Saturday 21 November 2009

Begrip vir skrywer se siening

Cas Terblanche  se skrywe,  "Perke van vryheid van spraak oorskry" (DB,14.11.2009), verwys.

Studente wou by geleentheid weet waarom daar, soms radikaal uiteenlopend, verskille in onderwysbeskouing bestaan. Ek het dié vraag probeer beantwoord aan die hand van onder meer 'n geprojekteerde transparant waarop daar 'n buitelyn-voorstelling van 'n ongedefinieerde  "ding"  was. Hulle het dié  "ding"  op uiteenlopende wyses vertolk.

Die meerderheid het in dié  "ding"  óf 'n konyn óf 'n pikkewyn gesien, terwyl dit die uitsonderinge was wat 'n fopspeen, 'n aartappel of hamer in dié  "ding"  gesien het (waarneming is uniek van aard). Met hierdie demonstrasie is aangetoon hoedat verskillende mense na presies dieselfde  "ding"  kan kyk en tog nie  "dieselfde ding"  sien nie. Dit verduidelik gedeeltelik die verskille in onderwysbeskouing, verskille wat iewers in die menslike psige opgesluit moet wees.

Dieselfde geld die verskil in reaksie by lesers van die brieweblad. Hoewel ek aangaande my brief (DB,10.11.2009) van Terblanche verskil, het ek teen die agtergrond van die voorafgaande verduideliking tog begrip vir sy siening daarvan. Hy het iets daarin gelees wat nie noodwendig deur die meerderheid gelees is nie.

Sommige hoëprofiel-mense van openbare statuur, soos 'n Zuma en 'n Boesak, is reeds vanweë hul omstredenheid deur spotprenttekenaars gekarikaturiseer. Soos wat karikaturiste humor prentgewys uitbeeld, so wou my brief humor in woordvorm verbeeld. Menings oor die toepaslike gebruik van  "walglik"  en  "skokkend"  is relatief en arbitrêr, nie eksak nie. Ek vind dit in spotprente van  "stortkop Zuma" ; tog kritiseer ek nie die spotprenttekenaar nie omdat ek staatmaak op Die Burger se joernalistieke oordeel wat humorbegrensing betref.

Thursday 12 November 2009

Nét Afrikaners moet herdefinieer

Die berig  "Afrikaner-families moet praat oor versoening en skuld" (DB,09.11.2009), verwys. Hierin word berig dat Antjie Krog, bekende skryfster en digteres, en dr. Fanie du Toit, uitvoerende hoof van die Instituut van Geregtigheid, meen  "Afrikaners moet belê in die herdefiniëring van hulself...(en) is hierdie herdefiniëring...uiters belangrik."

Is definiëring en herdefiniëring nie in wese 'n identiteitsaangeleentheid nie? Hoe kan jy enigiets definieer sonder om die essensie van wat jy probeer definieer, te verwoord? Waarom hierdie eensydige beroep dat alleen Afrikaners hulle sal herdefinieer en nie ook al die bevolkingsgroepe in biskop Tutu se reënboognasie nie? Dit klink na 'n herdefiniërings-oefening wat diskrimineer.

Is Afrikaners dan nie reeds indirek deur die ANC gedefinieer by wyse van sy SEB- (swart ekonomiese bemagtiging) en regstellende aksie-programme wat aantoon dat ons buite hul definisie van 'n nuwe Suid-Afrika val, onwelkom is en Afrikaner-jongmense die land in hul duisendtalle verlaat nie? So sê Malema dat ons welkom is om die land te verlaat mits ons ons kennis en vaardighede hier agterlaat.

Word met die Afrikaner se herdefiniëring bedoel dat dit binne die raamwerk van die ANC-definisie van ons moet geskied? Durf 'n demokrasie nuwe identiteite skep en op mense afdwing ten koste van bestaande identiteite, of selfs net suggereer dat hulle via herdefiniëring 'n nuwe identiteit moet aanvaar?

Ons sou maklik aan die klugspel van ANC-geleide Afrikaner-herdefiniëring kon deelneem deur ons self met 'n sebra te vergelyk en sê : Vroeër was ons 'n wit dier met swart strepe, maar nou het ons 'n swart dier met wit strepe geword.

Christen-Afrikaners, eggo die Skepper wat së : "Ek is wat Ek is."

Tuesday 10 November 2009

Ambassadeurspos, beeld vir Boesak

Almal van ons slaan die een of ander tyd ons naam met 'n plank, sommige net meer as ander. Net die uitsonderlikes hou dermate vol dat hulle dié plank tot splinters slaan. Dit is die beeld wat die berig  "Kollig was nie glansryk genoeg vir Allan Boesak" (DB,05.11.2009), oproep. Hiervolgens het Boesak  "gekies om te spring" . Die HAT noem 'n klugtige sprong 'n kaperjol.

'n Mens sou oor Boesak se jongste kaperjol, in 'n rits van kaperjolle, kon lag as dit nie so tragies was nie. Waarom? Hier is 'n man met uitsonderlike talent ter opheffing van sy mense, wat hy egter hoofsaaklik in eie belang aanwend.

Daar is monumente opgerig vir fiktiewe mense, soos Don Quichote en Baron von Münchhausen, wat die verbeelding minder aangegryp het as Boesak. Waarom nie ook een vir Boesak oprig nie? Tussen die Freiwillige Feuerwehr-gebou en die Passions Theater in Oberammergau is daar 'n Jesusbeeld op 'n donkie bo-op 'n rots waaruit helder waterstrome vloei. Ek dink Boesak is 'n boorling van Upington se wêreld, 'n omgewing waar 'n donkiebeeld reeds opgerig is ter erkenning van die uitnemende bydrae van dié dier tot dié kontrei.

Waarom kan Boesak, na die voorbeeld van die Meester, nie sit-gemaak word op dié donkiebeeld nie? Bied asseblief tog ook vir dié pendelaar   -   tussen kansel en politiek   -   'n ambassadeurspos aan ; aanstons ontwrig hy weer die kerklike lewe.

Thursday 5 November 2009

Het die "dice" regtig verkeerd geval?

Dienslewering aan gemeenskappe is, vanweë swak leierskap, soos lugspieëlings   -   op 'n afstand belowend, maar ontgogelend van naderby. Mense is lank reeds sat van staar na lugspieëlings soos Eskom, SABC, SAA, ASA, die Selebi-sage ; 'n onutputlike lys van nasionale droglugspieëlings waarvoor belastingbetalers miljarde betaal.

Verlede week word vullissakke nie verwyder nie. Mens en dier skeur dit oop en mors. Ruim maar self dié onhigiëniese gemors op en betaal jou rekening met Stoïsynse berusting. Vervoer dit self na die stortingsterrein. Daar vind ek twaalf werklose, honger bruin mense. Nee, hulle het vandag nog niks geëet nie. Weggegooide mense, soos Doris Bräsch se Lappop, op die ashoop. Hoe kan ek by 'n middagete aansit met dié beeld voor my? Gaan haal kos en gee dit vir hulle in ruil vir die belofte dat hulle hul kinders gereeld skool toe sal stuur.

Ek sien ook sewe swart mans wat strepe en padtekens oorverf op straat. Terwyl een verf, sit-lê die res. Ongeag onproduktiewe arbeidsaanwending het húlle werk en 'n inkomste.

Twee tonele : Die een gekenmerk deur werkloses gedryf deur honger na 'n stortingsterrein, soekende na werk en 'n verdienste, en jy vra jouself : Is dit soos waardigheidsberoofde mense lyk, en wáár is Zuma se  500 000 beloofde werksgeleenthede? Toneel twee is dié van gemeenskapsbetaalde tyddiefstal in die vorm van niksdoen-skofte-aan-diens, en jy vra jouself af : Is dit nie korrupte dienslewering in navolging van die ANC-base nie?

Dan kom Adam Small se digterlike versreël by my op : "Die Here het gaskommel en die dice het verkeerd gaval vi' ons."

Tuesday 3 November 2009

ANC saboteer dié versoeningspoging

Die versoeningspogings rondom die Reitz-4 word opsigtelik deur die ANC gesaboteer. Waarom? Waarskynlik om verskeie redes. Een so 'n rede is dat die ANC 'n bevrydingsbeweging is en sigself steeds ag in 'n onafgehandelde vryheidstryd betrokke te wees, 'n stryd wat in fases verloop.

Wie meen dat die stryd in 1994 beëindig is, is ewe naïef as Neville Chamberlain wat ná die München-ooreenkoms met Hitler oor Tsjeggo-Slowakye in September 1938 vir die Britte gesê het : "Peace in our time!"  'n Jaar later het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek.

Die propagandawaarde wat die Reitz-voorval vir die ANC in sy volgehoue stryd teen die  "oorblyfsels van kolonialisme", kapitalisme, klassisme en "wit" rassisme het, moenie onderskat word nie   -   nasionaal, regionaal en internasionaal. Dit dien ook as aandagafleier van die ANC se eie interne probleme.

Dat ANC-ondersteuners   -   ten spyte daarvan dat baie steeds in uiterste armoede verkeer   -   volgehoue solidariteit betoon met 'n organisasie wat hulle in die steek laat, dui daarop dat daar steeds 'n sterk anti-wit sentiment in ANC-geledere aanwesig moet wees. Dit is geen basis vir versoening nie. Versoening is nuansryk-geskakeerd en kan kwalik sonder bemiddeling geskied. So 'n tussenganger moet vir beide partye aanvaarbaar wees. Ons regstelsel behoort so 'n legitieme en finale arbiter te wees, ingestel op versoening.

Laat die reg sy loop neem deur die Reitz-4 te verhoor, waar hulle onderworpe is aan die regsreëls van die geregshof en die ANC ontneem word van sy propaganda-winste. Só word verseker dat Jansen nie in dieselfde slaggat as Chamberlain sal trap nie.