Showing posts with label Onderwys. Show all posts
Showing posts with label Onderwys. Show all posts

Wednesday, 22 July 2020

Moenie ANC-meesterverhaal onderskat nie





Is ouers bewus van die potensieel indoktrinerende bewussynstransformasie van hul skoolgaande kinders? In sy artikel, "Die ander kant van die geskiedenis" (02.07), wys Flip Buys van Solidariteit daarop dat diegene wie se politieke verledesiening tot verpligte nasionale meesterverhaal gemaak word, die toekoms beheer. Sodanige verskuiwing het reeds plaasgevind in ideologiese verband.

Volgens Buys kriminaliseer die ANC-meesterverhaal wittes, en veral wit Afrikaners, se verlede sodat hulle   -  as "rassiste"  -  verdien om gestraf te word. Dié verhaal speel rasse, hoe ironies, teenoor mekaar af met swart as grootmoedig vergewensgesind en wit wat, misdaadontkennend, aan voorregte bly vashou.

Deur eie ervaring, waarneming en mediaberiggewing weet ons dat anti-wit sentiment sterk figureer in die ANC-meesterverhaal. Dié verhaal is nie ons almal se verledeverhaal nie.

Buys sê dié meesterverhaal weerklink daagliks in skole, die media, in wette en politieke toesprake. Die leerlingbevolking word dus ook blootgestel aan die indoktrinerende propaganda van die ANC-verhaal.

Gebreinspoeld krities kykende deur die ANC-verhaalbril na die eie en kultuurgenote se verlede, word die moontlikheid geskep om nie net tot fel veroordelende kritici van die eie mense getransformeer te word nie, maar ook slagoffers van kultuurvervreemding te word.

Die moontlikheid van die transformasie van 'n hele geslag van kinders tot die ontwikkeling van skuldgevoelens, is 'n werklikheid  -  om skuldig te pleit waar skuld selfs onaanwysbaar is  -  'n vorm van sielkundige teistering.

Die potensieel ideologiese transformasie van ons jeug, in wie se hande ons toekoms rus, durf nie onderskat word nie.





Wednesday, 12 February 2020

Presteerders sneuwel in onderwyslandskap




Ons hoëronderwys landskap herinner aan Geallieerde begraafplase in die Paschendaalse landskap van Vlaandere met hul rye wit kruise waaronder gesneuwelde soldateliggame rus wie se talente vir altyd verlore is.

Met sewe onderskeidings en 'n gemiddelde van byna 90%, slaag dié hoofseun in matriek, dog sy aansoek om geneeskundige studies word deur vier universiteite afgekeur. Vele ander wit toppresterend voornemende mediese studente deel in dié lot. Hul uitsonderlike talente "sneuwel" in universiteite se geneeskundige fakulteite. Maar, wie se aansoeke slaag wel?

'n 90%-kandidaat kon 10% van die skoolse akademiese vereistes nie bemeester nie; 'n 60%-kandidaat, 40%. Indien dié prestasietendens aan die einde van geneeskundige studies herhaal word, wat hou dit in vir die volgehoue standaarde van die mediese professie asook nasionale gesondheidsvoorsiening? Wat van die ekstra belastinglas in gevalle waar die studiekursus nie in die voorgeskrewe minimum  vasgestelde tyd voltooi word nie?

Mag ons weet of daar 'n prioritisering van tersiêre studiekursusse, volgens nasionale behoeftes, plaasvind ten einde potensiële "sneuweling" van afgestudeerdes in 'n oorversadigde arbeidsmark te voorkom? Stel universiteite ondersoek in na die werkverkrygingsprofiele van afgestudeerdes?

Fokusende op middelmatigheid, vind ANC-onderwysideologie meriete en uitnemendheid irriterend en, daarom, blootgestel aan "sneuweling". Die kreatief innoverende wil ontbreek by beide ANC en universiteite om dié "sneuweling" te minimaliseer. Die geskiedenis leer dat samelewings sneller ontwikkel deur die bydraes van skerpsinnige begaafdheid; nie deur middelmatigheid nie.

Ideologiese ANC-beleid hanteer die kompleksiteit van ras, geslag, kleur en agterstande ten koste van nasionale belang waardeur "gesneuweldes", daarvolgens, tassepakkende hul heil elders moet gaan soek. So lewer ons onderwyslandskap ook sy "gesneuweldes" op.


Tuesday, 15 January 2019

ANC maak onderwys sy ideologiese speelbal


Die nuwe skooljaar het skaars begin of SA word geskud deur die ANC, getrou aan sy aard, se rasfanatieke en -histeriese reaksie op Elana Barkhuizen van die Laerskool Schweitzer-Renecke se motiveerbare toepassing van die opvoedkundig-onderwyskundige beginsel van differensiasie (Afrika vertolk differensiasie as diskriminasie) in haar graad R-klaskamer.

Sedert 1994 toon die rasbehepte en  -integrasionistiese ANC gee begeerte om die SA onderwys-  en skoolstelsel op 'n gesonde opvoedkundig-onderwyskundige fondament te plaas nie. Vir die ANC dien die onderwys die doel van "nasiebou" soos gerig deur die ideologie van sosialisme-kommunisme.

Die ANC-onderwysbedeling stel kinders deur middel van subtiele indoktrinasie bloot aan bewussynstransformasie tot die aanvaarding van ideologiese eendersdenkendheid wat enige ras-, kleur-, geslags- of  geloofsdifferensiasie ontken, met  die uiteindelike doel van die verlies van onderskeidingsvermoë dienaangaande.

Kinders moet voorberei word vir burgerskap wat sal inskakel by 'n "grys" globaal-sekulêre nuwe wêreldbedeling. Daar bestaan geen ruimte vir andersdenkendheid oor taal, godsdiens,, die verlede, identiteit, etnisiteit en volkskap nie. Die kind word onbeskaamd van die eie kosbare kultuurerfenis beroof.

As een van sy kragtigste wapens in sy ideologiese arsenaal, spoeg die ANC vernietigende rassistiese vuur teeen alles en almal wat hom teengaan. Die  samelewingsaansien en professionele status van ons onderwys is lank reeds vernietig, in direkte verband tot ons sukkelend onbekwame ANC-bestuurde ekonomie.

In die ANC-ondersoek na die Laerskool Schweizer-Reneckevoorval sal opvoedkundig-onderwyskundige kriteria nêrens figureer nie. Die ANC, wat ons onderwys gekaap en vir eie ideologiese gewin tot speelbal getransformeer het, sal nou in die hof aan die hand van grondwetlik regsgeldige kriteria gekonfronteer moet word.



Sunday, 18 February 2018

Minister vra Afrika-filosofie vir onderwys




Die begrip filosofie, afgelei van die Griekse philia (liefde) en sophia (wysheid), beteken 'n liefde vir wysheid.  Jakobus (3:13-18) waarsku om, binne 'n veelheid van filosofieë, te onderskei tussen hemelse en aardse wysheid. Multikulturele Suid-Afrika bevat 'n verskeidenheid van mededingende filosofieë beskikkende oor konflikpotensiaal.

Elke filosofie probeer om die drie mees sentrale lewensvrae, te wete: wat is werklik aangaande mens en wêreld, wat is waar(heid) betreffende kennis, en wat is goed, verwysende na die lewenswaardevolle, te beantwoord. Antwoorde op dié vrae onderlê die ganse denkraamwerk oor 'n samelewingsnetwerk waaronder die staat, politiek, ekonomie, maatskappy en ook die onderwys, en dien tegelyk as impetus van samelewingsdinamiek.

In "Ons kan Afrikaans nie net weggooi" (29.01), maak onderwysminister Angie Motshekga die "regte geluide" wat Afrikaanssprekendes graag wil hoor, maar voeg daaraan toe dat " 'n Afrika-filosofie meer in die klaskamer toegepas moet word ...(en) Suid-Afrikaners moet verstaan (en leer) ...wat dit beteken om 'n Afrikaan te wees."

Ekself onderskei tussen die filosofie wat ons parlementêr grondwetlike demokrasie onderlê en die filosofie van Luthuli Huis. Wat my betref, is eersgenoemde filosofie stelselmatig deur die ANC gekaap en met laasgenoemde vervang. Dieselfde filosofietransformasie moet ook nou plaasvind,  volgens die minister se openbare bepleiting, ten gunste van die Afrika-filosofie in die onderwys.

Die transformasie van onderwysfilosofie moet sorg vir die kulminering in die totale verafrikanisering van die RSA-burgery. Sal dit beteken dat ook my eie Afrikaner-identiteit filosofies-transformerend gestroop en met 'n Afrikaan-identiteit vervang moet word?

As Christengelowige stem die minister se beroep op die Afrika-filosofie vir die onderwys my diep onrustig. Die maklike misbruik van onderwys, soos vir die doel van indoktrinasie, is juis die achilleshiel daarvan. Ons kan met reg van die minister verwag om die kontoere van haar visionêr geïdealiseerde implementering van die Afrika-filosofie in die onderwys vir die kennisname van alle onderwysbelanghebbendes sonder versuim uit te spel.










Wednesday, 16 August 2017

'n Nou, miskende, verbygegane tydperk



In sy brief: "US:Uitnemendheid, nie maklikste" (DB,08.16), sê  Pieter Hurter dat die huidige US-rektor, prof.Wim  de Villiers,  die "maklikste opsie...voorhou wanneer kernprobleme om 'n oplossing vra." Dié "maklikste opsie (sal)...die doodskoot vir Afrikaans by die US beteken (en)...dié doodloopstraat is vir almal duidelik...behalwe vir...prof. De Villiers."

Sonder enige poging tot 'n vergelyking van US-rektore, tel ek my seëninge dat ek aan die US kon studeer tydens die rektorskap (1954-1969) van wyle prof.H.B.Thom, 'n nou, miskende, verbygegane tydperk.

Volgens wyle prof. Bun Booyens was hy die seun van 'n Paarlse onderwyser wat met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog (1899) hom in die Vrystaat bevind, by die Boeremagte aangesluit, aan verskeie veldslae deelgeneem het, en uiteindelik na Indië verban is.

Vanuit huis, kerk en skool was prof.Thom 'n ware Afrikaner wie se invloed en oortuigings die ganse universiteits- en studentegemeenskap sestien jaar lank deursuur het. Hy het gesê "dat die Universiteit van Stellenbosch uit die nood van die Afrikanervolk gebore is (en)...in 'n diepe behoefte van die volk voorsien het; omdat hy al vroeg 'n volksuniversiteit geword het...Baie het daarvan gehou, baie ook nie."

Die Thom-tydperk het 'n omgewing geskep waarbinne ek, vanweë 'n gemeenskaplike taal-, kultuur- en geloofsomgewing, my volkome tuis gevoel het. Op al drie gemelde terreine, en nog meer, het prof.Thom sy stempel landswyd afgedruk.

Van hom het wyle dr.S.J.Gericke gesê: "Ek noem hierdie groot Afrikaner ook 'n groot Kerkman..", terwyl D.J.Viljoen, destydse hoofsekretaris van die FAK, gesê het: " 'n Mens sou boekdele kon skryf oor die aandeel wat hierdie man aan die georganiseerde kultuurlewe van die Afrikaner gehad het...", waarvan sy ywer vir die Afrikaanse taal 'n kernfaset was.




Thursday, 19 May 2016

Alle onderwysfasette verdien verbetering




Ek verwys na dr.Jurie Joubert se artikel: "Vir 'n blinker toekoms" (DB,18.05), waarin hy dit in hoofsaak het oor die gebrekkige onderrigmodel van die ANC-skoolstelsel. Hy sê: "Fundamentele verandering...is nodig om ons onderrig weer op die regte spoor te bring...Swak akademiese vertonings is die resultaat van die...onderwysmetodiek...die probleem is die pedagogiek (hy bedoel waarskynlik eerder pedagogie) wat beoefen word. Die...oplossing lê...in gehalteonderrig."

Onderrig in isolasie gesien, kan egter nie alleen   -   in die afwesigheid van ander voorwaardelike onderwysfaktore, wat gesamentlik en geïntegreerd   -   leersukses waarborg nie. Onderrig is een, dog baie belangrike, faset van onderwys. Dit is by uitstek die taak van die onderwyser. Kinders gaan skool om, volgens elkeen se vermoëns, suksesvol te leer. Onderrig móét dus rekening hou ook met kinders se leervermoëns, -potensiaal en -style. 

Wat pas gesê is, impliseer 'n gedifferensieerde onderrig-leerbenadering, dog ANC sosialistiese dogma beklemtoon die ongedifferensieerde groep en -behoeftes veel eerder as die indiwidu en dié se behoeftes. Laasgenoemde benadering herinner die ANC darem té veel aan die vorige bedeling se suksesvolle benadering van gedifferensieerde onderwys. Die ANC sê: "We all have potential" (wat ongetwyfeld waar is), maar ontken dat indiwidue deur potensiaalverskille gekenmerk word.

Onderliggend aan suksesvolle onderrig (onderwysmetodiek) en leer op skool, is daar fundamentele boustene as voorwaardes vir suksesrealisering. Die totale spektrum van dié noodsaaklike boustene is te veel om hier te noem. Ek noem daarom slegs enkeles soos die keuring van onderwysstudente; deeglike onderwysersopleiding; gesonde onderwyser-kindverhouding, gesagsbalans, orde en dissipline; moedertaalonderrig; 'n veilige skoolomgewing; leefwêreldlik relevante leerinhoude, en gepaste leerlingmotivering.

Alhoewel Joubert volkome gelyk gegee moet word oor sy onderrigpleidooi, is dit alleen nie voldoende om leerlinge se onderwystoekoms te verseker nie. Daar moet op álle fasette van die ANC-skoolstelsel verbeter word.



Monday, 7 December 2015

Dié onderwysleier verdien ons waardering

Dankie aan "By/Die Burger" (05.12) vir erkenning verleen aan die onderwyspersoonlikhede Hennie Franzsen, Khaya Matiso en George Sonkwala wat, tydens die 1994--oorgang, 'n gefragmenteerde Oos-Kaapse Onderwysdepartement moes help konsolideer tot 'n enkele departement.

Dit is met groot waardering   -   en aansienlike mate van nostalgie   -   dat ek Alvené Appollis se artikel daaromtrent gelees het. Van hierdie drie het ek mnr. Franzsen geken en by verskeie geleenthede samewerkend met hom geskakel.

Ek het Franzsen geken as 'n persoon, nie alleen aansienlik talentbegaafd met uitsonderlik dinamiese dryfkrag nie, maar ook bereid om sy kennis en ervaring vir die onderwys van alle Oos-Kaapse leerders beskikbaar te stel en passievol eerlik aan te wend; nié ter wille van aansien en gunsverwerwing by die nuwe ANC-funksionarisse nie.

Vir die doel van oorbrugging tussen teoretiese lesinglokaal en klaskamerpraktyk gedurende onderwysersopleiding, het Franzsen ontmoetingsgeleenthede tussen studente, onderwysers en skoolhoofde   -  op versoek van ons fakulteitsdepartement   -   gereël én suksesvol gefasiliteer. Hy sou geen geleentheid laat verbygaan waartydens hy kon bydra tot onderwysverbetering nie.

Ook in 'n nie-amptelike hoedanigheid het hy die kortstondig bestaande Afrikaanse Ouervereniging vir Christelike Opvoeding en Onderwys ondersteun. In 'n tyd van toenemende geloofskeptisisme, het hy nooit gehuiwer om van sy Christelike oortuigings te getuig nie.

Hy was die spreekwoordelik deernisvolle onderwys-"jintelman"; 'n vriend en raadgewer van die toegewyde leerkrag wie sy inspeksiebesoeke nooit hoef te gevrees het nie. Synde 'n gehaltemens, het hy gehalte-onderwys bevorder. Aan so 'n uitmuntende onderwysleier is ons groot dank en waardering verskuldig.






Thursday, 3 December 2015

Mag US simbool van taalgeregtigheid word

'n US-studenteraadslid bepleit, teleurstellend, op TV die verengelsing van die Matiekampus. Waarom dié selektief eensydige beeldsending as sou dié student se mening verteenwoordigend van alle Afrikaanssprekende US-studente wees?

In dieselfde Afrikaans-onvriendelike trant sê André le Roux in "Maandag Aktueel" (DB,30.11) dat "Afrikaans in die breë S.A. diskoers (anglisisme!) ...nie veel wyer strek as 'n selfkwetsende bekgeveg onder wit Afrikaners nie."

Tydens 'n onderhoud met US-rektor, prof. Wim de Villiers (Matieland, Jaargang 58, 2015), is Jan-Jan Joubert op soek na "die wese van die nuwe rektorsiel". Benewens sy uitmuntende prestasies as US-student, ervaar dié rektor jarelange blootstelling aan buitelandse Engelstalige universiteite soos Oxford, Harvard en Kentucky   -   en mees onlangs ook Ikeys.

As rektor wil hy "Stellenbosch diversifiseer sodat 50% van ons studente teen 2020 swart is" (tans 38%)   -   'n optimistiese langtermynkwota dat dit slegs by 50% sal bly? Hy is "ten gunste van studente-aktivisme", en was in sy "studentejare lid van 'n groep genaamd 'Stellenbosch moet oop!' " As studenteraadslid was hy een van "vier linkses in 'n studenteraad van dertien."

Joubert bied hiermee beslis insig in dié "nuwe rektorsiel". Hy verdien egter krediet vir sy aanvaarding van die US Raad se mosie oor taalinklusiwiteit waardeur Afrikaans hopelik tot sy reg sal kom, en die US Bestuurspan se taalplan van algehele verengelsing verwerp word.

Mag die US 'n navolgenswaardige voorbeeld en nasionale simbool van taalgeregtigheid word. Laat ons vertrou dat die rewolusionêre elemente nie met vandalisering van US-eiendom sal reageer nie, maar wel grondwetlik-demokratiese volwassenheid sal openbaar.



Monday, 30 November 2015

Ook NP het universiteite onderfinansier

Onder die opskrif: "Universiteite in SA verkrummel!", berig "Beeld' van Saterdag 21 Mei 1988   -   27 jaar gelede   -   soos volg: "Universiteite 'verkrummel' as sentrums van geleerdheid terwyl 'pragtige retoriek' uit mnr.F.W.de Klerk, minister van Nasionale Opvoeding, se mond bly rol.

"Só het prof.Charles Wait, voorsitter van die Komitee van Universiteitsdosenteverenigings (KUDV), gister in Pretoria op 'n nuuskonferensie gesê. Die KUDV het...sy misnoë oor...die staat se finansiering van universiteite en krimpende salarisse van dosente uitgespreek...universiteite se probleme is volgens prof.Wait dat die staat nie sy verantwoordelikheid nakom nie."

Ek is nie in die beste posisie om dié twee universiteitsbedelings, 1988 en 2015, as "appels" akkuraat met mekaar te kan vergelyk nie, dog vir my blyk daar in beide gevalle weinig verskil te wees wat betref 'n staat wat nie sy verantwoordelikheid nakom by wyse van behoorlike befondsing nie.

Die NP-bedeling van 1988 sou internasionale sanksies, boikotte, uitgerekte grensoorlog en die bekamping van binnelandse ANC-terreuraanvalle as redes vir sy onderfinansiering kon aanvoer. Van dosente, synde een van hulle, is verwag om onderbetaling te aanvaar   -   met behoud van volgehoue partylojaliteit   -   as bydrae tot die totale aanslag teen SA.

Watter verskonings bied die ANC aan vir sy lae prioritisering van universiteite soos die NP voor hom? Onoordeelkundige implementering van die ANC-vryheidsmanifes laat duisende swak gekeurde (indien wel gekeur) studente, met onstuitbare verwagtinge, universiteite oorstroom, gekenmerk deur 'n geldverkwistend hemelhoë druipsyfer.

Sy toegee aan studente se finansieel onhaalbare eise bied die ANC   -   wat eiebelang bó SA stel   -   egter 'n gulde geleentheid om verlore aansien en vertroue by sy kiesers te herwin deur middel van dié stemkoping met belastingsbetalersgeld.








Saturday, 20 September 2014

Daar sal altyd godsdiens in skole wees

Skool en gemeenskap/samelewing word gekenmerk deur samewerkende wisselwerking. Die gemeenskap het statutêr belang by die skool en moet daarin erkenning geniet. S.A. skole, as demokratiese staatsinstellings, staan in vennootskaplike diens van beide gemeenskappe én staatsowerheid. 

Die media het die jongste S.A. misdaad-, geweld-, moord- en stakingsyfers bekend gemaak. Dieselfde samelewingstendense word deur dwelmgebruik, verkragting, tienerswangerskappe, ernstige aanrandings, vandalisering van skooleiendom en georganiseerde skole-ontwrigting (na die voorbeeld van suksesbehalende arbeidersvakbonde) ook binne ons skolegemeenskappe weerspieël. Julius Malema het 'n uitdagende rolmodel vir menige skoolgaande jeugdige geword. Ons samelewing se negatiewe invloede word toenemend die skool en klaskamer binnegedra. Alle skole is nié meer veilige omgewings nie.

Daar is sommige wat hulle beywer vir die uitbanning van godsdiens   -   veral die Christelike   -   as een van die laaste stabiliserende invloede, uit ons skole. Die gevolg is destabiliserende chaos, anargie, gesags-  en dissiplinêre aftakeling, standaardverlaging en vernietiging van ons jeug se toekoms. Waarom mag, in ooreenstemming met ons demokratiese grondwet, 'n gemeenskap se godsdienstige oortuigings   -   medebepaler van die skoolethos   -   nie in skole erken en weerspieël word nie?

Ons al té gewillig-toegeeflike aanvaarding van "onafwendbare" transformasie, soos om godsdiens uit skole te verban, voer gemeenskappe verder na die afgrond. Raak ontslae van godsdiens uit die skole, maar hóé raak jy van die mens se universeel inherente godsdienssin ontslae? Met die Christelike godsdiens uit die skool, word dit maar net deur 'n ander godsdiens vervang. Ateïsme, agnostisme en satanisme, as voorbeelde, is óók godsdiensvorme. Daar sal altyd, statutêr óf nie-statutêr, openlik óf subtiel, godsdiens in skole wees.          (ngn)






Tuesday, 16 September 2014

Die antwoord is gedifferensieerde skole

Piet Croucamp se: "Jou geloof ìs 'n private kwessie", (DB,16.09) sê dit alles   -   'n subtiel, mooiklinkende en byna oortuigende rasionele aanval op Christengelowiges en hul onderwysbehoeftes. Croucamp self is nié 'n Christengelowige nie; tog waag hy homself met "skoene aan sy voete" op 'n terrein wat Christene met eerbied "sonder skoene" betree. 

Croucamp beweer: "Skole is die openbare eiendom van alle Suid-Afrikaners". Daaromtrent verskil ek nie, maar wel met sy: "As jy 'n Moslem-,  'n Jode-  of 'n Christenskool wil hê, behoort jy self daarvoor te begroot." Ek vind sy standpunt geensins in ooreenstemming met die gees van die grondwet nie. Het ons burgery in 'n demokrasie dan géén sê in die aanwending van ons belastinggeld, ook vir onderwysdoeleindes nie? Ons weet almal dat 'n demokraties verkose owerheid daargestel word juis om na ons álmal se diverse belange en behoeftes om te sien. Dat die ondemokratiese ANC egter die openbare skole aanwend vir eie ideologiese gewin van nasiebou, weet ons ook. Die skooltipes in 'n samelewing word immers primêr bepaal deur 'n gedifferensieerde behoefteverskeidenheid.

Waarom kan daar dan nie 'n gedifferensieerde skolestelsel in S.A. geskep word om ook te voorsien in die behoeftes van gedifferensieerde geloofsgemeenskappe nie? Elders ter wêreld werk dit goed, soos in Nederland met sy skole vir Protestantse, Rooms-Katolieke en sekulêre ouerbehoeftes. Die marxisties-sosialistiese ANC sal dié toegewing, om verskeie redes, nié maklik maak nie. Van dié redes is dat enigiets wat "gedifferensieerd" is aan "apartheid" herinner; die ANC 'n pynlike vergelyking wil vermy tussen die suksesse van die sekulêre staatskole met dié van geloofsgedifferensieerde skole, asook dat die ANC skole indoktrinerend aanwend vir die eie ideologiese gewin vir die uiteindelike daarstelling van 'n volslae marxisties-sosialistiese burgery en samelewing.

Vanuit die perspektief van Christenouers en hul behoeftes, is geloofsgedifferensieerde skole die antwoord vir die godsdiensvraagstuk in staatskole.



Thursday, 11 September 2014

Sal my standpunt sneuwel?

Dit is met verbasing én teleurstelling dat ek lees van ds. Pierre Grigor (DB,09.09), en ander, se standpunt oor Christus se plek in ons openbare skole. Hy vra of "ons dink dat die Christendom 'n knou toegedien sal word as godsdiens uit die skole verdwyn?" Ten spyte van die merietevolheid van Grigor se argumentering, bly die vraag aan hom sowel as aan ons almal as Christene: Kan dié meriete ooit opweeg teen dit wat ons prysgee sou Hy nie langer in ons skole welkom wees nie? 

My liewe land, hoe tegelyk oningelig én naïef kan ons nie hieromtrent wees nie. Kyk maar net wat in VSA-skole gebeur het nadat Christus en die Bybel hulle skole belet is, en wat die uiteindelike uitwerking daarvan op die Amerikaanse samelewing was en steeds is.

Wat Grigor effektief met sy standpunt wil sê, is: Dis reg. Hou Christus se hand vas by die huis en kerk, maar los dié hand by die skoolhek en klaskamerdeur. En hoeveel huise is daar nie vandag waar dié hand nie meer vasgehou word nie, en waar die skool dit darem nog, plaasvervangend, probeer doen nie? Daar is meer as voldoende bewyse dat daar waar die deur agter Hom toegemaak word   -   ook in die skool   -   die deur oopgemaak word vir chaos en anargie.

Dit word duidelik uit die plasing van briewe dat die standpunt oor die behoud van Christus in die skool en klaskamer nie soveel ondersteuning, aandag en publisiteit geniet as die teenoorstaande standpunt soos dié van Grigor nie. Dit bly steeds elkeen se keuse waarvoor ons die verantwoordelikheid moet aanvaar. Waarskynlik sal ook my standpunt sneuwel.               (ngn)




Friday, 5 September 2014

Gesaghebbende Woord het die laaste sê

Ek antwoord Pitout se " 'Cool' gee nié aanstoot in dié konteks" (DB,05.09) -repliek op my vroeëre skrywe. Dankie vir 'n begripsverklaring uit "sewe gesaghebbende woordeboeke". Ek het beslis begrip vir sy andersdenkendheid. In veel wat Pitout skryf, gee ek hom gelyk, maar nie in alle opsigte nie.

Kortliks die volgende: Ons móét daarmee rekening hou dat God 'n verhewe Wese, en nié ons menslike gelyke is nie. Om dus na Hom, begripsgewys (as "cool"), op dieselfde wyse te verwys as wat ons na 'n voorwerp, persoon of situasie met "cool" sal verwys, is vir my 'n aantasting van Sy Goddelike karakter   -   'n "familiêr" grensuitwissende gelykstelling. 'n Verdere voorbeeld van dié gelykstelling: My kleinseun het ook leer sing: "Jesus is beter as Superman, Spiderman, Batman..." (By die kerk? skool?) Wéér deel God en mens dieselfde verhoog, terwyl Jesaja 40:18 sê: "Met wie kan julle God dan vergelyk? Met watter beeld kan julle Hom gelykstel?"Is ons nie juis, met begrippe soos "cool" en verwante liedjies, besig om subtiel-ongemerk ons eie menslik-afgodiese "woordebeeld" van Hom te maak nie?

Daar is beslis 'n grens tussen God en mens wat nié na willekeur oorskrei mag word nie. Ons leef juis in 'n tydsfase van grensuitwissing, ook tussen God en mens. (Dink aan ANC-uitsprake oor God.) Waar is die grensbepalers en  -bewakers van ons dag? Spreuke 22:28 sê: "Moenie grense verlê wat lankal daar is nie..." , maar steur ons ons nog hoegenaamd aan die grensvoorskrifte van die Woord?

Pitout, vir my het transendentaal-vertikale Woordgesag die laaste sê oor "cool" betreffende God, Sy Raadsplan en ons geloofslewe; nie selfs die heel gesaghebbendste horisontale woordeboek nie.    







Thursday, 4 September 2014

Skuif in grondwetbasis en skoolgodsdiens

Ek verwys na die berig "Heksejag op Christenskap" (DB,03.09). Wat daarin berig word, is die direkte gevolg van die vervanging van ons voor-1994 Christelik gebaseerde grondwet, met 'n humanisties-liberaal-sekulêre grondwet   -    in demokratiese gietvorm   -   opportunisties uitbuitend gemanipuleer deur die ateïsties-georiënteerde marxisties-sosialistiese ANC-regime. Dit is dus geen verrassing dat die Godheid deur dié ideologie die nasionale deur gewys word nie.

Christene bely God as die Skepper van hemel en aarde; tegelyk ook die soewereine eienaar, sonder enige voorbehoud, daarvan. Dit maak Hom eienaar selfs van die skool, met alle  -verwante sake, waarvan ons Sy bestuurders is met opdrag om Christenburgers vir 'n Christelike samelewing op te voed. Opvallend is juis dat, sensusgewys, S.A. 'n Christen-meerderheidsland is. Met die oorgang na die nuwe bedeling het dié meerderheid, deur apatiese swygsaamheid   -   tragies ironies   -    toegegee dat 'n bedeling op ons afgedwing word ten einde die nie-Christelike minderheid getallegewys ondemokraties te akkommodeer en selfs aan bewind te stel. Vandag pluk ons allerweë, nasionaalwyd, die vrugte daarvan.

Terug by die skool en godsdiens, sê 'n Potch-predikant oor RSG God se soewereine eienaarskap oor die skool moet ontken word deur Hom, kompartementaliserend, tot die ouerhuis te beperk. Wat 'n teleurstellende toegewing aan die nie-Christelik sekulêre magte, direk in stryd met die Bybelgeprojekteerde Goddelike gesagsbeeld. Intussen sing protestants-afvallige Christene steeds: "Staan op, staan op vir Jesus, o helde van die kruis..." Hoe het die geloofshelde van ons dag tog nie geval nie, want, in plaas van opstaan vir Christus, bly Christene kapitulerend rus op hul louere in 'n selfgeskepte,  -tevrede geloofsgemaksone, aanvaardende 'n skolebedeling sónder Christus.     (ngn)






Tuesday, 21 January 2014

Was dié opmerkings regtig nodig?

In die Oos-Kaapse "Die Burger" (20.01) word berig dat prof.Jonathan Jansen op Kovsies se 2014-openingseremonie vir eerstejaars gesê het: "As jy enige rassisme het, loop. As jy enigsins seksisties is, soek ek jou nie hier nie!" Kan ouers én onderwysers verkwalik word sou hulle dié opmerkings   -   gerig aan die "produkte" van hul jarelange huislike en skoolse opvoeding en onderwys   -   as beledigend beleef het? Waarom die sterk persoonlike "ek" (Jansen) soek jou nie hier nie, en nie eerder die UV en  -kampuslewe soek jou nie hier nie? Kan Jansen wel onderskeidend dink ten opsigte van homself en die UV-owerhede?

Dié berig meld nie óf Jansen dié dreigement-waarskuwing slegs in Afrikaans tot die studente gerig het, en óf hy dit ook in Engels en Afrika-tale herhaal het nie. Indien nie, is dit 'n duidelike insinuasie dat hy slegs wit Afrikaanse studente uitsonder as rassiste en seksiste, 'n blatante vorm van diskriminasie en menseregte-skending. Indien dit wel die geval sou wees, is Jansen 'n verskoning aan die Afrikaanstalige deel van die UV-studentegemeenskap verskuldig. En ook, weer net indien wel, regverdig dit nie 'n klaglegging by die menseregte-kommissie (MRK) nie? Indien sy opmerkings van 'n meertaligheidskarakter getuig, verval dié argument.

Veroordeel Jansen veral ouers, maar ook onderwysers, indirek veralgemenend wat aan kinders 'n rasbewuste,  -trotse en  -behoudende opvoeding gee? Belet die SA-grondwet op enige wyse sodanige opvoeding en onderwys waarvolgens elke kind se ras die nodige erkenning geniet? En het jongmense   -   na twaalf jaar van onderwys in 'n multikulturele skool-  en onderwysomgewing   -   dié kwetsende en vernederende verwelkoming van Jansen nodig? Dit pas beslis nie die aansien en status van rektorskap nie. Watter konstruktiewe bydrae is deur dié opmerkings gelewer? Was dit regtig nodig?

Wednesday, 16 October 2013

Kaptein verdwyn, maar skip vaar voort

Ek gee dr.Fourie   -   "Rektor praat vir héle UV" (VB,15/10/2013)   -   volkome gelyk wanneer hy sê: "Prof. Jansen probeer die hele (afgelope taal-) debakel oor die boeg van spraakvryheid gooi en dan word apartheid en rassisme aan die hare bygesleep. Almal wat hom kritiseer, is skielik hierdie 'kru en onverdraagsame' mense, Afrikaners, rassiste!" Fourie plaas ongetwyfeld die vinger op die wond.

Indien ons sou vra na die grootste gemene deler in die meeste van prof. Jansen se uitsprake, sal ons waarskynlik vind dat dit   -   presies soos wat Fourie dit óók raaksien en uitwys   -   handel oor die Afrikaners, dog telkens in 'n ongunstige lig gestel. 

Om dié stelling te staaf, hoef daar nie ver en wyd na voorbeelde gesoek te word nie. Ek verwys slegs na twee. Bekom gerus en lees die resensie wat in "Rapport" (2009) verskyn het oor sy boek getitel "Knowledge in the Blood : Race and the Apartheid Past". Lees gerus ook die UV-module, UFS 101 geïnisieer deur prof. Jansen, en vergewis uself oor die aard en strekking van die inhoud daarvan.

Hier in die Oos-Kaap geniet die UV (sekondêr?) nuusdekking vanweë prof. Jansen (primêr?) se uitsprake. Behoort dit nie andersom te wees nie? Behoort prof. Jansen (sekondêr) nie veel eerder nuusdekking te geniet vanweë UV-prestasies (primêr) onder sy rektorskap nie? 

Wie van die UV of prof. Jansen is, op die lange duur, die waardevolste en onmisbaarste in landsbelang? 'n Skeepskaptein verlaat sy skip by aftrede, dog die skip vaar steeds voort en vervoer sy vrag sonder hom.




Tuesday, 8 October 2013

Gaan Jansentaktiek slaag, óf boemerang?

Prof. Jonathan Jansen is bekend vir sy omstrede openbare uitsprake. Sy jongste uitlating dat Afrikaanse skole   -   en Afrikaans as onderrigmedium   -   moet verdwyn (DB,02.10), is slegs een van vele; almal met 'n gemeenskaplike doel. Dat Jansen 'n vendetta teen wit Afrikaners voer, is reeds oorbekend. Om die geheue hieromtrent te verfris, kan die resensie van sy boek, "Knowledge in the Blood : Race and the Apartheid Past" (2009), wat in 2009 in "Rapport" verskyn het, herlees word.

Dié boek bied insig in Jansen se siening van, en benadering tot, wit Afrikaners wat hy brandmerk as "onredbare rassiste". Met 'n reeds grootliks getransformeerde openbare bestel, verskans Afrikanernasionalisme   -   volgens Jansen   -   sigself nog in wit kerke, skole en universiteite waar Afrikaners hul ras, taal en kultuur verdedig.

Jansen se sentrale vraag is hóé die "oorwonne" wit Afrikanergemeenskap beweeg kan word om versetloos "tuis te voel" binne die SA-transformasie-agenda. Hy gebruik sy ervaring by die UP as gevallestudie van hoe dit gedoen kan/moet word. Jansen sien die Afrikanerkultuur as onhervormbaar. Direkte konfrontasie daarmee moet egter vermy word. Subtiliteit is die wagwoord, daarom moet elemente van dié kultuur geïdentifiseer word wat as instrumente vir taal-, denk-, kultuur-  en ideologiese transformasie kan dien. 

Jansen sien Afrikaans as 'n instrument om ander buite te hou ter wille van wit bevoorregting. Swart studente, met 'n voorkeur vir Engels, vloei skole en universiteite in groot getalle binne. Dié demografiese verskuiwing verander dié kontekstuele spelreëls dramaties   -   'n groter demokratiese aandrang om Engels. Vir Afrikaners, as "voorwaardelike pragmatiste", is standaarde en bepaalde waardes baie belangrik, dus : behou eersgenoemde in ruil vir Engels as onderrigmedium. Só kan Afrikaners se lojaliteit behou, én hulle steeds dieper die transformasiekamp binne gedryf word.

'n Belangrike vraag is : sal Jansen uiteindelik met sy "Jakkals nooi vir Gansie"-taktiek slaag, óf die teendeel bereik   -   groter taal-, kultuur-, rasse-  en nasionale spanning en polarisasie teweegbring?         (ngn)








Tuesday, 16 October 2012

'n Sombere onderwyswerklikheid

In sy voordrag voor die SA Instituut vir Rasseverhoudinge op 27.09.12, kyk prof. Jonathan Jansen na die onderwyskrisis in S.A. en wys op gevaarlike skuiwe wat plaasgevind het binne die nuwe onderwysbedeling en die negatiewe implikasies daarvan vir ons land.
 
In die Noord-Kaap sluit die Olifantshoek-gemeenskap die skole vir meer as drie maande vanweë hul eise om 'n teerpad, en die burgemeester se bedanking. Sodoende word kinders die enigste roete om aan armoede te ontsnap, ontneem. Waarom? Vir dié gemeenskap   -   soos vir vele ander   -   het die onderwys sy waarde heeltemal verloor.
 
Persone soos Malema, asook die eise van stakende mynwerkers   -   en allerlei ander werkers   -   het openbare "bewyse" geword dat materiële welvaart sónder 'n onderwyskwalifikasie moontlik is. Nog 'n skuif is dié van toenemende sentralisering van die onderwysgesag vanaf plaaslike gemeenskappe na die provinsiale en/of nasionale regering met die vergrote moontlikheid van magsmisbruik. Gevolglik het hofsake teen onderwysowerhede noodsaaklik geword.
 
Die Oos-Kaapse onderwyskrisis vroeër vanjaar is 'n bewys dat die ANC-regering sy gesag oor van sy ondersteuners verloor het toe die minister van basiese onderwys, sowel as 'n presidensiële besoek, die kinders nie op skool kon terug kry nie. So verskuif die onderwysgesag van binne na buite die skool.
 
Die ANC se verskoning dat sy goedbedoelde onderwysbeleid slegs implementering kortkom, is volgens Jansen 'n illusie. Die gaping tussen beleid en praktyk is onrealisties. Beleid word getoets aan praktyk. Goeie bedoelinge alleen herstel nie die vertrouensverlies in die onderwys nie.
 
Jansen sê deur die voorbeeld van volwassenes leer kinders om te protesteer deur juis daardie noodsaaklikhede vir onderwys   -   soos boeke, skoolgeboue en biblioteke   -   te vernietig. Voorwaar 'n sombere onderwyswerklikheid.
 
 
 
 
 
 

Tuesday, 4 September 2012

Nuwe universiteit bedreiging vir Jansen

Prof. Jonathan Jansen se artikel, "Hou godsdiens uit universiteit" (DB,04.09), het betrekking. Sy argumente daarin, teen die stigting van 'n Afrikaanstalige Christelike universiteit, verdien nadere ondersoek. Ek lig slegs enkele kenmerke daarvan uit.
 
Dit is duidelik ondemokraties. Gelukkig bepaal SA se demokratiese grondwet die bestaansreg van so 'n instelling; nie Jansen nie. Met sy beklemtoning van velkleur bied hy nie net 'n wanvoorstelling nie, maar dryf hy ook die rassekwessie. My verstaan van so 'n voorgestelde hoëronderwysinstelling is dat die Christelike karakter en taalmedium primêre aangeleenthede is met velkleur sekondêr.
 
Hy gee blyke van onverdraagsaamheid, veral teen die Christendom met sy verwysings na  "'n vreemde, etniese God"  en 'n inrigting  "wat skynheiliges sal skep wat die Bybel vasklou". Sy vooroordeel teen 'n Afrikaanstalige Christelike universiteit blyk daaruit dat dit  "belaglik, gevaarlik (en 'n) marginale gedruis"  is, en sy meerderwaardigheidshouding dat studente  "versterk in hul bekrompenheid uit hierdie speelskool-universiteite te voorskyn (sal) kom."
 
Na ons huidige getransformeerde universiteitsbedeling verwys hy as  "eilande van uitnemendheid in hoër onderwys" wat hoedanig vergelyk met internasionale standaarde, prof. Jansen? Hy blyk ook die ontstaansgronde van die vroegste Wes-Europese universiteitstradisie   -   die Christelike kloosterwese   -   waaruit ons spruit, te misken.
 
Sy diskriminerende ingesteldheid blyk daaruit dat hy mense se grondwetlike reg tot vryheid van keuse verwerp. Wit studente is welkom solank hulle sy oortuigings deel; indien nie, is hulle onwelkom. Sy argumentasie vertoon ook
die kenmerk van 'n nie-akkommoderende en voorskriftelike ideologiese transformasiedrywer.
 
Die beoogde Afrikaanstalige Christelike universiteit hou vanselfsprekend 'n bedreiging vir Jansen se universiteit   -   wat oor jare 'n soortgelyke karakter opgebou het wat hy tans afbreek   -   in. Nee, prof. Jansen, jy wil nie primêr godsdiens uit universiteite weer nie, maar wel die Christelike geloof daarbinne met 'n ander geloof vervang.
 
 
 

Monday, 3 September 2012

"Jansen"-module verhoog UV-rassespanning

Kamogelo Seekoei van die "Free State Times" (17.08) berig oor 'n dreigende storm aan die Universiteit Vrystaat (UV) oor die instelling van 'n verpligte module, UFS 101, wat deur die rektor, prof. Jonathan Jansen, geïniseer is. Hierdie module is verpligtend vir alle eerstejaarstudente, word slegs in Engels aangebied, en móét geslaag word alvorens toegelaat tot voortgesette studie.
 
In een so 'n module-scenario word 'n swart student met drie onderskeidings en 'n wit student met agt onderskeidings teenoor mekaar gestel, en moet eerstejaar UFS 101-studente bevredigend kan motiveer waarom meriete nie as 'n maatstaf vir toelating aanvaarbaar is nie.
 
Anné Calitz van Afriforum Jeug Kovsies werp egter meer lig op dié onderwerp en sê dié module handel oor, onder meer, geloof, politiek en geskiedenis in die SA-konteks; oor die bestaan van God en word tegelykertyd agterdog teen die Christendom gewek; jong wittes moet skuldgevoelens oor apartheid openbaar; Afrikaners word as skurke voorgehou met alle ander groepe as wonderlike helde; minderheidsgroepe is boos en regverdig derhalwe diskriminasie teen hulle. Calitz beweer dié module verhoog slegs rassespanning op die UV-kampus.
 
As geleentheidspreker oor dié module, vergelyk prof. Dolf Britz die Slag van Bloedrivier met die Sharpeville-voorval en sê dan Afrikaners het bloed op hul hande waarvoor hulle swartes om verskoning moet vra wat hy, namens die Afrikanergeskiedenis, wel doen en wat deur eerw. Sukdavek namens alle Suid-Afrikaners aanvaar is.
 
Afgesien van talle dringende vrae wat die inisiëring van dié "Jansen"-module meebring, hou dit potensieel langtermyn gevolge sowel as 'n korttermyn uitwerking in waarvan die riskantheid van destabiliserende verhoogde rassespanning, soos wat Seekoei en Calitz daarop wys, vir die onmiddellike hede, slegs een voorbeeld is.               (ngn)