Monday 28 December 2020

Versoening? Ja, maar teen watter prys?




Covid-19 het materiële rasseongelykheid, vanweë komplekse redes, sterk beklemtoon. In sy Versoeningsdagtoespraak lê pres. Ramaphosa 'n twyfelagtige verband tussen besit en versoening. Lofwaardig, maar versoening teen watter prys, en wie betaal daarvoor?

Volgens die president en die ANC kan rasseversoening deur materiële gelykheid verkry word. Word versoening deur materiële pariteit gewaarborg? Kan versoening en materiële besit op 'n glyskaal geplaas word? Sal selfs multi-miljoenêrstatus Julius Malema laat afsien van sy wraakgevulde haatspraak in ruil vir rasseversoening?

Mense was nog nooit, is steeds nie, en sal ook nooit materieel gelyk wees nie. Selfs Christus het gesê dat die armes altyd by ons sal wees, dog ons moet na hulle omsien. Die ANC behoort selfondersoek te doen na sy eie aandeel aan die knellende nasionale armoede.

Vanwaar moet die materiële middele kom waarvolgens die ANC materiële rasseongelykheid wil uitwis? Word dit nie gevind nie, is materieel afwaartse gelykmaking van alle rasse die mees waarskynlike.

Armoedeverligting word moontlik deur vollediger ontsluiting van mensepotensiaal deur beter gehalte onderwysvoorsiening, beheerde bevolkingsgroei, werkskepping en gesonde ekonomiese beleid.

Onderweg na rasseversoening kan die ANC begin deur hom vir rasseverdraagsaamheid en vreedsame naasbestaan te beywer. Soos met sovele van sy ander ondernemings, is die ANC ook oorambisieus en onrealisties omtrent versoening.

Versoening is essensieel nie van materiële aard nie, maar wel van spirituele aard. ANC-pogings tot versoening word spiritueel deur die gees van sosialisme-kommunisme gelei. Teen laasgenoemde is vele Suid-Afrikaners onversoenbaar gekant.








Monday 14 December 2020

Militêre strateeg se mening hier nodig





 


 Danie Theron (12.12) se skrywe het betrekking. Ek bevraagteken die billikheid van sy kritiek op die Boere se guerillastryd daarin.

 Dalk nie so bedoel nie, vind ek sy skrywe onsimpatiek, kwetsend en onsensitief teenoor ons Boerekrygers wat goed en bloed, in 'n ongelyke stryd teen 'n Britse oormag, ter wille van volksvryheid opgeoffer het, al sou dit ook guerillataktiek insluit.

 Beskik Theron oor strategiese militêre kennis om die Boere se guerillataktiek gesaghebbend te kan beoordeel, of is hy 'n leunstoel kritikus? Sy "geploetery" van die Boere as "avonturiers" is onvanpas. Etiketteer ons dan diegene wat vir volksvryheid sterf as "avonturiers"?

 Theron beweer "Paul Kruger (het) in Switserland aan sy pyp sit en suig" terwyl honderde kinders in konsentrasiekampe gesterf het. Ek vind hierin 'n gebrek aan respek vir 'n heroïese figuur wat as die simbool van Afrikanernasionalisme  - opponerende Britse imperiialiste soos Rhodes, Jameson en Milner  -  beskou word.

 Dit was juis dikwels die Afrikanervroue en -moeders van sterwende kinders wat hul mans aangemoedig het om die vryheidstryd op die slagveld vol te hou, hul onbeskryflike ontberinge en lyding in die konsentrasiekampe ten spyt. Ons eer die nagedagtenis van dié dapper Afrikanervroue en -moeders.

 Ek distansieer my van Theron se mening, en verlaat my veel eerder op die mening van 'n ervare militêre strateeg wat objektief na die totaliteit van omstandighede tydens die ABO kan kyk, en 'n gebalanseerde en gesaghebbende oordeel oor die Boere se guerillastryd kan vel.

 


Wednesday 9 December 2020

Bomenslike uitdagings aan ons gestel




Soos Anti Soutvel (08.12), ondersteun ook ek, as Afrikaner, Jan van der Merwe (02.12) se sentimente oor die Britse historiese nalatenskap. Onthou net: anderskleuriges voel dieselfde oor ons. Dink daaroor.

Versuurde verhoudings tussen Afrikaners en Britte dateer terug na 1806. Meedoënlose verengelsing, veral onder goewerneur Somerset, is vernederend op Afrikaners afgedwing. Oosgrensboere is voortdurend in die ongelyk gestel; die inboorlinge met geskenke gepaai. Die Slagtersnekvoorval, as grensinsident, het bitterheid op die spits gedryf. Boere het hul waens gelaai en padgegee.

Die meerderwaardigheidsvrug van Britse chauvinisme sou 'n wig indryf tussen onafhanklikheidsgedrewe Afrikaners en imperialistiese Britte. Na laasgenoemde is verwys as die "niggie met die stywe nek"  -  selfs vandag nog.

Vandag is Afrikaners slagoffers van Julius Malema se "Kill the Boer.."-haatspraak. Vroeër was Afrikaners die slagoffers van Britse haatspraak soos dié van sir Alfred Milner wat in 1901 van die Boere gesê het: "...a filthy, ignorant fellow...A cowardly cur, belonging to a civilization of three hundred years ago...a cancer on the face of the earth...the scum of the earth...may he be stilled for ever (uit: Anna Geyer se Briewe uit Highveld), terwyl duisende Afrikaners, sienderoë, in Britse konsentrasiekampe sterf. 

Knap voor 1994 woon ek 'n gesamentlike byeenkoms van die Suid-Afrikaanse  Onderwysersunie en die South African Teachers Association by waar laasgenoemde se voorsitter soos volg (vertaal) opgemerk het: "Ons Engelssprekendes moet erken dat ons in die verlede nog altyd op almal en alles neergesien het wat nie Engels was nie." Wat 'n manmoedige openbare bekentenis.

Die normalisering van interkulturele verhoudings stel ons almal voor bomenslike uitdagings.


Wednesday 2 December 2020

Rassisme ingespan in ANC belang


 

Apartheid, dikwels as valse verskoning vir ANC-mislukkings voorgehou, is uitgedien en deur rassisme vervang om as jongste strategiese wapen aangewend te word.

 Vals in sy kwasi-bestryding van rassisme, slaan die ANC eensydig blitsvinnig toe op die geringste aanduiding van wit rassisme   -  gepaardgaande met swaar strafoplegging  -  terwyl die ANC self, in totale ontkenning van swart rassisme, blind is vir laasgenoemde.

 Selfaangestelde rassisme polisieëerders, soos Julius Malema, is van die grootste haatstokende rassiste, dog onaantasbaar, want wit beteken rassisties en swart nie-rassisties, 'n leuen wat onbeskaamde steun geniet.

 Selfs vanuit 'n geestelike oord hou aartsbiskop Thabo Makgoba wit Brackenfell-ouers verantwoordelik  vir dié, moedswilliglik EFF-rasgestempelde, insident. Selfs rasbewuste pres. Ramaphosa vind dit nodig om kommentaar daarop te lewer.

 Ons nasionale rasatmosfeer is sodanig spanning belaaid dat, sou ons dit waag om te verneem na die statistieke oor die samestelling van gevangenes in tronke, wie geweld teen vrouens en kinders pleeg, wie ekonomies saboterende vandalisme pleeg  -  en dergelike negatiewe samelewingsverskynsels  -  ons onmiddellik van rassisme beskuldig en aan vervolging blootgestel sal wees. Dié rassewaarheid moet verswyg word.

 Die hou van 'n nasionale debat oor rassisme lyk by voorbaat doodgebore te wees waaruit niks konstruktiefs kan kom nie. Met 'n eensydige getalle-oorwig aan sy kant, sal die ANC-stem die deuslaggewende wees, 'n geval van: as die ANC-baas praat, moet klaas burger luister.

 Alvorens swart leiers nie tot die realistiese erkenning kom dat alle mense geneig is tot rassisme nie, gaan die telkens opvlammende rassekonflik in belang van die ANC bly voortduur.