Thursday 22 April 2010

Almal het ook vir Noag se ark gelag

Die Burger-mening, "Suidlanders en polarisasie" (DB,20.04), verwys.

Ek kritiseer nié dié mening nie, maar my vraag is: Het Die Burger-joernaliste die gawe om die tekens van die tyd korrek te beoordeel? Ek verduidelik.

Ek is nie 'n lid van Suidlanders nie, en tog beskou ek hulle as lede van die Afrikanervolk, of Boerevolk soos hulle verkies. Hulle het tog óók gesê hulle "...is eerstens hier vir die Here,...ons volk en...vaderland...nie hier om haatspraak aan te blaas...(of) mense op te sweep nie...(en) om oorlog te verklaar nie...(of) wapens op te neem nie...(maar) as die land tot stilstand kom, moet almal weet wat om te doen" (DB,19.04). Ek vind niks sinisters hieromtrent nie.

Ek vind dit jammer dat Die Burger-mening verwys na "...godsdiens as vrome mantel (gegooi) oor hul uitsprake en aansprake..." Dieselfde Skeppergod wat hulle bely, is ook Eienaar van Sy skepping, in volle beheer daarvan, en handel daarmee volgens Sy goeddunke.

Die ontwrigtende uitwerking van die Yslandse-vulkaanas, vernietigende aardbewings, tsoenami's, droogtes en oorstromings, is onder Sy beheer. As mense hulself teen súlke onvoorsiene natuurrampe voorberei, waarom kan dieselfde voorbereidings-inisiatief nie ook aan die Suidlanders gegun word nie?

Wie van ons kan met absolute sekerheid sê dat die Suidlanders nie inpas in die Bybelse raamwerk van diegene wat die tekens van die tyd kan begryp soos wat in 1 Kronieke 12:32 van die Issaskarstam gesê word : "...die mense wat die tekens van die tye verstaan het..", nie?

In Lukas 12:56 sê Jesus uitdruklik: "Huigelaars! Julle weet hoe om die voorkoms van die aarde en die lug te beoordeel. Hoe is dit dan dat julle nie weet hoe om hierdie tyd te beoordeel nie?" Ook Noag is tydens sy arkbou bespot.

Kan hierdie koerant dié tyd korrek beoordeel?

No comments:

Post a Comment