Sunday 30 November 2014

Apartheidsvernietiging primêr vir Belhar

My indruk uit gesprekke met medelidmate oor Belhar, is dat vele onseker is vanweë onvoldoende inligting. Waar kennis wel bestaan, berus dit op eensydige inligting soos deur die pro-Belhar NGK-leierskap beskikbaar gestel   -   "Kerkbode" van 1 Augustus 2014 en die "gereedskapkis" (toolbox) van dié kerk as voorbeelde. Anti-Belharinligting word weerhou en/of verswyg.

Prof.Piet Strauss beskryf in sy bydraende hoofstuk, "Die belydenisbeweging teen apartheid", tot die boek, "Belhar Geweeg", voortreflik hoedat Belhar gebore is uit die rewolusionêre stryd teen apartheid. Apartheidsvernietiging is reeds vir al meer as vyf dekades die primêre dryfveer, aanloop en agtergrond tot Belhar. Die Bybel beklee 'n sekondêre posisie waaruit teksverse   -   doeldienlik gekies en vertolk   -   aangewend word om dié bevrydingsteologies georiënteerde geskrif te motiveer.

Dié "verbintenis" tussen Belhar en apartheid duur onverpoosd en onverbloemd voort waaruit lidmate self afleidings kan maak. Die NGK-moderator, prof. Niemandt, sê: "...as die NG Kerk Belhar sou verwerp, sal dit wyd gesien word (deur wie?) as 'n terugkeer na apartheid" (Beeld,23.08.13). In een van sy laaste briewe haal wyle dr.Mauritz Vorster (DB,18.09.07) vir prof. Piet Naude soos volg aan: "Die laaste bastion van wit Afrikaneroorheersing (bedoelende NGK) kan val   -   dit sal uiteindelik die einde van apartheid wees."

In Volksblad (31.05.13) sê ds.Willem Botha: "Tydens drie streekbyeenkomste van die NG Kerk Vrystaat is (gesê)...dat die aanvaarding van Belhar die toetssteen is of iemand inderdaad apartheid afgesweer het..." In "Waaroor word gestem?" (DB,25.11) word berig: "Die belydenis het ontstaan in 'n konteks van 'geskeidenheid' en 'aparte kerkvorming'..."

In die lig van dié onontkenbare "verbintenis" tussen Belhar en apartheid, behoort elke lidmaat duidelikheid daaroor te kry en Belhar ook daarvolgens beoordeel. Belhardenke is apartheidsgemoeide denke.






Tuesday 25 November 2014

Hanekom-artikel nie oortuigend nie

Dr.Braam Hanekom se: "Vanwaar,Belhar?" (DB,25.11), op die vooraand van die Oos-Kaapse buitengewone sinodesitting, verskyn nie toevallig nie, maar wel strategies bepland en patroonmatig. Hierdie streeksinode se byeenkoms in Junie 2012 is, eweneens, voorafgegaan deur prof.Piet Naudé se: "NGKerk moet stemloses stem gee" (DB,06.06.12). Die dryfveer van beide artikels is propaganda.

Betreffende die Hanekom-artikel bevraagteken ek, onder meer, die volgende wat hy sê: "Die (Belhar-) voorstel impliseer dat dominees...met vrymoedigheid daaroor sou kon preek en kinders in die kategese...daarvan sou kon leer." Waarom verwys Hanekom nie direk na die 2013 VGK sinode-besluit, indien kerkeenheid sou geskied, naamlik: "The content of the Confession of Belhar will be taught in catechism, preaching, theological education and embodied in a transforming Church" (my kursivering)?

Hanekom sê: "...ons...glo...dat jy nie onder dwang iets kan of moet bely nie"   -   vandaar die "opsionele" keuse aan lidmate vir Belharaanvaarding. Wat sê die VGK sinode-besluit hieromtrent? "Every new minister will be licensed only after subscribing to all four Confessions" ná kerklike eenwording. Waarom verswyg Hanekom dit? Moet anti-Belhargesindes die pro-Belhargesindes   -   volgens aanloklike "opsionele" grondslag   -   help sodat Artikel 1 Belhar sal akkommodeer waarop kerkeenheid dan kan volg? Ná kerkeenheid het die pro-groep hul doel bereik, en kan die anti-groep die kerk liefs verlaat? (Lesers sal merk dat VGK-taal slegs Engels is!)

Volgens Hanekom is Belhar Skrifgetrou, 'n aanspraak wat deur die teenstanders daarvan verwerp word. Hanekom beweer Belhar moet help met "die uitdagings wat ons land en wêreld tans in die gesig staar." Kan enige ware belydenisskrif sigself verantwoord aan enigiets ánders   -   soos dienstigheid aan "ons land en wêreld"   -   as slegs uitsluitlik aan die Hoof van die Kerk en Sy Woord?

Jammer. Hanekom oortuig my nie.








Thursday 20 November 2014

Gaan besluite op vooraf ondersoek berus?

Op 26-27 November vind daar 'n buitengewone vergadering van die Oos-Kaapse sinode van die NG Kerk plaas. Die hoofbesprekingspunt is die voorgestelde wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde met die doel van die opname van Belhar daarin. Die Vrystaatse sinode het vroeër die aandag daarop gevestig dat Artikel 1 sekere voorskrifte bevat vir die kerklike hantering en potensiële aanvaarding van Belhar. Enige bespreking oor Artikel 1 impliseer tans voorbereiding vir die aanvaarding van Belhar. Dié twee impliseer mekaar wedersyds.

In sy bydraende hoofstuk tot die boek, "Belhar Geweeg" (2012), wys ds.Theo Danzfuss   -   Aktuarius van die Hoëveldse sinode   -   op die volgende besluit van die Algemene Sinode (AS): "Die Algemene Sinode dra dit aan die Moderamen op om, as deel van die proses, 'n deeglike studie te doen van die historiese, teologiese en kontekstuele relevansie van Belhar ten einde die volgende AS en alle kerkvergaderings te adviseer." (NGK2011,Algemene Sinode 2011:Besluiteregister, bl.3).

Vir my is dit 'n aktuele vraag óf dié besluit op hierdie stadium reeds uitgevoer is sodat die bevindinge van " 'n deeglike studie...van Belhar" beskikbaar is, ten einde "alle kerkvergaderings"    -   ook dié van die Oos-Kaapse sinode   -   adviserend te lei in hul bespreking van en besluitneming oor die Belhar/Artikel 1-aangeleentheid? Twee slotvrae: hoe legitiem is enige bespreking en besluitneming sou dit nie gebaseer wees op die bevindinge van 'n vooraf ondersoek soos deur die 2011 AS daartoe besluit, en, indien dié besluit nog nié uitgevoer is nie, wat is dan die waardestatus van 'n/enige AS-besluit?






Saturday 15 November 2014

Bron van verwarring - Beeld of Niemandt?

In: "Lede soek Belhar in Kerkorde", berig Beeld (06.11) van sy gesprek met die NGK-moderator, prof. Nelus Niemandt. Hiervolgens sou Niemandt gesê het dat die NG Kerk reeds die Belydenis van Belhar (BB) aanvaar het; dat lidmate nie die teologiese integriteit van BB bevraagteken nie; dat die versoek om BB deel van die kerkorde te maak van NGK-lidmate self kom; dat die NGK nié deur die VGK gedwing word om BB te aanvaar nie, en dat hy nie veel verdeeldheid in die NGK verwag nie.

Daar bestaan voldoende aanduidings dat nie 'n enkele een van die voorafgaande bewerings korrek is nie. Reaksie op dié verwarrende uitsprake het die moderator op die NGK facebook-blad laat reageer waar hy, onder meer, sê: "Die koerantberig is eenvoudig nie korrek dat Belhar aanvaar is deur die NG Kerk nie." (Wat van die oorblywende opmerkings?)

Die vanselfsprekende vraag is wie se kommentaar geloofwaardig is: dié van Beeld óf dié van Niemandt? Vrae van 'n spontane aard: kan 'n Beeld-verslaggewer dan (ooglopend moedswilliglik?) soveel as vyf verdraaide uitsprake aan die moderator toedig? Drie van Niemandt se bovermelde beweerde uitlatings verskyn tussen aanhalingstekens. Lesers weet immers wat dit beteken. Waarom reageer Niemandt slegs op die NGK facebook-blad en dring hy nie ook aan op 'n openbaar regstellende opvolgberig in Beeld nie? Deesdae word gesprekke dikwels op band vasgelê waar dit agterna geverifieer kan word. 

Wie ook al van Beeld of Niemandt die bron van dié verwarrende beriggewing mag wees, behoort 'n openbare verduideliking én verskoning aan NGK-lidmate aan te bied, om sigself só bó verdenking te stel.         (ngn)






Thursday 6 November 2014

Wie se stem hoor kerklike besluitnemers?

Volgens gereformeerde kerkreg is Christus die hoof van die vier amptelike NG-kerkvergaderings: kerkrade, ringe, sinodes en algemene sinode   -   elkeen met selfstandige besluitnemings-  en regsbevoegdheid. Hoe vreemd ook al, 'n kerkraadsafgevaardigde na 'n sinode mag dáár anders stem as sy kerkraad. Elke vergadering bid om leiding van Bo, en stem daarna, let wel: "soos deur die Heilige Gees (HG) gelei".

'n Afgevaardigde kan vanuit 'n kerkraad kom, dáár deur die HG gelei om anti-Belhar te stem, en hom dan tussen sinodegangers bevind wat deur die HG gelei word om pro-Belhar te stem. Is HG-leiding dan inkonsekwent, óf besluit bidders reeds vooraf wat húlle wil hoor?

Waaraan moet hierdie onskriftuurlike HG-karakter vir sommige   -   van oënskynlik anomaliese diskrepansie   -   toegeskryf word? Een moontlike antwoord het betrekking op die grens tussen geloof (bowerasioneel/geestelik) en menslike emosie (rasioneel/psigies) wat, deur manipulasie, sodanig kan vervloei dat die onderskeiding tussen die "HG-stem" (geloofstem) en 'n welsprekende "kerkleierstem" (emosie) haas ononderskeibaar word sodat laasgenoemde   -   vanweë stem-  en luisterverwarring   -   vir eersgenoemde aangehoor word.

Voorbeeld; Kerkleiers kan sinodegangers wysmaak dat 'n ja-stem vir wysiging van Kerkorde-artikel 1 nié 'n pro-Belhar stem is nie, maar "om uit Christelike liefde ruimte vir mekaar te maak", terwyl dit tog duidelik beteken om die belydenisdeur vir Belhar te open.

Die vraag is daarom: wie se stem hoor kerklike besluitnemers werklik, dié van die HG óf kerkleiers s'n, en stem dan daarvolgens?