kombuis Biografie). Hy raak vervreemd van sy ouers, swerf rigtingloos rond, wend hom tot dwelmmiddels, en beland só in die Weskoppies psigiatriese inrigting en, soos Hofmeyr, verwek ook hy 'n liefdeskind.

Met oënskynlik soveel in gemeen, bots KK en Hofmeyr egter direk met mekaar oor Afrikaners en  -skap. Waar KK, soos ook geesgenootlikes soos Max du Preez, Anton van Niekerk en Piet Croucamp, geen goeie woord te sê het oor behoudende Afrikaners nie   -   en van laasgenoemde verwag om voortdurend onder die vlag van politieke korrektheid te vaar   -   beskik Hofmeyr egter oor die moed van sy oortuiging om sy lyf op die spel te plaas in Afrikanerbelang.

Gegewe die mate van ooreenkoms tussen KK en Hofmeyr se private en persoonlike lewe, uitgesluit die tipe musiek en skryfwerk wat elkeen voortbring, lê die werklike keuse tussen KK (anti-apartheidsondersteuner) en Hofmeyr (anti-politieskorrek en Afrikanerondersteuner) op 'n ideologiese vlak. Die ideologiese afstand tussen dié twee is groot. 'n Keuse tussen enigeen van dié twee, is 'n ideologiese keuse.