Showing posts with label Identiteit. Show all posts
Showing posts with label Identiteit. Show all posts

Monday, 8 December 2014

"Nuwe SA" lei tot 'n identiteitsverlies

In sy artikel: "Identiteit nie 'n nasionale krisis" (DB,05.12), reageer Leopold Scholtz op beriggewing dat "die behoefte aan 'n enkele Suid-Afrikaanse identiteit" vanaf 73% in 2003 tot 55% in 2013 gedaal het (DB,04.12). Scholtz maak Nederland tot voorbeeld en sê: "'n Enkele nasionale identiteit bestaan beslis in Nederland. Maar dit sluit klaarblyklik nie die Moslems in nie...(by wie) 'n onwilligheid om te integreer, om die Nederlandse norme en waardes oor te neem, neiging tot misdadigheid, onverdraagsaamheid teenoor nie-Moslems..." bestaan. Volgens Scholtz bots laasgenoemde lynreg met die Nederlandse identiteit met sy "groot voorbehoude".

Dieselfde bedreiging van die nasionale identiteit manifesteer ook in Brittanje, Duitsland, Frankryk, België en Skandinawiese lande waar eise van instromende Moslems onrusbarend toeneem. Scholtz sê: "Oral reageer die mense op maniere wat herinner aan dié van die Afrikaners voor, in en ná die apartheidstyd." Wat 'n veelseggende en insiggewende gevolgtrekking van Scholtz. Is dit nie maar 'n universele reaksiewyse van volkere   -   met "groot voorbehoude"   -   om só te reageer teenoor vreemdelinge wanneer dié hul nasionale identiteit bedreig nie?

Verklaar die Afrikanervolk se bedreiging van sy eie volksidentiteit nie veel van die afsonderlike ontwikkelingsroete (kortweg apartheid genoem) wat hy noodgedwonge gevolg het juis ten einde sy identiteit te behou nie? Onder die huidige identiteitsvernietigende bedeling is hy beslis besig om sy vroeëre volksidentiteit te verloor. Is die diverse rasse-, etniese-, kultuur-, taal- en geloofsgroepe in SA nie elkeen ook besig om 'n onaanvaarbare verlies aan die eie unieke identiteit te ervaar, en daarom die 18% daling in die behoefte aan 'n enkele SA-identiteit? Die "nuwe SA-reënboognasie" lei, sonder twyfel, tot 'n identiteitsverlies.









Saturday, 1 May 2010

Ware Afrikaner nie bang vir identiteit

Jan van Jeffreysbaai (JvJ) se SMS, "Breitenbach is dus nie 'n Afrikaner nie, want hy koppel homself nog aan Europa! Ek is hier gebore en wit, dus is ek 'n trotse wit African" (DB,30.04), verwys.

Mooi gedoen, JvJ, hiermee tipeer jy jouself as 'n "wit African", en ek myself as 'n Euro-Afrikaner   -   beide beslis Afrikaners, maar behorende tot verskillende Afrikanertipes. Hiermee bevestig jy ook juis dit wat ek in my vorige brief (DB,29.04) gesê het, naamlik dat ons mense wat hulself Afrikaners ag, moet toelaat om hul eie Afrikanertipe te kies; dis hul demokratiese reg! Hier het jy dit so pas gedoen.

JvJ, val dit jou ook op dat jy my Afrikanertipe aanval, maar dat ek joune nie aanval nie? Kan 'n mens tegelyk demokraties   -   dit wil sê ander hul grondwetlike vryheid van keuse gun   -   én onverdraagsaam wees?

JvJ, ek vind jou basiese vertrekpunt   -   "hy koppel homself nog aan Europa" (herinner baie aan die PAC se "settler"-gedagte, en onwelkom in SA)   -   nie net belaglik nie, maar totaal absurd. Ek verduidelik.

Indien JvJ verwag dat ek sy standpunt moet aanvaar, moet hy eers vooraf bereid wees om na die VSA te reis om daar vir álle Amerikaanse burgers wat hulself "Afro-Americans" noem, te gaan oortuig dat hulle hulself moet losmaak van Afrika as kontinent van hul herkoms indien hulle   -   volgens JvJ se absurde denke   -   as wáre VSA-burgers wil kwalifiseer.

JvJ, ek betaal jou vliegkaartjie én alle kostes ten volle indien jy die "Afro-Americans" tot die laaste man van jou sotlike siening kan oortuig.

JvJ, kom uit agter jou SMS'e en neem deel aan die Brieweblad-debat soos 'n wáre Afrikaner, soos in jou eie oë gestel, wat nie bang is om sy vólle identiteit bekend te maak nie ; ook vir sy mede-Jeffreysbaaiers.

Thursday, 29 April 2010

Definisies nie van pas oor Afrikaners

Stef Delport se brief, "Afrikaner wil Afrikaner wees" (DB,27.04), verwys. Hy sê : "Dit is...sinloos om ander te probeer definieer soos Breitenbach probeer doen...(en) om Afrikaners in 'n blik te wil druk met eng definisies." Dis 'n moedswillige leuen van Delport! Ek daag Delport uit om vanuit énige van my briewe   -   wat handel oor die identiteitsbehoud van die Afrikanervolk te wys waar ek met "...eng definisies..." vorendag kom.

Delport is dié man vir definisies! In sy brief van 18.08.2008, "Afrikaners het verskeie identiteite", sê hy : "...my definisie is...'n Afrikaner is iemand wat 'n Afrikaner wíl wees, en basta verder." Nóú sê Delport : "Ons Afrikaners is 'n volk of groep sonder afgebakende grense." Jammer, maar ek verskil van dié Delport-definisie. Beskou Delport homself as die standaard-definisiesteller?

Kom ons bly weg van definisies oor Afrikaners. Kom ons werk eerder met 'n tipologie van Afrikaners van 'n akkommoderende aard waarvolgens elkeen wat homself 'n Afrikaner ag, sigself   -   volgens realistiese keuse   -   binne 'n bepaalde tipe plaas.

Swart Amerikaners plaas hulself as "Afro-Americans" binne 'n Amerikaner-tipologie. Soortgelyk plaas ek myself as Euro-Afrikaner binne 'n Afrikaner-tipologie. Só besluit elkeen vir homself.

Definisiedenke vir ons situasie is futiel én gevaarlik. Tipologiedenke is, primêr, 'n beter opsie as definisiedenke wat eers intra-tipologies, sekondêr, toepaslik word.

Saturday, 17 April 2010

Nie nét Christen en Suid-Afrikaner nie

Jonathan Lawack se brief, "Staak tog die semantiese spel" (DB,14.04), verwys.

In sy vorige brief (DB,08.04) het hy gevra "...om 'n laaste woord te spreek...", waarop ek in my brief (DB,10.04) dieselfde "vergunning" gevra het. Daarmee was, wat my betref, ons meningswisseling verby.

Dit lyk vir my geniepsige venynigheid bly 'n kenmerk van Lawack se debatstyl. So sê hy vir my : "Staak...die semantiese spel en spreek die kernvrae eerlik en opreg aan." Hiermee impliseer Lawack dat ek dusver in my briewe oneerlik en nié opreg was nie. Dít maak debatvoering baie moeilik.

Lawack, sê dan nou tog wat is "...die werklike kwessies wat tot dusver onbeantwoord gelaat is...(en) enkele aspekte wat u (Breitenbach) in u debatsvoering (gerieflikheidshalwe) vermy"? Indien u wel my briewe behoorlik gelees het, sal u weet dat dit vir my oor 'n enkele kwessie (enkelvoud) gaan   -   die Afrikanervolk en sy identiteitsbehoud   -   en sleep ek geen ánder "kwessies" (meervoud) by nie. Ook die "aspekte" is u eie maaksel en toevoegsel, en, moet asseblief net nie ú probleem my probleem maak en dan agter my probeer skuil nie.

Lawack vra : "Is...almal wie se huistaal Afrikaans is, by u groep ingesluit?" Lawack, eerstens behoort ek nie aan 'n "groep" nie, maar wel aan 'n volk. Tweedens, my vraag aan u : is enige persoon meteens 'n lid van die Engelse, Kanadese, Australiese, Nieu Zeelandse of Amerikaanse volk net omdat dié persoon dieselfde taal (Engels) kan praat? Is húlle lede van mekaar se volke? Ek dink nie so nie! Kan u hieruit 'n antwoord aflei?

Lawack sê hy is, eerstens, 'n Christen en, tweedens, 'n Suid-Afrikaner. Ek is, eerstens, ook 'n Christengelowige; daarna 'n volkse Afrikaner, en, derdens, óók 'n Suid-Afrikaner

Saturday, 10 April 2010

Oorkom bitterheid en gaan vooruit

Soos Lawack, vra ek ook om vergun te word om  "'n laaste woord te spreek"  in ons briefwisseling, en te reageer op sy opmerking : "...T.C.Breitenbach se neerhalende repliek..."

Hoewel ek sy opmerking jammerlik vind, wens ek hom nietemin geluk dat hy sy vlak van debatvoering aansienlik gelig het (opreg bedoel; geen sarkasme). Die opskrif van sy jongste brief, "Só moet dinge mos nie gedoen word" (DB,08.04), pas dus sy verhoogde debatsvlak soos 'n handskoen.

Myns insiens lê die antwoord op verskille nié in beledigings, verwyte en die misgunning (en verpolitisering) van mekaar se (volks-)identiteite nie. Dit lê op 'n meta-vlak, dit wil sê op 'n vlak wat uitstyg bokant voorgemelde.

Om dus die badwater (verlede) met kind (Afrikanervolk) en al te wil uitgooi, is beslis nie die oplossing nie. Waarom wil ons die verlede vernietig terwyl ons juis uit die lesse daarvan moet leer?

Dalk het bruin mense nie eers in dieselfde mate "gely" onder wit Afrikaners (1948-1994) as wat Afrikaners "gely" het onder die Engelse (1806-1961) nie. Afrikaners kan beslis voorbeelde aanvoer van pogings om beide bruin én swart in hierdie land op te hef. Dieselfde kan egter nie van die Engelse ten opsigte van Afrikaners gesê word nie.

Die wyse waarop Afrikaners in die verlede op hul verliese en vernedering gereageer het, was nie dié van volgehoue verbittering en verwyte nie. Nee, hulle het telkens met God se hulp hul bitterheid oorkom en vooruit gegaan.

Die "fout" lê nie by die Skepper nie, maar by die skepsels. Die "reënboognasie" is so 'n voorbeeld waarvan ek nêrens in die Bybel lees nie.

Ek sien geen rede waarom die Afrikanervolk en bruin mense nie, as landgenote, kan saamwerk nie, dog sonder om mekaar se slaapkamers te wil binne "stormram".

Thursday, 8 April 2010

Volkwees nie gelyk aan eksklusiwiteit

Gerrie Kruger se brief, "Eksklusiwiteit nie meer prakties in SA" (DB,06.04), verwys.

Hoedat Kruger daarby uitkom dat ek "...op eksklusiwiteit...aandring" en "isolasie" voorstaan, sal net hy kan verduidelik. Hy sê: "Die...eksklusiwiteit wat blanke Afrikaners...geniet het, is verby."

Ek daag Kruger uit om te wys waar ek in enige van my briewe 'n pleidooi lewer vir "eksklusiwiteit" en/of "isolasie". Nee, deurgaans gaan dit vir my oor my volk en sy identiteitsbehoud. Dit is dus duidelik die resultaat van Kruger se eie interpretasie.

Wanneer Kruger sê: "Om vandag nog...op eksklusiwiteit te wil aandring...", is my vraag aan hom : Indien "volkwees" vir hom "eksklusiwiteit" beteken, wat dan van die Zoeloes, die Xhosas en ander se behoudend-trotse ingesteldheid teenoor hul eie etnisiteit (volkwees)? Onthou, ook hulle is almal, soos die Afrikanervolk, minderheidsgroepe. Staan hulle ook skuldig aan "eksklusiwiteit", of net die Afrikanervolk? Wat maak ons skuldig en hulle onskuldig?

Na vier jaar se verblyf in Engeland is Kruger terug in S.A. Ek gee hom dus die voordeel van die twyfel dat hy nog nie mooi besef dat die wit Afrikaners die enigste minderheidsgroep is wie se identiteit onder geweldige druk verkeer om dit prys te gee nie.

Is dit ongrondwetlik om die eie identiteit te wil behou, en, indien jy dit wil handhaaf, "isoleer" jy jouself noodwendig soos wat Kruger te kenne gee as hy sê: "...die noodwendige gevolg sal isolasie wees"?

Nee, Kruger, dit het absoluut niks met "eksklusiwiteit" en/of "isolasie" te make nie, maar wel alles met die skeppingsbeginsels van "eenheid-in-die-verskeidenheid" én "verskeidenheid-in-die-eenheid" waarvan jy gerus kennis kan neem.

Oor jou vraag oor "taal" en "volk" : Pannevis, Hoogenhout, D.F.du Toit en S.J.du Toit sê in hul "Die Afrikaanse Volkslied" : 'n Ieder nasie (volk) het syn TAAL.

Monday, 5 April 2010

Ontwaak tog uit dié utopiese droom

Jonathan Lawack se brief, "Reënboognasie kán gestalte kry" (DB,31.03), verwys.

Deur emosioneel-oorspoelde taal te gebruik teenoor diegene van wie jy verskil, val ongetwyfeld in swak smaak en dien ook nie jou saak nie. Laat ons daarom verkieslik die rasionele weg volg.

So, byvoorbeeld, sê Lawack: "Breitenbach...het...die vermetelheid om rojaal (?) aan te haal uit sy rassistiese alter ego, Trotse Bruin Man, se skrywe...(en) almal kan jul vuil, rassistiese onderklere sien uithang...(terwyl) julle Sondag na Sondag baie vroom jul plekke in die kerkbanke warm sit...en hier (in jul briewe) probeer julle die bresse slaan vir daardie gehate (Ontug-)wet...Julle is politieke anachronismes..."

Lawack moet waarskuwend tot versigtigheid gemaan word dat sy roekelose bewerings nie dalk té naby aan die haatspraak-definisie beweeg nie. Vermy liewer dié semeltaal ; daaruit kan relevante afleidings gemaak word.

Die Lawack-denke is beslis nie demokraties nie. Lawack moet vir my en Trotse Bruin Man tog die Grondwet-artikels kwoteer waarvolgens ons verbied word om ons onderskeie identiteite te mag handhaaf, en ons só, volgens hom, aan rassisme skuldig maak.

Dit ontbreek Lawack baie duidelik aan die spreekwoordelike goeie begrip (wat net 'n halwe woord benodig) vanweë sy onvermoë om tussen die begrippe "volkseie" en "rassisme" te kan onderskei. Hy sê : "...onder die dekmantel van nasionalisme (volkseie) andere minder mens te laat voel..." Belaglik!

Die doodstraf is afgeskaf tot groot nadeel van die ganse samelewing, en moordenaars kan nou lewenslank teer op belastingbetalersgeld. Van die "aangeklaagde, skuldigbevinde en veroordeelde" Afrikanervolk se nageslag word verwag om, volgens Lawack-denke, "selfmoord" te pleeg. Ag nee, Lawack, ontwaak tog uit jou utopiese droom (nagmerrie)!

Monday, 29 March 2010

Hou vas aan die eie identiteit

Trotse Bruin Man skryf in sy brief, "'n Mens moet trots wees op identiteit" (DB,25.03), "Vir die kennisname van alle belangstellendes en in die besonder vir T.C.Breitenbach."

Ek vind dié brief   -   in besonder vir my kennisname   -   ewewigtig, realisties, hand-in-eie-boesem-stekend en nie-aanvallend, kenmerke van 'n volwasse perspektief op ons samelewing en die eie plek daarbinne ; meer as wat van sommige ander bruin skrywers gesê kan word.

 Verskil in ras of kleur beteken nie dat mense nié eenders oor sekere sake kan dink en voel nie, veral nie oor daardie dinge wat ons almal wesenlik raak soos, byvoorbeeld, Trotse Bruin Man se ingesteldheid teenoor die eie identiteit nie.

Trotse Bruin Man sê: "Wat ek uiters beledigend vind, is dat as 'n bruin man iets bekom of geld besit, hy oor die kleurlyn heen trou, asof bruin meisies nie goed geag word nie...waar is die liefde vir dìt wat naaste aan jou is?"

Beter kon ek dit self nie stel nie. Ek weet presies hoe hy hieromtrent voel, want dit is ook my siening van Afrikaners wat "...oor die kleurlyn heen trou..." Verhoed kán ons hulle nie, maar dis vir beide myself én Trotse Bruin Man nie die ideaal met die behoud van ons mense se identiteit in die gedagte nie.

Alles staan vandag in die teken van 'n toenemende onverdraagsaamheid teenoor identiteit-skeppende entiteite soos ras, volk ('n gewraakte begrip wat verskraal word tot "etnisiteit"), taal en godsdiens, eeue-oue boustene van identiteit.

Die kontemporêre identiteitsrowende proses beoog ontheemde identiteitloses, dobberende op die lewensoseaan as maklike prooi vir "New Age"-kaperskepe.

Trotse Bruin Man, laat ons vashou aan ons identiteite wat vir ons albei kosbaar is.

Thursday, 12 November 2009

Nét Afrikaners moet herdefinieer

Die berig  "Afrikaner-families moet praat oor versoening en skuld" (DB,09.11.2009), verwys. Hierin word berig dat Antjie Krog, bekende skryfster en digteres, en dr. Fanie du Toit, uitvoerende hoof van die Instituut van Geregtigheid, meen  "Afrikaners moet belê in die herdefiniëring van hulself...(en) is hierdie herdefiniëring...uiters belangrik."

Is definiëring en herdefiniëring nie in wese 'n identiteitsaangeleentheid nie? Hoe kan jy enigiets definieer sonder om die essensie van wat jy probeer definieer, te verwoord? Waarom hierdie eensydige beroep dat alleen Afrikaners hulle sal herdefinieer en nie ook al die bevolkingsgroepe in biskop Tutu se reënboognasie nie? Dit klink na 'n herdefiniërings-oefening wat diskrimineer.

Is Afrikaners dan nie reeds indirek deur die ANC gedefinieer by wyse van sy SEB- (swart ekonomiese bemagtiging) en regstellende aksie-programme wat aantoon dat ons buite hul definisie van 'n nuwe Suid-Afrika val, onwelkom is en Afrikaner-jongmense die land in hul duisendtalle verlaat nie? So sê Malema dat ons welkom is om die land te verlaat mits ons ons kennis en vaardighede hier agterlaat.

Word met die Afrikaner se herdefiniëring bedoel dat dit binne die raamwerk van die ANC-definisie van ons moet geskied? Durf 'n demokrasie nuwe identiteite skep en op mense afdwing ten koste van bestaande identiteite, of selfs net suggereer dat hulle via herdefiniëring 'n nuwe identiteit moet aanvaar?

Ons sou maklik aan die klugspel van ANC-geleide Afrikaner-herdefiniëring kon deelneem deur ons self met 'n sebra te vergelyk en sê : Vroeër was ons 'n wit dier met swart strepe, maar nou het ons 'n swart dier met wit strepe geword.

Christen-Afrikaners, eggo die Skepper wat së : "Ek is wat Ek is."

Thursday, 22 October 2009

Mag Afrikaners eie identiteit behou?

Willem Jordaan se Brandpunt (DB, 14.10.2009) verwys. Hierin toon hy hoegenaamd geen begrip vir die eeue-oue drang na vryheid en onafhanklikheid van Afrikaners nie, en wend hy ook geen poging aan om deur die bril van die verskillende "ismes" in ons land na die "isme"-konflikte daarbinne te kyk nie.

Die liberalisme, die kommunisme, swart nasionalisme en Afrikaner-nasionalisme is vier sulke "ismes" waarvan laasgenoemde twee voorbeelde van onderskeibare nasionale aard   -   nasieskap of volkskap   -   is. In teenstelling met swart nasionalisme distansieer Afrikaner-nasionalisme sigself ten sterkste van die kommunisme en die liberalisme. Dié "ismes" kan afsonderlik op 'n kontinuum voorgestel word met ekstremisme en apatie as waarskynlike uiterstes van elke sodanige "isme"-kontinuum.

Selfondersoek bring aan die lig dat elkeen homself, eerstens, op 'n bepaalde "isme"-kontinuum en, tweedens, iewers tussen ekstremisme en apatie daarop bevind. Ek plaas Eugene Terre'Blanche aan die ekstreme kant van Afrikaner-nasionalisme. Net so plaas ek Cosatu en Julius Malema aan die ekstreme kant van swart nasionalisme.

Jordaan lê egter die lat van kritiek en verkleinering opsigtelik ongebalanseerd eerder onder die ekstremiste van Afrikaner-nasionalisme as swart nasionalisme in.

Vind Jordaan dit is orde dat die Zoeloe, Xhosa, Sotho, Tswana en Pedi in etniese en stamverband mag voortbestaan en hul identiteite behou, maar nie die Afrikaner in volksverband nie? Indien wel, is Jordaan 'n verduideliking aan die Afrikaners verskuldig.