Thursday 29 April 2010

Definisies nie van pas oor Afrikaners

Stef Delport se brief, "Afrikaner wil Afrikaner wees" (DB,27.04), verwys. Hy sê : "Dit is...sinloos om ander te probeer definieer soos Breitenbach probeer doen...(en) om Afrikaners in 'n blik te wil druk met eng definisies." Dis 'n moedswillige leuen van Delport! Ek daag Delport uit om vanuit énige van my briewe   -   wat handel oor die identiteitsbehoud van die Afrikanervolk te wys waar ek met "...eng definisies..." vorendag kom.

Delport is dié man vir definisies! In sy brief van 18.08.2008, "Afrikaners het verskeie identiteite", sê hy : "...my definisie is...'n Afrikaner is iemand wat 'n Afrikaner wíl wees, en basta verder." Nóú sê Delport : "Ons Afrikaners is 'n volk of groep sonder afgebakende grense." Jammer, maar ek verskil van dié Delport-definisie. Beskou Delport homself as die standaard-definisiesteller?

Kom ons bly weg van definisies oor Afrikaners. Kom ons werk eerder met 'n tipologie van Afrikaners van 'n akkommoderende aard waarvolgens elkeen wat homself 'n Afrikaner ag, sigself   -   volgens realistiese keuse   -   binne 'n bepaalde tipe plaas.

Swart Amerikaners plaas hulself as "Afro-Americans" binne 'n Amerikaner-tipologie. Soortgelyk plaas ek myself as Euro-Afrikaner binne 'n Afrikaner-tipologie. Só besluit elkeen vir homself.

Definisiedenke vir ons situasie is futiel én gevaarlik. Tipologiedenke is, primêr, 'n beter opsie as definisiedenke wat eers intra-tipologies, sekondêr, toepaslik word.

Tuesday 27 April 2010

Kaf word nou van die koring geskei

Johan de Lange se brief, "TC se omarming vals, kunsmatig" (DB,22.04), verwys.

Hy sê dadelik: "Ek wil nie graag met T.C.Breitenbach in 'n intellektuele bekgeveg betrokke raak nie..."  Reg so ; vir emosionele vloermoere ("tantrums") sien ék weer nie kans nie.

Ek vind De Lange   -   selfaangestelde segsman vir bruines?   -   se pleidooi vir laasgenoemde besonder interessant. Waarom nie dié mense vir hulself laat praat nie, of dink u (uit die hoogte?) hulle is onbekwaam daartoe? Waarom u net oor bruines ontferm en nie ook oor swartes nie? Dis mos diskriminasie!

Kan De Lange wérklik so naïef wees om te kenne te gee dat hy nié weet wat met "...sonder om mekaar se slaapkamers te bestorm..."  bedoel word nie?

Lees Rhona se brief, "Dis nie rassisties, dis net ras-eg" (DB, 07.04), en beskou háár goed gestelde standpunt daarin ook as myne.

De Lange beskuldig my vernederend van "...diepgewortelde rassisme..." , en sê vervolgens : "...in dié opsig verskil hy weinig van die...Dozi's en Steve Hofmeyrs..."

Met hierdie verfoeilike uitlatings is dit duidelik dat De Lange die rassekaart speel. En sou ons vra wie tradisioneel dié kaart speel, is die antwoord eenvoudig : Rassiste self ; hulle ken die rassistiese spel ten beste.

De Lange blyk, myns insiens, 'n neo-filantroop te wees. Filantrope, soos 'n dr. John Philip van die Londense Sendinggenootskap, en sy leuens en valse beskuldigings teen die grensboere by die Britse owerhede, het gedurende die vroeë 19de eeu 'n wrang smaak by ons voorgeslagte gelaat.

Gaan dié geskiedenis sigself herhaal met die potensiële verskyning van neo-filantrope in ons midde om verhoudinge met hul sogenaamde "edele bedoelinge" te beduiwel?

De Lange, jy sal nog agterkom dat ons tans 'n tyd beleef waarin die kaf gaandeweg van die koring geskei gaan word.

Monday 26 April 2010

Tex-laaitie, die helfte is dan myne

Hoezzit Tex, my tjommatjie van Jeffreysbaai, my brêg. Jou SMS (DB,22.04) het my in absolute ekstase gehad. Jy moet 'n besonder begaafde outjie wees wie se ouers en onderwysers met reg op trots kan wees. (Jy is mos nog 'n skoollaaitie, is jy nie?)

Oom het kennis geneem van jou briljante gedagte om die nuut-ontdekte fossiel Australopithecus teeseebreitenbachus te noem. Oom is bewus daarvan dat daar 'n prys uitgeloof is vir skoolgaande kinders (soos jy) vir die paslikste naam vir dié fossiel waarvolgens die wenner (hoop dis jy)   -   en jou skool   -   'n bedrag geld sal ontvang. So, jy is definitief nog op skool?

Ou Tex-man, ek voel werklik gevlei. Reken dat my naam dalk in die biologiese wetenskappe verewig kan word ; ook in handboeke. Fantasties! Ek moet egter met jou eerlik wees en erken dat ek taamlik ontuis en ongemaklik sal wees tussen jóú oom Charles Darwin en al sy pêlle. Solank ek en jy net pêlle bly, is alles orraait, Tex.

Tex-man, eintlik is dit net goeie maniere dat jy my vooraf sou geken het in jou voorgestelde fossiel-naamgewing. Maar Oom is nie kwaad nie, dis orraait so, maar op voorwaarde dat jy wél nog 'n skoollaaitie is   -   en nie dalk vassit in 'n grootmenslyf nie   -   en, indien jou naamvoorstel die prysgeld sou wen, die helfte myne is. Okay?

Bye, Tex, en bly so 'n nice laaitie.                               (ngn)

Thursday 22 April 2010

Almal het ook vir Noag se ark gelag

Die Burger-mening, "Suidlanders en polarisasie" (DB,20.04), verwys.

Ek kritiseer nié dié mening nie, maar my vraag is: Het Die Burger-joernaliste die gawe om die tekens van die tyd korrek te beoordeel? Ek verduidelik.

Ek is nie 'n lid van Suidlanders nie, en tog beskou ek hulle as lede van die Afrikanervolk, of Boerevolk soos hulle verkies. Hulle het tog óók gesê hulle "...is eerstens hier vir die Here,...ons volk en...vaderland...nie hier om haatspraak aan te blaas...(of) mense op te sweep nie...(en) om oorlog te verklaar nie...(of) wapens op te neem nie...(maar) as die land tot stilstand kom, moet almal weet wat om te doen" (DB,19.04). Ek vind niks sinisters hieromtrent nie.

Ek vind dit jammer dat Die Burger-mening verwys na "...godsdiens as vrome mantel (gegooi) oor hul uitsprake en aansprake..." Dieselfde Skeppergod wat hulle bely, is ook Eienaar van Sy skepping, in volle beheer daarvan, en handel daarmee volgens Sy goeddunke.

Die ontwrigtende uitwerking van die Yslandse-vulkaanas, vernietigende aardbewings, tsoenami's, droogtes en oorstromings, is onder Sy beheer. As mense hulself teen súlke onvoorsiene natuurrampe voorberei, waarom kan dieselfde voorbereidings-inisiatief nie ook aan die Suidlanders gegun word nie?

Wie van ons kan met absolute sekerheid sê dat die Suidlanders nie inpas in die Bybelse raamwerk van diegene wat die tekens van die tyd kan begryp soos wat in 1 Kronieke 12:32 van die Issaskarstam gesê word : "...die mense wat die tekens van die tye verstaan het..", nie?

In Lukas 12:56 sê Jesus uitdruklik: "Huigelaars! Julle weet hoe om die voorkoms van die aarde en die lug te beoordeel. Hoe is dit dan dat julle nie weet hoe om hierdie tyd te beoordeel nie?" Ook Noag is tydens sy arkbou bespot.

Kan hierdie koerant dié tyd korrek beoordeel?

Monday 19 April 2010

Waardes en 'n stabiele samelewing

Jonathan Lawack se brief, "Ons dobber in see van onsekerheid" (DB,19.04), verwys. Hierin plaas hy, myns insiens, die vinger op die reeds ver-ontsteekte septiese samelewingswond wanneer hy sê : "Ons waardestelsel het in duie gestort."

Reeds vroeër sê Lawack (DB, 14.04) : "My norme en waardes word...nie bepaal deur...'n grondwet nie"   -   'n betekenisvolle opmerking waaruit ek wil aflei dat die grondwet nié ons állerbron van waardes kan wees nie.

Vanuit 'n wysgerige perspektief kom elke individuele mens, en elke vakwetenskap, te staan voor die volgende drie vrae : Wat is werklik? (vakwetenskappe: kosmologie, ontologie, antropologie); Wat is waar? (vakwetenskap: epistemologie, kenteorie of kennisleer) en: Wat is waardevol? (vakwetenskap: aksiologie of waardeleer).

Vanselfsprekend hang ons antwoorde op dié vrae met mekaar saam. Wat vir my waar(-heid) is, kom vanuit wat vir my werklik is, en is tegelyk ook vir my waardevol.

Dat ons 'n wyd-uiteenlopende antwoordgewing op dié drie vrae onder die multikultureel-saamgestelde SA-bevolking het, is 'n feit. Elke individu beskik oor 'n eie, persoonlike waardestelsel as geprioriseerde waardes, gerangskik volgens 'n rangorde van waardevoorkeure.

Die ANC probeer 'n nuwe waardestelsel vestig waarvoor hy veral die skole aanwend. Al sou alle landsburgers dieselfde waardes onderskryf, is dit géén waarborg dat almal dit tot 'n eenders-geprioriseerde waardestelsel gaan orden nie.

"Lewe" en "higiëne" is twee voorbeelde van waardes. "Lewe" is nie vir almal bó aan die waardelys nie; so ook nie higiëne nie. Mense gee te kenne dat ons almal dieselfde waardes   -   eendersgeordend   -   onderskryf. Dit is egter nie waar nie.

Daar bestaan verskillende en botsende waardestelsels in ons samelewing wat ook onversoenbaar blyk te wees. Dit kan juis 'n vonk word vir die vernietiging van die lewenswaardevolle dinge. 'n Stabiele samelewing vereis 'n menswaardige waardestelsel.

Saturday 17 April 2010

Kreasioniste beskik oor heel beste nuus

Jurie van den Heever se artikel, "A. sediba is slegte nuus vir kreasioniste" (DB,10.04), verwys.

Arme Van den Heever, en evolusioniste soos hy, dat hulle nou hul toevlug moet neem tot die spreekwoordelike "aanval is die beste vorm van verweer".

Wat die jongste "vonds", die "...allernuutste oorgangsvorm, Australopithecus sediba..." (tussen aap en mens) betref, sê Van den Heever: "Dit is weer eens slegte nuus vir die kreasioniste." Hoe oppervlakkig, onseker en kwesbaar is die evolusiedenke tog nie om hul "anti-skeppingsgeloof" slegs op tasbare "bewyse" te wil bou nie. Christene se geloof is by uitstek veranker juis in die onsigbare, en nié slegs die sigbare waarvan evolusioniste so diep afhanklik is nie. Tot watter desperaathede gaan evolusioniste hulself nog wend om hul "anti-skeppingsgeloof" te propageer? Christengelowiges benodig geen tasbare bewyse vir dit waarin hulle glo nie, te wete die Drie-enige God as die Skepper van hemel en aarde en Sy onfeilbare Woord.

Dit wat evolusioniste glo, het geweldige nadoodse implikasies vir die mens. Evolusie bied géén hoop aan die anderkant van die graf nie. Vir Christene is daar beslis lewe ná die dood. Die aardse bestaan is slegs die deurgang daarheen. Evolusioniste gaan 'n skrikwekkende prys betaal op die oordeelsdag, ook vir hul doelbewuste misleiding van onnadenkende mense. Warom nie kennis neem van die NDE-getuienisse ("near death experiences") nie?

Nee, Van den Heever, jammer om jou teleur te stel. Kreasioniste beskik oor die heel beste nuus van alle tye ooit:  Jesus Christus het in jou en my plek gesterf, ons sondeskuld volkome betaal, ons met die Vader versoen en nooi ons om van Sy uitnodiging tot redding gebruik te maak.

Hierdie brief het in Die Burger (Oos-Kaap) van 17-04-2010 verskyn.

Nie nét Christen en Suid-Afrikaner nie

Jonathan Lawack se brief, "Staak tog die semantiese spel" (DB,14.04), verwys.

In sy vorige brief (DB,08.04) het hy gevra "...om 'n laaste woord te spreek...", waarop ek in my brief (DB,10.04) dieselfde "vergunning" gevra het. Daarmee was, wat my betref, ons meningswisseling verby.

Dit lyk vir my geniepsige venynigheid bly 'n kenmerk van Lawack se debatstyl. So sê hy vir my : "Staak...die semantiese spel en spreek die kernvrae eerlik en opreg aan." Hiermee impliseer Lawack dat ek dusver in my briewe oneerlik en nié opreg was nie. Dít maak debatvoering baie moeilik.

Lawack, sê dan nou tog wat is "...die werklike kwessies wat tot dusver onbeantwoord gelaat is...(en) enkele aspekte wat u (Breitenbach) in u debatsvoering (gerieflikheidshalwe) vermy"? Indien u wel my briewe behoorlik gelees het, sal u weet dat dit vir my oor 'n enkele kwessie (enkelvoud) gaan   -   die Afrikanervolk en sy identiteitsbehoud   -   en sleep ek geen ánder "kwessies" (meervoud) by nie. Ook die "aspekte" is u eie maaksel en toevoegsel, en, moet asseblief net nie ú probleem my probleem maak en dan agter my probeer skuil nie.

Lawack vra : "Is...almal wie se huistaal Afrikaans is, by u groep ingesluit?" Lawack, eerstens behoort ek nie aan 'n "groep" nie, maar wel aan 'n volk. Tweedens, my vraag aan u : is enige persoon meteens 'n lid van die Engelse, Kanadese, Australiese, Nieu Zeelandse of Amerikaanse volk net omdat dié persoon dieselfde taal (Engels) kan praat? Is húlle lede van mekaar se volke? Ek dink nie so nie! Kan u hieruit 'n antwoord aflei?

Lawack sê hy is, eerstens, 'n Christen en, tweedens, 'n Suid-Afrikaner. Ek is, eerstens, ook 'n Christengelowige; daarna 'n volkse Afrikaner, en, derdens, óók 'n Suid-Afrikaner

Wednesday 14 April 2010

Evolusie-verhaal is dán net fantasie

Elsabé Brits se artikel, "Nuwe hoofstuk in menslike evolusie" (DB,09.04), verwys.

In dié artikel word die leser bekend gestel aan die jongste "oorgangskakel" van die aap na die mens, Australopithecus sediba. Die begrip Australopithecus beteken "suidelike aap".

Ek vind dit vreemd dat daar na dié aap-fossiele as "...'n jong vrou en kind (seun)..." verwys word, begrippe wat op die méns betrekking het; nie op ape nie. Dieselfde geld "Mev. Ples" as Australopithecus africanus ('n aap).

Australopithecus sediba is kwansuis 'n "...oorgangsfossiel tussen die ouer Australopithecus africanus en die eerste Homo-spesies wat direk tot die mens aanleiding gegee het."

Dr. Hennie Mouton reageer hierop soos volg: "...die bewerings dat hierdie aap (Australopithecus = suidelike aap) beslis regop geloop en gehardloop het, interesseer my, veral omdat hulle duidelik geen voete gevind het nie, of indien wel, ondersteun die voete beslis nie hul bewerings nie, anders sou hulle dit as rede uitgebasuin het. Dit is ook insiggewend dat hulle nóú bereid is om te erken dat Australopithecus africanus (Mev. Ples) viervoetig was. 

"Die probleme met die voriges word tipies eers deur die evolusioniste erken sodra hulle 'n volgende 'beter' een ontdek. Dit lyk of die gebrek aan of verkeerde voete (van Australopithecus sediba) hulle in die voet bly skiet."

Dat dié "fossiele" in 'n "natuurlike doodstrik" geval het, kan evolusioniste glo as hulle wil. Ek glo dat dit daar ingespoel is tydens die wêreldvloed in Noag se tyd, en dus ook nie noodwendig plaaslik van oorsprong hoef te wees nie, maar dalk van elders. Indien dit nie die geestelik-vernietigende dood van die mens in sigself omgedra het nie, kon die "evolusie-verhaal" as een van die grootste fantasie-verhale vir liggelowige kinders in menseheugenis beskou word.

Hierdie brief het in Die Burger (Oos-Kaap) van 14-04-2010 verskyn.

Monday 12 April 2010

Is Afrikanervroue lojaler as Afrikanermans?

Ek vind dit besonder betekenisvol dat, sedert my brief   -   "Bruines span saam teen Afrikaners" (DB,16.03)   -   verskyn het, dit slegs mans was wat my verkwalik het vir wat ek daarin gesê het asook wat in briefwisseling daarop sou volg : Emile Koen (DB,20.03), Johan de Lange (DB,20.03), Chris (DB,30.03), Gerrie Kruger (DB,01.04;06.04), Jonathan Lawack (DB,31.03;08.04) en Jan van Jeffreysbaai (DB,09.04)   -   sommige wit, sommige bruin.

In kontras met dié "mansbriewe" word die briefbydraes van vroue gedurende dieselfde tydperk, myns insiens, gekenmerk deur 'n gemeenskaplik-behoudende (konserwatiewe, as u wil) gees : Isabel Jonck (DB,05.04), Rhona (DB,07.04), Karin (DB,09.04), Maria (DB,09.04), Judith (DB,10.04), Sonia (DB,10.04) en Ronel Snyman (DB,10.04).

Vir hierdie vroue se standpunte en bydraes het ek groot waardering. Hulle herinner sterk aan 'n volksgesinde pioniersvrou van Kaapstad wat 'n passie openbaar het vir haar volksgenote in die Boererepublieke tydens die ABO en haar met hulle vereenselwig het, naamlik Marie Koopmans-De Wet.

By geleentheid het 'n vername buitelandse besoeker vir haar gesê : "But, Mrs. Koopmans, you are conservative", waarop haar antwoord was : "Certainly, Sir, I am conservative, for I possess something worth conserving." Dit is dié gees van 'n Koopmans-De Wet wat ek in die gemelde vroue se bydraes lees.

Ek weet egter van nog méér vroue wie se harte óók so klop. Hoe weet ek dit? Hulle praat met my ; mans weinig, en gevolglik wil ek begin dink dat vroue lojaler aan hul volk is as mans. Kan vroue nie ook verder in die toekoms sien as mans nie?

Dus : in wie se hande lê die toekoms van die Afrikanervolk   -   in dié van Afrikanermans, of Afrikanervroue? Ek meen laasgenoemde.

Saturday 10 April 2010

Oorkom bitterheid en gaan vooruit

Soos Lawack, vra ek ook om vergun te word om  "'n laaste woord te spreek"  in ons briefwisseling, en te reageer op sy opmerking : "...T.C.Breitenbach se neerhalende repliek..."

Hoewel ek sy opmerking jammerlik vind, wens ek hom nietemin geluk dat hy sy vlak van debatvoering aansienlik gelig het (opreg bedoel; geen sarkasme). Die opskrif van sy jongste brief, "Só moet dinge mos nie gedoen word" (DB,08.04), pas dus sy verhoogde debatsvlak soos 'n handskoen.

Myns insiens lê die antwoord op verskille nié in beledigings, verwyte en die misgunning (en verpolitisering) van mekaar se (volks-)identiteite nie. Dit lê op 'n meta-vlak, dit wil sê op 'n vlak wat uitstyg bokant voorgemelde.

Om dus die badwater (verlede) met kind (Afrikanervolk) en al te wil uitgooi, is beslis nie die oplossing nie. Waarom wil ons die verlede vernietig terwyl ons juis uit die lesse daarvan moet leer?

Dalk het bruin mense nie eers in dieselfde mate "gely" onder wit Afrikaners (1948-1994) as wat Afrikaners "gely" het onder die Engelse (1806-1961) nie. Afrikaners kan beslis voorbeelde aanvoer van pogings om beide bruin én swart in hierdie land op te hef. Dieselfde kan egter nie van die Engelse ten opsigte van Afrikaners gesê word nie.

Die wyse waarop Afrikaners in die verlede op hul verliese en vernedering gereageer het, was nie dié van volgehoue verbittering en verwyte nie. Nee, hulle het telkens met God se hulp hul bitterheid oorkom en vooruit gegaan.

Die "fout" lê nie by die Skepper nie, maar by die skepsels. Die "reënboognasie" is so 'n voorbeeld waarvan ek nêrens in die Bybel lees nie.

Ek sien geen rede waarom die Afrikanervolk en bruin mense nie, as landgenote, kan saamwerk nie, dog sonder om mekaar se slaapkamers te wil binne "stormram".

Friday 9 April 2010

Afrikaners, waak teen dié houding

Die wit Afrikaner se vorming, vooruitgang en prestasies het dikwels geskied "ten spyte van", maar ook "danksy". So beweer E.P. du Plessis in die boek: "'n Volk staan op - Die Ekonomiese Volkskongres en Daarna".

So het die Afrikaners gevorder "ten spyte van" 'n verarmende en isolerende Groot Trek; vertraagde kennismaking met die Nywerheidsomwenteling; twee oorloë teen 'n imperiale wêreldmoondheid; onsimpatieke vreemde owerhede; onbeholpenheid in 'n vreemde stadsomgewing; en so meer.

Afrikaners het ook vooruit gegaan "danksy" begaafde individue in volksgeledere; instellings soos die Reddingsdaadbond, Ekonomiese Instituut, Afrikaanse Handelsinstituut en F.A.K.; ondernemings soos Sanlam, Santam, Volkskas, Federale Volksbeleggings en Nasionale Pers; gebeurtenisse soos die eerste Ekonomiese Volkskongres van 1939; en so meer.

En nou sê Clem Sunter so onlangs as 24.03.2010 in 'n stuk getitel : "The economic liberation of Afrikaners", die volgende : "It is an ironic twist of fate that so far the real beneficiaries of the ending of apartheid are...the Afrikaners.

"After 1994...Afrikaners were out of power...They had to take a leaf out of Steve Biko's book : you are on your own and will have to fend for yourself. And they have done so   -   fantastically well."

Sunter vervolg : "Afrikaners have a collective consciousness which is the spiritual foundation of an effective commercial network. Language, religion, culture and a common outlook on life (volkseienskappe) bind them into teams that are almost unbeatable when challenged by less cohesive competitors."

Vandag word die nageslag van Afrikaner-baanbrekers behandel asof hulle parasiete is wat géén bydrae gelewer het tot die ontwikkeling van die S.A.-infrastruktuur nie. Afrikaners moet dus nié toelaat dat hulle gekondisioneer word tot 'n "ekskuus-tog-dat-ek-lewe" houding nie.

Thursday 8 April 2010

Volkwees nie gelyk aan eksklusiwiteit

Gerrie Kruger se brief, "Eksklusiwiteit nie meer prakties in SA" (DB,06.04), verwys.

Hoedat Kruger daarby uitkom dat ek "...op eksklusiwiteit...aandring" en "isolasie" voorstaan, sal net hy kan verduidelik. Hy sê: "Die...eksklusiwiteit wat blanke Afrikaners...geniet het, is verby."

Ek daag Kruger uit om te wys waar ek in enige van my briewe 'n pleidooi lewer vir "eksklusiwiteit" en/of "isolasie". Nee, deurgaans gaan dit vir my oor my volk en sy identiteitsbehoud. Dit is dus duidelik die resultaat van Kruger se eie interpretasie.

Wanneer Kruger sê: "Om vandag nog...op eksklusiwiteit te wil aandring...", is my vraag aan hom : Indien "volkwees" vir hom "eksklusiwiteit" beteken, wat dan van die Zoeloes, die Xhosas en ander se behoudend-trotse ingesteldheid teenoor hul eie etnisiteit (volkwees)? Onthou, ook hulle is almal, soos die Afrikanervolk, minderheidsgroepe. Staan hulle ook skuldig aan "eksklusiwiteit", of net die Afrikanervolk? Wat maak ons skuldig en hulle onskuldig?

Na vier jaar se verblyf in Engeland is Kruger terug in S.A. Ek gee hom dus die voordeel van die twyfel dat hy nog nie mooi besef dat die wit Afrikaners die enigste minderheidsgroep is wie se identiteit onder geweldige druk verkeer om dit prys te gee nie.

Is dit ongrondwetlik om die eie identiteit te wil behou, en, indien jy dit wil handhaaf, "isoleer" jy jouself noodwendig soos wat Kruger te kenne gee as hy sê: "...die noodwendige gevolg sal isolasie wees"?

Nee, Kruger, dit het absoluut niks met "eksklusiwiteit" en/of "isolasie" te make nie, maar wel alles met die skeppingsbeginsels van "eenheid-in-die-verskeidenheid" én "verskeidenheid-in-die-eenheid" waarvan jy gerus kennis kan neem.

Oor jou vraag oor "taal" en "volk" : Pannevis, Hoogenhout, D.F.du Toit en S.J.du Toit sê in hul "Die Afrikaanse Volkslied" : 'n Ieder nasie (volk) het syn TAAL.

Wednesday 7 April 2010

Verbeelding sal jou dán niks help nie

Koot Pieterse se brief, "Wetenskaplikes is te besig vir drome" (DB,03.04), verwys.

Pieterse sê: "Ek sien die deerniswekkende beeld van 'n verbete dr.T.C.Breitenbach op sy getroue perd, Rosinante, en met Sancho Panza aan sy sy." Hiermee slaan Pieterse my tot ridder: Don Quixote. Dankie vir dié titel; onthou dit net.

Pieterse is beslis heldersiende. Hoe anders kon hy weet dat die Breitenbachs se familiegeskiedenis tot die 12de eeu teruggevoer kan word toe ons edelliede van die hertogdom van Hesse in Duitsland was, en ons familienaam Von Breitenbach zu Breitenfelde was?

Ek reageer kortliks op Pieterse se "getroue perd"-beeld en, volgens hom, my "...desperate stormlope op die mure van die werklikheid..."

Nee, Pieterse, jy fouteer. Ek loop nie die "mure van die werklikheid" storm nie. Nog minder is ek desperaat daaromtrent, want, jy sien, ek sê: "...die werklikheid is Christus" (Kolossense 2:17), 'n geloofswaarheid wat evolusioniste ontken.

Wat jou "getroue perd"-beeld betref: Ek lees in Openbaring 19:11-13: "Daar was 'n wit perd. Sy Ruiter...het klere aangehad wat met bloed deurweek was, en sy naam is: 'Die Woord van God'." So lees ek ook in Johannes 1:1-3: "In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God...Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie."

Ook hierdie geloofswaarheid word deur evolusioniste bespot.

Pieterse, ek maak nie met jou rusie indien jy nié die Bybelse skeppingsverhaal glo nie. Jy sê self: "As ek my oë toemaak, kan ek my verbeel..."

Jy is reg; ons almal gáán eendag ons oë toemaak, maar verbeelding gaan dan nie help nie.

Hierdie brief is op 07-04-2010 in Die Burger (Oos-Kaap) geplaas.

Monday 5 April 2010

Ontwaak tog uit dié utopiese droom

Jonathan Lawack se brief, "Reënboognasie kán gestalte kry" (DB,31.03), verwys.

Deur emosioneel-oorspoelde taal te gebruik teenoor diegene van wie jy verskil, val ongetwyfeld in swak smaak en dien ook nie jou saak nie. Laat ons daarom verkieslik die rasionele weg volg.

So, byvoorbeeld, sê Lawack: "Breitenbach...het...die vermetelheid om rojaal (?) aan te haal uit sy rassistiese alter ego, Trotse Bruin Man, se skrywe...(en) almal kan jul vuil, rassistiese onderklere sien uithang...(terwyl) julle Sondag na Sondag baie vroom jul plekke in die kerkbanke warm sit...en hier (in jul briewe) probeer julle die bresse slaan vir daardie gehate (Ontug-)wet...Julle is politieke anachronismes..."

Lawack moet waarskuwend tot versigtigheid gemaan word dat sy roekelose bewerings nie dalk té naby aan die haatspraak-definisie beweeg nie. Vermy liewer dié semeltaal ; daaruit kan relevante afleidings gemaak word.

Die Lawack-denke is beslis nie demokraties nie. Lawack moet vir my en Trotse Bruin Man tog die Grondwet-artikels kwoteer waarvolgens ons verbied word om ons onderskeie identiteite te mag handhaaf, en ons só, volgens hom, aan rassisme skuldig maak.

Dit ontbreek Lawack baie duidelik aan die spreekwoordelike goeie begrip (wat net 'n halwe woord benodig) vanweë sy onvermoë om tussen die begrippe "volkseie" en "rassisme" te kan onderskei. Hy sê : "...onder die dekmantel van nasionalisme (volkseie) andere minder mens te laat voel..." Belaglik!

Die doodstraf is afgeskaf tot groot nadeel van die ganse samelewing, en moordenaars kan nou lewenslank teer op belastingbetalersgeld. Van die "aangeklaagde, skuldigbevinde en veroordeelde" Afrikanervolk se nageslag word verwag om, volgens Lawack-denke, "selfmoord" te pleeg. Ag nee, Lawack, ontwaak tog uit jou utopiese droom (nagmerrie)!

Saturday 3 April 2010

Slaap gerus in bed wat jy self opmaak

Gerrie Kruger se brief,  "Haal die oogklappe af oor taal, ideale" (DB,01.04.2010), verwys.

Aangesien hy identifiseer met Chris se brief,  "Sê wie almal deel is van 'ons' volk" (DB, 30.03.2010), deur Chris te bedank  "...vir 'n uitstekende brief"  en byvoeg :  "Jy slaan die spyker op die kop!", verwys ek Kruger na my brief,  "Jy besluit self of jy lid van dié volk is" (DB,01.04.2010), as tegelyk ook my antwoord aan hóm.

In Engeland is die Afrikaanssprekende die vreemdeling, die buitestander, die besoekende gas   -   dis nie jóú vaderland nie, en is dit vanselfsprekend 'n kwessie van : "When in Rome, do as the Romans do."

Ek het twee seuns daar, het hulle reeds twee keer besoek en het derhalwe 'n redelike idee wat van hulle, as Afrikaanssprekendes, daar vereis word. Vir Kruger om dus te argumenteer : "...ons (moes) leer dat ons nie eksklusief is nie en om jouself te isoleer, gaan jou nêrens bring nie. Oorlewing was belangriker as taal.", is totaal irrelevant.

In die vreemde is dit vanselfsprekendhede, maar my indruk is dat Kruger die Engeland-konteks met die SA-konteks vergelyk, indien nie daaraan wil gelykstel nie.

As Afrikaanssprekende is sy dogtertjie nou Engelssprekend, waarteen hy geen beswaar het nie. Ook hierdie argument van Kruger is irrelevant. Daar is vele Afrikaanssprekendes wat presies dieselfde in hul eie vaderland doen.

Kruger is egter reg wanneer hy sê : "...die nuwe geslag Afrikaanssprekendes sal self besluit op ons ideale en toekoms, dankie, T.C.Breitenbach."

Onthou egter dat sommige besluite, omgesit in handelinge, van 'n finale onomkeerbare aard kan wees waarvoor spyt dalk te laat mag wees. Ons slaap mos maar in die bed wat ons self opgemaak het, dan nie?

Thursday 1 April 2010

Jy besluit self of jy lid van dié volk is

Chris se brief, "Sê wie almal deel is van 'ons volk' "(DB,30.03), verwys. Hierin sê hy: "...T.C.Breitenbach moet...sê wie nou eintlik die 'ons volk' is..." Ek voldoen graag aan dié versoek.

Op Glaukon se vraag : wie is die ware filosowe (lees:'ons volk'), antwoord die Griekse wysgeer, Sokrates(470-399 v.C.), soos volg : hulle wat die soeke na die waarheid (lees : van 'ons volk') liefhet.

Chris, in hierdie analoë beeld lê my antwoord aan jou opgesluit. Soos wat elke antiek-Griekse filosoof sigself vir "ware filosoofskap" moes beoordeel volgens die eie waarheidsoeke, so moet ek en jy ook self besluit oor ons lidmaatskap, al dan nie, van 'ons volk' (Afrikanervolk) aan die hand van ons eie waarheidsoeke aangaande dié volk.

Swart mense sê vir my jy kry die liefde vir die eie met moedersmelk in. Deur, onder meer, my grootmoeder se vertelling van volksverhale, het ek geleer om te identifiseer, te assosieer en te konformeer met my mense, die Afrikanervolk. Dit is aangevul deur my Vrystaatse oudstryder-oupa se deelname aan die ABO, asook my pa se vernedering tydens WO2 omdat hy, as Afrikaner, nie die "Rooi Eed" wou aflê nie.

Chris, die antwoord op jou vraag lê by niemand anders as net by jouself nie.Lees gerus in die Nuwe FAK-Sangbundel (1961) die woorde van dié liedere onder "Volk en Vaderland" (bv. lied 29 : Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra...); neem kennis van ons monumente en gedenktekens; bring besoek aan konsentrasiekampkerkhowe; lees ons gedokumenterde volksgeskiedenis; ens. ens.

Hierin sal jy die gees van 'ons volk' vind. Toets jouself hieraan, en beantwoord só self jou vraag.