Showing posts with label Angus Buchan. Show all posts
Showing posts with label Angus Buchan. Show all posts

Wednesday, 18 March 2009

Afguns lei tot kritiek op Buchan

Onder die titel van "Our times and their lessons", in die boek The Bible Under Attack, sê Iain Murray dat elke kerkhistoriese tydperk deur opvallende eienskappe gekenmerk word, 'n verskynsel wat elke Christengelowige derhalwe oproep om na die eietydse geloofskwessies te vra.

Een sodanige eietydse geloofskwessie sentreer rondom Angus Buchan, 'n "eenvoudige boer" wat daaraan herinner dat Jesus Sy volgelinge juis uit "ongeleerdes", soos vissermanne, en nié Skrifgeleerdes nie, gekies het.

Die jongste aanslag van verdagmaking teen die geestelik-geïnspireerde Buchan-boodskappe kom van dr. Sarojini Nadar wat beweer dat "...Angus Buchan se boodskap 'kan lei tot geweld deur mans teen vroue'"  (DB,10.03).

"Geleerde" geesgenootlikes van Nadar, soos proff. Christina Landman en Amanda Gouws, het ook al gal gebraak teen Buchan. Het ons nie hier te make met 'n "geleerd-geestelike beterweterigheid", én afguns jeens 'n eenvoudige, ongeleerde boer wat derduisende Christene biddend rondom die Woord byeenbring nie?

Murray beweer dis gevaarlik om nié kwessies soos bogenoemde te beoordeel nie, maar te verkies om "saam te dryf" met die stroom sonder om te besef waarheen.

Murray wys daarop dat die aanwesigheid, en rampspoedige gevolge, van die Liberalisme in Protestantse kerke vir geruime tyd geen geheim meer is nie. Dit het ons kerkdenke binnegesypel, veral deur die "verintellektualisering" van die teologiese denke, waardeur die "nie-intellektueel" bedoelde evangeliewoord baie Christengelowiges aantrek na Buchan se opreg-eenvoudige boodskappe.

Die Liberalisme het 'n radikaal-anderse Bybel- en Godsbeskouing. Dus moet die Bybel aangepas word by die moderne mens en samelewing, in plaas van andersom. Sodoende word veral nie-Christene gepaai en word wêreldinvloed moontlik vir die liberale kerk.

Murray noem bogemelde "vermomde ongeloof" wat tot 'n geestelike katastrofe lei indien besef word hoeveel leë kerkgeboue in Europa vandag vir ander doeleindes gebruik word.

By ons gebeur dieselfde; daarom vind ons eie "geleerde geestelikes" 'n sondebok in Buchan.

Saturday, 27 September 2008

Buchan-kritiek is bloot afvalligheid

Die afbrekende kritiek teen die Buchan-byeenkomste is vermoedelik slegs één simptoom van 'n veel groter onderliggende sindroom binne die huidige Christelike geloofsgemeenskap. Ek noem dit 'n afvalligheidsindroom. Afvalligheid is geen mitiese versinsel vir hulle wat die Woord onvoorwaardelik aanvaar en glo nie. 1 Timoteus 4:1-2,  Hebreërs 6:4-6,  en 2 Petrus 2:1-3  waarsku ons profeties daarteen.

Twee  "opponerende geloofskampe"  kom as't ware teenoor mekaar te staan ; die kamp wat die  "wetenskaplik verligtes"  en  "evolusionêr-revolusionêres"  genoem kan word, wat op húl beurt weer na die ander kamp as  "fundamentaliste"  verwys en  "anti-evolusionêr en tradisioneel"  genoem kan word.

Eersgenoemde kamp blyk 'n tuiste te bied vir diegene wat 'n modernistiese en post-modernistiese godsdiens nastreef wat die spanning tussen geloof (tese) en verstand (antitese) probeer sintetiseer deur die Bybel te  "korrigeer"  op grond van  "wetenskaplike insigte"  en dusdoende gedeeltes van die Bybel vermitologiseer op 'n grondslag van  "ons weet van beter as die Bybelouteur (God) self".

Kamp twee blyk 'n tuiste te bied vir diegene wat 'n onveranderlike  "vir-alle-eeue"-godsdiens nastreef op grond van die Woord van 'n God wat sélf nié verander nie. Geloof self  "evolueer"  nie, en daarom bly die Skrif in sy totaliteit onveranderlik van toepassing vir álle tye, raak dit nie uitgedien nie en kan dit nie as  "mites"  agter gelaat word nie ; gegrond op 'n kinderlik onvoorwaardelike aanvaarding van die totale Bybelinhoud.

In sy Ballade van die Bose sê Van Wyk Louw treffend : "Die veles meen hulle ken my gesig, maar ek (die Bose) skuil té glansryk, té na aan die lig (Goddelike waarheid)". In die lig van hierdie poëtiese  "stelling"  móét ons dus vra : Wie van  "dié lig"  en wie wel so  "ná aan die lig" ?  Hieromtrent moet elkeen van ons self besluit en antwoord.

Tuesday, 23 September 2008

Vertrekpunte in Buchan-debat

So belangrik as wat dit is om van prof. Amanda Gouws te verneem   -   in haar artikel : "Buchan : teken van die tyd waarin ons leef?" (DB,18.09.2008)   -   dat Angus Buchan in  " 'n fundamentalistiese interpretasie van die Bybel"  sy vertrekpunt vind, so belangrik is dit ook om te probeer bepaal wat háár vertrekpunt vir kritiek op Buchan is.

Gouws se vertrekpunt is duidelik nié versoenbaar met dié van Buchan nie, tog, omdat sy nie self haar vertrekpunt uitspel nie, moet dit afgelei word, enersyds vanuit haar kritiek teen Buchan, en andersyds uit haar bewonderende verheerliking van die Grondwet.

Gouws beweer : "Buchan spreek tot die krisis van manlikheid in Suid-Afrika"  (kers opgesteek by prof. Christina Landman?)   -   'n duidelike onvermoë tot 'n diep-geestelike perspektief as voorwaarde vir begrip aangaande dít waaroor dit wérklik gaan.

Gouws sê  "dat ons deur Buchan se tipe godsdiens saamgesnoer gaan word, is 'n mite"   -   in aansluiting by kontemporêre evolusie-teoloë wat sekere Bybelgedeeltes óók as mites afmaak. Opsommend beweer sy : "Die probleem met Buchan is dat hy... deel van die probleem"  is   -   weer eens 'n onvermoë van Gouws om oorsaak en gevolg Bybel-gefundeerd te ondersoek.

Kontrasterend tot die voorafgaande beweer Gouws : "Die probleme...waarmee ons in Suid-Afrika worstel, verg 'n...meer gesofistikeerde benadering as 'n terugkeer na waardes, gegrond op interpretasies van die Bybel."  Sy stel  "waardes wat in die Grondwet beskerm word...(soos) godsdiensvryheid, diversiteit, multikulturaliteit, beraadslagende demokrasie en geslagsgelykheid"  voorop ter oplossing van ons probleme, en negeer die Skepper as Onderhouer en Voleinder ook in dié probleemverband.

Dit is duidelik : Die Bybel is ondergeskik aan die Grondwet. Verraai Gouws se slotopmerking : "Geen wonder Karel Marx het gesê godsdiens is die opium vir die massas nie!" , nie iets van háár vertrekpunt nie?

Saturday, 21 June 2008

Hou jou by jou lees, Landman

Ons weet dat omstredenheid 'n wyse is om 'n kompartement in 'n wa van die publisiteitstrein te bespreek. So 'n voorbeeld is prof. Christina Landman ('n vrou) wat nie te lank gelede nie na kerktorings as manlike falliese simbole verwys het.

Nou weer, in haar artikel,  "Soet jong mans nuwe toets vir kerk" , in Godsdiensperspektief (DB,18.06.2008), sit Landman haar verdagmaking van Christenmans voort. Sy neem Angus Buchan se saamtrek van  60 000  mans te Greytown as vertrekpunt daarvoor.

Landman sê : "Ek veronderstel die manne van die Greytown-sestigduisend is soet jong mans."  Sy bel 'n paar (van dié duisende) en haal dan drie van hulle aan. Is hulle verteenwoordigend van die oorblywende  59 997  Greytown-Christenmans?

Op grond van die kommentaar van dié drie kom sy tot die gevolgtrekking dat  "hier 'n nuwe manlikheid onder jong mans aan die opkom is."  Belaglik vir 'n teoloog wat as  "wetenskaplike"  gereken wil word!

Sy gaan egter voort en sê : "Laat ek eers hierdie idee van die  'nuwe manlikheid'  kontroleer met 'n groep mans wat bo  50  is."  Laasgenoemde groep sê vir haar  "maar hulle is nou so lus om 'n bietjie stout te word." Hierdie  "stout"  herlei Landman na manlike seksuele (wan-) gedrag wanneer sy daarop wys dat  "baie meer aborsies op vroue bo  40  verrig (word) as op meisies. En dis nie jong mans wat hulle swanger gemaak het nie."

Teen dié agtergrond vra Landman  "hoe die kerk gaan staan teenoor hierdie  'nuwe manlikheid'  van die jong mans." 

Liewe hemel, prof. Landman, is daar nie véél dringender kwessies waarmee die kerk homself moet besig hou as dat  "soet jong mans ('n) nuwe toets vir (die) kerk"  sal wees nie? Daar kan géén ander manlikheidsbeeld vir enige Christenman wees as dié een wat God se tydlose Woord aan hom toeken nie. Dit is beslis tyd dat Christenmans vir Landman sê : Skoenmaker, hou jou by jou lees!