Monday 24 October 2016

Geloofswaarhede toenemend bevraagteken

Met sy geloofsgebaseerde mening oor demone as oorsaak van sekere geestesongesteldhede het dr.Chris Saayman (DB,17.10) die spreekwoordelike gefladder in die duiwe(ls)hok veroorsaak. Sy mening rig 'n uitdaging aan 'n sinodale NGKerkbesluit waarvolgens die keuse by leraars berus óf hulle in hul prediking die bestaan van Satan en demone wil erken, óf nie. Sy keuse is duidelik in 'n tyd gekenmerk deur toenemende bevraagtekening van geloofswaarhede.

Saayman se mening is gevolg deur fel kritiek. Hiervolgens blyk die mediese wetenskap der mate gevorderd te wees dat dit akkurate diagnoses kan maak ook oor geestesongesteldhede. Maar is dit werklik so? Is die menslike psige en gees reeds sodanig gedissekteer en geanaliseer dat daar met absolute sekerheid beweer kan word dat sekere toestande slegs met bepaalde breinareas verband hou, medies geneesbaar is en demoniese werkinge totaal uitgeskakel kan word? Bewoon dié klipgooiende kritici nie ook maar self glashuise nie?

Soos in die geval van ook ander wetenskappe, verklaar die mediese wetenskappe seker ook sommige siekteverskynsels   -   soos geestesversteurings   -   aan die hand van heersende teorieë. Kan sulke teoretiese verklarings wel met absolute sekerheid enige demoniese inwerking uitsluit? Dit is hoogs onwaarskynlik; die menslike gees styg uit bo sintuiglik waarneembare en verklaarbare dinge. Kolossense 2:8 waarsku gelowiges juis: "Pasop dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie."

By herbeskouing, kon dr.Saayman dalk meer indringend oor sy voorgestelde lys van demonies beïnvloedende geestesongesteldhede besin het. Reaksie daarop dui egter op 'n kontemporêre verskuiwing vanaf 'n geloof in Bybelse geloofswaarhede na wetenskaplik gegenereerde waarhede. Het Christus dalk na dié tendens verwys toe hy gesê het: "Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?" (Luk.18:8b).











Wednesday 12 October 2016

Verhelder of kompliseer Koopman-teologie?

Ek vind aansluiting by Anti-teïs en Huysamer (DB,11.10) se kritiek op prof. Koopman se Godsdiens Aktueel-bydrae (DB,05.10).

Beskrywende homself as "sekulêre humanis", sê Anti-teïs "dat enige geloof van jou verwag om intellektuele selfmoord te pleeg." Werklik? Staan geloof en intellek dan vyandig teenoor mekaar, of het ons nog nooit die Skepper se doel en funksie met elkeen daarvan ontdek nie?

Anti-teïs se keuse vir rasionaliteit is niks anders as sy persoonlike geloofskeuse nie   -   sy geloof in intellektualiteit. Karl Popper, bekende wetenskapsfilosoof, verwys na wetenskaplikes as "egte gelowiges", bedoelende daarmee hul geloof in hul wetenskaplike instrumente soos teorieë, modelle en metodes.

Huysamer "soek nog die teoloog wat met 'n 'rasionele' redenasie vorendag kan kom hoekom die Skepper...manlik is en 'n bloedoffer (soos die Asteke) benodig." Sodanige soeke eindig eers wanneer nie net die natuurlike en rasionele dimensies van menswees ontdek is nie, maar ook die bo-natuurlike, transendentale en bowe-rasionele dimensies. In menslike grenssituasies, soos teweeggebring deur rampe, lyding, siektes en/of dood, is antwoorde nie altyd net in die rasionele te vinde nie, maar wel dikwels in geloofskonteks.

Anti-teïs en Huysamer se kritiese vergelyking van onvergelykbares   -   rasionaliteit en geloof   -   blyk 'n futiele oefening te wees.

Chrstengelowiges word aangeraai om hul denke te vernuwe, asook waarop dit gerig moet word, sodat 'n teologie van "terapeutiese rasionaliteit"   -   in die lig hiervan   -   vreemd voorkom. Vir my, as christengelowige met 'n lekesiening van teologiebeoefening, blyk Koopman se "terapeutiese rasionaliteit" eklekties en horisontalisties van aard te wees; kompliserend eerder as verhelderend van die teologiese ondersoekterrein.               (ngn)








Sunday 2 October 2016

Bring asseblief dié polemiek tot 'n einde

Mnr. Kühn (DB,24.09), my opregte verskoning aan u, want ek is, volgens "iemand...die ou wat jou so links en regs 'Kühn' in sy briewe". Job (6:25) sê juis: "Opregte woorde maak nie seer nie..." Waarom anders sou u "iemand" aanhaal as u nie te na gekom voel oor die weglating van u eie mnr.-titel nie? Daarom my verskoning.

Mnr. Kühn (DB, 20.09;24.09) dring herhaaldelik daarop aan dat ek met hom moet "gesels". Ek voldoen dus aan sy versoek  -   in parodietaal   -   waarvan ek seker is dat hy dit sal begryp. Ek gesels graag met hom oor die Praat Saam-saampraatboom, huisvestende 'n groot verskeidenheid van taalvoëls; almal kwetterende, kwelende en tjirpende   -   sommige op hoër; ander op laer noot.

En toe op 'n dag gebeur daar iets voëlvreemds in dié saampraatboom. Die luiddrugtige geelvinke eis onverbiddelik van die mossie om op te hou met sy tjirp, en, teen sy mossienatuur   -   vir vinkbevrediging   -   soos húlle moet kwetter en kweel; 'n kakofoniese voëlgebrabbel beswaarmakende teen die mossie se weiering om vink-konformerende geluide te maak.

Dié "windmakerige" (Doem) mossie, sittende op sy "hoogdrawende" (Margaret) saampraattak, "gesels" nie met die geelgeveerdes nie, maar "spreek hulle toe" (mnr. Kühn). Die boodskap aan die mossie: jy mag nie langer hier jou mossie-self wees nie. Wees wat óns wil hê jy moet wees. Einde van my parodie-gesels.

Mnr. Kühn, ek wonder of Hannes Slabbert daarme genoeë neem dat u ons twee by herhaling teen mekaar afspeel (DB,08.09;30.09) ; ek beslis nie. Dit is van 'n verleentheidsaard, en u sê dat u bedoeling nie "persoonlik" is nie?

Soos die vrou "met hande-verwringend gebaar" in A.G.Visser se "Die Ruiter van Skimmelperdpan", vra ek ook: "Waarom rus jy nie,rus jy nie...altyd maar weer...?" Kan dié polemiek asseblief nou maar beëindig word?                (ngn)