Wednesday 18 March 2020

Moet ander ons aan ons volkstrots herinner?




Die Kroonstadse konsentrasiekampbegraafplaas, waar meer as 2 000 vroue- en kinderoorlogslagoffers begrawe lê, is onlangs deur riool- en afvalwater oorstroom. Vir die Afrikakultuur is voorvadergrafte van wesensbelang en selfs 'n aanspraakkriterium vir grondeienaarskap.

Gekenmerk deur wreedheid, verwoesting, lyding en dood, is oorlog geen spel met -reëls nie. Die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) is geen uitsondering nie. Britse militêre owerhede het vrouens, kinders en bejaardes onder onmenslike omstandighede in konsentrasiekampe aangehou terwyl plaaswonings afgebrand, groot- en kleinvee gedood en gesaaides vernietig is.

Redakteurs Albert Grundlingh en Bill Nasson se publikasie: "Die Oorlog Kom Huis Toe: Vroue en gesinne in diie Anglo-Boereoorlog", met meer as 300 aangrypende foto's, maak gevoelloosheid onmoontlik.

Eensydige ANC-geskiedskrywing gaan ontkennend om met wit Afrikaners en die -volk se ontwikkelingsbydraes tot Suid-Afrika. Die ANC-gifpen is nie in staat tot gebalanseerde geskiedskrywing nie.

As indiwiduele Suid-Afrikaners skakel ons in by 'n groep soos 'n volks- of etniese groep, en beskik derhalwe ook oor 'n volks- of etniese trots binne die groter nasionale trots. Alhoewel grondwetlik gelyk, erken ANC-kriteria "the people" se etniese trots; nie volkstrots nie. Onder selfs die haglikste omstandighede het Afrikanervroue in die kampe egter nooit hul volkstrots prysgegee nie. En ons vandag?

Vroeëre Britse imperialistiese volksvernietiging vind vandag 'n geesgenoot in die ANC wat talle Afrikaners reeds tot selfopgelegde ballingskap gedwing het. New Zealanders sien graag dat sulke emigrante hul eie volkstrots, getuigende ook van integriteit, behou. Speel die Springbokke op New Zealandse tuisbodem, verwag die Kiwi's dat SA-emigrante die Bokke sal ondersteun as demonstrasie van hul volkstrots, en nié die All Blacks nie. Moet die buiteland ons vandag aan ons volkstrots herinner?                                                                                                                                     
                                                                                                                                                   (ngn)




Wednesday 4 March 2020

Is ons onderweg na Zimbabwe-Suid?




Die ideologies alles transformerende sosialisties-kommunistiese ANC met sy oorbesoldigde, onderpresterende amptenary op al drie regeringsvlakke  -  dikwels korrup en onbekwaam tot bevredigende dienslewering en produktiwiteit  -  het ons afwaarts gevoer tot op die rand van rommelstatus.

Die staatskas is tot ANC-toegeëiende beursie gemaak, parlementêre gesag en besluitneming na Luthuli Huis verskuif met staatsbelange ondergeskik aan ANC-belange. Die mislukkende ANC lei ons 'n mislukte staat binne.

ANC-dwaling dat die goudpot aan die einde van die reënboognasie onuitputlik is, lei tot roekelose geldvermorsing. Ons skuld is astronomies, ekonomiese groei volg 'n dalende kurwe , en die koronavirus wat ons nog nie bereik het nie, se suksesvolle hantering gaan leierskap verg waaroor ons nie beskik nie.

Werknemers moet oral, met traumatiese gevolge, verminder word. Oortollige staatsdienswerkers  -  die ANC se (stemmeversekerende) idee van werkskepping  -  moet verminder word. 'n Tot nou toe gevestigde rojale leefwyse word nou bedreig, terwyl die minder gelukkiges na die broodlyn, en daaronder, beweeg.

'n Omgewing vir landswye protes en klimaat vir rewolusie, wat vlak onder die oppervlak broei, word geskep, terwyl een van die grootste probleemoorsake, oorbevolking, kortsigtiglik steeds onaangespreek bly   -   simptome ooreenstemmend met ons onmiddellike noordelike buurstaat.

'n Vraag van oorlewingsbelang is of die voortgesette tentakelryke nasionale demokratiese rewolusie, volgehoue ideologiese transformasie en toepassing van die voorgenome onteiening sonder vergoeding, ons nie uiteindelik tot die naamsverandering van die Republiek van Zimbabwe-Suid gaan dwing nie?