Monday 28 November 2011

Keer terug na geloofsverdraagsame S.A.

Europa, soos ons dit ken met sy eeue-oue kultuurerfenis, gaan eerlang verdwyn. Waarom? Doodeenvoudig omdat die Europese bevolkingsaanwas tot onder die noodsaaklike vervangingspeil gedaal het; tog bly die totale Europese bevolkingsyfer onveranderd. Hoe dan so? Die antwoord lê in die versnelde immigrasie na Europa.

Volgens "Dangerous Demographics" op "You Tube" is 90% van alle immigrante na Europa afkomstig van Moslemlande. In Frankryk was die Franse aan met 1,8 teenoor 8,1 Moslemgeboortes per gesin. Gedurende die afgelope dertig jaar neem die Moslemtal in Brittanje dertigvoudig toe vanaf 82 000 tot 2,5 miljoen. Tans verteenwoordig Moslemgeboortes 50% van alle Nederlandse geboortes. 25% van die Belgiese bevolking is Moslems en 50% van alle geboortes is Moslemgeboortes. Die projeksie vir 2025 is dat een derde van Europese babas Moslembabas sal wees.

Dit word voorsien dat Frankryk oor 39 jaar 'n Islamitiese Republiek sal wees; Duitsland 'n Islamitiese staat in 2050; oor vyftien jaar sal 50% Nederlanders Moslems wees, en in die nabye toekoms sal Moslems 40% van die Russiese weermag uitmaak. Wyle Moeammar Khadafi het gesê: "There are signs that Allah will grant victory to Islam in Europe without swords, without guns, without conquest... The 50+ million Muslims will turn it into a Muslim continent within a few decades."

Daar bestaan reeds dringende waarskuwings dat Christene wakker moet word in hul gemaksones en begin besef dat die wêreld waarin ons vandag leef nié dieselfde gaan wees waarin hul kinders hulself in die toekoms gaan bevind nie. Christenouers wie se kinders uitgewyk het na Europa ter wille van 'n beter toekoms vir hulself en hul kinders, word gekonfronteer met die vraag of 'n toekomstige Europa wel 'n veiliger geloofstuiste sal bied as grondwetlik gewaarborgde geloofsverdraagsame Suid-Afrika. Is ons Christen-diasporakinders van hierdie ontwikkelinge bewus?                   (ngn)



Monday 21 November 2011

Liberale media is Christene vyandig

In sy artikel, "The Demonization of Christianity" in "Joy!"-tydskrif van November 2011, beweer Errol Naidoo dat die liberale media Christene vyandig gesind is. Hy voer redes aan vir sy bewering deur te wys op die onlangse aanstelling van Mogoeng Thomas Reetsang Mogoeng as hoofregter.

Naidoo sê dat noukeurige ondersoek daarop dui dat die heftige aanvalle op Mogoeng meer oor sy Christelike geloofsoortuiogings as oor twyfelagtige juridiese bekwaamheid gehandel het. Verskeie pro-homoseksuele en anti-gesinsgroeperinge het sy regterlike ervaring, sy erkenning van vroue en homoseksueles se regte, asook sy gebondenheid aan die Grondwet, kwaadwilliglik bevraagteken.

As uitgesproke Christen en lekeprediker van die "Winners Chapel Church" in Johannesburg, het Mogoeng laat blyk dat homoseksualisme sonde is wat nié met Christelike geloof versoenbaar is nie. Hieroor, sê Naidoo, "...the liberal media unleashed a wave of hatred against Mogoeng."

Die sogenaamde grondwetkenner en homoseksuele aktivis, prof. Pierre de Vos, sê dat hoofregter Mogoeng sal moet besluit "...which god he will serve." Voorspelbaar het De Vos geen besware gehad met regter Edwin Cameron   -   'n radikale homoseksuele aktivis   -   se aanstelling as regter van die Grondwetlike Hof in 2008 nie. Geen openbare debat is gevoer en geen bohaai in die media daaroor nie.

Van Christenkant het Naidoo reaksie verwag teen dié "...naked hostility displayed against Mogoeng's Christian beliefs", dog "...sadly many Christians simply swallowed the bias of the media...failing to realise the liberal agenda of the press and political players."

In 'n brief van eerwaarde Kenneth Meshoe van die ACDP aan "Sunday Sun" sê hy dat Mogoeng se ondervraging oor sy geloofsoortuigings skokkend is, dat hoofregter Chaskalson 'n Jood en Ismael Mohamed 'n Moslem is. 'n Vooraanstaande joernalis sou glo gesê het dat 'n Christen (77% + van bevolking!) nooit hoofregter mag word nie. Meshoe noem dié gebeure "...a wake-up call for all sleeping Christians."     (ngn)



Wednesday 16 November 2011

Nét Kerk nog op Satan se "Bucket List"

'n Leuen stel homself nie in direkte teenstelling tot die waarheid nie. Dis so futiel soos Jakkals se strategie in die Jakkals-nooi-vir-Gansie storie. Nee, 'n suksesvolle leuen móét 'n groot element van waarheid bevat. Dit is juis dié waarheidselement wat 'n leuen so potensieel suksesvol, dog uiters gevaarlik, maak.

In sy boek, "Die Waarheid Struikel", wys ds.M.C.Adendorff juis op 'n goeie voorbeeld hiervan. Aan die hand van Skrifgedeeltes uit Genesis 3:1,4,5 en Matteus 4:3,6,9   -   Satan in gesprek met onderskeidelik Eva en Jesus   -   wys Adendorff daarop hoedat Bybelmisbruik tot die riskante aanvaarding van die leuen kan lei.

Die leuen is die kragtigste wapen in Satan se arsenaal. Hy is ingestel op uiteindelike wêreldverowering, derhalwe móét Christene hulself bewapen met dié wapenrusting waartoe Efesiërs 6 ons oproep. Adendorff sê saam met leuens opereer Satan ook met geweld. Hy sê daar is 'n direkte verband tussen Satan en Karel Marx   -   "Vader" van die Kommunisme. Kommuniste kom aan bewind deur misleiding en bedrog en behou mag slegs deur geweld.

Adendorff wys ook op 'n asembenewende ooreenkoms tussen die NG Kerk-aanvaarde dokument, "Kerk en Samelewing", en die ANC se "Freedom Charter". Hiermee, beweer Adendorff, het dié kerk "'n gevaarlike stuk Kommunistiese propaganda 'n kerklike kleed omgehang". Tydens die Algemene Sinodesitting van 1986 vra iemand: "Wat is verkeerd daarmee as die Freedom Charter dieselfde taal praat as ons...?" 'n Kwarteeu later blyk Adendorff korrek te wees toe hy opgemerk het: "Dwarsdeur 'Kerk en Samelewing' val die klem swaar op die horisontale...die sosiale...(en is) jou boodskap aan die wêreld net 'n sosiale evangelie...en sonde gepleeg net teen medemense (nie teen God nie)". Wat dus tans in die kerk gebeur, waarvan net ingeligtes sal weet, het 'n histories-berekende aanloop. Satan se "Bucket List" bevat nog net één laaste woord: Kerk!




Monday 14 November 2011

Nuwe Spiritualiteit vervang Christendom

Is daar 'n verskil tussen 'n Christen en 'n Christus-volgeling? "Ja", sê Tamara Hartzell in haar artikel, "Preparing for the Emerging One Church of the New World", "...daar is 'n hemelsbreë verskil tussen die Nuwe Spiritualiteit en die Christelike geloof waarbinne eersgenoemde tans besig is om laasgenoemde verdringend te vervang". Hartzell beweer dat wanneer die Nuwe Spiritualiteit finaal daarin geslaag het om alle Christene tot Christus-volgelinge te transformeer, die verskil so duidelik sal wees soos die verskil tussen dag en nag.

Die begrip Christus-volgeling is baie subtiel gekies om nie té verdag te lyk ter voorbereiding van die "Emerging One Church of the New World" nie. Vir dié kerk-in-wording is die begrip "Christen" té eng en eksklusief. Christus-volgeling is inklusief en akkommodeer volgelinge van (die) Christus uit alle ander godsdienste.

Christene baseer hul geloof op die Bybel, die regte dogmas, teologiebeoefening en 'n enkele waarheid soos vervat in God en Sy Woord. Christus-volgelinge behoort aan enige godsdiens of geloof, dogma en teologie is irrelevant, dade is veel belangriker as geloof, en waarheid is in alle godsdienste en gelowe te vind.

Eenheid, ten koste van alles, vorm toenemend die grondslag van die wêreld, en so ook van die Kerk. Die Christenbegrip word toenemend geassosieer met onverdraagsaamheid, verdeling, vooroordeel, veroordeling en wettisisme. Christene sê vir die wêreld daar is 'n enkele God en slegs één Weg na Hom toe. Die wêreld vind dit onaanvaarbaar.

Christus-volgeling word nou die aanvaarde benaming. In die nuwe wêreld sal dié "gelowige" nie-dogmaties, versoenend, akkommoderend, onbevooroordeeld en toegeeflik teenoor alle ander gelowe wees. 'n Gemeenskaplike god word aanbid waartoe enige "gelowige" sy eie weg tot dié god mag vind. Die Christelike geloof word een van vele gelowe, almal op gelyke voet. Teenoor hierdie Nuwe Spiritualiteit sal die wêreld verdraagsaam wees   -   die Christendom het misluk.




Friday 11 November 2011

Kantlynkritiek is die makliker opsie

Beide Petrus en Cobus Meintjies (DB,10.11) verkwalik Jannie du Toit vir sy brief, "Sulke stellings 'n teken van eindtye" (DB,08.10). Petrus noem Du Toit selfs 'n "klipchristen" (skynheilige Christen/vrome huigelaar). Hieruit mag ons seker aflei dat Petrus se eie nie-glasgeloofshuis stewig staan; daarom dat hy mag klipgooi. Hoe sal ons ooit weet of daar nie in Petrus se "klipgreep" dalk méér vingers na homself as na Du Toit wys nie?

Sowel Petrus as Meintjies beweer dat Du Toit onverdraagsaam is "...wat Christenskap 'n slegte naam gee" (Petrus), en "Ons kan nie respek vir die Christendom só afdwing nie (Meintjies). Miskien sal dit beide Petrus én Meintjies ontstel om ook van God se onverdraagsaamheid in die Bybel te lees   -   selfs meer as dit   -   ook van God se haat. Moet ons Hom dan nie in alles navolg nie?

Daar is vandag dié Christene wat kompromie met die wêreld aangaan en konsensus daarmee wil bereik   -   'n Christenkomponent wat verlammend verdoof is deur die invloede van die humanisme, liberalisme en sekularisme en só hul Goddelike opdrag tot kragtige getuienislewering versaak.

Petrus en Meintjies, wáár hoor julle vandag nog die protestantse stem van beswaarmaking teen onbybelse dinge? Dit is opvallend hoedat protestants-ingestelde Christene vandag deur mede-Christene gekritiseer word met 'n gesindheid van: Ons kan toesien hoedat aanstoot gegee word aan die "onsigbare" God, maar nié aan mense nie! Ek kan nie enige besware van julle onthou teen, byvoorbeeld, Sondagsontheiliging   -   ingestel op sinsgenot soos in Sondagsport, oop winkels en selfs drankwinkels   -   en só jul gehoorsaamheid aan Hom bewys. Waar's die konsekwentheid?

Nee, vriende, erken gerus dit is 'n veel makliker opsie om as passiewe Christen-"toeskouer" vanaf die kantlyn te kritiseer as om self aan die Christelike "geloofspel" (met sy duidelike "spelvereistes") deel te neem en jouself, sodoende, aan openbare kritiek bloot te stel.                      (ngn)




Wednesday 9 November 2011

Die gevaarkant van geleidelikheid

Almal ken taal, dog in geïsoleerde taalomgewings sal nie almal weet van taleverskeidenheid nie. In multitalige omgewings sal ook nie almal bewus wees van taal as 'n kragtige instrument in haas alle lewenskontekste nie, hetsy gesproke of geskrewe.

In essensie bestaan tale uit woorde/begrippe waaruit dit opgebou word. Woorde is betekenisvol, dit wil sê "gelaai" met betekenis waarvan die essensie "teken"   -   soos in be-"teken"-is   -   is. Woorde is derhalwe "tekens" of simbole vir iets anders en roep, dog ook nie altyd nie, konkrete "beelde" by ons op. "Hond" roep die "beeld" (prentjie) van 'n onderskeibare (van alle ander) viervoetige dier op. "Liefde" roep nie maklik, benewens 'n abstrakte emosie en 'n soms sigbare manifestasie, 'n konkrete "beeld" daarvan op nie. Woorde is daarom boustene waarmee elke mens 'n "greep" op die/sy "wêreld" moet kry. Daarom is woordeskatbou vir kinders so belangrik vir die uitbreiding en verbreding van sy/haar eie leefwêreldlike verstaanshorisonne.

Woorde, en hul kontekstueelbepaalde be-"teken"-isse, is bepeinsenswaardig, begrippe om oor diep na te dink oor waarheen dit ons denke voer. Pseudomorfose word gebruik wanneer die oorspronklike betekenis van 'n woord verander ("beroof") word en dit nou 'n ander be-"teken"-is verkry wat die denke in 'n ander rigting stuur.

In die konteks van die Christelike geloof en teologiebeoefening, tref ons hedendaags toenemend voorbeelde van pseudomorfose aan waar bestaande woorde behoue bly, maar nuwe betekenisinhoude verkry. So, byvoorbeeld, verkry die wetenskap geleidelik 'n sterker greep as geloof binne hierdie konteks. Vyftig jaar gelede maak 'n ouderling beswaar teen plekke waar kinders Sondae met hul kollektegeld roomys kan koop. Hierteenoor vind Cas Vos, afgetrede dekaan van die fakulteit teologie aan die U.P., dit "baie vermaaklik" om Adam Mansbach se "Go the F..ck to Sleep" as "slaaptydboek vir moeë ouers", te vertaal na "F...ken" gaan slaap" (DB,07.11).

Hoe gevaarlik geleidelik het dinge nie verander nie.



Saturday 5 November 2011

Horisontalistiese godsdiensmisbruik

Vir die Christendom was en is die kruis   -   deur alle eeue en ook vandag nog   -   'n prominente geloofsimbool. 'n Kruis bevat twee balke, vertikaal en horisontaal, waarvan eersgenoemde die voorwaarde is vir laasgenoemde se volgehoue posisie en plek as deel daarvan. Vir Christene verteenwoordig die vertikale balk ons verhouding met God Drieënig; die horisontale balk ons verhouding met ons naaste   -   God eerste, dan medemens; nié andersom nie. Tans is daar kragte en magte baie hard aan die werk om hierdie prioriteitsorde om te keer.

In "ANC Today" (21-27.10) het Mathole Motshekga, lid van die ANC se NUK en ANC-hoofsweep in die Nasionale Vergadering, in die lig van die voorafgaande die volgende gesê: "From the 14th to the 18th October 2011 the International League of Religious Socialists (ILRS) held a conference in The Hague to develop strategies and a programme of action to mobilize the religious left for social transformation. The ANC's Commission for Religious and Traditional Affairs was invited to make a presentation on religion and politics in South Africa...to build a national interfaith movement for social transformation..."

Alhoewel onder "religion" nie nét die Christendom verstaan moet word nie, gee die oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaners te kenne dat hul wel Christene is. Wanneer Motshekga dus verwys na 'n "national interfaith movement for social transformation" dan impliseer dit beslis ook sommige Christene. Hierdie prioriteitsomkering van God (vertikaal) na mens (horisontaal) vind ons ook implisiet aanwesig in die Belharbelydenis wanneer dit verklaar: "Ons glo dat God Homself openbaar het as...die God van die noodlydende, die arme en...dat die Kerk as die eiendom van God moet staan...by die verontregtes" ; nie meer bekering tot God nie!

Voorbeelde van die toenemend vinnige verskuiwing van die vertikale dimensie van die Christendom na die horisontale deur godsdiensmisbruik kan vermenigvuldig word, dog beperkte ruimte maak dit onmoontlik.