Monday 27 April 2015

Hoe reageer wittes op dié beskuldigings?

Jacob Zuma se beskuldiging dat die koms van Jan van Riebeeck die oorsaak van al SA se probleme is, asook swartes se aanklag dat wittes hul grond gesteel het, het die potensiaal om 'n vonk in die rassensitiewe SA-kruitvat te kan word. Beide beskuldigings kan nie ligtelik opgeneem word nie.

Mag wittes, op konstitusionele gronde, aanstoot neem en ontsteld wees oor dié beskuldigings? Nee, hoegenaamd nie, sal die polities-korrek geïndoktineerdes antwoord. Selfs dubbele standaarde word later aanvaarbaar. Voorbeeld: belet Steve Hofmeyr die KKNK vir sy sing van Die Stem, maar kyk ander pad sou Zuma, as Zoeloe, nie sy koning en sy eie seun   -   vir hul aanleidende opmerkings tot xenofobie, wat tot grootskaalse ontwrigting, lewensverlies en diplomatieke krisis sou lei   -   tot verantwoording roep nie. 

Verder ook: sou dit wat Zuma van Van Riebeeck beweer, op die nie-geweldafswerende Mandela van toepassing gemaak word en sodoende beweer word hy die oorsaak is van al SA se probleme   -   die een bewering so geklik soos die ander   -   sal op laasgenoemde met hewige kritiek, indien nie met geweld, gereageer word, terwyl die Zumabewering met polities-korrekte gelatenheid aanvaar word. 

Synde sinnebeeldig van die koms van wittes na SA, was Van Riebeeck egter nie 'n koloniseerder na die mate wat die Engelse dit sedert 1806 was nie. Gedryf deur hul sterk vryheids-  en onafhanklikheidsdrang, het wit Afrikaners pad gegee van dié verknegtende Britse kolonialisme, die binneland in getrek waar hulle hul eie onafhanklike republieke   -   nie kolonies nie   -   gestig en verdedig het as republikeine; nie as koloniste nie.

Indien wittes dan swartes se grond sou gesteel het, waarom hulle nie by die Internasionale Geregshof aankla nie? Maak net eers seker dat daar oor voldoende onweerlegbare bewyse van alleenaanspraakmakende SA-grondeienaarskap beskik word. Wees konsekwent en kla ook die wittes van die VSA, Kanada, Australië en Nieu-Seeland vir dieselfde "oortreding" aan as "grondgrypers", wat met hul wes-europese kennis en vaardighede die lewenskwaliteit en lot van die inheemse bewoners aansienlik verbeter het, dog geen erkenning daarvoor ontvang nie.

Hoe reageer wittes op dié kwaadwillig destruktiewe beskuldigings in 'n rassensitiewe SA?




Monday 20 April 2015

Partybelang offer Zille op rasaltaar

Uit die berig: "Zille 'uit oor ras', was glo in hoek vasgekeer", en met Zille wat sê: "Ek wil nie uittree nie, ek wil nie gaan nie, glo my" (DB,14.04), blyk dit dat die raselement van die DA se nie-rassigheidsbeleid haar genoop het om te bedank. Die kwesbare achilleshiel van nie-rassigheid is 'n belangrike rede vir haar vertrek.

Die SA-samelewing, getuigend eerder van 'n veel-  of meerrassige as nie-rassige aard,  is duidelik nog ligjare verwyder van gereedheid vir 'n nie-rassige politieke bestel. Nie-rassigheid berus op die onoortuigende aanname dat alle mense, ongeag onweerlegbare verskille, tot slegs een enkele ras behoort: die menslike ras. Dit staan onverdraagsaam teenoor enige poging tot rasse-onderskeiding, etnisiteit en volksheid   -   staan die "melting pot/reënboogidee" voor   -   in plaas van die bestaansuniekheid van rasdiversiteit te erken én te respekteer.

Die nie-rassigheidsbegrip verwoord 'n verdraaide voorstelling van die raswerklikheid. Dit is 'n kunsmatig menslike skepping as strategiese middel tot 'n doel. Die Afrika-rasvisie ontken en verwerp dié onnatuurlike nie-rassigheidskonstruksie, en opereer rasonderskeidend binne 'n meerrassigheidskonteks. Voorbeelde: Wanneer Mugabe sê: "Ek wil nie 'n wit gesig sien nie" (DB,11.04), en xenofobiese oproermakers wit-  en Indiërmense toesnou: "F...f! Afrika is vir Afrikane!" (DB,17.04), getuig dit juis van 'n anti-nie-rassige sentiment.

Nie-rassigheid beteken beslis nie rasbevryde rasloosheid nie, maar leen sigself tot pragmatiese rasmanipulering. Die beweerde voorskriftelike ingryping in die rassamestelling van die nie-rassige Protea-krieketspan in sy halfeindstryd teen Nieu-Zeeland   -   geldende ook vir sovele ander sportsoorte   -   stel die kwesbaarheid van nie-rassigheid aan die kaak wanneer meriete deur die voete van ras vertrap word.

Dieselfde geld ook die kwesbaarheid van 'n lewensvatbaar beperkte nie-rassigheidsbeleid in die politieke konteks. Verskansing daarteen word gesoek in die pragmatiese prysgawe van wit DA-leierskap en toename in swart partyondersteuners. Dit, onder meer, verduidelik Zille se bedanking. Sy moes reeds geruime tyd daarvan bewus gewees het dat sy, in partybelang, haarself uiteindelik teensinnig op die rasaltaar sou moes offer.



Monday 13 April 2015

Mag wysheid seëvier in beelde-vendetta

Beeldevernietiging is dikwels kenmerkend van ideologies geïnspireerde politieke rewolusies. Plaaslik hoef daar nie verder gesoek te word as die ANC se nasionale demokratiese rewolusie (NDR) as klimaatskeppend vir die huidige landswye naams-  en beeldevernietiging nie. Die ANC-transformasienetwerk is ingestel op die algehele vernietiging van alle oorblyfsels uit die vorige bedeling.

Enige bestaande simboliese bewyse van Europese bydraes tot die ontwikkeling en opbou van die SA van vandag, word vervang met die illusie dat die verlede géén bydrae gelewer het tot die nuwe SA nie. Die verlede is irrelevant en verdien geen erkenning nie. En, siedaar, bevry van alle Euro-geassosieerde verledesimbole, verrys die nuwe SA-feniks triomfantelik uit die as van die vernietigde vorige bedeling.

Standbeelde weerspieël die heroïese verlede van volkere en bestaan voort selfs nadat sulke volke reeds verdwyn het, en word dikwels   -  as wêrelderfenis   -  vir die nageslag bewaar. Dit is 'n luukse wat duidelik nie die SA-verlede beskore is nie. Die verlede is uitgewis! Viva, lank lewe die rewolusionêre toekoms!

Waarin lê die oplossing vir ons beelde-vendetta? Streng hantering volgens grondwetlike voorskrifte? Die toelating van ANC-manipulering van die magsmiddele tot sy beskikking? Summiere kapitulasie sonder enige beswaarmaking? Mini Kodesa's op 'n streeksgrondslag oor ons standbeeldetoekoms? Of, soos reeds gesuggereer, verskuiwing na ruimtes soos beeldeparke  -   ruimtes soortgelyk aan Robbeneiland en bemark as besienswaardighede teen betaling aan buitelandse toeriste?

Die inherente konflikpotensiaal opgesluit in die toekomslot van SA-standbeelde, moet nie onderskat word nie. Dit kan egter deur alle rolspelers óf met wysheid (leef-en-laat-leef), óf met dwaasheid (vernietigend soos tans) benader word. Mag wysheid egter seëvier in dié beelde-vendetta.