Biografie

Eers vir 19 jaar 'n hoërskool-onderwyser, en daarna vir byna 21 jaar 'n dosent verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit van Port Elizabeth (UPE), tans bekend as die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU), tree ek af aan die einde van September 2006.

Geskool in die Diets-Germaanse (Nederlands-Duitse) denke oor die opvoeding en onderwys, is 'n bepaalde paradigmatiese perspektief, op wat wetenskap is, by my gevestig. Wetenskapsbeoefening word gesien as 'n soeke na waarheid, en alle wetenskaplike stellings as benaderings tot die waarheid.

In gemelde paradigma word veral die antiek-Griekse, die Romeinse, die antiek-Joodse én die beskouing van Jesus Christus oor die opvoeding en onderwys as van besondere waarde - as die pilare waarop die Westerse opvoedkundig-onderwyskundige beskouing berus - geag. Glaucon se vraag aan sy mede antiek-Griekse filosowe: "Who are the real philosophers?", en Sokrates se antwoord daarop: "They who love to see the truth", vind direkte aansluiting by die Diets-Germaanse soeke na waarheid as sterkste dryfveer ook vir die wetenskapspraktyk.

Die waarheid, ongeag die besondere konteks, so glo ek, is bedoel om die sentrale nastrewenswaardige plek in elke individuele mens se lewe in te neem. Die waarheid het egter 'n geswore vyand wat dit verbete beveg, naamlik, die leuen, en dié het 'n vader, te wete Satan. Vir my speel die ganse menslike bestaan sigself af tussen waarheid en leuen.

As Christengelowige is ek 'n volgeling van Jesus Christus wat vir Thomas gesê het: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe." (Johannes 14:6) In Hóm is daar géén leuen óf bedrog aanwesig nie! Pilatus se welbekende vraag: "Wat is waarheid?", is voorafgegaan deur dieselfde Jesus wat vir dié Romeinse goewerneur gesê het: "Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê." (Johannes 18:37-38) As Sy volgeling, luister ek dus na Hom en identifiseer ek volkome met Sy antwoord aan Pilatus.

Wanneer Jesus dan sê: "...en julle sal My getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld" (Handelinge 1:8), dan eien ek dié opdrag ook vir myself toe om oor Hom, die waarheid, te getuig, ongeag die besondere lewensfeer waarbinne ek myself bevind. In hierdie opsig is Psalm 45:5, "Knoop die stryd aan vir die waarheid", vir my 'n besonder besielende opdrag om tydens my verblyf hier op aarde uit te voer.

Dr. T.C. Breitenbach