Friday 26 February 2010

Vrae oor NG Kerk en dwaalpraktyke

Emeritus ds. Johan Kriel vra in die Joy!-tydskrif van April 2009: "Wat gaan aan in die NG Kerk?" Kriel wys op "...die dwaalleer wat...deur sommige teoloë in dié kerk verkondig word"; ook tydens predikante-opleiding wat, ná voltooiing daarvan, by legitimering 'n eed moet aflê wat lui: "Ek verwerp alle dwalings...en beloof om dit te weerlê..." Iets rym nie!

Een van die antwoorde op dié vraag is dat "...post-moderne teoloë se verstaan van die Skrif van so 'n aard (is) dat daar nie veel van die Evangelie oorbly nie." Jesus se maagdelike geboorte en opstanding word verwerp; Sy kruisdood is 'n wrede daad van die Vader wat daarvoor gehaat moet word.

Die Bybel word "...nie meer beskou as die geïnspireerde Woord van God nie, maar as 'n versameling (van) bloot wat mense in die verlede oor God geglo het." Die Bybel is dus nie langer God se Woord vir die mens nie, maar die mens se woord oor God   -   'n radikale ommekeer.

Kriel beweer kerkleiers se onmiddellike reaksie is om "...te ontken dat daar fout is in die kerk" met 'n voorgee-gesindheid van, "Ons is tog almal téén dwaling". Kriel haal dr. Jan Grey aan wat sê "...sou die NG Kerk nie ...teen sodaniges (dwaalleer-teoloë) optree nie, sal dit beteken dat die Kerk...'n vals kerk geword het."

NG Kerk-lidmate het beslis die reg om te vra of dié kerk meedoen aan praktyke van dwaling.

Hierdie brief het in Die Burger (Oos-Kaap) van 02-03-2010 verskyn.

Tuesday 23 February 2010

Kerkleiers, teoloë se optrede vreemd

George Claassen het onlangs by die openingsdag van die Universiteit van Pretoria se Teologie Fakulteit (UPTF) as geleentheidspreker opgetree. Claassen is 'n uitgesproke ateïs en evolusionis wat hom in 2009 beywer het vir die nie-onderrig van godsdiens op skool.

In sy artikel, "Ateïs hoofspreker by openingsdag van UP-teologie", in die aanlyn-Kerkbode, vind dr. Hennie Mouton dit uiters vreemd dat 'n uitgesproke ateïs en evolusionis as die hoofspreker genooi is vir die UPTF se openingsdag.

Tot Mouton se ontsteltenis het twee teologie-professore laat blyk dat hulle nié van Claassen verskil nie. Een professor het selfs gesê: "Genetika is die doodskoot vir God, waarop die teologie nog antwoorde moet vind"; dit terwyl Claassen gesê het "...dat moderne wetenskaplikes, onder andere Charles Darwin, groter gesag as die Heilge Gees het." Is dit nie godslasterlik nie?

Mouton vra tereg: "Was  die uitwerking van dié geleentheid dus tot opbou of afbreek van die Christelike geloof? Het Claassen enige oproep tot bekering ontvang van enige van die teoloë?"

Na aanleiding van 'n berig in Die Burger van 6 Februarie 2010 onder die opskrif "Ateïstiese predikant mag in sy amp aanbly" oor ds. Klaas Hendriks van Nederland, vra Mouton "...of die teologie, en spesifiek die NGKerk se teologie, nie op dieselfde pad is nie."

Dit wil so voorkom indien jy die Moderamen se standpunt van 21-22.06.2009 oor evolusie verneem waarvolgens hulle dit as "wetenskap" erken, goedkeur dat dit in skole onderrig word, en dat lidmate vir hulself   -   sonder leiding van die kerk   -   daaroor moet besluit.

Is dit die optrede van kerkleiers en teoloë op wie lidmate kan vertrou?

Hierdie brief is in Die Burger(Oos-Kaap) van 24-02-2010 geplaas.

Saturday 20 February 2010

Los ons en skryf oor jul eie mense

Henry Jeffreys se monduitspoel oor wit Afrikaners(DB,08.02) laat jou wonder wanneer hy die fokus na bruin mense gaan verskuif. Is daar nie ook onder hulle diegene wat, integrasie-gedrewe, van 'n eie identiteit wil afskeid neem, dog ook diegene wat dit wil behou nie?

Die volgehoue gesanik van hoë-profiel bruin skrywers, soos Jeffreys, Jansen en Kie., oor integrasie   -   gemik op wit Afrikaners   -   word regtig irriterend. Jeffreys, Jansen en Kie. probeer Afrikaners subtiel reduseer tot slegs indiwidue ter voorbereiding vir integrasie.

Hierin word opsetlike wanvoorstelling gebruik soos dat Afrikaners rassiste is en altyd, isolasie-gedrewe, 'n laertrekmentaliteit openbaar. Jeffreys, Jansen en Kie., neem kennis dat ons trotse volkshuisbewoners is en beoog om dit te bly.

Toe FW "aanmatigend" was deur te beweer "...die bruin mense is 'sy' mense en hulle noem hom 'pappa' "(DB,08.02), het prof. Danny Titus (Bruin Belange Inisiatief) hom daaroor voor stok gekry. Wie nog, ooit, het Jeffreys, Jansen en Kie. voor stok gekry oor wat hulle gereeld van ons as Afrikaners sê   -   dubbele maatstawwe?

Jeffreys, Jansen en Kie. is net soveel "skuldig" aan dieselfde tipe uitlatings oor wit Afrikaners as wat FW "skuldig" staan met sy opmerkings oor bruin mense. Die opportuniste onder ons moet waak om nie hul hand te oorspeel nie.

Julle hoë-profiel bruin skrywers, sê vir ons wat jul standpunt is oor Maleiba wat sê : "...dat die kennis van die Khoi-Khoin-identiteit, geskiedenis en kultuur nodig is 'sodat die mense kan weet van waar af hulle kom' "(DB,10.02), asook Titus wat se: "Ek is bruin, gemeng, geskape na die beeld van God en trots daarop, veral trots op my bruingeit"(DB,07.06.08).

Friday 19 February 2010

Antichris kom eintlik uit die kerk

EP van Uitenhage se SMS (DB,10.02) aan Ateïs van Karoo verwys. EP sê: "Evolusie is van die duiwel. Dis die misleiding waarteen die Bybel jou waarsku." Inderdaad. In Spreuke 14:12 en 16:25 waarsku Salomo: "Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood." Dit na aanleiding van Ateïs van Karoo se stelling (DB,09.02):  "Bravo, ds. Klaas Hendriks, jy is die Darwin van die predikers... Lank leef die waarheid   -   evolusie."

Dis onwaar, want Jesus is die weg, die waarheid en die lewe (Joh.14:6). Ateïs van Karoo se SMS volg op die berig "Ateïstiese predikant mag in sy amp bly" (DB,06.02). Hoewel dié berig geensins na evolusie verwys nie, koppel Ateïs van Karoo dit daaraan, omdat evolusie en ateïsme, vir baie mense, mekaar impliseer. Hendriks is 'n selferkende ateïs-predikant wat met die goedkeuring van die Protestantse Kerk in Nederland "...in sy amp mag aanbly en van die preekstoel mag verkondig dat God nie bestaan nie." Hy beweer: "As my sienswyse toelaatbaar is, is daar iets verkeerd met die (huidige) fondamente van die kerk." Hierin is hy reg.

Hendriks, in wie Ateïs van Karoo 'n "...Darwin van die predikers..." sien, bevind hom in 'n antichristelike dampkring waarvan die Bybel profeties verklaar: "Hy sal selfs in die tempel van God gaan sit en voorgee dat hy God is" (2 Tess. 2:4b), terwyl in 1 Petrus 4:17a geskryf is: "...die oordeel...begin by die huis van God."

Gedink die Antichris kom uit die Kremlin, Pentagon, Beijing of VN? Verrassing! Hy kom uit die kerk.

Hierdie brief is in Die Burger (Oos-Kaap) van 19-02-2010 gepubliseer.

Thursday 18 February 2010

Artikel blaas lewe in sterwende 'kole'

Stef Delport se verdienstelike artikel, "Droster-Kakie in ere herstel"(DB,16.02), verwys. Ek het groot waardering vir hom en Dirk Schellingerhout wat die sterwende kole van ons volksgeskiedenis hier in die Oos-Kaap lewendig probeer hou.

Ek vestig kortliks die aandag daarop hoedat historiese bronne van mekaar kan verskil, soos ook in die geval van Francois Edward Davis op wie gemelde artikel fokus.

Ek beskik oor die boek, "So Het Hulle Gesterf! Laaste ure van diegene oor wie die doodvonnis uitgespreek en voltrek is in die Kaapkolonie gedurende die oorlog van 1899 - 1902", versamel deur G.Jordaan (HAUM Boekhandel, Kaapstad, 1940).

Die beginsin van Delport se artikel beweer dat Davis op 25 Januarie 1902 tereggestel is terwyl dit in werklikheid op 25 Januarie 1901 was. Die artikel meld 15 Oktober 1901 as die datum waarop Davis op 'n Vrystaatse plaas gevang is, terwyl my bron dié datum as 23 November 1900 aangee.

Volgens die artikel het die skroewe van die stoel waarop Davis doodgeskiet is in die hande van 'n posmeester beland wat geweier het om dit aan Davis se familie te gee. Volgens my bron is dié skroewe deur 'n sekere mevrou "S" aan Davis se vrou gestuur met dié boodskap: "Neem hierdie skroewe as 'n aandenking; wys dit aan die Boere wat hul koning nie eer nie en sê aan hulle dat hulle ook doodgeskiet sal word as hulle nie kom oorgee nie."

Voorgemelde verskille ontneem niks aan die meriete van Delport se artikel nie. Wat van 'n artikel(s) oor die konsentrasiekampe te Uitenhage en Oos-Londen?

Monday 15 February 2010

Artikel oor Afrikaans was 'onbedagsaam'

Henry Jeffreys se jongste artikel getuig van swak oordeel, onbedagsaamheid en 'n negatiewe ingesteldheid teenoor 'n sektor van sy koerantlesers   -   wit Afrikaners.

Wanvoorstellings, rustende op onkunde, kwalifiseer nie as joernalistiek nie. Hiervan is Jeffreys se artikel,  "Los die 'ons' en 'hulle' van 'n nasie de moer in" (DB,08.02.2010), 'n goeie voorbeeld.

Jeffreys het kennelik nie die vaagste benul van wat in die hart en gemoed van Afrikaners aangaan nie. So maak hy nie net sy eie naam krater nie, maar vervreem hy ook Afrikaners. Apartheid synde 'n  "ideologiese misdaad" , plaas Jeffreys Afrikaners op gelyke voet met  "Nazisme, Stalinisme en Maoïsme"   -   'n onvergelykbare stelling bedoel om te kwets.

Jeffreys maak Afrikaners se reaksie op die Beeld-peiling as belaglik af. Wat gee enigeen van ons én Jeffreys, as koerantredakteur, die reg om mense só aan te vat met wie verskil word   -   onverbloemde onverdraagsaamheid?

Saturday 13 February 2010

Nederlandse kerk omarm ateïsme

EP van Uitenhage se SMS(DB,10.02) aan Ateïs van Karoo verwys. EP antwoord: "Evolusie is van die duiwel. Dis die misleiding waarteen die Bybel jou waarku." Inderdaad. In Spreuke 14:12 en 16:25 waarku Salomo: "Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood."

Dit na aanleiding van Ateïs van Karoo se stelling(DB,09.02): "Bravo, ds.Klaas Hendriks, jy is die Darwin van die predikers...Lank leef die waarheid - evolusie." Dis onwaar, want Jesus is die weg, waarheid en lewe (Joh.14:6).

Ateïs van Karoo se SMS volg na aanleiding van die berig: "Ateïstiese predikant mag in sy amp bly"(DB,06.02). Alhoewel hierdie berig geensins na evolusie verwys nie, koppel Ateïs van Karoo dit wel daaraan. Waarom? Omdat evolusie en ateïsme, vir baie mense, mekaar impliseer.

Hendriks is 'n selferkende ateïs-predikant wat met die goedkeuring van die Protestantse Kerk in Nederland "...in sy amp mag aanbly en van die preekstoel mag verkondig dat God nie bestaan nie." Hendriks beweer: "As my sienswyse toelaatbaar is, is daar iets verkeerd met die (huidige) fondamente van die kerk." Hierin is hy reg.

Hendriks, in wie Ateïs van Karoo 'n "...Darwin van die predikers..." sien, bevind hom in antichristelike dampkring waarvan die Bybel profeties verklaar: "Hy sal selfs in die tempel van God gaan sit en voorgee dat hy God is" (2 Tess.2:4b), terwyl in 1 Petrus 4:17a geskryf is: "...die oordeel...begin by die huis van God."

Gedink die antichris kom uit die Kremlin, Pentagon, Peking of VVO (almal wel agente)? Verrassing! Hy kom uit die kerk.

Thursday 11 February 2010

Nie helder, maar donker kol vir volk

Leopold Scholtz se artikel, "FW het in 1990 die onvermydelike gedoen" (DB,05.02), verwys.

Scholtz se stelling: "FW het 'n bloedbad voorkom", is egter debatteerbaar. Vele van ons onthou die "bloedbad-alternatief" as NP-referendumpropaganda en meganisme waarmee 'n begogelde kieserskorps geflous is, en waaragter NP-onderhandelaars hul gebrek aan staatsmanskap probeer verberg het. Wat laasgenoemde betref, het Mandela De Klerk by verre oorskadu. Waarom dit nie erken nie?

Scholtz se stelling dat "...die NP-verteenwoordigers kon in die onderhandelings meer bereik het...selfs met (die NP se) beperkings in ag genome, sou die onderhandelaars tog meer kon bereik het... (maar die NP se) grondwetlike foefies was naïef", is korrek. Hierdie NP-foefies is deur ewe naïewe kiesers met hoek én sinker gesluk.

Ook Scholtz se bewering "...dat FW nie sy eerste span ingestuur het nie, maar mense wat nie eens op die reserwebank van die derde span tuisgehoort het nie...(en) Roelf Meyer was pateties...", maak volkome sin. Geen wonder dat Cyril Ramaphosa stom van verbasing was oor die maklike NP-oorgawe nie.

In skril kontras met Scholtz, beweer Hermann Giliomee "...dat die wit mense en die Afrikaners in die besonder hom (FW) gevolg het, is 'n helder kol in hul geskiedenis"(DB,03.02). Sy "helder kol" is inderdaad 'n "baie donker kol" in die Afrikaner-volksgeskiedenis wie se verlede gekenmerk word deur 'n volgehoue vryheids- en onafhanklikheidstrewe; bekend as sy republikeinse ideaal soos verwesenlik in 1961, maar prysgegee in 1994.

Wednesday 10 February 2010

Zuma verenig nou net Afrika-mense

Daniel Hugo se resensie van G.R. von Wielligh se boek,  Versamelde Boesmanstories 1 (DB, 01.02.2010), werp indirek lig op Zuma se onlangse buite-egtelike kaperjol.

Hierdie resensie-agtergrond maak dit duidelik dat Zuma wydsbeen in twee wêrelde wil staan, die mitologies-tradisionele en die moderne Westerse wêreld.

Grense in die mitologies-tradisionele wêreld tussen mens, dier, natuurelemente en die kosmos word na willekeur oorskry. Hugo beweer dié  "wêreldbewoner"  sien  "...homself nog nie as 'n aparte en unieke wese nie...(en) die kosmiese samehang...word in familieverwantskappe uitgedruk."

Binne hierdie ongedifferensieerde beskouing van mens-dier-natuur-kosmos, speel die vrugbaarheidskonsep 'n belangrike rol. Vrugbaarheid manifesteer in groot veetroppe en gesaaides ; die mens in baie kinders. Vrugbaarheid bring rykdom, status, gesag, mag en leierskap. Die mitologies-tradisionele leier word hieraan gemeet.

Zille se kritiek teen Zuma in haar artikel,  "Die ware Jacob" (DB,06.02.2010), kom vanuit die modern Westerse wêreld waarin ons  "demokratiese grondwet"  gevestig is.

Zille haal 'n hegte politieke  "vennoot"  van Zuma aan wat sê : "Jacob Zuma het 'n mandaat van 11 miljoen mense om te doen wat hy (grondwet-oorskrydend) wil."  Hieruit word die ANC-gesanksioneerde grensoorskrydende magsvertoon van Zuma duidelik. As grens-pendelaar   -   genietende die voordele van albei wêrelde   -   steek Zuma grense oor sonder enige gewetenswroeging.

As burgery moet ons vir Zuma vra of sy presidensiële amp binne die mitologies-tradisionele, of Westers-demokratiese wêreld gedefinieer is volgens die Suid-Afrikaanse grondwet.

Tans verenig die  "Zuma-ikoon"  slegs Afrika-mense deur middel van sy willekeurige grensoorskryding na mitologiese tradisionalisme, en vervreem sodoende landsburgers buite dié  "wêreld".

Saturday 6 February 2010

Vee eers voor die eie taaldeur

Die berig,  "Groter uitreiking nodig vir Afrikaans" (DB,29.01.2010), verwys. Die FW de Klerk-stigting se taalberaad oor die toekoms van Afrikaans het nie net weer die taaltonge losgemaak nie, maar beslis die emosies ook.

Die aanloop tot dié beraad is gekenmerk deur spanning onder Afrikaans-taalgroepe ; in besonder wit en bruin. Wittes word veral vanuit bruin taalgeledere daarvan beskuldig dat hulle Afrikaans uitsluitend vir hulself opeis.

Is dit dan nou só moeilik om deur middel van navorsing te kan vasstel   -   indien nie rééds gedoen nie   -   wat die besondere aandeel en bydrae sedert 1652 was van onderskeidelik wit en bruin tot die ontstaan, volgehoue ontwikkeling, die stryd om die erkenning van Afrikaans as onderrig-, kansel-  en wetenskapstaal, asook inisiatiewe in die aanknoop van die vroegste taalbande met lande soos Nederland, België en Vlaandere, die oorsprong van die grootste gros boustene van ons taal? Of is hierdie taalmylpale in die huidige taalgesprek 'n gerieflik-ignoreerbare irrelevantheid?

Al verneem ons ook die uitslag van sodanige navorsing, wat dan gemaak? Sal dit ons bring tot groter erkenning en die begrip van, en waardering vir, mekaar as taalgenote? Of eis die  "wenner", wit óf bruin, Afrikaans monopoliserend op vir sigself, en om welke rede?

Laat ons die klem verskuif van 'n vernietigende interne taalverdeeldheid   -   waaroor die taalimperialis hom heimlik verheug   -   na 'n taalbevorderende eensgesindheid vanweë ons liefde en respek vir ons moedertaal,  Afrikaans.

Laat ons mekaar hierin eerder telkens vermaan tot selfondersoek deur eers voor die eie taaldeur te vee as om die vinger beskuldigend na mekaar te wys.

Friday 5 February 2010

Sê breinhemisfere wie en wat ons is?

Die duidelike obsessie wat die ANC met onoordeelkundige geldbesteding en partytjiehou het, laat sommige van ons telkens ons hande in ongeloof saamslaan. Daaropvolgende immer-herhalende stortvloede van kritiek val op dowe ore, en ons vra onsself af : Gaan daar ooit 'n einde daaraan kom?

Die antwoord is, nee! Waarom nie? Bloot omdat dit Afrika se tipiese manier van doen is. Daar bestaan 'n legio van verstommende geldverkwistingsvoorbeelde vanuit post-koloniale Afrika in kombinasie met die verval van agtergelate Europese infrastrukture.

Soos met Europeërs, het ook Afrikamense nie hulself gemaak nie. Ons almal is skepsels van 'n Skepper wie se handewerk uniek is ; daarom is Europeërs wat hulle is, en Afrikane wat hulle is   -   in sommige opsigte eenders, en tog ook baie anders.

'n Enorme verskil tussen Afrika en Europa lê opgesluit in breindominansie. Hieromtrent is daar navorsingsresultate beskikbaar uit die VSA oor betekenisvolle verskille tussen Europees-  en Afrika-georiënteerde mense.

Navorsing dui daarop dat mense van Europese oorsprong linkerbrein-dominant is ; gekenmerk deur rasionele, analitiese en liniêre denke ; individualisties is ; kompeterend ingestel ; hou by vaste tydskedules ; nie ingestel op onmiddellike vergoeding nie ; en so meer.

Hierteenoor is mense van Afrika-oorsprong regterbrein-dominant ; sien die lewe en dinge as 'n holistiese geheel ; is kreatief-kunstig ; gebruik intuïtiewe kennis ; 'n sterk sosiale ingesteldheid ; spraaksamig ; emosioneel ingestel ; nie tyd-georiënteerd ; en so meer.

Nêrens in dié navorsingsresultate is daar sprake van die afspeel van rasse teenoor mekaar nie, maar wel om onderlinge begrip te bevorder.

Gedink alle mense is presies dieselfde? Beslis nie. Ons behoort ernstig te besin oor die rol van breinhemisferiese dominansie in ons menswees, en die implikasies daarvan vir 'n harmonieuse samelewing.    (ngn)

Thursday 4 February 2010

Grafika treffend van SA-werklikheid

Die simbolies-toeligtende grafika van Hanlie Malan tot Hermann Giliomee se artikel,  "Heroïese daad al is nie alles maanskyn" (DB, 03.02.2010), verwys.

Malan se grafikavoorstelling is besonder treffend vanweë die sterk simbolies-verhelderende inslag daarvan. Mandela (ANC-aspirasies) en De Klerk (NP-kapitulasie) staan hierin simbolies teenoor mekaar.

Mandela, voorgestel in groteske skaduvorm, staan met gebalde vuis teenoor 'n verdwergde en beteuterde figuur van De Klerk met hangskouers. Beide figure staan, veelseggend, op die  "pad van eenheid" , gesimboliseer deur die kleurekombinasie van die lansvlag, met daarbo 'n lug oortrek met onweerswolke.

Die omringende (nasionale) landskap waardeur dié  "eenheidspad"  loop, is egter 'n barre, lewelose en troostelose woestynlandskap ; simbolies van 'n omgewing waarin vitale lewe, ware voorspoed en algemene vooruitgang duidelik ontbreek.

Knap gedaan, Hanlie Malan. Jou voorstelling praat in 'n taal van sy eie. Dankie vir dié, simbolies-vasgevange, realistiese en treffende grafika-voorstelling van die huidige SA-werklikheid.             (ngn)

Kry samewerking deur volk te erken

Die Afrikaner-volksgeskiedenis wys op 'n inherente dualistiese verdeeldheid in die ontwikkelende volksgeledere wat by geleentheid in bittere onderlinge verskille gemanifesteer het, veral op kerklike en politieke terrein.

Dit is vandag nie anders in die Afrikaner se jongste stryd om identiteitsoorlewing nie. Die 1830's is gekenmerk deur trekkers en agterblyers ; die Anglo-Boere-oorlogjare deur  "joiners"  en bittereinders ; die 1970's deur  "verligtes"  en  "verkramptes".

Wat noem ons hulle vandag : liberale integrasioniste en konserwatiewe segregasioniste? Terwyl liberale integrasionistiese Afrikaners hulle agter geesverwante leiers skaar, lyk dit asof konserwatiewe segregasionistiese Afrikaners leierloos is, maar is dit waar?

Het Afrikaners nie sedert Uniewording (1910) gefouteer deur leierskap hoofsaaklik polities te definieer nie, en sodoende toegelaat dat polities buite-kontekstuele leiers verdwerg is, terwyl ons vandag weet ons kom baie goed reg sónder die FW's en Pik Bothas? Polities mag die volksgesinde Afrikaners dalk leierloos wees, maar beslis nie op die terreine van die landbou, kerk, onderwys, gesondheid, ekonomie, regspleging, finansies en wetenskap nie.

Die verdringing van wit Afrikaners uit leiersposisies deur regstellende aksie beteken beslis nié daar is geen leiers onder Afrikaners nie. Allermins. Hulle is daar.

Waarom nie hierdie sektorale Afrikanerleiers binne volksgeledere identifiseer en byeenbring ten einde te besin oor die voortbestaan en toekoms van die Afrikanervolk nie? Om welke rede? Omdat ek daarvan oortuig is dat Afrikaners graag bydraend wil meewerk tot vrede, voorspoed en stabiliteit in 'n land wat ook húl vaderland is ; wel nie net as individue erken nie, maar ook behorende tot 'n selfrespekterende en erkende volk.

Monday 1 February 2010

Bekentenis oor taal spreek boekdele

Phylicia Oppelt se artikel,  "Dis nie net jul taal" (DB,27.01.2010), word nie net deur aanklaende verwyte gekenmerk nie, maar ook deur uiters onsensitiewe opmerkings.

Oppelt verraai 'n verwytende ingesteldheid wanneer sy erken dat sy  "...frases soos julle wit mense"  in gesprekke gebruik en dat  "...sy moeg is van 'wit mans' se patetiese gekerm omdat 'hul' taal...in gevaar...verkeer"  en dat  "..vir baie van ons hul taalstryd nie gesien...word sonder 'n politieke konteks van die verlede nie..." Net Oppelt kan haarself bevry van die uitgediende sillogisme van : Wit = apartheid ; Afrikaans = wit ; daarom sal Afrikaans  "...vir baie van ons...(in) 'n politieke konteks..." (apartheid) gedrapeer bly. Oppelt se verwysing na  "...die getjank van ou wit mans...(en) wit mans wat op en af spring omdat "hul" taal uit die Nuwe Suid-Afrika gestoot word...", vind ek onsensitief.

Sal ek toegelaat word om dieselfde in 'n artikel van bruin mense te sê? Dis 'n moedswillige versteuring van taalverhoudinge oor die kleurgrens heen. Ten slotte stel Oppelt haar persoonlike ingesteldheid teenoor Afrikaans in kontras met dié van die  "...getjank van ou wit mans...wat op en af spring..."  wanneer sy sê : "...ek (kan) nie dieselfde opgewondenheid en vurige ywer aan die dag lê as die taalpatriotte nie" (om aanwysbare taalhistoriese redes!) ; "Vir my dogters hou Afrikaans geen magiese magte in nie ; dit beliggaam nie 'n geskiedenis wat Voortrekkers en Afrikaner-heldedade vier nie...Vir hulle is dit net nog 'n taal." Spreek hierdie bekentenis nie boekdele nie?