Monday 31 December 2012

Nee dankie vir Zuma-reinigingseremonie

'n Gesonde liggaam, én gees, vereis gereelde reiniging. Deur homself vroeër met 'n stortbad voorkomend teen vigsinfeksie te "beskerm", het pres. Zuma die reputasie van "stortkop" oor homself gebring, dikwels deur Fred Mouton in sy hekelsketse uitgebeeld.

In "Zuma wil nasie nou laat reinig" (DB,29.12), betree hy egter die terrein van geestelike reiniging waardeur hy die "morele waardes van die nasie" wil herstel. Voorvalle soos die "Marikana-tragedie, die verkragting van vroue en politieke sluipmoorde" inspireer hom daartoe. Diegene wat hulle nie wil laat reinig nie, koester dan kwansuis "wrokke" (teen wie/wat?).

Met die doel om morele en belangrike Afrika-waardes te herstel, word 'n nasionale reinigingseremonie beoog. Deur met die geeste van afgestorwe voorvaders tydens die "Ukuvala-umkhokha"-ritueel te kommunikeer, kan die tradisionele en kulturele gebruike sodoende herstel word (Mail & Guardian,28.12).

Weinig kom tereg van die veelgeprese "Ubuntu"-waardes indien gelet sou word op 'n vergelyking tussen die selfverrykende ANC-leierskap en hul kreperende ondersteuners. Waarom sal 'n reinigingseremonie dié
situasie dan omkeer? Só 'n seremonie is maar net weer 'n geleentheid vir 'n ANC-jol op belastingbetalerskoste, en die jongste Zuma-uitlatings is bloot simptome van die euforie waarmee hy op die
Mangaung-golfkruin ry.

Christengelowiges vind die uitnodiging tot geestelike reiniging, sowel as 'n waarskuwing daaromtrent, in die Bybel. Jesaja 1:18 bied die uitnodiging: "Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu..." Jesaja 8:19 waarsku: "En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê... - moet 'n volk nie sy God raadpleeg nie...?"

Sonder enige sweem van wrok: Dankie,mnr. Zuma, maar ek wil géén aandeel aan u reinigingseremonie hê nie.

Friday 28 December 2012

Zuma staan vir tradisionele magsbehoud

Vir die Europese westers-georiënteerde mens is dit duidelik dat die Afrikamens vandag - waarskynlik meer as ooit tevore - bedreig word deur 'n potensiële verlies aan sy tradisionele kultuur, en derhalwe ook die mag wat daaruit voortkom. Dit is juis dié mag wat die ANC aan bewind hou. Verlies van die Afrikakultuur en sy mag, kan die einde van die ANC beteken.

Wat Zuma dus betref, dui alles daarop dat hy oor 'n besonder sterk en behoudende Afrikabewussyn beskik en hom, soos Steve Biko en sy "Black Consciousness Movement" vroeër, beywer vir die behoud van die Afrikakultuur (wat sekerlik sy reg is) en die tradisionele mag voortvloeiende daaruit.

Beriggewing oor "Zuma in twis oor ras, honde" (DB,28.12), gaan dus oor veel dieper sake as oppervlakkige verskille tussen die wit en swart rasse. Hy rig hom veral op sy eie kultuurgenote ten einde hulle te waarsku teen die prysgawe van die Afrikakultuur, dat die swart ras en swart kultuur steeds solidêr moet bly en die mag wat dit monster, ingespan moet word teen die gevare van vreemde kultuurbedreiginge. Laasgenoemde is juis goed bekend aan die Afrikaner en kenmerkend van sy geskiedenis.

Om werklik mens te wees - en dit te bly - vereis ook om nié van jou eie kultuurnaelstring geaborteer te word nie. Dit is iets hiervan wat ek meen Zuma in sy opmerkings te kenne wou gee. As staatspresident laat hy hom egter op 'n uiters lomp en ondiplomatiese wyse daaroor uit. Dat hy egter staan vir onbetwisde tradisionele Afrikamagsbehoud, met die onaangetasde Afrikakultuur as voorwaarde daarvoor, is baie duidelik.

Wednesday 19 December 2012

Gaum se "strominge in die kerk" bevraagteken

Waarskynlik is ek een van weinig   -   dalk selfs die enigste   -   wat meen dat Frits Gaum se artikel, "Vier strominge in kerk" (DB,19.12), nie werklik 'n realistiese bydrae tot die heersende situasie in die NG Kerk lewer nie. Waarom dié bewering? Dink 'n mens ietwat "behaviouristies", dit wil sê in terme van oorsaak en gevolg, dan is dit duidelik dat Gaum se "strominge in die kerk" bloot die reaksie van lidmate beskryf op die rigting wat die huidige kerkleiding inslaan.
 
Gaum se weergawe van kerklike gebeure is slegs wat ek 'n lidmaat-tipologie sal noem vanweë hul reaksie op die kerkleiding. As hy dit "reaktiewe strominge" sou noem, gaan ek akkoord, maar hy doen dit nie. Die werklike ontstaan-"strominge" is die sluise van "anderse" en "vernuwende" kerklik transformerende denkstrominge wat oopgemaak is/word deur die kontemporêre teoloë en kerkleiers. Dìt is die "ware strominge", strominge waardeur lidmate meegevoer word wat nie primêr deur hulle losgelaat is nie, maar wel deur die geestelike leiers binne die kerk. Dìt is die "bron" van die strominge; nie die lidmate nie. Die "lidmaat-strominge" is slegs die reaktiewe uitvloeisels op die "leierskapstrominge" binne die kerk. Laasgenoemde is die "ware strominge" waarop Gaum die lesers moes wys; nie die "reaktiewe lidmaatstrominge" nie.
 
Gaum ontleed die simptome in die kerk, stel dan 'n lidmaat-tipologie saam, en bied dit aan die leser as "strominge in die kerk". Nee, Gaum, lidmate kyk daarby verby en vra na die onder-  en agterliggende kerklik-transformerende oorsake van dié simptome as die "werklike strominge" in die kerk en soos deur die kerkleiers teweeggebring.                       (ngn)
 
 
 

Monday 17 December 2012

Kan SA hom van dié absurditeit bevry?

Die berig "Studerende LP's druip in groot getalle" (DB,15.12), het betrekking. Ek vind dit onaanvaarbaar dat "honderde hoogs betaalde (sowat R875 000 per jaar!), maar swak gekwalifiseerde parlementslede" die burgery sal verteenwoordig in 'n parlementêre bedeling gevestig op 'n grondwet wat wêreldwyd hoog geroem en as een van die mees progressiewes beskou word. Watter soort leierskap laat dit toe? Iewers is daar beslis 'n gróót fout.
 
Uit beriggewing word dit duidelik dat dié groot aantal parlementariërs   -   275 van 400 LP's   -   nié toegerus en bekwaam is vir hul taak nie; vandaar "dat 275 LP's vanjaar vir Unisa se kursus in regeerkunde en leierskap ingeskryf het" waarvan 82 (30%) gedruip het. Hierdeur maak ons onsself belaglik in die oë van die eerste wêreld waarvan ons so graag deel wil wees, en in dié se welvaart deel, maar self nie daartoe opgewasse is nie.
 
In sy boek, "Historiese Wordingskunde", gebruik F.J.Potgieter die uitdrukking "psythokratiese stemverheffing" waarmee hy na die derde wêreldse "babbelende, demokratiese gepeupel" in die VVO-vergadersale verwys. Ons karig-geletterde parlementariërs laat my aan iets hiervan dink.
 
Wat anders as besonder duur "rubberstempels" van die ANC-regime kan dié ongekwalifiseerdes wees? Watter werklike verskil sou dit teweegbring om hulle met "His Master's Voice"-geprogrammeerde robotte te vervang? Sulke robotte sal nie sit en slaap nie, nie massaal eet en drink nie, benodig nie luukse huisvesting, vliegkaartjies of goue handdrukke nie.
 
Is SA se parlementêre geskiedenis ooit vooraf deur so 'n laagtepunt gekenmerk? Wat sê dit van wetgewing wat deur só 'n parlement deurgevoer word? Is SA daartoe in staat om homself van dié absurditeit te bevry?                      (ngn)
 
 

Thursday 13 December 2012

God, nie teoloë, spreek die finale woord

Lidmate van verskillende kerklike denominasies moet hulself afvra of die kerk waartoe hulle behoort 'n ware of 'n valse kerk is. Dit geld ook lidmate van die NG Kerk (NGB,Art.29). Die lees van Julian Müller, afgetrede teoloog, se artikel, "Nuwe taal vir ou kerk" (DB,12.12), beklemtoon die noodsaaklikheid van dié vraag.
 
Müller sê die NG Kerk kan nie op die "ou manier" voortgaan nie, moet homself "herontdek", en sy geloof in "nuwe taal" verwoord. Die huidige voortstuwende en allesverswelgende transformasie-tsoenami oorspoel sowel die teologiese denke as die kerklike lewe van die dag. Die kerklike "ou manier" moet plat gevee word sodat 'n nuwe kerklike "phoenix" uit die modder kan verrys   -   "herontdekkende" homself en pratende 'n "nuwe taal".
 
Müller se kerkbeskouing swyg oor die kerk as die Liggaam/Bruid van Christus as die Hoof daarvan. Aangaande myself kan daar nooit van die kerk gepraat word sonder 'n dankbare afhanklikheidserkenning, eerbied en gehoorsaamheid aan die Goddelike Eienaar daarvan nie. Met 'n Godheid wie se karakter nooit verander nie   -   en so ook Sy Woord   -   kom Müller se verwerping van die "ou manier" nie net vreemd, maar ook onoortuigend en verdag voor.
 
NGK-lidmate moenie deur Müller verwar word nie. Neem eerder ter harte wat Paulus vir Timoteus gesê het: "...bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo (2 Tim.3:14). Soos wat? Soos wat Jesus self gesê het: "...die skape volg hom (die herder) omdat hulle sy stem ken...en nooit 'n vreemde sal volg omdat hulle nie die stem van vreemdes ken nie" (Joh.10:4-5). Ignoreer daarom die "vreemde stemme" in die kerk. God, nie teoloë nie, spreek die finale woord.
 
 

Wednesday 12 December 2012

Hang dan maar dié etiket om my nek

"T.C.Breitenbach, wat is 'n  'manlike beroep' ?", wil L.Lombard (DB,11.12) by my weet. Ek kan u nie definisiegewys antwoord nie, en gee bloot my mening waaruit u u eie afleiding kan maak.
 
Die beroepswêreld word gekenmerk deur 'n eie ontwikkelingsgeskiedenis waarin mans dit vir etlike eeue oorheers het. Met die opkoms van liberalisme het agente in diens daarvan   -   soos "Women's Lib" en die "emansipasie van die vrou"   -   tradisioneel geslagsgeoriënteerde beroepsdifferensiasie geërodeer tot 'n meer gelyke beroepsveld. Vroue het toenemend voorheen "manlike beroepe" betree. Beteken dit nou dat daar géén "manlike beroepe" oorgebly het nie en dat "feminisme" finaal daarmee klaargespeel het?
 
Geslagtelike beroepsrolle hang ten nouste saam met kultuur en  -verskille. Vanuit my kultuurkonteks sien ek nie graag dat 'n vrou se vroulikheid en/of moederlikheid deur 'n beroep nadelig aangetas sal word nie. (Waarom maak mans nie damestoilette skoon nie, maar vroue wel manstoilette? "Natuurlik" hoort hulle nie daar nie. So kon die gewraakte Reitz-voorval voorkom gewees het.) Ek sien ook nie graag vroue in hoë-risiko en gevaarvolle beroepsomgewings nie (operasionele beroepsoldaat of ondergrondse mynwerker).
 
Ek is gekant teen vroue in die rol van minister van verdediging en as hoof van die SAPD in mansgedomineerde beroepsomgewings. Dis hoogs onwaarskynlik dat sulke vroue self deur al die range vanaf onder tot bo-uit gevorder het, en daarom nié oor die uiters noodsaaklike beroepskennis, -vaardighede en  -ervaring beskik vir die suksesvolle funksionering van óf die SAW óf die SAPD in landsbelang nie. Dit is te wyte aan die ANC se "onnatuurlike" praktykmaking van geslagsgelykheid in 'n omgewing waar dit nie alleen tot groter kwesbaarheid lei nie, maar waarvoor die ganse SA-samelewing die prys moet betaal.
 
Indien enigeen my die "seksis"-etiket vir my standpunt wil omhang, staan dit hom/haar vry om so te doen.
 
 
 

Tuesday 11 December 2012

Geloftedag 'n toets vir Afrikanertrou

Volgens 'n studiestuk van die "Navorsingsafdeling van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting", was die boek "Redelijke Godsdienst" van Wilhelmus Brakel sowel bekend as gelees deur beide Andries Pretorius én Sarel Cilliers. Daarin word die aflê van geloftes, en die voorwaardes daarvoor, behandel. Synde 'n verbintenis aan God, moet dit nagekom word (Ps.76:12; 50:14).
 
As kultuurskepping van die Afrikanervolkslewe het die viering van Geloftedag, as volksfees, 'n sterk godsdienstige karakter openbaar. Die Passiespele in Oberammergau dra dieselfde karakter. As oudste Afrikanerfees het Geloftedagherdenking vanuit die staanspoor sentraal gestaan in die Afrikanervolk se kultuurstryd. Synde 'n gelofte aan God, het godsdiens daarom altyd 'n prominente rol in feesprogramme gespeel.
 
Vanaf 1995 is die amptelike benaming, "Geloftedag", vervang met "Versoeningsdag". In 'n Versoeningsdagtoespraak het oud-pres. Mandela die tradisionele Geloftedag-fokus ingrypend verskuif na "inter-afhanklikheid van mekaar as vrye en gelyke landsburgers". Vir die ANC-regering is Geloftedag bloot 'n eksklusiewe volksfees van 'n rasseverdelende aard.
 
Beide die FAK en die NG Kerk (onder dr. Freek Swanepoel) sou nou die kerngedagte van Geloftedag met dié van ANC-"versoening" probeer kombineer. Die Ned. Herv. Kerk sou egter die viering, soos in die verlede, voortsit. In 1997 besluit die ATKV om op dié dag versoening oor kultuurgrense na te streef en 'n meer inklusiewe karakter daaraan te gee, dog sonder om afbreuk aan die oorspronklike Gelofte-idee te doen.
 
Die voorgemelde ANC-verskuiwing van Geloftedag na Versoeningsdag het onvermydelik tot verdeeldheid tussen Afrikaners gelei. Volgens gemelde studiestuk het die pers dikwels die indruk geskep "dat Geloftefeesvierings rassistiese byeenkomste van ver-regse Afrikaners was."
 
16 Desember 2012 plaas Afrikaners opnuut voor die keuse van 'n primêr eksklusief-bindende gelofte-nakoming teenoor God, óf 'n sekondêr-inklusiewe horisontalistiese nastrewing van versoening met alle kultuurgroepe wat beslis nié die kern van die Geloftesluiting onder lewensbedreigende en volksuitwissende omstandighede was nie. Dié Geloftedebat gaan voortduur en Afrikanertrou deurentyd toets.
 
 
 

Tuesday 4 December 2012

Staak dobbelspel met voedselvoorsiening

Die verband tussen voedselvoorsiening en plaasveiligheid in SA is duidelik. Volgens die TLU is 'n honderd plaasaanvalle reeds tot begin Oktober vanjaar geregistreer in vergelyking met 85 in 2011. Volgens 'n Landbousensus was daar in 2007 37 289 wit boere wat tot 22 400 verminder het. Dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies voorspel dat die getal kommersiële boere oor vyftien jaar tot 15 000 kan verminder.
 
Die huidige getal wit boere en plaaswerkers voorsien voedsel aan 55 miljoen mense . Tans is daar 1 256 000 swart bestaansboere, saam met 35 000 swart gemeenskapsboere, waarvan hul produksie slegs in die eie en gesinsbehoeftes voorsien. Oor die afgelope twee jaar het die getal hongergeteisterdes suid van die Sahara vanaf 170 tot 230 miljoen toegeneem. Die gevaarligte flikker onheilspellend.
 
Alhoewel die ANC-regering seer sekerlik sal/behoort te weet dat voedselsekerheid 'n sleutelvoorwaarde vir sosiale en politieke stabiliteit is, word steeds toegelaat dat liedjies soos "Kill the Boer" dié noodsaaklike sekerheid destabiliseer. Voeg hieraan toe die ANC se grondhervormingsplanne, toenemende besoedeling van waterbronne, arbeidswetgewing, agteruitgaande infrastruktuur, korrupsie in die landbousektor en dergelike meer, en dit   -   onder meer   -   verklaar die daling in die kommersiële boeretal van wie ons afhanklik is vir voedselvoorsiening.
 
Onder geen omstandighede mag die ANC langer daarvan 'n dobbelspel maak deur nié die oorblywende boere se voortbestaan tot nasionale prioriteit te maak nie. Net hulle staan tussen ons en hongersnood. Dit verg daarom die dringende aandag én daadwerklike optrede van die regering en ministerie van Polisie.                      (ngn)
 
 
 

Tuesday 27 November 2012

DA het net plek vir politiek korrektes

Me Helen Zille se stelling "dat daar geen plek in die DA is vir mense wat rassisties, seksisties, homofobies of xenofobies is nie" (DB,26.11), is   -   behalwe dat dit onrealisties optimisties is   -   'n politiek korrekte stelling. Sulke politiek korrekte begrippe wat sy gebruik, word as etikette om die nekke van kritici gehang wat durf verskil. Voorbeelde: kritiek teen regstellende aksie maak jou 'n "rassis"; teen vroue in manlike beroepe, "seksisties"; teen homoseksualiteit, "homofobies", en teen sommige kultuurgroepe se gebruike, "xenofobies". (Kritiek teen liberale teologie maak jou "fundamentalisties".)
 
Die doelbewuste gebruik van dié, en soortgelyke, begrippe pas in die strategiese raamwerk van "kulturele Marxisme" wat gerig is op die algehele transformasie van die Christelik-georiënteerde Westerse samelewingspsige. Na WO 1 besef Karel Marx en Friedrich Engels dat marxisme/kommunisme nét kan slaag deur die Westerse Christelik-gebaseerde kultuurlewe te vernietig. Om dié kultuur te "verontchristelik" is die strategie van "kulturele terrorisme" ontwerp waarvan politieke korrektheid 'n onderdeel is.
 
Die bestaan van absolute (Christelike) waarhede word ontkennend verwerp; waarheid word gerelativeer; onaanvaarbaarhede moet met groot verdraagsaamheid geakkommodeer word; tradisionele waardes en norme word vervang; nasionalisme en patriotisme moet plekmaak vir multikulturalisme, en Westerse konserwatief-kapitalistiese samelewings word "gedemoniseer" as onderdrukkend en boos.
 
Zille word nie beskuldig van doelbewuste bevordering van "kulturele Marxisme" nie, maar dat sy haar deur politieke korrektheid, as 'n faset daarvan, vir die transformasie van die SA samelewingspsige beywer, is gewis en seker. Dit word dan ook bevestig deur haar indirekte pluimpie vir die ANC-regime wanneer sy sê: "enigeen wat meen die lewe was beter tydens die apartheidsera (as vandag)...hoort elders."                         (ngn)
 
 
 

Friday 23 November 2012

Wys ANC-slagspreuk nou ware betekenis?

Met groot gemoedsonrus word verneem van die nagenoeg 400 000 Chinese wat die afgelope ses jaar deur die ANC-regering toegelaat is om SA binne te kom. Oornag het tussen 6000 en 12000 Chinese winkels, versprei oor die hele land, soos paddastoele opgeskiet. US emeritus-professor, Colin Mc Carthy, beweer beskikbare getuienis dui daarop dat die vestiging van 'n uitgebreide netwerk van Chinese winkels vooraf deeglik nagevors, beplan, georganiseer en finansier is. Die meeste hiervan is nie geregistreer en betaal geen belasting nie.
 
Janet Wilhelm van die RGN vind dit verstommend dat soveel duisende Chinese SA stilweg ongemerk kon binnekom. Volgens SAPD-inligting kom baie Chinese SA via Mbabane, Maputo en Maseru met vervalste dokumente binne. Baie kom as sogenaamde toeriste of studente en vestig hulle onwettig hier. Benewens die 400 000 Chinese laat die ANC ook 400 000 Indiërs en Pakistani's sowel as 10 miljoen onwettige immigrante uit Zimbabwe, Nigerië, Mosambiek, Angola en Zambië in SA toe. Dit raak gewis alle Suid-Afrikaners.
 
SA met sy beperkte hulpbron-kapasiteit en werkgeleenthede sal nie dié instromingsdruk enduit suksesvol kan hanteer nie. Toenemende mededinging bevat konflikpotensiaal, 'n al groter wordende welsynsafhanklike samelewingsegment ontwikkel, die afwaartse spiraal na armoede vergroot en 'n rewolusionêre klimaat vat pos.
 
Werp voorgemelde toedrag van sake dalk meer lig op die ANC se bekende verkiesingslagspreuk: "Together we can do more"? Toegegee, dit kan op velerlei wyses vertolk word, dog een so 'n interpretasie van die "we" sou ook al die gemelde buitelanders kon insluit, en vergeet dan nie dat die Chinese van kommunistiese Rooi China afkomstig is nie. En die "more", sou dit dalk meer Marikanas en De Doorns kon impliseer in die lig van die rewolusionêr uitgesproke ANC se voorneme om   -   gedryf deur sy aangekondigde NDR   -   totale beheer oor die ganse SA ekonomie te verkry?
 
 
 
 

Tuesday 20 November 2012

Ligte flikker vir Afrikaans as kerktaal

Geloofsuitinge word in taal gegiet. So kom beide Bybel én kerk in taal tot uitdrukking. Kerktaal is Bybeltaal in gekristalliseerde mensetaal waarsonder Woordverkondiging onmoontlik is. Bybelvertalings in volkstale, tegelyk kanseltale, is van die kosbaarste nalatenskappe van die Protestantse Kerkhervorming.
Op 15.11.95 plaas "Die Burger" 'n "profetiese" berig: "Gaan die Kerkbode straks verengels?" Daarin word, sewentien jaar gelede reeds, gemeld dat die VGK-lyfblad, "Die Ligdraer", berig dat dié kerk voornemens is om toenemend van Engels as kerktaal gebruik te maak, want "Afrikaans is geskik vir oues van dae en ongeleerdes, en Engels vir die jonges en geleerdes... Dit laat 'n mens wonder wat die eenwording van die NG Kerk en die VG Kerk kan meebring."
Vooraf reeds skryf wyle prof. Johan Heyns vooruitskouend in "Godsdiens Aktueel", (Beeld,20.09.94) : "Wanneer die NG Kerk in 'n proses van eenwording met ander kerke gevra sou word om Afrikaans as sy medium prys te gee... as dit die prys is wat betaal moet word vir eenheid, sal die NG Kerk myns insiens moet sê dié prys is te hoog."
Die NG Kerk se besluit om kerkvereniging met 'n Engels-georiënteerde VGK deur te voer, plaas Afrikaans as kerk-  en kanseltaal onmiddelik in die weegskaal. Ek vermoed dat kommunikasie met die NGKA en RCA waarskynlik oorwegend in Engels geskied. Tydens die onlangse VGK-sinodesitting was alle dokumente slegs in Engels. Ook die NG Kerk-moderator se groeteboodskap was in Engels.
Ds. Irma van Rensburg van Helikonpark, Randfontein, sê: "Verenigde ringe en sinodes sal Engels wees... mense is nie lojaal aan die kerk nie, maar moenie aan hul taal vat nie... dis waar ons geloof vandaan kom" (Beeld,19.10).  Mag kerkvereniging geskied ten koste van Afrikaans? Die gevaarligte vir Afrikaans as kerktaal flikker.                   (ngn)

Friday 16 November 2012

Herondersoek asseblief u aanklagbasis

Ek sal darem graag wil reageer op "NG Kerk-dominee" se opmerking: "T.C.Breitenbach kla aanhoudend oor die NG Kerk. Hoekom verlaat hy nie die kerk nie?" (DB,14.11).
 
Ek vind u gebruik van die interpretasieryke begrip "kla" baie ongelukkig aangaande my skrywes oor dié kerk. Die volgende toeligting ter motivering: in vele groeperinge van mense   -   soos byeen in 'n politieke party of sportorganisasie   -   kan sulke individuele lede in den brede dikwels in drie groepe verdeel word, te wete die solidêres, krities-solidêres en die uitsluitlik-kritiese groep. Dit geld ook die potensiële indeling van NGK-lidmate waar  1. die solidêres die onkrities eensydig-ingeligtes, mateloos vertrouend op die hiërargiese kerkleiding;  2. die krities-solidêres as die veelsydig-ingeligte beswaarmakende protesteerders (in terme van waarheidskriteria) en  3. die uitsluitlik-kritiese lidmate wat hulle van die NGK losmaak en dit verlaat (in 2011 was dit 20 000), verteenwoordig.
 
Tussen hierdie drie potensiële kategorieë van lidmate is daar 'n dinamiese wisselwerking , meer bepaald in die rigting vanaf solidêr na uitsluitlik-krities, as andersom. Dit kom my voor die roete te wees soos gevolg deur die protestantse hervormer, Martin Luther, in sy protes teen die Rooms Katolieke-dwaling en sy finale losmaking daarvan.
 
"NG Kerk-dominee", ek dink nie u tref onderskeid tussen "kla" en kriteria-beoordeelde beswaarmakende protes in kerklike konteks nie, gegewe veral die NGK se sogenaamde "Seisoen van (selektiewe?) luister". Synde terdeë bewus van my kosbare erfenis vanuit die Protestantse geloofstradisie en die noodsaaklik geagte beskerming daarvan, plaas ek myself tans in die krities-solidêre lidmaatgroepering. Mag ek u vriendelik versoek om asseblief my selfgeposisioneerdheid te respekteer en die basis van u aanklag   -   "kla aanhoudend oor die kerk"   -   in die lig van die voorafgaande te herondersoek? Baie dankie.                   (ngn)
 
 
 
 

Wednesday 14 November 2012

Dominee moet sy suggestie self oorweeg

Ek reageer op "NG Kerk-dominee" (DB,14.11) wat beweer: "T.C.Breitenbach kla aanhoudend oor die NG Kerk. Hoekom verlaat hy nie die kerk nie?" NGK-dominee, dink jy dalk NGK-lidmate het hoegenaamd géén rede(s) om beswaar te maak teen die heersende rigting wat dié kerk tans inslaan nie? Mág lidmate nie verskil nie? Het ons géén reg daartoe nie? Dit is wat jou "kla" wil suggereer, 'n aanduiding van liefdelose onverdraagsaamheid teenoor "de jonge" (lidmate) wat nie wil "piep" (kritiekloos aanvaar) wat "de oude" (kerkleiding) "kwak" (voorskryf) nie. Móét ons jou/julle "leiding" klakkeloos aanvaar en saam in die verderf gestort word?
 
Nee, NGK-dominee, die Bybel is eeue gelede reeds ontketting van die kansel en ons het almal leer lees; dit is nié net predikante wat die Bybel onder leiding van die Gees van die waarheid lees nie, maar ook gewone lidmate. Nie almal se geestesoë en  -ore is toe nie. Sommige van ons weet dat vir vele predikante die "bediening" 'n gewone beroep geword het en nié meer 'n roeping nie, en dat sommige hulle beslis ook nie langer gedra as "gesalfdes van die Here" nie. Ek verneem selfs van onbekeerde predikante op kansels en lees die skokkende onbybelse bewerings van sommige.
 
Daar is tans 'n verbete stryd op lewe en dood in die NG Kerk aan die gang, aangestig deur die vader van die leun wat Sy liggaam wil vernietig. Satan floreer onder die oningeligte lidmate wat nié self wil lees wat in dié kerk aan't gebeur is nie, maar hulle uitsluitlik verlaat op wat predikante soos NGK-dominee hulle vertel.
 
Is dít die gees wat die "nuwe NG Kerk" adem wanneer NGK-dominee my vra of ek dit nie wil verlaat nie? Is dit wat die Hoof van Sy kerk my sou vra? NGK-dominee, jou suggestie van kerkverlating aan my   -   waarom oorweeg jy dit nie self nie?                (ngn)
 
 
 

Monday 12 November 2012

Toenemende Afrikaner-kultuurverarming

Elke mens, ongeag ras, is 'n kultuurwese en  -draer wat tot 'n bepaalde kultuurgroep   -   onderskeibaar deur taal, geloof, geskiedenis, afkoms, tradisies, waardes en identiteit   -   behoort. Die Afrikanerkultuur is geen uitsondering nie waar ook dié kultuur in en deur taal gedra word.
 
Meinhard Peters van die Instituut vir Kultuur en Geskiedenis beweer dat die Afrikanerkultuur toenemend in armoede verval. Hy staaf sy bewering deur te wys op die Afrikaanse taal wat vinnig besig is om uit sy hoëre funksies aan tersiêre instellings gerangeer te word. Dieselfde lot tref dié taal in staatsdepartemente, geregshowe en poskantoor. Selfs Afrikaners in die sakewêreld skryf selde meer sakebriewe in Afrikaans, adverteer in Engels, en gee Engelse name aan hul ondernemings.
 
Die ANC-regering benadeel Afrikaans in plekke soos kunsmuseums, argiewe, biblioteke, wetgewing, amptelike kommunikasie, die SABC en SAA. Peters sê al is Afrikaans nog die voertaal by kunsfeeste, is dit eintlik multikulturele feeste waar liberale waardes geld. Arm Afrikaners het nóg die tyd nóg die middele om aan die kultuurstryd te kan deelneem terwyl welvarendes dikwels min blyke gee dat  hulle enigsins omgee. Anders as voorheen laat veral skole en kerke nie meer blyk dat hulle oor die Afrikanerkultuur besorg is nie. Wat veral die NG Kerk en sy eenheidstrewe met sy "dogterskerke" betref, is dit 'n kritieke vraag wat die kommunikasietaal binne so 'n kerkeenheid gaan wees. Dat dit Engels sal wees in die geval van die NGKA en die RCA is waarskynlik gewis. Voeg daarby dat die VGK se dokumentetaal tydens sy jongste sinodesitting Engels was, en dat die NGK-moderator sy groeteboodskap óók in Engels gelewer het, is die taalskrif van dié voorsiene kerkeenheid duidelik aan die kerkmuur. So kan dié kerk se deurvoering van kerkeenheid bydra tot die verdere verarming van die Afrikanerkultuur op taalterrein, 'n voorsienbare moontlikheid wat egter verswyg word.
 
 
 

Thursday 8 November 2012

SA se afrikanisering skrik beleggers af

Me Gill Marcus, president van die SARB, het in 'n onlangse voordrag by die Universiteit Rhodes gesê dat die ekonomiese vooruitsigte in SA vinnig aan't versleg is en dat, op een dag alleen, R5 miljard deur buitelandse beleggers onttrek is deur van hul SA-staatseffekte ontslae te raak   -   'n duidelike teken van verlies aan beleggingsvertroue in die SA-ekonomie.
 
Buitelandse beleggers besef toenemend dat SA besig is om in 'n tipiese Afrikastaat te verander; dat plaasaanvalle en  -moorde alledaags geword het; sporadiese politieke moorde op politieke onverdraagsaamheid dui; die wydverspreide ineenstorting van dienste; die endemiese afmetings wat korrupsie in staatsdepartemente aanneem; gebrekkige beheer en finansiële wanbesteding; die grootskaalse verlies aan vertroue in die SAPD; die voortslepende arbeidsonrus en die vernietiging van eiendom en lewens; die selfverryking van regeringsleiers en  -amptenare; voedselsekuriteit kom toenemend in die weegskaal; die ontwikkeling van 'n rewolusionêre klimaat onder die werkloses; tekens van die neiging in 'n sosialisties-kommunistiese rigting; Westerse begrippe soos demokrasie, werksetiek, aanspreeklikheid en regshandhawing is leë woorde vir Afrika, ens.
 
Kan enige buitelandse belegger   -   gegewe hierdie scenario   -   verkwalik word om nie langer in die SA-ekonomie te belê nie? Die oplossing? Vervang die huidige regering in die komende 1914-verkiesing, of vervang minstens die huidige leierskap met kundige, bekwame, onselfsugtige en verantwoordelike leiers wat die grondwet eerbiedig.
 
 
 

Tuesday 6 November 2012

Ook vandag lei blinde leiers die blindes

Ek reageer op Johan se brief (DB,06.11) wat sê dat hy reageer op "briewe oor predikante wat  'bang is om oor Belhar te praat'  ". Johan is duidelik 'n predikant wat hom nie wil laat identifiseer nie. Deur 'n wye draai om Belhar te loop, stel Johan teleur, want al wat hy van Belhar sê, is : "Daar is meer as genoeg geleentheid om Belhar...te bespreek, as mense net bereid is om hul gemaksones te verlaat"   -   wat my betref, niksseggend.
 
Johan wend hom dan tot uitsprake oor ander dinge soos sy "ontsettende liefde" vir die NG Kerk as sy "geestelike moeder", synde deel van "Sy Liggaam", maar van sy liefde vir die Hoof daarvan, Jesus Christus, lees ek egter niks. Hy sê ook "dat beswaardes die kerk verlaat en nie omgee hoe verskeurd en stukkend dit agtergelaat word nie." Wat 'n uiters eensydige beskuldiging! My ervaring is egter dat die "kerk wat agterbly" se houding dié is van gelatenheid wat getuig van: "As hulle dan wil loop, laat hulle loop", sonder om met diesulkes enigsins gesprek te voer terwyl etikette ook kwistig om die "verlaters" se nekke gehang word soos dié van "fundamentaliste".
 
Heel gepas verwys Johan na "Oktobermaand (waartydens ons) aan die Hervorming en ons Belydenisskrifte herinner word." In ons gemeente is dit nié herdenk nie, maar die "instaan-dominee" kon tyd vind om oor die WP se sege teen die Sharks te praat  en selfs WP-ondersteuners te laat handopsteek. Wat sê Johan daarvan, en wat sê dit van die NG Kerk?
 
Ook heel gepas verwys Johan na die Hervormingsbeginsel van die "Sola Scriptura" (slegs die Bybel en net die Bybel alleen). Van watter Bybel praat Johan, want wéét hy hoedat die Bybel tans gediskrediteer (baie van die inhoud is kwansuis nie meer vir ons bedoel nie of is slegs mites) en gekorrupteer (deur die aanvaarding van ander grondtekste en vertaalwyses) word? Nee, Johan, ek is bevrees Jesus se woorde: "...hulle is blinde leiers van blindes" (Mat.15:14a) geld vandag nog.
 
 
 

Friday 2 November 2012

Is SA op pad na die malthusiese slaggat?

Die bekendmaking van die 2011-sensussyfers (DB,31.10), waaruit die kommerwekkende toename in bevolkingsgroei duidelik word, dwing menige landsburger tot ernstige nadenke. SA beskik nie oor onuitputlike hulpbronne nie, inteendeel, rooi ligte flikker reeds betreffende die beskikbaarheid van water, voedsel, brandstof-  en elektrisiteitsvoorsiening om slegs enkeles te noem.
 
Dit herinner aan die gedagte van die onheilspellende malthusiese slaggat wat dui op 'n bevolkingsaanwas wat groter is as die ekonomiese groeikoers van 'n land. Simptome van dié slaggat word weerspieël in oorbevolking, onbeheerde verstedeliking, behuisingstekorte, krotbuurttoestande, plakkerskampe, werkloosheid en die onvermoë om munisipale, mediese en onderwysdienste te lewer.
 
Volgens my waarneming verkeer ons tans baie naby aan die rand van dié slaggat, en versnel ons beweging daarheen vanweë 'n ANC-regering wat onbeheerde immigrasie uit Afrika toelaat wat parasiteer op ons hulpbronne, hom blind en doof hou vir moorde op plaasboere en  -werkers as voedselprodusente, toesien hoe stakers produksie tot stilstand dwing en sodoende ons ekonomiese vooruitgang strem, voortdurend die swaard van nasionalisering oor ons koppe hou, onbekwaam om enigiets beduidend aan die werkloosheidsyfer te doen, wegkyk wanneer SA se hulpbronne deur misdaad en korrupsie geplunder word   -   'n lys wat verder aangevul kan word.
 
Wat hou die malthusiese slaggat vir ons toekoms in: hongersnood, toenemende burgerlike onrus, groter besoedeling, uitsterf van plante-  en dierespesies, globale verwarming, ens.? Deel van die oplossing? 'n Doeltreffende nasionale bevolkingsprogram wat, as dit moet, aanwas beperk tot op vervangingsvlak, of is dit vir sommige kultuurgroeperinge te veel gevra?                  (ngn)
 
 
 
 
 
 

Wednesday 31 October 2012

NG Kerk hou lidmate oningelig oor Belhar

Dit is met groot eenstemmigheid dat ek Frans Swanepoel se brief, "Predikante bang om oor Belhar te praat" (DB,31.10), lees, sowel as met waardering teenoor "Die Burger" vir die plasing daarvan. Swanepoel wys op "predikante wat deur die sinodes voorgesê word", dat die NG Kerk reeds duisende lidmate oor Belhar verloor het, en dat predikante lidmate graag oningelig oor Belhar wil hou. Swanepoel is korrek; dit is presies ook my indrukke.

Beide die swart "dogterskerk" (NGKA) én die Indiër-"dogterskerk" (RCA) van die NG Kerk aanvaar nie Belhar nie. Kovilan Moodley van die RCA sê die volgende van Belhar:  Belhar handel oor 'n maatskaplike euwel en ideologie (apartheid) in 'n sosiale en politieke konteks;  Belhar is bloot 'n verklaring en nié 'n belydenisskrif nie;  Belhar kon nie die skeuring tussen die vroeër eengeworde NGKA en die VGKSA voorkom nie;  geskeidenheid kan nie as sonde beoordeel word soos wat Belhar sê nie;  wie is Belhar se arbiter as dit kom by "geregtigheid"?;  Belhar verkondig 'n sosiale evangelie;  dat "God op 'n spesiale manier aan die armes se kant is", het géén Bybelse gronde nie;  Belhar gaan selektief met die Bybel om;  Belhar roep lidmate op om gay-lidmate se regte te verdedig;  die kern van Belhar is "eenheid", nie Jesus Christus nie, en Belhar het die potensiaal (word reeds bewys) om diepe verdeeldheid te veroorsaak.

Moodley se kritiek op Belhar is slegs dié komende vanuit die Indiër-"dogterskerk". Daar is nog 'n veel wyer spektrum van kritiek komende vanaf oud-moderators, teoloë en predikante uit die "moederkerk" self. Swanepoel is reg. Die heersende NG Kerk-strategie is: hou die lidmate oningelig oor Belhar.




Tuesday 23 October 2012

Onderskei tussen intelligensie, wysheid

Manie se reaksie (DB,23.10) op my brief (22.10) verwys. Met sy stelling: "Dit is ook 'n bewese feit dat geleerdheid nie noodwendig van jou 'n intelligente mens maak nie", laat Manie blyk hoe hy die verband tussen geleerdheid en intelligensie sien.
 
Net twee opmerkings daaromtrent. Indien ek Manie se "geleerdheid" mag vertolk as die weerspieëling van die bereiking van 'n bepaalde kennisvlak   -   graad 1 tot 12 op skool, 'n B.A.- of M.Sc.-graad, en 'n doktorale kwalifikasie dui immers telkens op 'n bereikte kennisvlak   -   gee hy by implikasie daarmee te kenne dat die moontlikheid bestaan dat dit tot verhoogde intelligensie mag lei ("nie noodwendig", met ander woorde dit sou ook kon). Ek wil van hom verskil deur te beweer dat dit net mooi andersom die geval is. Intelligensie is 'n voorwaarde vir die vlak van "geleerdheid" wat 'n indiwidu kan bereik, met ander woorde, daar is 'n direkte verband tussen intelligensie en "geleerdheid". Sonder 'n bepaalde minimum hoeveelheid intelligensie is "geleerdheid" nie moontlik nie.
 
'n Tweede opmerking is dat Manie waarskynlik met sy "intelligente mens" 'n "wyse of verstandige mens" bedoel. So, indien hy sou sê dat "geleerdheid nie noodwendig van jou 'n wyse of verstandige mens maak nie", stem ek met hom saam. Intelligensie en wysheid/verstandigheid is nie sinonieme begrippe nie. In die lig hiervan kom Manie se stelling oor geleerdheid en intelligensie verdag voor.
 
Hoofsaak is: Marnewick is reg oor die Boeremaglede se hoë vlakke van intelligensie   -   en verdien daarom nie Manie se kritiek nie   -   dog die wysheid of verstandigheid van hulle optrede kan wel aan kritiek onderwerp word. Manie tref nie dié onderskeid nie.
 

Monday 22 October 2012

Mislei, bedrieg NGK lidmate oor Belhar?

Ek lees in Lukas 11:11-12 : "Is daar 'n pa onder julle wat as sy seun vir hom 'n vis vra, vir hom 'n slang sal gee in plaas van die vis? Of as hy 'n eier vra, vir hom 'n skerpioen sal gee?" Nog nooit; dis ondenkbaar! En tog, die vraag: Is dit nie juis wat in die NG Kerk ten opsigte van die Belharbelydenis (BB) aan't gebeur is nie? O, ja, daar is beslis 'n ooreenkoms.
 
Vanaf die BB se ontstaansmoment word na dié dokument as 'n "belydenis" verwys, aanvanklik deur die NG kerk verwerp, maar in onlangse jare deur die kerkleiding aanvaar, en wat dan ook sterk druk uitoefen op NG-lidmate om dieselfde te doen. Uit deeglike ondersoeking van die BB blyk dit egter onteenseglik dat dit hoegenaamd nié aan enige van die kriteria beantwoord waaraan 'n belydenisskrif moet voldoen nie. Verder is bevind dat dit 'n protesskrif vanuit die vroeë 1980's teen apartheid was en waarvan   -   omdat apartheid lank reeds afgeskaf is   -   sy rakleeftyd reeds verval het. Die hoogste kerklike status wat daaraan toegeken kan word volgens die navorsers, is dié van 'n ekumeniese verklaring, maar beslis nie dié van 'n belydenisskrif nie.
 
Moet lidmate nou glo dat die huidige BB-drywende kerkleiers nie hiervan bewus is nie? En gee hulle nie nou 'n slang en 'n skerpioen wanneer om vis en 'n eier gevra word nie? Is lidmate nie daarom geregverdig om te vra of ons hier met misleiding en bedrog te doen het nie? As ek 'n donkie/muil te koop sou aanbied, maar voorgee dis 'n perd, is ek mos besig met misleiding en bedrog, dan nie? Dit kom dus voor of die NG Kerk presies daarmee besig is ten opsigte van die BB.              (ngn)
 
 
 
 

Friday 19 October 2012

Om dooie perd te skop verg nie heldemoed

C.J.Marnewick (DB,17.10) en Manie (DB,18.10) se skrywes het betrekking. Manie se galbraak teen die Boeremaglede as Afrikaner-volksgenote mis Marnewick se argument totaal en al. Marnewick betoog nie primêr om die kenmerke en kwaliteite van die veroordeelde Boeremaglede soos wat Manie wil impliseer nie. Nee, Manie gaan selektief te werk en maak van Marnewick se brief 'n handige stok om mede-Afrikaners mee te slaan.
 
Marnewick sê tog duidelik dat " 'n Afrikaner in die polisie die vermeende Boeremaglede...moedswillig en kwaadwillig in 'n lokval gelei het" , en dit in 'n doelbewuste verraderlike en kruiperige daad ten einde homself in 'n gunstige lig in die oë van sy ANC-base te stel? Dit is laakbaar en verfoeilik. Dit herinner Marnewick dan ook aan die verraad van sommige Afrikaners tydens die Anglo-Boereoorlog teenoor die eie volksgenote. Sommiges is gefussileer daarvoor.
 
Vanweë dié Afrikaner SAPD-lid se bekentenis van sy eie, én die SAPD, se aandeel aan die polisielokval wat hulle vooraf vir die veroordeelde Boeremaglede gestel het, regverdig ongetwyfeld 'n herondersoek van die aanvanklike aanklag en 'n herverhoor in die lig van hierdie bekentenis.
 
Manie, wil jy nie maar jou bril van haastige veroordeling van jou eie mense   -   jy noem jouself mos 'n Afrikaner   -   afhaal en dit verruil vir een met realisme-lense nie? Marnewick wys juis op "Afrikaner-politici wat ... hul eie mense verraai en om die bos gelei het." Wees konsekwent en spreek jou ook daaromtrent uit. Om 'n dooie perd te skop, verg geen heldemoed nie.
 
 
 

Tuesday 16 October 2012

'n Sombere onderwyswerklikheid

In sy voordrag voor die SA Instituut vir Rasseverhoudinge op 27.09.12, kyk prof. Jonathan Jansen na die onderwyskrisis in S.A. en wys op gevaarlike skuiwe wat plaasgevind het binne die nuwe onderwysbedeling en die negatiewe implikasies daarvan vir ons land.
 
In die Noord-Kaap sluit die Olifantshoek-gemeenskap die skole vir meer as drie maande vanweë hul eise om 'n teerpad, en die burgemeester se bedanking. Sodoende word kinders die enigste roete om aan armoede te ontsnap, ontneem. Waarom? Vir dié gemeenskap   -   soos vir vele ander   -   het die onderwys sy waarde heeltemal verloor.
 
Persone soos Malema, asook die eise van stakende mynwerkers   -   en allerlei ander werkers   -   het openbare "bewyse" geword dat materiële welvaart sónder 'n onderwyskwalifikasie moontlik is. Nog 'n skuif is dié van toenemende sentralisering van die onderwysgesag vanaf plaaslike gemeenskappe na die provinsiale en/of nasionale regering met die vergrote moontlikheid van magsmisbruik. Gevolglik het hofsake teen onderwysowerhede noodsaaklik geword.
 
Die Oos-Kaapse onderwyskrisis vroeër vanjaar is 'n bewys dat die ANC-regering sy gesag oor van sy ondersteuners verloor het toe die minister van basiese onderwys, sowel as 'n presidensiële besoek, die kinders nie op skool kon terug kry nie. So verskuif die onderwysgesag van binne na buite die skool.
 
Die ANC se verskoning dat sy goedbedoelde onderwysbeleid slegs implementering kortkom, is volgens Jansen 'n illusie. Die gaping tussen beleid en praktyk is onrealisties. Beleid word getoets aan praktyk. Goeie bedoelinge alleen herstel nie die vertrouensverlies in die onderwys nie.
 
Jansen sê deur die voorbeeld van volwassenes leer kinders om te protesteer deur juis daardie noodsaaklikhede vir onderwys   -   soos boeke, skoolgeboue en biblioteke   -   te vernietig. Voorwaar 'n sombere onderwyswerklikheid.
 
 
 
 
 
 

Thursday 11 October 2012

Mag die waarheid oor Belhar seëvier

Jean Oosthuizen, nuusredakteur van die NG Kerk se "Kerkbode", berig in "Kerkbode Aanlyn" (02.10) oor die pasverskene boek, "Belhar geweeg", soos tydens die Aardklopfees te Potchefstroom bekend gestel. In dié boek sê agtien "gesiene kerkleiers en ander bekendes waarom hulle gekant is teen die Belydenis van Belhar...waarvan daar nie in die media en in populêre gesprekke gehoor word nie." Die openbare debat word tans deur 'n wanbalans gekenmerk waarin die pro-Belhariste die anti-Belhariste met venyn behandel.
 
Twee oud-moderators van die NG Kerk, proff. Piet Strauss en Pieter Potgieter, is mede-skrywers van "Belhar geweeg". Dit blyk dat die huidige NG Kerk-leierskap aanvaarding van die Belharbelydenis spoedeisend najaag, dog in gebreke bly om 'n deurtastende kritiese evaluering daarvan te onderneem en vir die selfstandige oordeel van lidmate beskikbaar te stel.
 
Volgens Oosthuizen verwelkom die huidige moderator, prof. Nelus Niemandt, "die verskyning van die boek as deel van die groter gesprek oor die Belydenis van Belhar...(en) dit is 'n goeie ding as alle kante van die debat helder en duidelik verwoord word."
 
Myns insiens moet "Belhar geweeg" gesien word as 'n gehoorsamende Bybelse opdraguitvoering soos verwoord in "Knoop die stryd aan vir die waarheid" (Psalm 45:5b), terwyl Paulus se vraag aan die Galasiërgemeente, "Het ek (ons) dan nou julle vyand geword deurdat ek (ons) die waarheid aan julle voorhou?" (4:16), tot die pro-Belhariste gerig moet word.
 
'n Belangrike vraag is óf "Belhar geweeg" 'n kentering by die pro-Belhar kerkleiers, predikante en lidmate   -   óf 'n skerper skeidslyn tussen die pro- en anti-Belhargesindes   -   tot gevolg gaan hê. Mag die waarheid oor Belhar seëvier.                   (ngn)
 
 
 
 
 

Monday 8 October 2012

Is alles pluis, of gebeur vreemde dinge?

In "NG Kerk wil dalk nuwe naam hê" (DB,05.10), word berig: "Een nuwe verenigde gereformeerde kerk met 'n nuwe naam word in die vooruitsig gestel in 'n ooreenkoms wat tussen die kerkleiers van die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk opgestel is. Die dokument is op die algemene sinode van die VGK bespreek..." In die NGK-verklaring, "Besluite oor kerkhereniging: Algemene Sinode Oktober 2011", lees ek die volgende: "Daar is 'n aantal sake waaroor saam onderhandel moet word as die voorbereidende proses aan die gang kom. Dit sluit in...die naam van die kerk...Ons is bewus daarvan dat (dit) ...baie sensitief en emosioneel van aard is en dat die onderhandelings hieroor met baie wysheid, oorleg en sensitiwiteit hanteer sal moet word."
 
Dit laat NGK-lidmate met vrae soos: Het die NGK-leierskap langs kerklike weg aan lidmate kennis gegee dat die "voorbereidende proses" van "onderhandeling" tussen die NGK en die VGK aan die gang is, en dat voorsien word om 'n "dokument" op te stel tydens die VGK se 2012-sinodesitting en dit daar te "bespreek"? Vreemd? Het die NGK-leierskap 'n tweederde lidmaat-mandaat om nou reeds, uiters voortydig, oor naamsverandering te "onderhandel"? Waarom word die NGKA en die RCA   -   twee belanghebbende partye (beide verwerp die Belharbelydenis!)   -   nie ook vanuit die staanspoor by dié "onderhandelings" betrek nie? Tog vreemd. Praat die NGK-moderator namens die NGK (of homself) wanneer hy sê dat hy "met graagte onder die leierskap van die VGK...(sal) dien" (DB,02.10)? Ook vreemd.
 
Vir lidmate, afhanklik van sekulêre koerantberigte vir inligting oor so 'n krities-belangrike kerkaangeleentheid, klink die kerkleiding se begripsaanwending van wysheid, oorleg, sensitief en emosioneel, baie vreemd. Is alles pluis, of gebeur daar vreemde dinge?
 
 
 
 
 
 

Thursday 4 October 2012

Erken DA wel die Afrikaanssprekende stem?

Ek reageer op P.Mackenzie (DB,04.10) wat beweer: "Dianne Kohler-Barnard kan nie Afrikaans praat nie...en nie omdat sy nie wil nie." Ek verskil van hom. Só eenvoudig is dié taalinsident nie. Hy kritiseer Jaco van Uitenhage (DB,02.10) wat sê: "Ná Dianne Kohler-Barnard se opmerking dat sy nie Afrikaans sal praat nie, kan sy maar my en baie ander se stem vergeet."
 
Mackenzie sê "Dat sulke kleinlikhede 'n besprekingspunt moet word, is belaglik." 'n "Kleinlikheid" vir iemand, soos Jaco en vele ander, vir wie sy/haar taal so belangrik is? Nee, Mackenzie, ek dink jy onderskat mense se taalgevoelens.
 
Beide Jaco en Mackenzie reageer op "Die Burger" (29.09) se beriggewing: " 'Oor my dooie ligaam. Ek praat eerder Spaans.'  Só het Dianne Kohler-Barnard ... in die parlement gereageer op 'n versoek om Afrikaans te praat. Sy is ...gevra om dele van haar toespraak ... in Afrikaans te herhaal. 'Ek praat nie Afrikaans nie, maar is bereid om eerder Spaans te praat.' " Spaans praat in 'n SA-taalkonteks? Maak dit enigsins sin, of spreek dit eerder boekdele van haar gesindheid jeëns Afrikaans?
 
Ek vereenselwig my met Jaco se reaksie sowel as Michelé O'Connor (DB,29.09) se opmerking: " Dalk moet senora Kohler-Barnard net bietjie in die gang af stap en vir die DA-navorsers vra hoeveel Afrikaanssprekendes vir die DA gestem het..."  'n Uitstekende vraag   -   watter persentasie DA-ondersteuners, landswyd, is wél Afrikaanssprekend? Sal die DA steeds die amptelike opposisie wees sónder die erkenning van die Afrikaanssprekende stem?
 
 
 

Sunday 30 September 2012

NGKerk skuif van volkskerk na nasiekerk

J.C.Kotzé (DB,29.09) wys op Ahmed Kathrada, struggle-veteraan, se "woedende aanslag op die NGK wat...in 1948 gehelp het om die pro-Nazi, pro-Hitler en rassistiese NP aan bewind te plaas." As Kathrada, waarskynlik 'n nie-Christen, dan so baie van die NGK weet, waarom vertel hy dan nie ook die Nederlanders van dié kerk se huidige transformasie vanaf 'n historiese Afrikaner-volkskerk na 'n inklusiewe nasiekerk nie?
 
Die NGK   -   'n Afrikaner-volkskerk van die ou SA   -   wil baie graag sy posisie as belangrike rolspeler in die nuwe SA bly behou. Vir dié doel het sy huidige leierskap dan ook besluit op transformasie vanaf dié volkskerk tot 'n nasiekerk, dog sonder om sy lidmate direk daaromtrent in te lig. In 2006 reeds wys prof. R.M.Britz in sy artikel, "Die NGKerk : van volkskerk na nasiekerk", in Waarheid en Dwaling (Nov./Des.2006), op dié kerklike tendens. Hierin sê Britz : "Die nasie het in die plek van die volk geskuif (want) 'n goeie gesig by die nasie tel immers baie punte."
 
Britz noem 'n voorbeeld. Tydens die NGK se amptelike voorlegging aan die ANC-regering oor die voorgestelde nuwe huwelikswet, is daar géén verwysing na die Bybel óf Christus nie, maar word daarin wel daarop gewys dat die ou huwelikswet vanuit die apartheidsverlede kom en nou, volgens drs. Ben du Toit en Kobus Gerber   -   NGK-spreekbuise   -   in pas met die Grondwet gebring moet word. Met die Grondwet in die hand   -   om dié te handhaaf eerder as die Bybel   -   wen die NGK sodoende aan relevansie om 'n pleitbesorgende nasiekerk ook vir alle ánder godsdienste te word.
 
Wanneer teoloog Julian Müller daarop wys dat die NGK "op drie vlakke bekering nodig het   -   sy spierwit eredienste, gay teoloë en die Belharbelydenis" (DB,26.09) , dan benodig NGK-lidmate geen kristalbal om te weet dat hierdie sake ook mettertyd deur die NG-nasiekerk assimilerend binne dié "nuwe" kerk geabsorbeer gaan word nie.
 
 
 
 

Saturday 22 September 2012

Dié agtergrond nodig om Jansen te begryp

In sy, "Wees só 'n goeie leier op kampus" (DB,18.09), vra Jonathan Jansen "watter leierseienskappe studente nodig het om geloofwaardig en doeltreffend in ons land en op die kampus te wees". Hy antwoord dan deur te sê: " 'n Verbintenis tot die mensdom, geregtigheid, leer, internasionalisering, pro-aktiwiteit, voorbeeldigheid, geeskragtigheid en tot hoop en genesing", wat hy verder in groter besonderhede uitspel.
 
Jansen se betoog hierin kan net verstaan word teen 'n breër agtergrond. In sy destydse inhuldigingsrede as nuwe rektor van die UV, het hy na Bram Fischer   -   berugte kommunis   -   verwys as die UV se grootste en beroemdste oud-student. So gee hy blyke van sy ideologiese voorkeure waardeur sy transformasie-  en rasse-integrasieprosesse gedryf sou word.
 
Met sy gedwonge rasse-integrasie, veral in die UV-koshuislewe, het Jansen   -   én die UV-Raad   -   Artikel 12 van die grondwet (wat verbied dat 'n burger gebruik word vir eksperimente sonder dat hy/sy toestemming daartoe verleen het), Artikel 14 van die grondwet (wat 'n burger se privaatheid van kommunikasie spesifiseer), en Artikel 18 van die grondwet (wat bepaal dat elke burger die reg tot vryheid van assosiasie het), oortree (Volksblad,08.09.09).
 
Jansen se sogenaamde "versoeningsgebaar" teenoor die Reitz 4-studente in 2008   -    as reaksie teen Jansen se geforseerde rasvermenging   -    moet gesien word teen die agtergrond van die vervolgingsowerheid se besluit om klagtes teen hulle terug te trek vanweë 'n gebrek aan stawende getuienis en afdoende bewyse, en nié soseer dat Jansen "versoenend" was nie.
 
Onder Jansen se rektorskap is die UV se leuse verander vanaf "In God is die lig van die wysheid" na "In waarheid is die lig van die wysheid", waarmee God, sodoende, uit die UV-leuse verwyder is (Truth Exposed, 14.02.11).
 
Dit, dan, is die ideologiese agtergrond waarteen Jansen se vraag, én antwoord, na "geloofwaardige" en "doeltreffende" studenteleierskap begryp moet word.
 
 
 
 

Saturday 15 September 2012

Strategie om Afrikanervolk te vernietig

In sy artikel, "Haal dié angel uit 'Afrikaner' " (DB,15.09), sê Dawie: "Met die prysgawe van die (politieke) mag in 1994 het die bestaansrede van die tradisionele eksklusiewe Afrikanernasionalisme verdwyn." Met hierdie stelling bewys Dawie sy algehele onkunde aangaande wit Afrikanerskap en  -volkskap, 'n stelling wat deur meer as een historiese gebeurtenis uit die wit Afrikanergeskiedenis loënend weerlê word.
 
Die feit dat wit en bruin reeds bewese taalgenote en  -vennote is, is nié vir Dawie voldoende nie. Vanweë dié taalverwantskap bepleit hy, subtiel-suggestief, rasverwantskap wanneer hy sê: "...dat so baie Afrikaners hul witheid as onderdeel van hul Afrikaner-identiteit beskou, tot uitsluiting van bruin mense. Het die tyd nie aangebreek om velkleur uit die definisie van Afrikaner te haal nie...die rasse-angel?" Dawie, Afrikaners láát hulle nie definieer nie; hulle tipeer hulself as Afrikanertipes binne 'n Afrikanertipologie.
 
Dit is absurd om (subtiel-suggestief) te redeneer dat 'n gemeenskaplike taal noodwendig ook moet uitmond in rasvermengde velkleur. Wat Dawie eintlik suggereer, is: Wit Afrikaner, gee jou velkleur prys in 'n nuwe Afrikanerdefinisie, maar ook ter vernietiging van die Afrikanervolk. Dawie is duidelik 'n lid van die rasvermengingsbende waarvan Allan Boesak, Henry Jeffreys en Jonathan Jansen ook lede is.
 
Die gereelde teistering van wit Afrikaners met die subtiele suggestie van rasvermenging, en die geïmpliseerde arrogansie om hul reg tot vryheid van rasgebaseerde huwelikskeuses verdagmakend onder druk te plaas, is verwerplik.
 
 
 
 

Thursday 13 September 2012

ANC laat toe dat burgerhand gebyt word

'n Hand wat kosgee, kan gebyt word, lui die spreekwoord. Dit is die posisie van die SA-belastingbetaler vandag ten opsigte van die ANC-regering, in besonder wat betref die SAPD, 'n situasie veel kommerwekkender as dusver deur die media berig. Ons burgery ervaar 'n toenemende oorlewings-  en bestaansonsekerheid vanweë 'n eskalerende  -onveiligheid, terwyl dit enige burger ter wêreld se basiese reg is om veilig te kan leef.
Die Polisiewet, wet 205 (punt 3) sê: Die Polisie moet misdaad voorkom, bestry en ondersoek; openbare orde handhaaf en landsburgers se eiendom beskerm en beveilig, die reg handhaaf en dit toepas. In hierdie grondwetlike opdrag faal die SAPD jammerlik om verskeie redes.
Mnr. Rendani Randela   -   van die tesourie-afdeling, openbare finansies   -   sê aan die portefeuljekomitee oor polisie, die miljarde wat die SAPD kry om misdaad te beveg, maak SA nie veiliger nie. Die meer as 13 000 SAPD-wapens die afgelope vyf jaar verloor, lei tot 'n toename in misdaad. Onlangs is 27 000 SAPD-lede onbevoeg bevind om vuurwapens te hanteer. Misdaad binne SAPD-geledere self gepleeg, styg tussen 1998 en 2011 met nagenoeg 300%. Twee SAPD-kommissarisse is afgedank weens beweerde bedrog. In die polisiekollege is instrukteurs gearresteer wat vervalste sertifikate voorlê. Die anti-korrupsie eenheid is gesluit   -   tussen 1996 en 2001 is 23 000 ondersoeke teen SAPD-lede ingebring. Sommige SAPD-lede lei dubbele lewens as misdadigers én polisielede. Vir 'n SAPD-lid om korrupsie te rapporteer, is lewensgevaarlik. (Die Afrikaner, 31.08-06.09)
Dat die SAPD nié basiese dienste kan lewer, nié aan internasionale standaarde voldoen, misdaad en interne korrupsie nie doeltreffend bekamp nie   -   en dit alles op die langtermyn tot algehele anargie kan lei   -   moet voor die deur van die ANC-regering gelê word wat besig is om die hand van die belastingbetalende burgers te byt.                     (ngn)

Monday 10 September 2012

Ondersoek ons nasionale psige en sy rol

Lande en volke beskik, universeel, elkeen oor 'n eie nasionale psige wat kán verander.Na die Rooi Rewolusie (1917) verander die Russsiese psige; die Duitse psige na WO 2. SA se ideologiese transformasie sedert 1994 impliseer 'n verskuiwing ook van sy nasionale psige. Waarheen, en kom dit ons ten goede?
 
Ek vermoed dat SA se kenmerkende multikulturaliteit in sy nasionale psige   -   saamgestel uit die verskillende "sub"-psiges komende vanuit ons diverse kultuur- , taal- , godsdiens- , ens. omgewings   -   neerslag vind. Vermeng tot een nasionale psige, is mededinging om dominansie tussen hierdie "sub"-psiges onvermydelik.
 
Dit kom voor of die nuwe SA aan die Afrika "sub"-psige die dominante plek in ons nasionale psige toeken. Vanweë die ander "sub"-psiges se mededinging met die dominante Afrika 'sub"-psige om 'n eie bestaansreg, maak dit ons nasionale psige onderhewig aan spanning en konflik. Dié "sub"-psige gee nie blyke van die nastrewing van harmonie tussen alle betrokke "sub"-psiges in landsbelang nie.
 
Beriggewing oor mynwerkers se moetiegebruik by Marikana, toordokters se "reiniging" van 2010-sokkerstadions en die "skoonmaak" van 'n ministerskantoor, is voorbeelde van die werking van die Afrika "sub"-psige en plaas dit   -   as dominante "sub"-psige   -   onder die openbare vergrootglas. Dit noop ons tot ernstige vraagstelling oor ons huidige nasionale psige. Word ons gekerstend-verligte samelewing teruggevoer na 'n irrasionele animisties georiënteerde samelewing? Dit voorspel net rampspoed vir ons nasionale psige en SA.
 
'n Gesonde nasionale psige is vir elke land en  -burger van lewensbelang. 'n Behoorlike ondersoekende ontleding van ons nasionale psige kan beslis bydra tot beter begrip en insig ook in nasionale krisissituasies   -   soos by Marikana, onderwys, dienslewering   -   en die rasioneel bevredigende hantering daarvan.                     (ngn)
 
 
 

Thursday 6 September 2012

Wat sê Marikana-Sharpeville vergelyking?

Die tendens tot 'n vergelyking tussen die Marikanavoorval (16.08.2012) en die Sharpeville-voorval (21.03.1960) is verstaanbaar. Tussen dié voorvalle is daar ooreenkomste sowel as verskille. Een sodanige ooreenkoms is die buitelandse reaksie op dié onderskeie voorvalle. Hieruit kan afgelei word waarom dit werklik vir die buitewêreld gaan in sy betrokkenheid by SA. Gaan dit primêr om die belange van verontregte landsburgers, of om die motiewe van geheime internasionaal ideologies samewerkendes wat 'n gemeenskaplike doel nastreef?
 
Die internasionale gemeenskap kan, breedweg, in twee (oënskynlike) vyandiggesinde ekonomies-maatskaplik ideologiese belangekampe verdeel word: kapitalisme en sosialisme-kommunisme. Beide kampe het saamgewerk om die nuwe SA tot stand te bring, en beide idelogieë sak nou soos aasvoëls toe op die karkas van die ou SA.
 
Met die Sharpeville-voorval is SA wêreldwyd vanuit die vroomklinkende "internasionale gewete" deur beide ideologieë genadeloos veroordeel. Op 1 April 1960 aanvaar die VVO se Veiligheidsraad Resolusie 134 waarvolgens SA met sanksies en boikotte gestraf is.
 
Wat buitelandse reaksie op die Marikanavoorval betref, blyk dit opvallend heelwat anders te wees. Vanuit sosialistiese geledere in lande soos Engeland, Ierland, Duitsland, Oostenryk, Israel, Nieu-Zeeland en Sri Lanka word, soos in 1960, protesstemme verneem. Hierteenoor spreek die kapitalistiese VSA-regering slegs sy spyt uit met die tragiese voorval en simpatiseer met die oorledenes se naasbestaandes   -   geen kritiek of veroordeling nie. Waarop dui dié verskil?
 
Ingeligtes beweer dat beide kapitaliste en sosialiste-kommuniste in die geheim agter die skerms met die wêreldgeldmag saamwerk. Dui 'n baie elementêre vergelyking van dié twee voorvalle nie dalk daarop dat SA se lot en toekoms vanagter dié internasionaal ideologiese sameswering gemanipuleer word nie, soveel te meer in die post-apartheid era?
 
 
 

Tuesday 4 September 2012

Nuwe universiteit bedreiging vir Jansen

Prof. Jonathan Jansen se artikel, "Hou godsdiens uit universiteit" (DB,04.09), het betrekking. Sy argumente daarin, teen die stigting van 'n Afrikaanstalige Christelike universiteit, verdien nadere ondersoek. Ek lig slegs enkele kenmerke daarvan uit.
 
Dit is duidelik ondemokraties. Gelukkig bepaal SA se demokratiese grondwet die bestaansreg van so 'n instelling; nie Jansen nie. Met sy beklemtoning van velkleur bied hy nie net 'n wanvoorstelling nie, maar dryf hy ook die rassekwessie. My verstaan van so 'n voorgestelde hoëronderwysinstelling is dat die Christelike karakter en taalmedium primêre aangeleenthede is met velkleur sekondêr.
 
Hy gee blyke van onverdraagsaamheid, veral teen die Christendom met sy verwysings na  "'n vreemde, etniese God"  en 'n inrigting  "wat skynheiliges sal skep wat die Bybel vasklou". Sy vooroordeel teen 'n Afrikaanstalige Christelike universiteit blyk daaruit dat dit  "belaglik, gevaarlik (en 'n) marginale gedruis"  is, en sy meerderwaardigheidshouding dat studente  "versterk in hul bekrompenheid uit hierdie speelskool-universiteite te voorskyn (sal) kom."
 
Na ons huidige getransformeerde universiteitsbedeling verwys hy as  "eilande van uitnemendheid in hoër onderwys" wat hoedanig vergelyk met internasionale standaarde, prof. Jansen? Hy blyk ook die ontstaansgronde van die vroegste Wes-Europese universiteitstradisie   -   die Christelike kloosterwese   -   waaruit ons spruit, te misken.
 
Sy diskriminerende ingesteldheid blyk daaruit dat hy mense se grondwetlike reg tot vryheid van keuse verwerp. Wit studente is welkom solank hulle sy oortuigings deel; indien nie, is hulle onwelkom. Sy argumentasie vertoon ook
die kenmerk van 'n nie-akkommoderende en voorskriftelike ideologiese transformasiedrywer.
 
Die beoogde Afrikaanstalige Christelike universiteit hou vanselfsprekend 'n bedreiging vir Jansen se universiteit   -   wat oor jare 'n soortgelyke karakter opgebou het wat hy tans afbreek   -   in. Nee, prof. Jansen, jy wil nie primêr godsdiens uit universiteite weer nie, maar wel die Christelike geloof daarbinne met 'n ander geloof vervang.
 
 
 

Monday 3 September 2012

"Jansen"-module verhoog UV-rassespanning

Kamogelo Seekoei van die "Free State Times" (17.08) berig oor 'n dreigende storm aan die Universiteit Vrystaat (UV) oor die instelling van 'n verpligte module, UFS 101, wat deur die rektor, prof. Jonathan Jansen, geïniseer is. Hierdie module is verpligtend vir alle eerstejaarstudente, word slegs in Engels aangebied, en móét geslaag word alvorens toegelaat tot voortgesette studie.
 
In een so 'n module-scenario word 'n swart student met drie onderskeidings en 'n wit student met agt onderskeidings teenoor mekaar gestel, en moet eerstejaar UFS 101-studente bevredigend kan motiveer waarom meriete nie as 'n maatstaf vir toelating aanvaarbaar is nie.
 
Anné Calitz van Afriforum Jeug Kovsies werp egter meer lig op dié onderwerp en sê dié module handel oor, onder meer, geloof, politiek en geskiedenis in die SA-konteks; oor die bestaan van God en word tegelykertyd agterdog teen die Christendom gewek; jong wittes moet skuldgevoelens oor apartheid openbaar; Afrikaners word as skurke voorgehou met alle ander groepe as wonderlike helde; minderheidsgroepe is boos en regverdig derhalwe diskriminasie teen hulle. Calitz beweer dié module verhoog slegs rassespanning op die UV-kampus.
 
As geleentheidspreker oor dié module, vergelyk prof. Dolf Britz die Slag van Bloedrivier met die Sharpeville-voorval en sê dan Afrikaners het bloed op hul hande waarvoor hulle swartes om verskoning moet vra wat hy, namens die Afrikanergeskiedenis, wel doen en wat deur eerw. Sukdavek namens alle Suid-Afrikaners aanvaar is.
 
Afgesien van talle dringende vrae wat die inisiëring van dié "Jansen"-module meebring, hou dit potensieel langtermyn gevolge sowel as 'n korttermyn uitwerking in waarvan die riskantheid van destabiliserende verhoogde rassespanning, soos wat Seekoei en Calitz daarop wys, vir die onmiddellike hede, slegs een voorbeeld is.               (ngn)
 
 

Friday 31 August 2012

Moenie dobbel met jeug se toekoms nie

'n Samelewing se selfbeskouing én toekomsvisie word ook weerspieël in die agting vir sy jeug. Was daar al ooit 'n tyd in SA se verlede waarin sy jeug so verwaarloos word soos nou?
 
In "SA kort 'n nasionale databasis oor duisende weggooibabas  -  DA" (DB,27.08), word berig dat tot 2500 babas jaarliks in SA "weggegooi" word. "Times Live" berig dat 59 447 wettige aborsies in 2010 en 77 771 aborsies in 2011 uitgevoer is (Departement van Gesondheid se syfers). Solidariteit se Helpende Hand beweer dat ongeveer 530 kinderverkragtings daagliks in 2009 plaasgevind het. Nagenoeg 88% word nooit aangemeld nie. In 2007/08 is 1410 kindermoorde aangemeld, 'n toename van 22% op die vorige jaar. In  "2010 child trafficking concerns highlighted" beweer Bianca Silva dat 1700 kinders jaarliks as vermis aangemeld word. Volgens prof. Susan Kreston (UV) was daar in 2007 tussen 28 en 35 duisend kinderprostitute in SA. Kinders word na die buiteland verhandel, as sekswerkers en dwelmkoeriers aangewend, pornografies misbruik en ook vir moetie vermoor.
 
Vandag se kind is môre se volwassene, bouer van oormôre se samelewing. Watter agting toon ons SA-samelewing vir sy jeug? Watter waardes word aan hulle oorgedra? Net Christelike beskawingswaardes kan ons teen vorms van barbarisme beskerm. Sedelike verval word ook weerspieël in onverantwoordelike kinderverwekking. Deur die betaal van toelaes is die ANC besig om 'n samelewingskomponent met rewolusionêr plofbare potensiaal te skep   -   'n stadigtikkende tydbom.
 
Die noodkrete van ons jeug klink landswyd op. Die ANC moet sy voortdurende gesanik oor rassisme en apartheid laat vaar en fokus op die herstel van die SA-gesinslewe as prioriteit. Vandag se jeug is die samelewingsbouers van môre. Moenie langer met die jeug en hul toekoms dobbel nie.
 
 
 
 
 
 
 

Monday 27 August 2012

Waarom nie ook dié redes noem nie?

Dit is waar dat duisende NGK-lidmate reeds dié kerk verlaat het en dat die media ons ook goed ingelig daaromtrent hou. Wat my egter opval, is die vreemde gelatenheid waarmee dié kerk, oënskynlik, dié verlating aanvaar. Oor jare heen merk ek dit ook in die eie gemeente. Tydens 'n biduur waag ek dit om te vra of die gelykenis van die verlore skaap dan geen segswaarde meer vir ons het nie. Ek merk 'n gesindheid van : As hulle dan wil gaan, laat hulle gaan, midde in 'n "seisoen van kerklike luister"   -   hoe ironies en tegelyk tragies.
 
In 'n artikel, "Weg van kerke, na nuwe tuiste" (Beeld,19.08), wys die NGK-moderator daarop  "dat Suid-Afrika een van die lande ter wêreld is waar godsdienstigheid die vinnigste afneem." Volgens hom vind kerkverlating plaas vanweë die ouderdomsfaktor, dalende geboortesyfer, emigrasie en sekularisering, almal sekondêre eksterne redes, dog hy noem geen primêr kerklik-interne redes daarvoor nie, terwyl sulke redes ongetwyfeld bestaan. Waarom nie alle redes, ter wille van die waarheid, in hul volledigheid noem nie?
 
Dit wil voorkom of die NGK nie langer meer Bybelse waarheid onvoorwaardelik beskermend wil verdedig nie, maar geneig is tot onaanvaarbare toegewings   -   'n besliste rede vir kerkverlating. Lidmate en ook leraars ervaar druk om die erg verdelende Belharbelydenis te aanvaar; die diskreditering en korruptering van die Bybel word oogluikend verdra; teoloë en predikante maak skokkende dwaalleer-uitsprake; en die evolusieleer het ook reeds sy voet in die deur gekry.
 
Ek vra myself af:  Is NGK-taal steeds suiwer Bybeltaal, of het dit, afwykend, bloot mensetaal en daarom beslis ook 'n kernrede vir kerkverlating geword?                  (ngn)
 
 

Wednesday 22 August 2012

ANC-leierskap grootliks te blameer

Oorsake van die Marikana-sterftes is van komplekse aard. Media-gerapporteerde redes bevat almal grade van legitimiteit. Aanvullend daartoe identifiseer ek self 'n kombinasie van drie bydraende faktore tot dié gebeure. Hierdie faktore is die kapitalistiese mynbase, die sosialistiese ANC-manifes (1955) en sommige ANC-leiers se korrupte ontrouheid en verraad teen dié manifes. Die voorafgaande klimaatskepping tot dié voorval is dan ook wel binne die raamwerk van dié drietal faktore te vinde.

In sy artikel, "Mining Bosses' Worst Fears Realized. What Now?", sê Mike Smith dat valse propaganda die indruk geskep het dat apartheid die rede vir die "struggle" was, maar  "It was about the British and American interests in our mineral riches...blacks are not in control of South Africa. The mining bosses are."

In 1955 verklaar die sosialistiese ANC-manifes dat "all shall share in the wealth of the country." Hierdie nou reeds halfeeu-oue ideaal het nog nooit gerealiseer nie; selfs nie eers naastenby na agtien jaar van ANC-bewind nie. "The people" is sat van leë beloftes, hoogs gefrustreerd en dring aan op hul  "share in the wealth of the country".

'n Derde verwante faktor is dié van verraad teen die 1955-manifes deur sommige selfverrykende ANC-leiers. Smith sê dat, na geheime ontmoetings met die mynbase in die buiteland, die ANC deur omkopery met behulp van dié mynbase aan bewind gekom het. Sosialistiese ANC-leiers is omgekoop deur kapitalistiese mynbase vir persoonlike selfverryking. Smith beweer dat  "Patrice Motsepe, Cyril Ramaphosa, Tokyo Sexwale and even Nelson Mandela became billionaires overnight...(and) only a handful of the ANC elite are sharing in the wealth."

Mynwerkers, voetsoolvlakse ANC-lede, raak toenemend beter ingelig oor die ware toedrag van sake en is bereid om, benewens die mynbase, ook ANC-leiers te konfronteer wat lei tot voorvalle soos dié by Marikana. Hiervoor is die ANC-leierskap self grootliks te blameer. Hulle kón dié tragedie voorkom het.                     






Monday 20 August 2012

Jablonski-bewerings weerspreek die Bybel

Elsabé Brits se artikel, "Ras lê nie veldiep" (DB,15.08), het betrekking. Hierin stel sy die Bybels onversoenbare evolusionistiese siening van prof. Nina Jablonski oor die mens in die algemeen, en sy velkleur in die besonder. Uit haar bewerings is dit duidelik dat Jablonski nié die Bybelse skeppingsverhaal oor die mens erken nie. Haar bewerings daaromtrent is derhalwe heeltemal teenstrydig met die Christelike geloofsraamwerk.

Vir Jablonski is velkleurverskille bloot 'n "evolusionêre ontwikkeling en produk van natuurlike seleksie". Sy beweer velkleur is bloot die vel se vermoë om by wisselende klimaatsveranderinge aan te pas en is die mens ook die enigste "self-decorating ape"   -   'n onbybelse mensbeskouing. Verder het "patrone van migrasie, die son en natuurlike seleksie die mens se velkleur bepaal", en nie die Skepper nie.

Volgens Jablonski het "homo sapiens" in Oos-Afrika naby die ewenaar (evolusionêr) ontwikkel en was donker van kleur. Dit is egter nie wat die Bybel sê nie. Ook het God ménse gemaak; nie "homo sapiens" nie. Ons voorsate se naakte liggame was blootgestel aan die DNS-skadelike ultravioletstraling van die son, daarom was "die ontwikkeling van 'n donker vel noodsaaklik vir oorlewing". Met "homo sapiens" se trek na ander wêrelddele moes hy deur genetiese aanpassing weer van velkleur verander. Ja, sê die Bybel, die eerste mensepaar was wel naak, maar na die sondeval het God self hul deur-sonde-ontdekte naaktheid met dierevelle bedek.

Jablonski se bewerings pas die heersende wêreldstrewe na die uitwissing van alle sosio-kulturele verskille tussen mense   -   met die oog op 'n antichristelike eenwêreldbedeling   -   soos 'n handskoen, en moet daarom in dié lig beoordeel word.




Friday 17 August 2012

Kan SA hom van dié "nuwe ketting" bevry?

Die ANC (DB,11.08) en SAKP (DB,14.08) se ongrondwetlike kritiek teen adv. Madonsela, die openbare beskermer (OB), se optrede by 'n DA-gereelde vrouebyeenkoms op Vrouedag, het my aan 'n tweedelige spotprent uit die dertigerjare van die vorige eeu herinner. Die spotprent beeld 'n vasgekettingde bobbejaan op grondvlak uit met daarnaas dieselfde bobbejaan in 'n kas bo-op 'n paal, dog steeds vasgeketting.

Die bobbejaan simboliseer die destydse Unie van Suid-Afrika in sy verhouding tot imperiale Groot Brittanje. Die ketting simboliseer Suid-Afrika se posisie van onderhorigheid aan dié imperiale moondheid op daardie stadium (1910). Saam met Kanada, Australië en Nieu-Zeeland, "dogters van Moeder Engeland", het SA, agt jaar ná die Tweede Vryheidsoorlog, "verhoogde dominiale status" geniet, dog steeds met kettings gebind aan die imperiale heerser. Dit sou die Balfourverklaring (1926), die Statuut van Westminster (1931) en die Status van die Unie-wet (1934) verg om na dekades eers dié "bobbejaan" te ontketting.

Die ooreenkoms tussen die gemelde spotprent en die ANC/SAKP-kritiek op die OB? Ongetwyfeld geniet die posisie van die OB hoë aansien / status in ons grondwetlike bedeling. ANC/SAKP-reaksie wek egter die indruk as sou dié amp onderhorig en "geketting" wees aan ANC/SAKP-ideologie en nié die grondwet nie. Ons durf geen illusies hê oor die ANC/SAKP se magsvraatsug soos dit met Britse imperialisme ook die geval was nie. Kan ons te wagte wees dat die OB se vryheid van beweegruimte ook toenemend beperk gaan word, en sal SA daarin kan slaag om hom ook van die ANC/SAKP se "nuwe ideologiese ketting" te kan bevry?                    (ngn)