Tuesday 23 March 2021

Smuts 'n Britse Ryksbouer, nie nasiebouer nie




Ek reageer op Chris Pretorius (23.03) se skrywe, in reaksie op my skrywe (18.03),  waarin hy sekere histories bevraagtekenbare opmerkings aangaande die persoon van veldmaarskalk (Britse titel) Jan Smuts maak.

Histories gesien, is Smuts ongetwyfeld 'n omstrede figuur, soveel so dat hy sy eie mense, die Afrikanervolk, in pro- en anti-Smutsgroepe verdeel het. Jy is óf pro- óf anti-Smuts. Volgens sy skrywe bevind Pretorius hom in die pro-kamp. Ek, daarenteen, bevind my nie in dié kamp nie.

Verklaar die geskiedenis Smuts regtig as 'n "bewese bittereinder"? Ek bevraagteken dié stelling. Dit pas nie die verwysing na hom as "Handyman of the British Empire" nie, of hoe? Smuts het by twee geleenthede Suid-Afrika by Europese oorloë betrek ter ondersteuning van Groot Brittanje waarvoor ook Afrikanerjongmanne hul lewens moes opoffer. Met sy fussilering van Jopie Fourie, het hy sy eie mense onversoenbaar vervreem.

Ek gun Pretorius dit om te glo dat "Smuts en sy regering hul bondgenote...reg gekies het (en dat) geen Suid-Afrikaanse staatsman ooit Smuts se gelyke (was) nie  -  nie plaaslik of internasionaaal nie". Wat 'n eenogig bedenklike stelling.

Erkennende sy heldeverering vir Smuts, verwag ek van Pretorius die erkenning ook van my reg om van hom te verskil sonder om van laasgenoemde 'n geskil te maak. Die historiese Smuts is dit nie langer werd nie.

Smuts was beslis geen nasiebouer soos wat Pretorius beweer nie. Hy was 'n Britse Ryksbouer, tuis in die geselskap van 'n Rhodes en Milner.




Tuesday 16 March 2021

Leiers van teleurgestelde verwagtinge


 

By nadere ondersoek mag ooreenkomste gevind word tussen "Slim Jannie" Smuts, oorlogstydse Boeregeneraal, en "Slim Wim" de Villiers, US-rektor.

 Intellektueel geniaal het Smuts, na die Anglo-Boereoorlog, sy in ellende gedompelde verslane volksgenote verruil in voorkeur vir die vriendskap van die Engelse oorwinnaar. Sy verslane volksgenote moes hul -erfenis verwerp en deel word van die Britse Empaaier  -  'n omstrede leier van teleurgestelde verwagtinge.

 In 'n onderhoud van Jan-Jan Joubert met die huidige US-rektor, gepubliseer in "Matieland" (Jaargang 58, 2015), was Joubert op soek na "die wese van die nuwe rektorsiel".

 As student het die US-rektor uitmuntend presteer. Hy was "lid van 'n groep genaamd 'Stellenbosch moet oop' (en) ten gunste van studente-aktivisme...'n goeie ding". Hy verwys na homself as " 'n sogenaamde linkse in 'n studenteraad van dertien".

 As skrander akademikus het hy blootstelling aan buitelandse Engelstalige universiteite soos Oxford, Harvard en Kentucky geniet; plaaslik ook Ikeys, 'n duidelike beïnvloeding waarvan hy sê: "ek het baie Amerikaner in my", en hy "vind dit vreemd dat 'n universiteit 'n taal moet bevorder", 'n duidelik nie-wetenskaplike uitspraak.

 Vanuit die staanspoor (2015) was hy van voorneme om teen 2020 die US tot 50% swart studente, van die totale studentetal, te diversifiseer.

 Soos wat Smuts die na-oorlogse Afrikanervolk se verwagtinge teleur gestel het, so word ook die Afrikaanssprekende studente aan die US se verwagtinge ten opsigte van onderrig in hul moedertaal, teleur gestel.

 


 

 

Tuesday 9 March 2021

Afrikanisering bedreig eie identiteite




Pleknaamveranderinge, faset van die ANC se sielkundige Afrikaniseringsoffensief, waarsku ons bewusmakend tot tydige besinning oor die strategie van na-oorlogse dekolonialisering.

Eersvolgende geslagte gaan die toekoms onseker tegemoet indien sonder kennis van hul herkoms, sowel as van hul voorsate se bydraes tot die opbou en ontwikkeling van Suid-Afrika (SA). Verbreking van die band tussen herkoms en toekoms is vernietigend. Die ANC weet dit wel deeglik.

Op ons eie historiese SA-pad van byna 370 jaar is daar talle onderskeibare historiese bakens. Afrikanisering is ingestel op die vernietiging van hierdie bakens soos, byvoorbeeld, die Afrikaanse taal en ons volks- en kultuurgeskiedenis as bakens van ons identiteit.

Vernietiging van gemelde bakens bespoedig identiteitstransformasie tot die gemene identiteitsdeler van Afrikaanskap. Vind daar nie 'n merkbaar geleidelik vrywillige verskuiwing van identiteit by sommige reeds gedeeltelik getransformeerdes plaas nie? Is ons nog trots op, en heg ons nog waarde aan, ons oorgeërfde identiteit?

'n Kritieke tyd om identiteitsbehoud lê voor. Sing ons steeds Afrikaners is plesierig met derduisende identiteitsgenote reeds oorsee? Ons moet waak teen 'n toekoms waarbinne ons unieke andersheid genivelleer word tot verbeeldinglose eendersheid. Gedy of taan Afrikaanse kultuurorganisasies sedert 1994?

Liefde vir die eie en die bewaring daarvan is geen oortreding nie. Enige groepering se toekoms word geassosieer met hul jeug. Waar staan ons jeug met betrekking tot hul passie vir identiteitshandhawing?

Identiteitsoordrag is deel van ouers se natuurlike en spontane kultuur-  aan hul kinders. Gaan ouers hul kinders nog voor in standpunt-  en voorbeeldstelling oor identiteitshandhawing?