Wednesday 9 December 2020

Bomenslike uitdagings aan ons gestel




Soos Anti Soutvel (08.12), ondersteun ook ek, as Afrikaner, Jan van der Merwe (02.12) se sentimente oor die Britse historiese nalatenskap. Onthou net: anderskleuriges voel dieselfde oor ons. Dink daaroor.

Versuurde verhoudings tussen Afrikaners en Britte dateer terug na 1806. Meedoënlose verengelsing, veral onder goewerneur Somerset, is vernederend op Afrikaners afgedwing. Oosgrensboere is voortdurend in die ongelyk gestel; die inboorlinge met geskenke gepaai. Die Slagtersnekvoorval, as grensinsident, het bitterheid op die spits gedryf. Boere het hul waens gelaai en padgegee.

Die meerderwaardigheidsvrug van Britse chauvinisme sou 'n wig indryf tussen onafhanklikheidsgedrewe Afrikaners en imperialistiese Britte. Na laasgenoemde is verwys as die "niggie met die stywe nek"  -  selfs vandag nog.

Vandag is Afrikaners slagoffers van Julius Malema se "Kill the Boer.."-haatspraak. Vroeër was Afrikaners die slagoffers van Britse haatspraak soos dié van sir Alfred Milner wat in 1901 van die Boere gesê het: "...a filthy, ignorant fellow...A cowardly cur, belonging to a civilization of three hundred years ago...a cancer on the face of the earth...the scum of the earth...may he be stilled for ever (uit: Anna Geyer se Briewe uit Highveld), terwyl duisende Afrikaners, sienderoë, in Britse konsentrasiekampe sterf. 

Knap voor 1994 woon ek 'n gesamentlike byeenkoms van die Suid-Afrikaanse  Onderwysersunie en die South African Teachers Association by waar laasgenoemde se voorsitter soos volg (vertaal) opgemerk het: "Ons Engelssprekendes moet erken dat ons in die verlede nog altyd op almal en alles neergesien het wat nie Engels was nie." Wat 'n manmoedige openbare bekentenis.

Die normalisering van interkulturele verhoudings stel ons almal voor bomenslike uitdagings.


No comments:

Post a Comment