Friday 21 February 2003

Dié taalbeleid lyk soos 'n taaltruuk

Die gemiddelde Afrikaanssprekende student, dosent en ouer smag, om verskeie redes, na die erkenning én implementering van meertaligheid binne die deur Engels-oorheersde tersiêre taalgemeenskap.

Henry Ford sou glo gesê het dat elkeen geregtig is om die kleur van sy motor te kies mits dit swart is. Geld iets van dié Ford-voorwaarde nie dalk ook wat betref die voorgestelde taalbeleid vir hoër onderwys nie, naamlik : Enige taal is toelaatbaar, mits die student en dosent uiteindelik alles slegs in Engels doen?

Dit kan nie buite rekening gelaat word dat die ministerie van onderwys met sy voorgestelde meertaligheidsbeleid vir hoër onderwys "gepaarde" tweetaligheid as die oplossing sien nie. Etlike van hierdie "tweetaligheidspare" binne 'n tersiêre instelling sou ongetwyfeld uitdrukking gee aan die beleid van meertaligheid.

Tweetaligheidspare ontstaan deur elke nie-Engelse taal met Engels "af te paar" : Afrikaans met Engels, Xhosa met Engels, Zoeloe met Engels, en so voorts. Elkeen van hierdie tale word aan Engels gekoppel om mettertyd hul selfstandigheid prys te gee.

En die doel hiervan? Die antwoord is: Om "oorgangstweetaligheid" te bewerkstellig sodat die finale oorgang vanaf die moedertaal na Engels as die nasionale voorkeurtaal en transformasietaal   -   taaleenwording in diens van nasiebou   -   gemaak kan word.

Baie eenvoudig en nie onreëlmatig nie, nie waar nie? En hoe moeilik gaan dit wees om, wanneer dié transformatiewe taaloorgang na die nasionale voorkeurtaal eers gemaak is, studente permanent van hul moedertaal te vervreem?

Word dié taalbeleid nie dalk geskoei op die lees van die Ford-voorwaarde nie? Dit kan nie ontken word dat die meertaligheidsbeleid inherent die potensiaal bevat om in 'n taaltruuk aangewend te word vir taaleenwording en die Angliserende nasionalisering van die tersiêre taalgemeenskap nie. Binne die ideologiese magspel van ons dag lyk dit na 'n baie sterk moontlikheid.

Monday 10 February 2003

Globalisering eis dat taal sterf

Dit verg geen apokaliptiese visioen van 'n Nostradamus of 'n Siener van Rensburg om te begryp waarom Afrikaans moet sterf nie.

Reeds sedert 1795, met die koms van die imperialisties-gedrewe Engelse taal na die Kaap, was die Afrikaanse taalfetus, ontwikkelend in die baarmoeder van die Nederlandse taalmoeder, bestem vir vernietiging. Die koloniale gesindheid teenoor taalmoeder en taalkind was: "If you can't speak it, kill it."

Die Britse ryksbouers sou hul koloniale ryk ook op taalholisme vestig. Aan ywerige taal-  en volksmoordenaars soos die Somersets, Milners en Kitcheners het dit Brittanje nie ontbreek nie.

Bekoor deur Britse imperialisme, en bekeer tot die holistiese filosofie, sou verraad vanuit eie geledere teenoor volk en taal nie uitbly nie. Die gepropageerde versoening met die vyand moes ten koste van taal en volk geskied.

Vandag neem die voortgesette vernietigingsaanslag globale afmetings aan en kan dit deur die multikulturalisme, assimilasionisme en liberalisme teruggespoor word na die humanisme as Skeppernegerende en skepsel-vererende denkraamwerk.

As 'n oorwegend transenderende reformasietaal   -   en nie 'n transformasietaal nie   -   is die psige en aura van Afrikaans veel meer kansel-, onderwys- en volksgeoriënteer as geld- en wêreldmag-georiënteer. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

Die gedyende globale dorp duld nie tale, soos Afrikaans, wat nie konformerend teenoor globalisering staan nie. Eentaligheid is 'n kragtige gelykmakingsagent. Taalmonopolie lei tot denkmonopolie, en dié twee saam tot beheer oor die manipulering van die getransformeerde bewussynslewe.

Omdat Afrikaans die taal-, denk- en bewussynstransformering van die globale dorp in die weg staan en vertraag, het dit nie plek in die nuwe Suid-Afrika nie. Daarom moet dié taal sterf.