Tuesday 23 March 2021

Smuts 'n Britse Ryksbouer, nie nasiebouer nie




Ek reageer op Chris Pretorius (23.03) se skrywe, in reaksie op my skrywe (18.03),  waarin hy sekere histories bevraagtekenbare opmerkings aangaande die persoon van veldmaarskalk (Britse titel) Jan Smuts maak.

Histories gesien, is Smuts ongetwyfeld 'n omstrede figuur, soveel so dat hy sy eie mense, die Afrikanervolk, in pro- en anti-Smutsgroepe verdeel het. Jy is óf pro- óf anti-Smuts. Volgens sy skrywe bevind Pretorius hom in die pro-kamp. Ek, daarenteen, bevind my nie in dié kamp nie.

Verklaar die geskiedenis Smuts regtig as 'n "bewese bittereinder"? Ek bevraagteken dié stelling. Dit pas nie die verwysing na hom as "Handyman of the British Empire" nie, of hoe? Smuts het by twee geleenthede Suid-Afrika by Europese oorloë betrek ter ondersteuning van Groot Brittanje waarvoor ook Afrikanerjongmanne hul lewens moes opoffer. Met sy fussilering van Jopie Fourie, het hy sy eie mense onversoenbaar vervreem.

Ek gun Pretorius dit om te glo dat "Smuts en sy regering hul bondgenote...reg gekies het (en dat) geen Suid-Afrikaanse staatsman ooit Smuts se gelyke (was) nie  -  nie plaaslik of internasionaaal nie". Wat 'n eenogig bedenklike stelling.

Erkennende sy heldeverering vir Smuts, verwag ek van Pretorius die erkenning ook van my reg om van hom te verskil sonder om van laasgenoemde 'n geskil te maak. Die historiese Smuts is dit nie langer werd nie.

Smuts was beslis geen nasiebouer soos wat Pretorius beweer nie. Hy was 'n Britse Ryksbouer, tuis in die geselskap van 'n Rhodes en Milner.




No comments:

Post a Comment