Friday 28 August 2009

Afrikaans opnuut onder druk

Prof. Koopman se artikel, "Kom ons leef dié Afrikaans" (DB, 14.08.2009), verg verdere kommentaar. Sy hoofveronderstelling daarin blyk te wees dat, indien die Afrikaanse taal transformatories "verhibridiseer" word, dit sal lei tot 'n "...vergewende, vrysprekende, versoenende, helende, regmakende, vermenslikende, vernuwende en hoopgewende" bedeling in Suid-Afrika.

Ek bevraagteken egter dié veronderstelling aan die hand van, onder meer, die volgende vrae: Kan gesindhede kunsmatig verander word deur (enige) taal willekeurig te manipuleer? Werk dit nie eerder andersom in die sin dat veranderde gesindhede uitdrukking vind in die taal nie? 1 Korintiërs 13:1 se: "Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie...", is 'n bewys van die futiliteit van taalverandering sónder gesindheidsverandering.

'n Volgende vraag: Waar ter wêreld het dié "verhibridisering" van 'n taal sy "ou bagasie" afgeskud en tot versoening, harmonie en vrede gelei? Het Koopman, as akademikus, dit deeglik nagevors?

'n Verdere vraag: Kan 'n "verhibridiseerde" Afrikaans sigself op die lange duur handhaaf in die volgehoue aanslag van verengelsing? Is Koopman se "hibridiese" taalidee nie maar net 'n halfwegstasie na volslae verengelsing nie?

Vervolgens: Watter status sal "hibridiese" Afrikaans geniet in die oë van die internasionale taalgemeenskap, en veral oorsese tersiêre instellings waar ons moedertaal tans doseer word?

'n Laaste vraag: Tale dien as sleutels wat die werklikheid vir ons ontsluit in terme van kennis. Wat is die lewensvatbaarheid van "hibridiese" Afrikaans as universiteits-  en wetenskapstaal?

Dit is verbasend hoedat daar by geleentheid uit akademiese oord dinge van akademici verneem word wat, deur hul geleenthede tot ondersoek en navorsing, van veel beter behoort te weet. Waarom, anders, beklee hulle hierdie posisies? Koopman se "hibridiese" taalidee hou nie rekening met die taalwerklikheid sowel as die uiteindelike gevolge van dié idee nie. Vir die soveelste keer in sy bestaan, verkeer die Afrikaanse taal opnuut onder druk van diegene wat dit wil vernietig.                   (ngn)

Thursday 27 August 2009

Sterf taal, dan sterf volk ook

Die Afrikanervolk en Afrikaans is onskeibaar verwant. Volk en taal het gedurende ineengestrengelde ontwikkelingsfases op Afrika-bodem gegroei totdat die volk wasdom bereik en uitdrukking daaraan gegee het in die Afrikaanse taal as amptelik erkende spreek-  en skryftaal, kanseltaal, regstaal en wetenskapstaal. Geeneen van die inheemse tale kon hom dit nadoen nie.

Vele Afrikaanse taalprestasies se grondslag is deur lede van die Afrikanervolk gelê. Met dié aanspraak word taalbydraes van buite die Afrikaner-volkskonteks geensins ontken nie. Oor etlike geslagte het die bydraes van begaafde Afrikaner-volksgenote by wyse van dagboeke, preekbundels, geskiedskrywing, prosa, poësie en dergelike meer, Afrikaans   -   volgens spelwyse, skryfstyl en idioom van die tyd   -   vir die nageslag op skrif vasgelê en as kosbare erfenis nagelaat.

Taalbedreiging word nie emosieloos en passief benader nie. Ek wil beweer dat die vurigste ywer om die behoud van Afrikaans   -   en die strewe na die behoud van taalstandaarde   -   vanuit besorgde Afrikaner-volksgeledere kom. Synde 'n volkstaal, sal Afrikaans slegs sterf indien die Afrikanervolk sterf. Hiervan is ons taalvyand terdeë bewus, daarom 'n tweeledige aanslag op taal én volk!

Vernietiging van Afrikaans   -   waarin die Afrikanervolk se geestesgoedere opgesluit is   -   moet lei tot die vernietiging van dié volk. Mede-Afrikaanssprekendes doen tans 'n beroep op die Afrikanervolk om sy volkstaal en  -karakter ondergeskik te stel aan die bedenklike transformasieproses, sodat dit kan inskakel by die grys, konformerende mensemassa.

Met die gesins- , skool-  en kerklike lewe het die transformasieproses reeds ver gevorder, maar die laaste ontbrekende spyker in die volksdoodkis   -   getransformeerde Afrikaans   -   ontbreek nog.

Op die vooraand van die Anglo-Boere-oorlog sê president Kruger : "Dis nie die stemreg wat julle wil hê nie, maar my land." Vandag sê wit Afrikaners : "Dis nie net ons taal wat julle wil vernietig nie, maar ook ons volk."

Sterf taal, sterf volk.

Wednesday 26 August 2009

Dis niemand se reg om taal te vernietig

Khaki se brief, "Geen traan oor Afrikaans uitsterf" (DB,19.08.2009), verwys.

Ek bejammer Khaki vanweë sy gebrek aan onderskeidingsvermoë. Dit is duidelik dat hy nié onderskei tussen taal en sprekers nie, en gooi dus die kind mét die badwater uit.

Afrikaans synde my moedertaal, koester ek egter respek vir álle tale, Engels inbegrepe. Vanweë historiese taalervaringe met die Engelse   -   met hul imperialistiese taalingesteldheid   -   is baie Afrikaanssprekendes om dié rede vervreem van Engelssprekendes, maar nie noodwendig van die Engelse taal nie.

Afrikaanssprekendes is gewillig om Engels te praat, lees en skryf ; bewys van 'n teenoorgestelde taalgesindheid as dié van die taalimperialiste. Ons glo in die spreekwoord : Soveel tale as jy kan, soveel male is jy man (mens).

Indien Khaki dié land se tragiese taalgeskiedenis ken, sal hy weet dat juis die Engelse taal sedert 1806   -   tot selfs nog ná 1910   -   by geleenthede op Afrikaanstaliges afgedwing is in howe, landsadministrasie, skole en selfs Afrikaanse kerke deur middel van wetgewing, met die doel van volslae verengelsing.

Tesame met ons mense wat op slagvelde en in konsentrasiekampe onder Engelse hand gesterf het, is ook taalstemme daarmee gestil. Geen wonder dat Engels die internasionale reputasie van 'n "killer language" verwerf het nie.

Namens dié Afrikaanssprekendes wat Khaki in die verlede benadeel het, bied ek   -   ter wille van die taal-eer van Afrikaans   -   my verskoning aan hom. Ek verseker hom egter dat sy ervaring nie 'n druppel aan die emmer is van ons ervaring van die Engelse kant af nie.

My moedertaal is my geboortereg. Vernietiging van enigeen se taal is niemand se reg nie.

Saturday 22 August 2009

Het Jongbloed mes in vir wit mense?

Zelda Jongbloed se artikel, "Ons moet deurdag oor rassisme gesprek voer" (DB,17.08.2009), verwys.

Jongbloed laat haar uit oor rassisme, maar kan kwalik haar eie rasse-vooroordeel verbloem in haar ondeurdagte rubriek. En, indien sy haarself nie van haar eie rasse-vooroordeel kan stroop nie, hoe kan sy verwag dat ander dit moet doen?

Sy kritiseer pres. Zuma wat "...dink dat debat oor rassisme (nie) nodig is nie", omdat hy "...dieper insig in die kwessie van nie-rassigheid " soek. Jongbloed bepleit 'n "nasionale debat oor rassisme" om "strategieë teen rassisme uit te werk." Dit klink baie mooi. Maar dit gee ons die kans "...om oor kwessies soos die privilegie van 'n wit vel..." te praat. Ware motief?

Waarom lê Jongbloed nie dapperheid aan die dag en noem die ding by die naam nie? Sy moet dit deeglik toelig met voldoende geldige en onbevooroordeelde voorbeelde wat oor alle rassegrense heen sny, eerder as om na die "...die privilegie van 'n wit vel..." te verwys.

Sy bevind haar in die geselskap van hulle wat worstel om vrede te maak met die feit dat die meeste mense, ongeag hul ras, hulself skuldig maak aan die verskynsel van rassisme. Watter genoegdoening put sy uit die opgrawe van ou koeie uit die rassismesloot?

Tuesday 18 August 2009

Interne taalstryd vir Afrikaanses?

Belangstellend, dog ook met verontrusting, lees ek prof. Nico Koopman se artikel,  "Kom ons leef die Afrikaans" (DB,14.08.2009). Koopman sê : "Hy is nie bekommerd oor die toekoms van 'n vergewende, vrysprekende, versoenende, helende, regmakende, vermenslikte, vernuwende en hoopgewende Afrikaans nie..."

Geen taal beskik vanself oor sodanige eienskappe soos deur Koopman genoem nie   -   ook nie Afrikaans nie. Daarom moet die sprekers van die taal dit sodanig "transformeer" dat dit oor dié eienskappe sál beskik. Dié "transformasie-agent" noem Koopman "hibriditeit".

Koopman beweer : "Afrikaans word self ook getransformeer...sodat ons kan konformeer aan die nuwe werklikheid waarvan ons droom in ons land se Handves van Menseregte."  Hy sê verder ook : "...die Belydenis van Belhar...beskryf, oorspronklik in Afrikaans, die soort samelewing wat God deur middel van sy mense skep."

Vir dié doel van 'n  nuwe Suid-Afrika,  "...moet Afrikaans en sy sprekers...self ook getransformeer word."  Dit moet geskied deur Afrikaans  "...se inhoude (te) vernuwe...(en) bevrydende, versoenende en brugbouende woordeskatte...(asook) erkenning...aan alle vorme waarin Afrikaans gepraat word."

Hy sê : "Die idee van een Standaardafrikaans wat die gebruikswyses van (afwykendes) as minderwaardig...beskou, moet laat vaar word."

Koopman beweer : "Afrikaans dien as...dienskneg van transformasie, en...word self getransformeer...as hy 'n etos van hibriditeit omarm...Hibriditeit verwys...daarna dat Afrikaans met ander tale meng."

Koopman se "hibriditeit-transformasie-agent" herinner my aan  Son  se plakkate teen lamppale en dié se, vir my onaanvaarbare, gebruik van Afrikaans. Is dít 'n voorbeeld van dié "hibriditeit"?

'n Segspersoon van  Son  se redaksie sê dié koerant se lesers is 60% bruin, 21% wit en 19% swart, met 'n daaglikse leserstal van tussen 110 000 en 125 000, waarvan 90 000 in die PE-Uitenhage-Despatch-omgewing is. Is hierdie statistiek 'n aanduiding van presies wáár die behoefte aan die "hibriditeit" van Afrikaans lê? Is ek 'n "nie-transformis" as ek wil vashou aan Standaardafrikaans?

Wag daar dalk 'n interne taalstryd op ons?

Thursday 13 August 2009

Taalhouding en menseverhoudinge

Prof. Jonathan Jansen se artikel,  "Taalstryde ondermyn Afrikaans se potensiaal" (DB,11.08.200), verwys. 

Ek erken ek het nie voldoende insig in die Jansendenke en  -logika nie, en volg hom derhalwe moeilik in sy redenasies   -   my tekortkomig. Hy sê : "Dit is grotendeels 'n volkseie gesprek ('n uitgediende term) met geringe gevolge vir die land of...onderwys."

Jansen se verwysing na die "volkseie" as 'n "uitgediende term" begryp ek nie. As akademikus sal hy weet dat die mens slegs "van binne-uit" behoorlik kan verstaan. Van wanneer af bevind Jansen homself binne die geledere van die Afrikaner-volkseie konteks dat hy so 'n aanmatigende uitspraak kan maak   -   'n gebrek aan insig van sy kant, of bloot klakkelose napratery?

Hy sê : "Ek hou voet by stuk dat hierdie debat fundamenteel nie 'n taaldebat is nie, maar 'n politieke een." Jansen is geregtig op sy mening, maar ek darem seker op myne ook! Vir my is dié debat nie só simplisties nie, maar veeldimensioneel, en sluit dit gevolglik ook dimensies van die Afrikaanse taal soos die historiese, linguïstiese, sosiale, ekonomiese, opvoedkundige, estetiese, juridiese, etiese en godsdienstige in. Jansen sê : "Ons het 'n taalhouding (teenoor Afrikaans) as gevolg van...die politieke spanning en dwang waarteen baie van ons in die 1970's so gestry het."

In sy oorvereenvoudiging van die taalstryd gun Jansen duidelik nie dieselfde "taalhouding" (teenoor Engels sedert 1806) aan die wit Afrikaner nie. Jansen beweer dit is "Afrikaanse chauviniste" se "...houding jeens Engels wat menseverhoudinge beduiwel."

Jansen, en wat dan van  "Ons (ook u eie)...taalhouding (teenoor Afrikaans)..."  en menseverhoudinge? 

Wednesday 5 August 2009

Tirannie van die massa hier aanvaar

Ek staan in Markstraat, naby die ingang tot die gebou vir munisipale rekeninge. Voor my is die straat besaai met die inhoud van vullishouers. Die straat bestaan uit tweerigting-rybane, geskei deur 'n sperstreep. In die middel van albei bane lê onderskeidelik twee groot vullishouers omgekeer   -   'n swaar betonhouer wat beslis 'n ernstige verkeersgevaar inhou, en 'n groot, blou plastiekhouer.

Ek sien hoe motors verplig word om die sperstreep te oorkry   -   telkens 'n verkeersoortreding. In die agtergrond hoor ek dreunsang, waarskynlik afkomstig van die parkeerterrein voor die stadsaal. Ongeveer 10 minute lank staan ek die omgewing en inneem terwyl verskillende gedagtes by my opkom. Wat sal die reaksie wees, sou ek   -   as witte   -   probeer om die versperrings uit die straat te verwyder? En ek wonder ook of die verkeersowerheid dan geen rol hier te speel het nie. In dié mikro-omgewing sien ek die makro Suid-Afrikaanse tafereel afspeel voor die oë van die toeskouers, duidelik gekenmerk deur 'n onversteurbare nie-inmengende passifisme. Ek beskryf dié toneel vir myself as : die verlammende effek van die tirannie van die massa.

'n Polisie-vangwa ry in die rigting daarvan. Ek gaan staan en hou hom dop. Die SAPD sal sekerlik die versperrings verwyder, die straat beveilig en my massatirannie-gedagte verkeerd bewys. Die vangwa ry egter stadig óm die versperrings en ry onversteurd verder. Dit is vir my moeilik om te aanvaar wat ek sien. Hoe vertolk ek dié SAPD-gedrag   -   as willoos, magteloos, sanksionerend, of wat?

Ons regering is tegelyk 'n skepping én verlengstuk van die massa ; gyselaar van sowel die materiële as sielkundige dimensies van die massatirannie. Die hoofgevaar lê egter in die geleidelike aanvaarding van die tirannie-onaanvaarbare in ons Suid-Afrikaanse samelewing ; die aanvaarding van massatirannie tot 'n nasionale modelleefwyse.

Monday 3 August 2009

Wié glo jy?

Op 1 April 2007 lewer George Claassen, president van Sceptic South Africa, 'n voordrag: "Geen rede om meer in 'n god te glo nie", by die KKNK (Klein-Karoo Nasionale Kunstefees). Hy sê: "...daar is geen enkele rede om vandag nog te glo of te moet glo nie. Daarvoor het die wetenskap sedert Copernicus...Galileo...(en) Darwin...vandag te verdoemend die sprokies wat in die Bybel...voorkom, finaal nek omgedraai." (Sien Lukas 18:8b)

Vir Claassen is geloof en rede onversoenbaar, en is "...wetenskaplike bevindings en rasionaliteit die enigste meganisme om te oorleef in 'n heelal...waarin God...darem te dêm stil is wanneer die mens hom of haar die nodigste het." (God dalk ook 'n "haar" volgens Claassen? Het Jesus dan nie na Hom as "Vader" verwys nie?)

Voorts beweer Claassen: "...dit is Darwin wat die skeppende godheidsgedagte in die 19de eeu sy eerste ernstige kopskoot gegee het   -   'n wond wat daarna stelselmatig deur die openbaringe van moderne genetika septies geword en uiteindelik tot die dood van die Ewige Lewe-verwagting sal lei."

Ateïsme neem internasionaal vinnig toe, veral onder natuurwetenskaplikes en "...veral toe Darwin se evolusieteorie nuwe lewe begin kry het", aldus Claassen. Vanaf 1914 tot vandag het natuurwetenskaplikes se geloof in God Drieënig vanaf 30% tot 10% gedaal.

Prof. Julian Müller, bekende teoloog, sê in 'n artikel, Jy kan wel geloof en evolusie omhels: "Dit word onmoontlik om in 'n God te glo wat in ses dae alles geskep het, én ook die evolusieteorie te aanvaar." Jy glo óf die Bybel, óf die evolusieteorie "...wat van jou 'n ateïs maak." Hy noem dit egter 'n "oorvereenvoudigde keuse" wat berus op " 'n verkeerde verstaan en interpretasie van die Bybel", want die Bybel moet ook onderwerp word aan "kritiese, wetenskaplike denke...so kan Calvinisme en Darwinisme...in dieselfde asem genoem word." Regtig?

Wie besluit jy om te glo   -   Claassen of Müller? Wat myself betref, nie een van die twee nie, maar wel vir Paulus wat vir Timoteus gesê het: "...bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo." (2 Timoteus 3:14-15)  (ngn)