Monday 24 February 2014

Hoe lees dié dosent dan tog so verkeerd?

Ek reageer op dr.W.S.H.du Randt se brief (DB,21.02). Koning Leeu het Muis se onwelkome "sinledige pluimpie" as 'n "integriteits"-aantastende pluk aan sy snorbaard vertolk. Sjoe! En toe val die houe van "blatant begriplose en irrelevante laster" oor Du Randt se "wetenskaplikheid as letterkundige dosent" op Muis se rug.

Verwysende na "wetenskaplikheid", behoort Du Randt te weet dat, volgens Karl Popper se krities-rasionalistiese wetenskapsmodel, wetenskapsbeoefening vanaf "vermoedens" (conjectures) na "weerlegging" (refutations) beweeg. In my skrywe (DB,10.02)   -   in reaksie op sy skrywe (DB,06.02)   -   het ek juis blote "vermoedens" daaroor uitgespreek, soos, byvoorbeeld, dat daar 'n kentering by hom gekom het in sy siening van Afrikaners (hy erken ruiterlik dat Goosen (FAK/AB) se insigte dien as "waardevolle korrektief op sy (Du Randt se) oordele") en dat hy waarskynlik uitgesluit was van die elite AB-geledere. Baie betekenisvol reageer hy hoegenaamd nié op dié vermoedens om dit te weerlê nie, maar wend hom tot 'n vulkanies-vuurspuwende woorde-uitbarsting.

Nêrens voer ek enige "bespiegeling" (vermoede) aan oor sy "wetenskaplikheid as letterkundige dosent" óf sy "politieke, kulturele en literêre integriteit" nie. Dit is 'n duimgesuigd valse beskuldiging. Hoe is dit dan dat dié "wetenskaplike...letterkundige dosent" tog só verkeerd kon lees? Hy beskuldig my van "irrelevante laster in die slotparagraaf" waar ek vra: "Sou hy ook sy jarelange beïnvloeding van studente tot sy sienswyse van Afrikaners, deur sy vak, ná heroorweging wou verander   -   indien hy sou kon?" Ontken Du Randt die bewustelike en/of onbewustelike beïnvloeding van studente deur dosente? Indien dié noodwendig onvermydelike beïnvloeding wel aanwysbaar is, is dit "laster"?

Hy verwag van my om op Google, sy webwerf, CV en intreerede oor sy "wetenskaplikheid as letterkundige dosent" te gaan lees. Met watter doel? Om regverdiging daarin te vind vir sy aanval op my positief kredietverlenende erkenning aan hom? Laat ons negatief wanvoorstellend vertolkende reaksies probeer vermy.                      (ngn)




Monday 17 February 2014

Raadgewer Mouton se advies lyk bra verdag

Tydens die opening van die US se Bestuurskoolontwikkeling (USB-BO)se entrepreneurskap-oorbruggingsjaar, sê Jannie Mouton: "As jy negatief is oor Suid-Afrika, emigreer, want jy irriteer my." (DB,12.02). Ek vind dit hoogs aanmatigend, getuigende van uiters swak smaak   -   asook 'n potensiële verleentheid vir jou gasheer   -   om vir 'n bepaalde groepering van persone, om watter rede(s) ook al, te sê: "jy irriteer my...emigreer".

Wat my tref, is die wyse waarop hy 'n naskoolse oorbruggingsjaar, deurgebring in Engeland, vergelyk met 'n soortgelyke jaar in Afrika. Van sodanige jaar in Engeland sê hy dit "is tydmors". Daarteenoor sê hy: "gaan op in Afrika...Wanneer jy terugkom, sal jy 'n gesogte persoon wees."

Die bestaan van 'n "negatiewe" groepering dienaangaande, kan waarskynlik nie ontken word nie. Mouton ontken/ignoreer duidelik die bestaan ook van 'n nugterdenkend realistiese groepering van jongmense   -   met visie en ambisie   -   met die ideaal om hoër te wil uitstyg met hul Godgegewe gawes en talente as wat die voetboeie van die ANC se regstellende-aksie program hulle toelaat.

Té dikwels word sodanige realisme moedswillig vertolk   -   in 'n opportunistiese omgewingsklimaat (soos by USB-BO)   -   as 'n vorm van negatiwisme en dislojaliteit aan S.A. Mouton blyk homself hieraan skuldig te maak. Dat daar talentvolle jongmense is wat hul lewensperiskope instel, hoër as die gemiddelde, op die toekomshorison van die omringende onstabiele Afrikavaarwaters, kan nie ontken word nie.

Is ontwikkelende derdewêreld (Afrika)-kundigheid, ervaring en entrepreneurskapspotensiaal dan meerderwaardig teenoor dié van 'n ontwikkelde eerstewêreld (Europese)-kundigheid, ervaring en potensiaal? Mouton se advies blyk nie vir my te berus op 'n appels-met-appels-vergelyking nie, maar eerder op napratende ideologies-pragmatiese oorwegings. Dié advies blyk in dieselfde kategorie te wees as dié van die hoogsbetaalde onderwysadviseurs wie se aanbevelings oor uitkomsgebaseerde onderwys op dieselfde denkpatroon geskoei was, die mislukking waarvan reeds deur die ANC in die openbaar erken is.






Tuesday 11 February 2014

Vermy die "kortpad" en volg die "ompad"

As een van my felste kritici sê Marianne: "T.C.Breitenbach, in jou brief (DB,10.02) het jy nie minder nie as 12 sinsnedes tussen hakies of aanhalingstekens. Niemand skryf meer so nie, man!" (DB,11.02). 

Marinanne, erken nou maar tog ten ene male dat elke mens sy eie skryfstyl het   -   jy het joune; ek het myne. Noem dié brief van my maar 'n "flenter-lappies"-brief of 'n "saamgeflansde mosaïek"-skrywe. Besluit jy daaroor. Dit is dalk nie 'n erkende skryfstyl nie, maar nêrens   -   vir so ver ek weet   -   strafbaar voor die gereg nie. Marianne mag my skryfstyl kritiseer, maar het geen reg daartoe om my dit te ontneem nie.

Haar basisfout is dat sy my blykbaar regimenterend tot orde wil roep tot 'n "Niemand"   -   "Niemand skryf meer so nie, man!"   -   terwyl dit my goeie reg is om 'n "Iemand" te wees, soos andere ook, met 'n eie skryfstyl. Wyle C.J.Langenhoven bewys homself in dié geval as korrek toe hy gesê het: "As die kortpad die veilige pad was, sou die hoofpad daarlangs geloop het." Waarom wil Marianne die "kortpad" deur my brief vat (onveilig vir haar) na die ander skrywes in Brieweblad? Moenie "afdraai" na my skrywes, maar volg die "hoofpad" na die ander!

Indien ons dan vooraf reeds weet watter voedselsoorte om te vermy teen hoë cholestorolvlakke, waarom vermy Marianne nie my briewe teen galaanvalle nie? Of vind sy die versoeking om dit te lees net sóms té groot?





Monday 3 February 2014

Mandela-manuskrip werp lig op dié vrae

Die laaste woord oor oudpres. Mandela se betrokkenheid by die SAKP en geweld gedurende die ANC-strydperk is nog lank nie gespreek nie. Bewyse hiervan is te vind in die artikel "New Light on Nelson Mandela's Autobiography" (politicsweb,13.01.2014) van prof. Stephen Ellis van die Amsterdamse Vrije Universiteit. Hierin wys Ellis op die Nelson Mandela-stigting se internet-vrygestelde Mandela-manuskrip (www.nelsonmandela.org)   -   geskryf in gevangenskap, bevattende 627 bladsye en in 1977 uitgesmokkel vanaf Robbeneiland   -   enkele dae voor sy dood. Ellis beweer dié inligting, nou beskikbaar vir openbare kennisname, is voorheen doelbewus weerhou om die SAKP en sy bondgenote in staat te stel om misleiding en propaganda eers strategies te vestig.

Ellis wys op die groot verskil in inhoud tussen Mandela se 1970-manuskrip en sy "Long Walk to Freedom", kragtige propagandamateriaal tydens die oorgangsfase in 1994. Mandela se volledige omhelsing van Marxisme-Leninisme en anti-withouding blyk duidelik uit sy onlangs openbaar gemaakte 1970-manuskrip, dog die Joodse medeskrywer en redakteur van dié Mandelaboek, Richard Stengel, het hierdie "ongemaklike feite" sorgvuldig verberg.

In sy Robbeneiland-manuskrip verwoord Mandela sy algemene verbittering jeens SA-blankes, en hy wou toesien dat hulle deur 'n "Isandhlwana" (p.194) uitgewis sou word   -   waar Britse troepe in 1879 deur 'n Zoeloe-oormag bloedig verslaan is. In sy manuskrip raak Mandela heel heftig oor die onderwerp van geweld teen blankes.

Hoef ons nog verder te soek na antwoorde waarom wyle Mandela tot met sy dood nóóit geweld afgesweer het nie, die gewapende stryd nóóit amptelik beëindig het nie, en hom ook nóóit uitgespreek het teen die sinnelose en barbaars-wrede plaasmoorde nie? Sy nou vir-almal-te-lese Robbeneiland-manuskrip werp lig op dié vrae.              (ngn)